Vyf perde, ’n woelgees, ’n alligator en ’n siek oudpresident

DONDERDAG MET ALI

Vyf perde, ’n woelgees, ’n alligator en ’n siek oudpresident

ALI VAN WYK dink terug aan drie sleuteloomblikke in die afgelope 30 jaar van demokrasie wat in sy geheue vasgevries is. WILLEM KEMPEN wonder of mense se motiewe oor taal en godsdiens altyd suiwer is, en daar is weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 25 April 2024
  • Daagliks
  • 5 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die Reserwebank het beslag gelê op sowat R60 miljoen in bankrekeninge asook eiendom van Berdine Odendaal, beweerde destydse minnares van die oorlede Steinhoff-baas, Markus Jooste. Die Reserwebank is by die saak betrokke omdat R60 miljoen glo van 2011 tot 2015 strydig met valutabeheerregulasies van Steinhoff International-rekeninge via Jooste se Mayfair Speculators na Odendaal oorgeplaas is.

2. Vier onafhanklike bronne het aan News24 gesê daar is kommer in sy binnekringe oor Jacob Zuma se gesondheid. Hy het verlede Vrydag sy veldtogwerk vir die MK Party opgeskort nadat hy ineengestort het. Daar was glo onlangs nog sulke voorvalle. Dit word aan ooreising en lae bloeddruk toegeskryf.

3. Die polisie se BBP-beskermingseenheid het tussen 2018 en 2022 R34 miljoen aan brandstof vir sy voertuie bestee, het Bheki Cele, minister van polisie, in antwoord op 'n geskrewe parlementêre vraag van die DA-LP Andrew Whitfield gesê.

4. Die balju in Kaapstad het gister toegeslaan op die huis van die diamant-woelgees, Louis Liebenberg, en op bates insluitend stoele en 'n yskas beslag gelê. ’n Afsonderlike klopjag is uitgevoer by die Kempton Parkse kantore van Liebenberg se maatskappy Tariomix, wat onder likwidasie is. 

5. Vyf weghol-perde het gisteroggend in spitstyd amok gemaak in die Londense middestad. Die perde van die Household Cavalry het glo vir bouers geskrik en die strate ingevaar. Vier mense en minstens een van die perde is beseer voordat hulle aangekeer kon word. Nie een van die beserings is glo ernstig nie.

6. Joe Biden het wetgewing bekragtig vir 'n militêre hulppakket van $95 biljoen wat bystand vir Oekraïne, Israel, Taiwan en ander bondgenote insluit. Biden het ook 'n verbod op TikTok bekragtig, maar die maatskappy gaan dié wetgewing op grondwetlike gronde beveg.

7. 'n Alligator wat op 'n aanloopbaan van die MacDill-lugmagbasis in Florida beland het, is gevang en in 'n rivier daar naby vrygelaat, het AP berig.


Daar is steeds 'n waarskuwing vir toestande wat 'n hoë brandgevaar inhou vir dele van die Noord-Kaap, Gauteng en Noordwes. Die Vrystaat word vandag warm tot baie warm. Dis ook deels bewolk tot bewolk in Mpumalanga, Limpopo, Noordwes en die Kaap-provinsies. Buie word in KwaZulu-Natal verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 29°C • Johannesburg 28°C • Mahikeng 31°C • Mbombela 26°C • Kaapstad 20°C • Durban 25°C • Kimberley 31°C • Bloemfontein 29°C • Polokwane 27°C • Upington 35°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 23°C.


Willem Kempen | Al die woede...

Hier kort voor ons 30ste verjaardag as 'n demokrasie is ons van voor af 'n land van woede. Ons voel in die steek gelaat oor alles wat soveel anders kon gewees het. Ons stry van voor af oor hoe ons weer op die wenpad kan kom en wie die stuurwiel moet vashou. Ons kan nie eens praat oor iets soos die Krugerwildtuin of Markus Jooste se testament sonder om vingers te wys of in wanhoop te verval nie.

Daar was vroeër in die week 'n rassevoorval by 'n hokkiewedstryd tussen my kinders se skool en 'n naburige een. Ek was nie daar nie, so ek kan nie weet presies watter komplekse stel dinge dalk oor 'n lang tyd gebeur het wat uiteindelik in die hitte van die stryd op die oppervlak uitgebars het nie. Wat ek wel weet, is dat ek nie vir 'n verdere oomblik die voordeel van die twyfel gaan gee aan 'n ma wat die k-woord teenoor iemand anders gebruik nie. Geen swak skeidsregter of aggressie van 'n teenstander of opgeboude frustrasie of onreg of persoonlike krisis by die huis verskoon dit nie. Nie 30 jaar gelede nie en ook nie vandag nie.

Tóg het dinge nie heeltemal verloop soos dit dalk 30 jaar gelede sou gewees het nie, as mens iets positiefs daaruit wil haal. Baie (dalk selfs die meeste) van die kinders op en langs die veld is vandag swart; hulle is nie meer die uitsonderings in 'n “wit skool" nie. Hulle kan waarskynlik sekerder as hulle ouers destyds weet dat van hulle wit spanmaats en hulle ouers en hulle onderwysers saam met hulle teen rassiste sal opstaan – soos die een wat in die gesig gespoeg is vir haar moeite. Hulle kan ook redelik seker wees dat die stelsel nie sonder goeie rede vir óf teen hulle gaan kant kies nie.

Aan die ander kant het sommige goed nog nie veel verander het nie. Dalk is ek nou onbillik, maar ek kan nie anders nie as om te wonder waarom die skuldiges so dikwels dieselfde mense is wat graag hoog opgee oor hulle taal en geloof.

Kan dit wees dat dit nie regtig vir hulle oor taal en geloof gaan nie?



3 treurige draaipunte van ons demokrasie

Op 27 April 1994 het ons laatoggend voor die stadsaal in Stellenbosch in een van duisende kronkelende rye in Suid-Afrika gestaan, wagtend om te stem. Die gelag en geskerts was soos die dromerige geroesemoes langs ’n woelige munisipale swembad.

So twee plekke agter my in die ry sien ek ’n klasmaat. ’n Indrukwekkend lang en aantreklike seun van Johannesburg met die gemaklike lyftaal van ’n bevoorregte stadskind wat nie twyfel oor sy lot in die lewe nie. Hy was ’n derdegeslag-Wilgenhoffer en die seun van ’n liberale Afrikaanse politikus met ’n van waarna mense soms verwys as “adellike Afrikaners”. Ek was goed genoeg met hom bevriend om speels te vra vir wie hy gaan stem.  

Die antwoord het my verbaas.

Lees die volle brief hier.


Geen plan B nie

As jy gedigte of stories wil skryf - 
die soort wat gate in mense oopraak - 
vermy dan die oë van die verstandiges.
Verstandiges sien dinge soos dit is,
maar wanhoop nie daaroor nie - 
bestuur dit bloot.

Om jou saaklik
deur húlle skerp oë te sien
is dodelik.
Jy sal nie hul afgemete medelye
kan verduur nie.

As jy verstandig wil wees,
vermy die biblioteek.
Netnou krap 'n storie of gedig jou oop
en jy soek rasend,
'n stomme lewe lank,
na die antwoord
op die bot punt
van jou verleppende tong.

- Danie Marais

Uit: Al is die maan 'n misverstand

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.