’n Nasie gedy nie in pondokke nie

MAANDAG MET MAX

’n Nasie gedy nie in pondokke nie

Dit is in ons nasionale belang om te sorg dat arm Suid-Afrikaners ordentlike huise gaan hê waarin hulle hulleself en hulle gesinne kan koester, skryf MAX DU PREEZ. Hy bevraagteken ook die opposisiepartye se strategie om mekaar hand en tand te beveg en daar is, soos gewoonlik, sewe goed wat jy vandag wil weet.

Goeiedag!

1. Die vrede in die Midde-Ooste is op 'n mespunt nadat Iran 'n aanval met sowat 300 missiele en drones op Israel uitgevoer het uit weerwraak teen Israel se bombardering van die Iranse konsulaat in Damaskus twee weke gelede. Israel en Iran is al jare lank aartsvyande, maar dit is die eerste keer dat Iran dié land uit eie grondgebied aanval. Omtrent al die missiele en drones is deur Amerikaanse en Britse vegvliegtuie en Israel se lugafweer afgeskiet en net geringe skade is aangerig. Amerika, Brittanje en Europa het premier Benjamin Netanyahu ernstig gewaarsku dat sy wraakbegeertes nie die konflik moet laat eskaleer nie

2. Australië het twee nuwe helde: 'n blonde polisievrou en 'n onlangse immigrant uit Pakistan. 'n Man wat blykbaar geestesgesondheidsprobleme gehad het, Joel Cauchi (40), het Saterdag ses mense in 'n winkelsentrum in Sydney met 'n mes doodgesteek. Een van sy slagoffers was Faraz Tahir, 'n veiligheidswag wat gesterf het toe hy ander probeer red het. Inspekteur Amy Scott het Cauchi agterna gesit en toe hy dreig om haar te steek, het sy hom doodgeskiet.

3. Tshwane se beleërde DA-burgemeester, Cilliers Brink, het ná net 'n jaar in die stoel meer vordering met die metro se finansiële volhoubaarheid as enige ander metroraad gemaak, het Ratings Afrika bevind.

4. Prof. Pieter Duvenage, dekaan van die fakulteit geesteswetenskappe aan Akademia, Solidariteit se private Afrikaanse universiteit, het bedank –  blykbaar uit protes teen die inperking van akademiese vryheid. Rapport berig nog 'n senior akademikus met soortgelyke besware, dr. Hercules Boshoff, is geskors. Van die ontevredenheid gaan oor die “misbruik” van die NP van Wyk Louw-sentrum deur die akademiese hoof, prof. Danie Goosen, en sy seun, Daan, om 'n “vormingsideaal” vir studente na te streef en oor Akademia se houding teenoor evolusie.

5. Jacob Zuma se MK Party is 'n “tribal party and tribalism is its ideology”, skryf Barney Mthombothi in die Sunday Times. “MK’s unstated yet overt goal is tribal mobilisation,” skryf hy. “Tribalism will be the country’s undoing. Its future, its salvation, lies in forging one national identity.”

6. Die seekoei wat Saterdag gaap-gaap deur die strate van Grassy Park in Kaapstad gewandel het, gaan na 'n ander bewaringsgebied verskuif word. Die seekoei, eintlik 'n bul, het deur 'n omheining by die nabygeleë Rondevlei-natuurreservaat ontsnap. 'n Trop seekoeie is 50 jaar gelede in Rondevlei hervestig, waar hulle in die vorige eeue algemeen voorgekom het.

7. Die MK Party sê die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) voer 'n persoonlike vendetta teen Jacob Zuma. Die OVK wend hom nou tot die konstitusionele hof om 'n beslissing van die verkiesingshof dat Zuma wél 'n kandidaat in die verkiesing mag wees, omver te werp. Die party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, het aan City Press gesê: “Who’s at the helm of the constitutional court? Chief Justice Raymond Zondo, the same person who sentenced Zuma in 2021 — illegally and unlawfully.”


Daar is 'n waarskuwing vir swaar donderbuie wat vloede in dele van Noordwes, die Vrystaat en die Noord-Kaap kan meebring, asook vir swaar reën langs die Wildekus. Buie en donderbuie word oor die land heen verwag en dit sal hoofsaaklik koel wees.

Kliek hier vir meer inligting.

Maksimum temperature: Pretoria 21°C • Johannesburg 19°C • Mahikeng 20°C • Mbombela 23°C • Kaapstad 25°C • Durban 26°C • Kimberley 22°C • Bloemfontein 19°C • Polokwane 23°C • Upington 31°C • Gqeberha 23°C • Oos-Londen 23°C.


