Nog ’n kleuter sterf in puttoilet; hof sê nee vir ANC oor MK

DINSDAG MET ANESCA SMITH

Nog ’n kleuter sterf in puttoilet; hof sê nee vir ANC oor MK

ANESCA SMITH vertel hoe die donker kant van Nederland se Goue Eeu deesdae die aandag kry wat dit verdien. MAX DU PREEZ beleef weereens die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi, en daar is soos gewoonlik sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 23 April 2024
  • Daagliks
  • 6 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die hooggeregshof in Durban het die ANC se aansoek met koste van die hand gewys dat Jacob Zuma se MK Party verbied moet word om 'n naam en kentekens te gebruik wat met uMkhonto weSizwe geassosieer word omdat dit kiesers sou verwar. Die ANC wil teen die beslissing appelleer.

2. Nog 'n kleuter het verdrink nadat hy in 'n puttoilet geval het, dié keer in Mdantsane in Oos-Londen. Die driejarige Unecebo Mboteni is Donderdag deur 'n personeellid by die Little Champions-dagsorgsentrum in die toilet ontdek nadat hulle opgemerk het hy is nie by die ander kinders nie. Hy is later in die Frere-hospitaal oorlede. Die provinsiale onderwysdepartement ondersoek die voorval.

3. Die gewilde komediant en DJ Peter “Mashata" Mabuse is vroeg Sondagoggend doodgeskiet op pad terug van 'n optrede in Soshanguve, noord van Pretoria. Volgens sy familie het Mabuse die bakkie bestuur toe hy geskiet is.

4. Die celebrity-sjef Lusizo Mvula Henna, beter bekend as Chef Sizo, is in die Johannesburgse gespesialiseerde handelsmisdaadhof tot 10 jaar tronkstraf gevonnis weens belastingbedrog van meer as R5 miljoen. Landdros Phindi Keswa het gesê die betrokke geld sou vir beter infrastruktuur in die land kon help betaal.

5. Prof. Muhammed Haron, seun van die anti-apartheidsaktivis imam Abdullah Haron, is Al Jama-ah se premierskandidaat in die Wes-Kaap in die komende algemene verkiesing. 'n Ondersoek verlede jaar na sy pa se dood het bevind dat hy deur die destydse veiligheidspolisie doodgemartel is.

6. Meer as 40 mense is gister tydens 'n pro-Palestynse betoging by die Yale-universiteit se kampus in New Haven, Connecticut, in hegtenis geneem nadat hulle glo die verkeer versper het. Ure tevore is klasse by Columbia gekanselleer “om spanning te ontlont" nadat die polisie verlede week op 'n tentkamp van betogers toegeslaan het.

7. Pres. Joe Biden het gister, om met internasionale Aardedag saam te val, subsidies van $7 biljoen vir huishoudelike sonkragprojekte vir byna 'n miljoen lae-inkomste-huishoudings aangekondig.


Daar is 'n waarskuwing vir toestande wat moontlik 'n hoë brandgevaar vir dele van die Noord-Kaap inhou. Mooi weer en warm tot baie warm toestande word meestal oor die binneland verwag. Dit sal ook deels bewolk tot bewolk wees in dele van die Kaap-provinsies. KwaZulu-Natal kan buie in die suidooste verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 30°C • Johannesburg 28°C • Mahikeng 31°C • Mbombela 31°C • Kaapstad 21°C • Durban 25°C • Kimberley 30°C • Bloemfontein 29°C • Polokwane 31°C • Upington 32°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 23°C.


Max du Preez | ‘Ons maak ons eie fokken movie’

Suid-Afrika was nie veronderstel om verlede jaar weer die Wêreldbeker-rugbytoernooi te wen nie. Die meeste rugbyskrywers en -kommentators buite Suid-Afrika was dit vooraf eens: die beker behoort aan Frankryk, of Engeland, met Nieu-Seeland die buiteperd.

En toe doen die Springbokke dit. Met goeie afrigting, taktiek en hope talent, ja, maar eintlik met hart. En met die wete dat hulle vir 'n hele nasie speel.

