Siya haal lys van 100 invloedrykstes; kommer groei oor werkloosheid

DONDERDAG MET LAUREEN

Siya haal lys van 100 invloedrykstes; kommer groei oor werkloosheid

LAUREEN ROSSOUW meen lewensgetrou is nie noodwendig meer genietbaar nie. ANNELIESE BURGESS sien deur Joburg se water-gemors, en daar is weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 18 April 2024
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

1. Siya Kolisi is ingesluit in die TIME100-lys vir 2024. Die tydskrif met dieselfde naam publiseer elke jaar 'n lys van die 100 invloedrykste mense ter wêreld.

2. Die jongste slagoffer in 'n onlangse reeks ontvoerings in Nelson Mandelabaai is uit aanhouding gered. Lu Xiao is Dinsdagaand gered nadat lede van die Valke, Gqeberha se blitspatrollie en 'n gyselaar-onderhandelingspan op 'n huis in Missionvale toegeslaan het. Die polisie het drie verdagtes in verband met die ontvoering in hegtenis geneem en hulle sal Vrydag in die Kariega-landdroshof verskyn, het News24 berig.

3. Suid-Afrika se werkloosheidskoers sal na verwagting vanjaar tot 33,5% styg en in 2025 verder versleg tot 33,9%, volgens vooruitskattings van die Internasionale Monetêre Fonds. Statistieke SA se amptelike werkloosheidskoers vir die vierde kwartaal van verlede jaar was 32,1%. Dit beteken daar was 7,9 miljoen mense sonder werk en dat byna een uit elke twee Suid-Afrikaners jonger as 35 werkloos was. Van die lande wat die IMF in sy onlangse World Economic Outlook ondersoek het, was net Soedan se werkloosheidskoers erger as Suid-Afrika s'n.

4. Verbruikerspryse het in Maart effens stadiger gestyg as wat ontleders verwag het. Die amptelike jaarkoers van 5,3% was laer as  Februarie se 5,6%. Die grootste stygings was in behuising en nutsdienste, ander dienste, vervoer en kos.

5. Katar se premier, Mohammed bin Abdulrahman Al Thani, het gisteraand gesê samesprekings oor 'n skietstilstand in Gaza en 'n moontlike vrylating van gyselaars is in 'n “delikate fase" en dat alles gedoen word om oorblywende struikelblokke uit die weg te ruim.

6. Minstens 14 Israeliese soldate is beseer toe die Libanese terreurgroep Hezbollah gister militêre fasiliteite in die noorde van Israel met missiele en drones bestook het, het Reuters berig.

7. Boston Dynamics het die nuutste weergawe van sy Atlas-robot bekendgestel. Dit is ten volle elektries en geen hidroulika word gebruik nie.


Dis vandag meestal deels bewolk en koel tot warm in meeste dele van die land, met miskolle wat in die oggend in dele van Noordwes, die Vrystaat en die Kaapprovinsies verwag word. Dit kan baie warm in sommige dele van die Noord-Kaap word. 

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 24°C • Johannesburg 23°C • Mahikeng 26°C • Mbombela 24°C • Kaapstad 22°C • Durban 28°C • Kimberley 26°C • Bloemfontein 25°C • Polokwane 24°C • Upington 33°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 24°C.


Anneliese Burgess | ‘Sistemiese’ ramp met waterdienste wag op Joburg

Die jammerlike toestand van Johannesburg se water- en sanitasie-infrastruktuur word in Johannesburg Water se sakeplan vir 2023-’24 blootgelê.

Volgens 'n dokument wat News24 onder oë gehad het, het die stad se watermaatskappy R64 biljoen nodig om ou infrastruktuur oor die volgende dekade te vervang en op te knap, maar niemand weet waar daardie geld vandaan gaan kom nie. Die verslag lui voorts dat die geldwaarde van die agterstand in infrastruktuur – “bates wat die einde van hulle leeftyd bereik het" – nou op 'n verbysterende R24 biljoen staan en dat “hierdie tendens sal voortduur as gevolg van ontoereikende befondsing, wat sal lei tot verhoogde infrastruktuur-ineenstorting, finansiële verliese en ontevrede verbruikers".

Dis 'n donker prentjie, maar nie 'n verbasende een nie as jy 'n inwoner van Johannesburg is en in dele van die stad woon waar daar vir tot drie weke aaneen geen water is nie.

Een van die grootste redes vir die geweldige agterstand is dat die begroting vir water- en sanitasie-infrastruktuur eenvoudig nie bygehou het met die reuse-migrasie na groot stede nie, veral Johannesburg en Kaapstad. En dan is daar natuurlik die alomteenwoordige wanbesteding, korrupsie en wanbestuur. Onreëlmatige besteding deur Johannesburg Water het in 2017-’18 op R418 miljoen gestaan. In die daaropvolgende jaar was dit R792 miljoen. In die jaar daarna het dit na R1,5 biljoen gespring, toe effens geval tot R1,4 biljoen, en in 2020-’21 tot R2,1 biljoen opgeskiet.