Max du Preez | Red nou ’n nasie met sulke opposisiepartye

Die ANC het Suid-Afrika in die grond in geboor met 20 jaar se wanregering. Die groot skuldige, Jacob Zuma, het nou 'n nuwe party gebaar wat die grootste enkele bedreiging vir ons demokrasie kan word. Die EFF is vasberade om Zanu-PF-streke uit te haal.

En wat maak die politieke partye buite die ANC-/EFF-/MK-axis? Hulle baklei hand en tand met mekaar.

Die jongste bekgeveg is tussen die DA en Rise Mzansi se Songezo Zibi, maar die DA en ActionSA het mekaar ook steeds aan die hare beet, terwyl die VF Plus se skinderveldtog teen die DA onverpoos voortduur.

John Steenhuisen van die DA het dalk ’n geldige punt as hy vra hoekom ander partye nou die Wes-Kaap teiken (die enigste provinsie wat behoorlik regeer word), eerder as om die ANC elders die stryd aan te sê.

Dit is so dat van die partye buite die ANC/MK/EFF skynbaar harder veg vir die stemme van diegene wat reeds vir die opposisie gestem het, meestal vir die DA, terwyl die ideaal moes wees dat hulle stemme van veral die ANC en MK moes probeer wegrokkel.

Maar Steenhuisen se skerp aanval op en demonisering van Zibi as ANC Lite is kleinlik en teenproduktief. Zibi is 'n gematigde, diep nadenkende politikus wat juis tot die politiek toegetree het om die ANC te probeer ontsetel.

Rise Msanzi se Wes-Kaapse verkiesingsveldtog kan dalk net 'n klomp ANC-ondersteuners in die provinsie se koppe draai – iets wat die DA nie meer kan doen nie.

Steenhuisen se tirades gaan die DA geen ekstra stemme besorg nie; dit versterk eerder die persepsie by vele dat die DA 'n klomp arrogante wit mense is. Dalk het hy Rise Mzansi 'n guns gedoen, want baie swart kiesers neig om te glo as die DA jou aanval, moet daar iets goeds aan jou wees.

Steenhuisen se foxterriër, die LP Leon Schreiber, het gister sy leier se blafwerk voortgesit deur Rise Mzansi as “wolwe in skaapsklere” te beskryf wat ná 29 Mei vir die ANC se grondonteieningswet en ander rasbeleide gaan stem.

Dit is nonsens. Zibi se siening van die grondkwessie is baie meer genuanseerd en gesofistikeerd as net die konfiskering van wit mense se eiendom. Hy is 'n nugtere sosiaal-demokraat.

Rise Mzansi het dit lankal duidelik gemaak dat hulle ná die verkiesing oop sou wees vir 'n koalisie van opposisiepartye, ook die DA en die Veelpartyhandves, eerder as dat hulle met die ANC gaan heul.

Die DA moet begin besef dat die gewone opposisiekieser, ook die meeste DA-kiesers, meer daarin belangstel dat die opposisie buite die ANC/MK/EFF versterk word as wat hulle wil hê die DA moet groei. Dit gaan vir kiesers oor die toekoms van ons demokrasie en ons ekonomie, nie die toekoms van die DA nie.

Mmusi Maimane is as DA-leier weggejaag omdat dié party in die 2019-verkiesing swak gevaar het. Dit is seker nie meetbaar nie, maar ek het 'n gevoel die DA sou op 29 Mei baie beter met hom as leier gevaar het as met Steenhuisen en sy huidige leierskorps.



Huis, paleis, pondok, varkhok

Ek is my hele lewe lank al 'n bietjie van 'n rolling stone wat nie juis mos vergader het nie. Vandat ek begin werk het, het ek al meer as 40 tuisadresse gehad. Die vrou met wie ek my lewe nou al 'n kwarteeu lank deel, is nie veel beter as ek nie. Saam het ons al tien keer getrek.

Die Engelse woord is peripatetic, iemand wat voortdurend van plek tot plek verskuif. Daar is seker waarde aan dié soort rusteloosheid. Dit keer dat 'n mens vasroes – konstante verandering, glo ek, is goed vir mens se gees.

Maar hier in my latere dekades begin ek wonder of dit regtig goed was vir my. Ek begin ál meer dink dat 'n mens dalk ryker in jou gemoed en jou verstand kan wees as jy 'n onmiddellike omgewing kan skep waarin jy veilig en geborge voel; 'n soliede basis vanwaar jy jouself kreatief kan uitleef en kan groei. En dit kan nie elke jaar 'n ander plek wees nie.

Lees die volle brief hier.


Lilac tree

A lilac tree's like Paris,
aglow with wasps of windows
you stir a silver cluster
of wet and clammy houses.

Buzzing round with beetle brows,
grim with happiness and grief
I gather
                Paris
                          like the bees
into the bags under my eyes.

– Andrei Voznesensky, vertaal deur Mark Hayward

Uit: Antiworlds

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.