Ons het dié verhaal nou weer met die uitstekende dokumentêre reeks Chasing the Sun 2 beleef, en dit was net so opwindend soos die aanloop tot die eindstryd verlede jaar was.

Die sielkunde van die laaste drie wedstryde, die geestelike voorbereiding, is iets waaruit ons politici, ons sakeleiers en onderwysers baie kan leer.

Hier is afrigter Jacques Nienaber in die kleedkamer voor die eindstryd teen die hoogs talentvolle All Blacks. Beter as dít kry jy nie maklik nie (en ekskuus, dit is verbatim):

“It’s just a fucking hurdle. It’s just another obstacle to jump over. They actually didn’t expect you to even go past the quarter finals in 2019.

“But that’s the beauty of this thing. They can script anything they want, at the end of the day we decide what the movie will look like. You guys have the ability to go: fuck you, we’ll write our own fucking story, you will not fucking tell us what story to write.

“And you know why? Some of you, where you come from, shouldn’t even have been here. This was not supposed to be your movie, your story.

“But you know what, in your own personal lives you wrote a different story. You told the world, fuck you, I’ll show you I’ll make it, I’ll show you we’ll be one of the best teams on the world stage.

“You decided in your own personal life, and now this group had decided: we will not be scripted out of the movie because you decided that. Fuck you. We’ll write our own story. We can’t let them script our movie for us.”

En daar beleef ek weereens die eindstryd.

Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth, Duane Vermeulen, RG Snyman en Siya Kolisi wat hulle opponente moordend en kneusend tackle.

Die ongelooflike voetwerk, dinkwerk en vaart van Damian Willemse, Cheslin Kolbe en Kurt-Lee Arendse, die determinasie en durf van Damian de Allende en Faf de Klerk, die fokus en presisie van Handré Pollard.

Deon Fourie wat onverwags 70 minute lank haker moes speel, 'n groot deel daarvan met 'n beseerde skouer, toe Bongi Mbonambi seergekry het.

Halftyd in die kleedkamer sê 'n trotse en opgewerkte Nienaber aan sy manne: “Ons fokken tackle hulle fucked-up.” Pollard sê: “We’re going to be smart and fucking ruthless.”

En toe wás hulle.

En nog nooit in die geskiedenis van die Wêreldbeker het soveel groot, macho mans soveel trane gestort, openlik getjank, soos die Springbokke ná die eindfluitjie nie. Want dit was meer, veel meer, as 'n sportoorwinning.

Rassie Erasmus vertel dat hy agterna in die hotel met die span gesels het (weer verbatim):

“We sat there and I was asking, guys, can we now go back to South Africa and not fall back into the trap where somebody talks kak and you keep your mouth shut?

“And you say, ja, everything is fucked up in South Africa. Can you say: ‘No, no no no no, we can fix it?'

“Because people will listen to you. And if you’re not an outgoing person, somebody who can talk like that, call them aside and say hey, stop talking shit about our country. Let’s make a plan, let’s start living it outside rugby.

“And all the players said yes, sure, because people carried us through that World Cup. It’s the people. Although they weren’t there, we felt them. And I just felt let's give it back now, not just through rugby.”

Dít is wie ons as Suid-Afrikaners kan wees.



Donker kant van Nederland se Goue Eeu word belig

Iewers rondom 2018 ontwikkel ek ’n obsessie met Westerns – lank ná die genre se heyday natuurlik, maar voor Beyoncé se album Cowboy Carter. Met ander woorde, neo-Westerns.

Soos die Coen-broers se The Ballad of Buster Scruggs, The Power of the Dog, Quentin Tarantino se The Hateful Eight, Hell or High Water en reekse soos The English. Laasgenoemde – waar die helde ’n inheemse Indiaan en ’n Engelse vrou met sifilis is – is die vergestalting van ’n nagmerrie wat ek soms kry oor 'n Suid-Afrika wat uiteindelik in totale wetteloosheid verval. ’n Uitgestrekte landskap van misdaad waarin niemand jou hoor skreeu of in staat is om jou te help nie.

Lees die volle brief hier.


Te kort ons liefdestyd:

Te lank die rou

Tog – tot in Ewigheid

Goddank vir jou!

A.G. Visser

 

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.