Die burgemeester van Johannesburg in 2020 was Geoffrey Makhubo. Hy het destyds die donker waarheid erken: “The AG’s report concurs with us that the financials of the City are reflective of some gross maladministration and possible fraud and corruption... it is a reflection of a systemic push to dismiss competent officials over the last 3 years and to corruptly manipulate the procurement processes of the City, and his previously mentioned concerns about unplanned, self-created emergency procurement... the City has also lost some R617 million of much-needed service delivery grants back to National Treasury due to a failure to spend."

Nou ja toe. So die probleem is nie net “ontoereikende befondsing" nie. We see you, Joburg...



’n Meesterstuk, so hoekom is dit nie so lekker om te kyk nie?

Wanneer ek die vrae in “15 vrae” vra, ons Vrye Tyd-afdeling se guilty pleasure, hoop ek altyd vir ’n embarrasserende of ten minste polities inkorrekte antwoord, maar dis gewoonlik wensdenkery – nie baie mense gaan hulleself op ’n openbare platform ontbloot nie.

Die konsep van 'n guilty pleasure is ook outyds. Deesdae voel mense oor niks (behalwe suiker) skuldig nie. Die vraag is eintlik wat wil jy nie hê ander mense moet van jou weet nie, soos byvoorbeeld André P. Brink wat Sewende Laan gekyk het of my aanmatigende BMus-huismaat wat soggens na Demis Roussos geluister het as ek werk toe gaan. (Ek het self 'n Spotify playlist wat met my dood uitgewis moet word.)

My grootste guilty pleasure van die afgelope paar jaar is die fliek The Talented Mr. Ripley. Ek het dit al hoeveel keer in helder daglig gekyk. Sodra almal by die huis uit is, trek ek die gordyne toe en kyk na die 2 uur en 19 minute van pure plesier met die 25-jarige Matt Damon se horingraambril en seuntjiegesiggie as Tom Ripley op die Amalfi-kus.

Dit is die verhaal van 'n sukkelende swendelaar wat blootgestel word aan die luukse lewe van die jongmense van sy eie ouderdom wat onbeperkte toegang tot familiegeld en weelde het. Hy smag na dié leefstyl en raak obsessief verlief op die Dickie Greenleaf-karakter, wat natuurlik fatale gevolge het – dis waar Mr. Ripley se skelmstreke afskop. Ek hang aan sy elke woord, volg sy elke handeling. Vasgegom tot aan die einde asof mens hom wil aanhelp en beskerm – ’n rags to riches-storie. Dié fliek van Anthony Minghella het alles: afguns, aspirasie, obsessie, bedrog, 'n gay subteks, moord ... noem maar op.

Perfekte Saterdagmiddag-ontvlugting.

Verlede week gons dit op sosiale media oor die nuwe Ripley op Netflix; ’n film noir-reeks van agt episodes - à la Alfred Hitchcock. Ek voel skielik so onthuts. Asof my skelmpie nou met die hele sak patats in die openbaar uitkom en ons verhouding aan die wêreld verkondig.

Ewenwel, dis 'n groot gebeurtenis in ons huis aangesien ons sosiale lewe deesdae al hoe meer van die stroomdienste afhanklik is. Ons begin dieselfde aand kettingkyk.

Die nuwe Ripley van regisseur Steven Zaillian is in 'n ander klas. Die kinematografie is uitsonderlik en beweeg teen 'n stadige pas. Elke raampie is 'n kunswerk. Ek verlustig my in die onopgesmukte villas teen die hange van die dorpies op die Amalfi-kus, met interieurs soos mens net in die ou herehuise van Europa aantref waar meubels wat nie bymekaar pas nie, elkeen 'n versamelstuk van 300 jaar oud is en nonchalant in die kamers met die hoë plafonne rondstaan. Hier en daar 'n verdwaalde Picasso op die muur en talle wegsnyskote na Caravaggio’s wat sinspeel op die donker ooreenkomste tussen Ripley en die skilder. Die landskap en tonele is minimalisties en genuanseerd verfilm. 'n Meesterstuk.

Maar teen episode vyf sê my man: “Ek wens hulle wil die man nou vang. Hy’s evil. Ek haat evil.”

Dís die groot verskil. Mens voel nie empatie met die Ripley van Andrew Scott nie. Hy word uitgebeeld as 'n geïsoleerde en berekende karakter, met 'n diep onderdrukte seksualiteit wat hom van homself en die wêreld verwyder. En hy lyk en tree soos 'n reeksmoordenaar op.

Jy kan die twee films nie vergelyk nie. Een is ’n Hollywood-fliek en die ander ’n kunsfilm-reeks. Die nuwe Ripley is beslis meer getrou aan die lewe – uitdagend en deurdag. Maar een ding is seker, dit is geen guilty pleasure nie.


Deuntjie

My huis is so gehawend
soos dié van 'n Moorse koning:
Buite vrot die pleisterklei
maar binne is my woning.

– Johan Myburg

Uit: Uittogboek

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.