Speaker bedank, ‘maar dit beteken nie ek is skuldig’

DONDERDAG MET MERCY

Speaker bedank, ‘maar dit beteken nie ek is skuldig’

MERCY KANNEMEYER verklap een van Johannesburg se bes bewaarde geheime. WILLEM KEMPEN hou nie van die mes wat Jacob Zuma teen ons almal se keel hou nie, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 04 April 2024
  • Daagliks
  • 5 min om te lees

Goeiemôre!

1. Nosiviwe Mapisa-Nqakula sê haar bedanking gister as speaker van die nasionale vergadering is geensins 'n aanduiding of erkenning van skuld nie. Sy word daarvan beskuldig dat sy meer as R4 miljoen se omkoopgeld ontvang het in ruil vir tenders van 'n voormalige kontrakteur van die departement van verdediging. Dié kontrakteur het intussen 'n staatsgetuie geword.

2. Inwoners van Desai in Mariannhill, KwaZulu-Natal, het aan News24 gesê hulle is verlig nadat nege vermeende bendelede gister in ’n skietgeveg met die polisie dood is. Die mans is onder meer gesoek in verband met 'n voorval waarin hulle tydens 'n huisrooftog 'n meisie verkrag en haar ma gedwing het om toe te kyk.

3. Die saak van aanstigting tot geweld teen Visvin Reddy van die MK Party is gister in die landdroshof in Chatsworth tot 14 Junie uitgestel, waarna dit in die streekhof in Durban voortgesit sal word.

4. Die saak teen 12 mense wat van verskeie misdade by die Fort Hare-universiteit beskuldig word, het gister met rukke en stote in die landdroshof in Dimbaza aan die gang gekom weens verskeie vertragings en vergaderings met toe deure. Die verdagtes is oor die Paasnaweek in die Oos-Kaap, Wes-Kaap, Gauteng en KwaZulu-Natal in hegtenis geneem.

5. Die polisie in Tonga in Mpumalanga ondersoek ’n saak van moord en roof nadat ’n ongeïdentifiseerde ANC-raadslid in die oprit voor sy huis doodgeskiet is. Vier gewapende mans met klapmusse het Dinsdagaand by die huis in Mangweni naby Komatipoort ingestorm, het 'n polisiewoordvoerder volgens News24 gesê.

6. Nege mense is dood en meer as 900 is gister beseer in Taiwan se grootste aardbewing in minstens 25 jaar, het Reuters berig.

7. Twee mans het gister skuld erken op aanklagte van binnehandel in die aandele in die maatskappy wat verantwoordelik was vir die openbare notering van Trump Media & Technology Group. Hulle is Michael Shvartsman en sy broer Gerald Shvartsman van die waagkapitaalfirma Rocket One Capital in Miami.


Dis nog steeds meestal warm vandag, maar dit kan baie warm in die Noord- en Wes-Kaap word. Buie en donderbuie word in elke provinsie verwag, met uitsondering van die Wes-Kaap. Daar is oggendmiskolle oor dele van Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal, asook oor die Oos- en Wes-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 25°C • Johannesburg 23°C • Mahikeng 25°C • Mbombela 24°C • Kaapstad 23°C • Durban 28°C • Kimberley 24°C • Bloemfontein 22°C • Polokwane 26°C • Upington 29°C • Gqeberha 29°C • Oos-Londen 29°C.


Willem Kempen | Ons kan nie toelaat dat Zuma steeds ’n mes teen ons keel hou nie

Die ANC betaal steeds die prys vir al die lang jare wat hulle agteroor gebuig het terwyl Jacob Zuma gemaak en breek het soos hy lus kry. En toe die ANC uiteindelik ophou om hom te verdra, toe bekook Zuma die MK Party om verder sy vuilwerk vir hom doen. Nou jaag dié party namens hom nogmaals die spook van 2021 se oproer op om die res van die land te probeer afdreig.

Twee senior lede van die MK Party het nou al met chaos gedreig as hulle nie toegelaat word om op húlle terme aan die verkiesing deel te neem nie. Die nuutste voorbeeld is Visvin Reddy, wat gister in die landdroshof in Chatsworth verskyn het oor hierdie woorde:

We are sending a loud and clear message. That is: these courts are sometimes captured. If they stop the MKP there will be anarchy in this country. There will be riots like you have never seen in this country. There will be no election. No South African will go to the polls if the MKP is not on the ballot.

As dit waar is dat die video “gemanipuleer" is en dat Reddy nie presies dié woorde gebruik het nie, moet daar dringend klarigheid daaroor kom. Dit kan nie wag tot ná die verkiesing nie.

Dis 'n onbeskaamde dreigement om die verkiesing te ontwrig en is 'n minagting van die letter en gees van die Grondwet. Geen regstaat of demokrasie kan sulke uitlatings duld nie.



Image: ANGELA TUCK

Moenie in Joburg liefde kom soek nie, kom soek na jou menswees

Johannesburg het vinnig een van my gunsteling-plekke geword. Nou kyk, dit was nie maklik nie. Toe ek pas hier geland het, had ek geen idee wat met hierdie plek aangaan nie. Vir diegene wat nog nooit die mooie, skone (haha, ek jok) Johannesburg besoek het nie, hier volg ’n opsomming.

Absoluut niks werk nie. Die paaie is vol slaggate. Die verkeersligte lê onderstebo van stukkendgeit. Die krag gaan af en dan bly dit sommer af. Ons kyk nie meer na wanneer ons beurtkrag het nie, ons kyk eerder na wanneer ons wel elektrisiteit het en handhaaf ons kraggebruik daarvolgens. Die water. Shame. Ek weet nie hoe dit gekom het dat selfs ons water nie werk nie. Ek maak mos eendag die fout om die krane oop te draai sodat ek kon hoor wanneer die water terugkom. Nou kyk, dit was minute, ure en toe uiteindelik dae! Skoon vergeet ek het die krane oopgelos. Die aand toe Randwater ons verras met water … wel, onnodig om te sê – ek moes met gumboots in my huis rondloop. Maar hey, ten minste het die water teruggekom.

Lees die volle brief hier.


Sambrele in die son

hoekom loop al die vroue
van Suid-Afrika nie
met sambrele in die son
dink net hoe kan
so 'n verskroeide land
weer blom

– Margaret Cordier

Van: Versindaba

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.