Ná die onskuld, die gewete

WIE KRY JOU STEM?

Ná die onskuld, die gewete

Vir wie gaan jy stem, vra ’n familiekind nou onlangs vir ANASTASIA DE VRIES, en sy is hom steeds ’n antwoord skuldig.

AL my sekerhede is weg. Eintlik weet ek nie meer nie. Dié besef ek toe een van onse kinders prontuit vra: Vir wie gaan jy stem? My geheim, sê ek. Eintlik weet ek nie. Maar dié sê ek nie. Nog so kind, amper-man en hy weet dit seker. Hy’t sy huiswerk gedoen, sê hy, elkeen van die ou lot se manifeste en voornemens tot in die fynskrif bestudeer soos mens met ’n kontrak moet doen. Dies in die regering is mos nie daar deur die Here se genade nie. Ménse. Het. Vir. Hulle. Gestem. Kontrak, sê hy asof “kontrak” op stemdag van die stadsmure verkondig gaan word. En noudat hy hul papiere ontluis het, dekades se feëverhale, eie-ekkerigheid, leë beloftes en futlose verwagtinge uitgeskud het, het net een oorgebly. Nie die gewildste party nie, ook nie die swartste nie, selfs nie een wat kan teer op die erfenis van ’n roemryke figuur soos meneer Mandela nie. Hy sal maar wag en kyk of en hoe hulle voor die verkiesing hul deuntjie gaan verander om aan die mag te kom. Nou het hulle sy stem. Vas en seker.

So seker soos ek op 27 April 1994 van wie my stem sou kry. So seker soos my familie vir watter party hulle sou stem. Ek was die een wat skuins geneuk het, het my jongste suster gesê. Al sprak ek toe ook geen sprook oor wie “my party” was nie. Daar was nog tyd om van plan te verander voor ek my kruisie op verkeerde plekke sou trek, het sy gesê. Die ry voor die burgersentrum in Ravensmead was al vierdubbel, anderkant verby die ou bibblioteek en die markie toe die deure oopgaan. Die mense het gejuig. Ek onthou die opgewondenheid, die uitgelatenheid. En die man in sy kerkpak, die elegante druk en swaai van die kierie in sy hand, aan sy arm sy vrou in haar Sondagklere en die kerkhoed met die baie rose op haar kop. Ons het pad gemaak sodat hulle eerste kon ingaan. Vandag, het hy gesê, vandag kan die Here hom maar kom haal, op die heilige dag, die dag waarvoor hy geleef het.

Ek onthou ek was op dié oggend al vir my op die ongewone uur van 6 vm. reg vir die dag, die piekniekmandjie met die eetgoed vir die lang staan gepak en die koelsak met die liters aanmaakkoeldrank regop by die deur. Ek het by die kombuistafel op my pa se stoel vir my susters gesit en wag om klaar te tittewyt. My pa sou dié dag nie sien nie, maar in my kop was sy stem en die woorde wat hy herhaal het solank hy geleef het. Julle moet leer. Ek wil my nie skaam as dié land eendag vry is en al wat julle het, is verskonings vir hoekom julle nie julle plek kan volstaan nie, het hy gesê. Dis hoekom hy werk, sodat ons kan. In my kop het ek vir hom gesê, eendag is vandag. Vandag trek ek my kruisies vir jou...

Slegs Vrye Weekblad-intekenare kan hierdie artikel lees.

Teken nou in vir volle toegang tot alle Vrye Weekblad-inhoud.

Reeds ’n intekenaar? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.