‘Kom stap jý sonder wagte deur ons strate, Bheki Cele’

DINSDAG MET ANESCA SMITH

‘Kom stap jý sonder wagte deur ons strate, Bheki Cele’

ANESCA SMITH skryf oor die nood van honde en die woningnood in Nederland. WILLEM KEMPEN wonder of sommige Trump-ondersteuners ooit deur die man gaan sien. En dan is daar weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 16 April 2024
  • Daagliks
  • 5 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die vermeende moordenaar Werner de Jager het homself in die King Edward-hospitaal in Durban om die lewe gebring. Hy het na bewering in Oktober 2021 sy vrou, die NG leraar ds. Liezel de Jager, by hulle huis in Amanzimtoti vermoor. Hy was onder polisiebewaking in die hospitaal nadat hy vroeër vandeesmaand vanuit die Westville-gevangenis soontoe oorgeplaas is.

2. 'n Gemeenskapsaktivis van Zwide in Gqeberha het 'n uitdaging gerig aan Bheki Cele, minister van polisie, om 'n dag lank sonder sy BBP-beskermers in dié metro se townships rond te stap. Pamela Mabini het volgens News24 gesê sy sal graag wil sien of Cele die lot sal kan vermy van plaaslike inwoners wat gereeld aangeval of beroof word.

3. Die Nasionale Vervolgingsgesag gaan binnekort begin met die uitleweringsproses van Moroadi Cholota, voormalige persoonlike assistent van Ace Magashule. Dié voormalige Vrystaatse premier het gister saam met sy medebeskuldigdes in die Vrystaatse hooggeregshof in Bloemfontein verskyn in verband met die destydse asbes-tenderskema van R255 miljoen. Cholota studeer tans in die VSA, maar is deur die owerhede daar in hegtenis geneem nadat sy 'n ooreenkoms verbreek het om teen Magashule te getuig.

4. Die oorlog in Soedan het “een van die ergste vlugteling- en humanitêre krisisse in die wêreld" veroorsaak, maar word feitlik heeltemal deur die internasionale gemeenskap geïgnoreer, het Filippo Grandi, die VN se hoë kommissaris vir vlugtelinge, aan Reuters gesê.

5. Die FBI het 'n federale strafregtelike ondersoek begin na die dodelike ineenstorting verlede maand van 'n brug in Baltimore se hawe toe 'n skip een van die stutte getref het.

6. Tesla gaan meer as 10% van sy wêreldwye arbeidsmag afdank, volgens 'n interne memo wat deur Reuters gesien is. Die maatskappy worstel met dalende verkope en 'n prysoorlog vir elektriese voertuie. Twee senior Tesla-amptenare het ook gister hulle bedanking aangekondig: Drew Baglinosenior vise-president vir battery-ontwikkeling, en Rohan Patel, vise-president vir openbare beleid en sake-ontwikkeling.

7. Die grootliks ongesogte titel as “Mejuffrou KI" sal eersdaags op die spel wees wanneer die wêreld se eerste kompetisie vir kunsmatige skoonhede as deel van die Fanvue World AI Creator Awards (WAICAs) gehou word. KI-kundiges se skeppings sal op grond van dinge soos skoonheid, gebruik van tegnologie en impak op sosiale media beoordeel word. Totale prysgeld van $20 000 sal op die spel wees.


Daar is weer 'n waarskuwing vir swaar reën met moontlike vloede oor dele van Noordwes, die Vrystaat, Gauteng, Mpumalanga en KwaZulu-Natal. Dit bly vandag meestal koel met buie en donderbuie wat oor meeste dele van die land verwag kan word, met uitsondering van die Wes-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 24°C • Johannesburg 20°C • Mahikeng 22°C • Mbombela 22°C • Kaapstad 24°C • Durban 25°C • Kimberley 24°C • Bloemfontein 22°C • Polokwane 23°C • Upington 30°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 24°C.


Willem Kempen | Skuif nader vir die Donald, Stormy & Cohen Show

As Donald Trump in 2016 kort voor die verkiesing teen Hillary Clinton al geweet het watter sondes sy fans alles bereid is om oor te sien om steeds vir hom te wil stem, het hy dalk nooit sy destydse “lawyer and fixer" Michael Cohen gevra om tjoepstilgeld van $130,000 aan die pornografiese “aktrise" Stormy Daniels te betaal nie. Dan was dit dalk ook nie nodig om die terugbetalings aan Cohen as gewone regskostes te probeer verbloem nie.

Dis dié wegstekery wat Trump nou laat geskiedenis maak as die eerste Amerikaanse oudpresident teen wie 'n strafsaak in 'n hof begin, want die vervalsing van sakerekords in New York is 'n misdryf wat hom vir so lank as vier jaar in die tronk kan laat beland. Jurie-seleksie het gister in Manhattan begin.

Op die Trump-skaal drup die nagevolge van 'n hartstogtelike verhouding van etlike sekondes (of so raai 'n mens) in 'n hotelkamer nie juis van die gravitas nie. Die drie ander komende strafsake teen Trump – twee oor sy pogings om die uitslag van die 2020-verkiesing om te keer, en een oor sy hantering van geklassifiseerde dokumente nadat sy ampstermyn verstryk het – is veel ernstiger. Maar tog, dit gaan nogmaals 'n geleentheid wees waar kiesers die ware Trump sal kan sien: 'n man wat geen respek het vir sy amp, vir kiesers of vir die Amerikaanse grondwet nie, en nie huiwer om te lieg om sy bas te red of sy mantel na die heersende winde te draai nie.

Hopelik is daar nog genoeg Amerikaners vir wie sulke dinge in November gaan saak maak.



Geen poep op die stoep – óf in een tuintje

Tussen die droewige reënbuie verlede week, was daar één hemelse sonskyndag. Mens en dier gryp die geleentheid aan om buite rond te baljaar, want dit ís soos die Nederlanders sê: “April doet wat ie wil.” Dus weet niemand wanneer ons weer ’n droë dag gaan sien nie. Miskien eers in Mei.

Saans ná ete gaan ek ’n draai in die buurt loop en stuiter op ’n kennisgewing af. ’n Stuk papier vasgespyker aan ’n boomstam, soos Martin Luther in 1517 sy 95 stellings teen die kerkdeur in Wittenberg sou vasgespyker het, wat die verdeling tussen die Protestante en die Rooms-Katolieke Kerk aangekondig het.

Maar dié kennisgewing is ’n aankondiging oor die verdeling tussen honde-eienaars en nie-honde-eienaars. In geïrriteerde rooi letters staan daar: “Dit is een tuintje – GEEN plek vir hondenkak.”

Lees die volle brief hier.


Terugflits

lyne vervaag
maar jou hare was growwerig
soos 'n hondjie
en jou wang 'n braambos

– Stephan Bouwer

Uit: So sal ons uitpasseer

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.