Al wat oorbly, is om te wens

LAAT ELKE VROU VRY LOOP

Al wat oorbly, is om te wens

Die dag toe hy mense met hul kinders in hulle arms uit hul huise sien vlug, besef ’n jongman hy is een van “hulle” en is dit sy versugting: Was dié maar ’n land waar elke vrou en kind werklik vry was en elke man net ’n mens vir ander mense, skryf ANASTASIA DE VRIES.

HY wens vir ’n land waar hy sonder skaamte man kan wees en geen vrou of kind bang is vir die vat van sy hand nie, en hy net ’n mens vir ander mense. Skaars 20 jaar oud en hy het genoeg gehad, genoeg gesien, te veel gesien. Nou is al wat oorbly, om te wens. Vir ’n land waar hy nie soveel onmenslikheid so vroeg hoef te aanskou het nie, waar elke stukkie onthou en weer en weer onthou nie ’n herhaling word van “ek wens...” nie.

Sy vriende is stil toe hy begin praat. Hy was ’n paar dae weg. Hulle was bekommerd. Daar was onrus in sy streek, het hulle gehoor. En sy foon was af. Net nog ’n dag of drie in gebroke, ou Suid-Afrika, begin hy sy verhaal. Hy het ’n streeptou mans sien vlug met huilende kinders in hulle arms, vroue met bondels wie-weet-wat in hulle hande. Die mense soek hulle nie in hul buurt nie, sê hulle moet terugdinges na waar hulle vandaan kom, het sy ma gesê toe hy uitvra. Die onrus broei al dae lank. Xenofobie al weer, het die mense die verskrikking naam gegee. Dis gelukkig ver van hulle af, het sy ma nog gesê, niks met hulle te doen nie. En toe kom die oorlog. En die CNN-beelde van vlugtelinge in die straat voor hul huis verby, vroue en kinders vooraan; mans die agterhoede, sommige met twee kleintjies in hul arms en nog een op die skouers. Vlug asof die hel en al sy duiwels agter hulle aan is. Ver anderkant sy woonbuurt het hulle tot rus gekom, sy buurt ’n soort buffersone tussen die “hulle” wat soos vullis op straat uitgesmyt is en die “ons” wat hier hoort.

Dit het donker geword, koud, klam. Hy kon die stemme van vroue onder in die pad uitmaak. Hy kon hul taal nie verstaan nie, die klanke van gerusstelling wel. Susgeluide. Sy ma het ’n hoop komberse in sy hande gestop. Vir die kinders, het sy gesê. Sy’t gehuil, het hy gesien. Sy’t onthou, het hy geweet. Van die jaar toe hulle alles verloor het, eers hulle pa, toe hul herberg, familie, vriende, en hulle met amper net die klere aan hul lyf op straat gesit is. Hy was so vyf jaar oud, sy suster bietjie ouer. Hulle’t die dag tot ver buite die grense van hul dorp geloop, donkernag ongesiens op die stoep van vreemdelinge skuilte gesoek. Die nag was koud. Hy, bibberend. Sy ma het hom onder haar trui ingedruk, saggies ’n slaaptydstorie begin vertel. In die hitte van haar lyf het hy aan die slaap geraak...

Slegs Vrye Weekblad-intekenare kan hierdie artikel lees.

Teken nou in vir volle toegang tot alle Vrye Weekblad-inhoud.

Reeds ’n intekenaar? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.