Eers gelag en toe gehuil...

DIEFSTAL

Eers gelag en toe gehuil...

ANASTASIA DE VRIES vertel van die dag toe daar by haar huis ingebreek en haar pa finaal van haar gesteel is.

WIE het my boetse op my kooi gesit? Ek lag. Vir die klein, klein stemmetjie, kompleet Baba Beer wie se pap gesteel is. Was ’n week weg en dié vreemdheid begroet my. Winterboetse op my kooi, bo-op die boeke wat nog net so lê soos ek hulle gelos het. Het jy dit daar gesit? vra ek vir my meisiekind wat vroegdag opgedaag het om ’n Paasete vir haar ma te kom kook. Hoekom sou sy? wil sy weet. Sy het niks in my kamer te soek gehad nie, is reguit van die voordeur kombuis toe. Het jy nie jou boetse daar gesit nie? vra sy. Hoekom sou ek?

Iets is fout, sê ek vir onse twee seunskinners wat my by die lughawe kom haal het. Iets ís fout, beaam die oudste een, daar lê boeke op jou vloer, hy's ontstem oor dié heiligskennis. Was nie daar toe ek weg is nie, op my kooi, ja. Ook nie die klere op die vloer in die ander kamer nie. Winterklere, nogals. Was weggepak op die boonste rakke van ’n kas. Ek sweer ek sien vuil vatmerke op my boeke, my klere. Ek gril. ’n Gesiglose iemand was in my plek, onverskillige kloue het aan my goeterse gevat. Ek is kotsnaar. Kyk, roep die jongste seunskind uit my kamer, hulle’t hier ingekom. Nalatige ek het die boonste kamervenster oopgelos. Een van die dwarssparre van die diefwering voor die onderste een is afgetrap, die opening groot genoeg om ’n kind of ’n skraal, klein mannetjie deur te laat. Dalk ’n kind én ’n skraal, klein mannetjie. Die gedagte maak my woedend, dat ’n grootmens ’n kind kon misbruik om sy vuilwerk te doen. Ek sak neer op die kant van my kooi, langs die boetse, netjies in gelid, asof gereed om weg te loop.

Maar wat het hulle gevat? vra my meisiekind. Op die oog af niks behalwe die herlaaibare ligte en ’n selfoon nie. Die TV met dekodeerder staan nog net so dooie-oog op ’n rak, die eksterne hardeskyf met my hele lewe daarop, onverstoord bo-op die boeke op ’n rak, die kragomsetter se groenoog blink in ’n hoek, my kaste en laaie oënskynlik onaangetas. Ek trek ’n laai oop. Iemand se kloue was duidelik hierin. Die goed is deurmekaar gewoel. Ek wil die res nie bekyk nie. Kyk reg, sê my meisiekind, sy bel solank die polisie. Ek voel in die hoek van ’n kas waar my skootrekenaar was. Dis weg...

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.