Die beste wat dié ma vir haar seun kon doen

DIS OUKEI MAMMIE

Die beste wat dié ma vir haar seun kon doen

Sy het haar eie dwelmverslaafde seun by die polisie gaan aankla weens diefstal en vyf jaar later uitgevind sy het hom onskuldig in die tronk laat beland. ANASTASIA DE VRIES vertel hier dié ma se storie oor.

Image: NATHAN TRANTRAAL

SY was nie in die hof die dag toe haar seun gevonnis is nie. Haar buurvrou het haar gebel. Het jy gehoor van Zack? Drie jaar tronkstraf. Nuh, het sy gesê asof hulle oor maar net nog iemand gepraat het. Die hele Strand het immers geweet. Van Zack die stroller wat die strate sy huis gemaak het toe die dwelms sy kop en sy ma se hart gevat het. En van haar, San Dee, wat haar seun met haar eie hande vir die gereg weggebring het.

Sy het die mandjie met kos in die ry gelos en die winkel uitgeloop, na die polisieselle waar haar seun aangehou is.

Dit was 13 Desember. Sy was tussen die mense toe hulle hom saam met nog misdadigers uit die gebou lei, Pollsmoor toe. Moenie vat nie, het hulle gekeer toe sy haar seun wou aanraak. Die stukkie van haar hart wat oor was, het gebreek, maar vir die eerste keer in byna vyf jaar het elke spier in haar liggaam ontspan.

Niemand kan dié soort vrede verstaan totdat jy self daar was nie, as jy nie self ’n ma is wat al haar kind se skuld aan die lewe moes terugbetaal nie, sê sy. Lank nadat die trok met haar kind om die hoek verdwyn het, het sy voor die gebou bly staan. In haar kop die beeld van sy vingers, geklem om die gate in die staaldraad van ’n trok, die naels stomp en swart van jare se vuil. Elke keer wat hy voorgekom en sy saak weer en weer uitgestel is, was sy daar, tot dié dag. Jy het jou eie kind gepiemp, het van die oë en die monde van die mense haar aangekla.

Dit was die dag toe haar buurman aan haar deur kom klop het. Sy foon was weg. Haar seun het dit gesteel, het hy gesê. Wie anders as Zack? Die buurman het hom enkele minute gelede voor sy huis opgemerk en die kind het tog sy eie ma se huis leeg gesteel. Waar is die mikrogolfoond? Kort tevore het sy nog melk warm gemaak vir tee en nou was die plek skoon, nie eens ’n afdruk in stof wat kon getuig dat daar eens een was nie. Het sy ooit een besit?

Die twyfel het haar van haar kop af gedryf. Die vorige kere, te veel vorige kere. Was dit hy of die hordes vriende wat hy altyd saam huis toe gebring het wat haar geld, haar versameling handsakke, skoene, klere, televisie, kos, enigiets en alles weggedra het? Sy wou niemand se kinders beskuldig nie, ook nie haar eie kind nie. Dit was die dwelms se skuld dat hy op haar gevloek en geskel het, bietjie-bietjie haar siel en verstand weggestroop het, het sy haar vrees vir hom probeer wegpraat. Maar sy kon nie meer nie en sy kon nie meer wag vir die dag waarop hy die lewe uit haar sou wurg nie. Jy moet hom vat en uit onse huis uit trek, het haar familie gesê, dié kind vreet hulle skaamte op. Die hele wêreld weet al. 

Sy het Zack se paar stukkies klere in ’n swartsak gesit en hom weggestuur. Waarheen Mammie, het hy gevra. Sy het net haar kop geskud, later die gerugte oor hom met ’n toe mond aangeluister. Hy het Zack uit ’n gat sien kruip, het dié een kom vertel of ’n ander dat Zack nou soos ’n regte strollertjie in die pype by die strand slaap. Hy is vuil, verwaarloos, konstant met ’n witpyp aan die lippe, dié kind van San Dee, geliefd en alombekend. Gee sy dan nie om nie?

Sy het nie woorde vir hulle gehad nie. Soms het sy vir hom ’n waslap en seep gevat, klere, kos, goed wat hom aan die lewe kon hou. Tot die dag toe hul buurman aan die deur kom klop. Hy het te ver gegaan, haar Zack, beroof nou al glads ander mense.

Sy het hom gaan soek. Waar is die foon, het sy gevra. Watse foon, wou hy weet, en sy sakke omgedop, alles ontken, soos al die vorige kere toe haar goed net verdwyn het. Sy kon hom nie meer glo nie.

As jy oortuig is dat Zack jou foon gesteel het, moet jy hom gaan aankla, anders moet ek, het sy vir die buurman gesê. Hy wou nie. Sy het.

“Ek het my eie kind loop piemp en hom twee jaar lank laat sit. Hulle het hom ná twee jaar op parool vrygelaat. Vir twee jaar het ek en my ma hom elke kans wat ons kon kry in die tronk loop besoek. Ons het geweet waar om hom te kry. En noudat ek daaraan dink, dink ek mens bid nie eens in die kerk so hard en opreg as in ’n tronk of seker ook ’n hospitaal nie. Ja, ons het elke keer van die tronkdeure tot by die voertuig loop en huil. Oor die kind. Oor my wat hom moes piemp.”

En amper vyf jaar later vind hulle uit hy het onskuldig gesit. “Dis oukei Mammie,” hervat Zack. “Dis die beste ding wat Mammie vir my kon doen. Ek het dáár kop gekry en kyk hoe lyk ek nou. Ek is oukei.”

Nou die dag klop die buurman aan hulle deur. Hulle was aan die trek. Toe hulle die swaar laaikas van die muur wegtrek, kry hulle dié, sê hy. Hy is só jammer, maar dit moes daar afgeval het toe sy kinders dié dag vyf jaar terug in die kamer baljaar het. Hy het die foon na San Dee uitgehou, volgens haar sommer so ’n gewone 1-2-3-foontjie.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.