‘Gee die ANC nog tyd’; Biden en Trump stem in tot TV-debat

DONDERDAG MET LAUREEN

‘Gee die ANC nog tyd’; Biden en Trump stem in tot TV-debat

LAUREEN ROSSOUW wil op haar oudag van haar ego afstand doen, die wêreld platstap en in die koue see swem. WILLEM KEMPEN sien uit na Anneliese Burgess se storie oor Johannesburg, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

Goeiemôre!

1. Pres. Cyril Ramaphosa het gister soos verwag die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering amptelik bekragtig: “Fear not. Remember that South Africa is a democratic country. Having given it due consideration, I, as President, have decided it should be an Act. No South African must be robbed of their rights. Do not fear that the NHI will erode your rights," het hy oor sy besluit gesê.

2. Gun die ANC nog tyd om maatskaplike euwels op te los, armoede te beëindig, werk te verskaf en skoon drinkwater en huise aan almal te lewer, was gister die boodskap van Baleka Mbete, voormalige adjunkpresident en speaker van die nasionale vergadering, waar sy in Palm Ridge in Ekurhuleni stemme vir die ANC probeer werf het. Vermoedelik wil die mense nie net water hê om te drink nie, want Mbete het ook gesê: We have come out to say to the people, don't make a mistake. Wake up on the 29th, don't sleep, don't sit and drink beer, go and vote before you start having a drink to celebrate that you are giving the ANC another mandate to continue the excellent work it has been doing."

3. Die Gautengse onderwysdepartement het dissiplinêre stappe begin teen 'n onderwyser wat glo 'n groep matrieks na 'n ActionSA-vergadering geneem het onder die voorwendsel dat hulle 'n Loopbaandag-ekspo sou bywoon. Dié onderwyser, wat net as “Teacher Maluleke" van Villa Liza Secondary School in Boksburg geïdentifiseer is, is ook die Gautengse sekretaris van ActionSA se gestremdheidsforum. Die leerders is onder meer toegespreek deur Herman Mashaba, die party se president.

4. Die Mededingingstribunaal het goedkeuring aan Sea Harvest gegee om die visvang- en perlemoenbesighede van Terrasan Beleggings te bekom in 'n transaksie wat die grootste perlemoenbesigheid in die suidelike halfrond tot stand sal bring.

5. Joe Biden en Donald Trump het gister albei 'n uitnodiging van CNN aanvaar om mekaar op 27 Junie in 'n TV-debat die stryd aan te sê.

6. Daar word gevrees vir die lewe van Robert Fico, premier van Slowakye, wat gister in 'n vermeende sluipmoordpoging geskiet is. Slowaakse media het gesê die skieter was 'n 71-jarige man, maar geen moontlike motief is nog bekend nie.

7. Die politieke ontleder en kommentator Gareth van Onselen (@GvanOnselen) gister op X: “With all these new parties, many of which’s primary purpose is to speak to those who don’t have a voice, have stopped voting, are alienated and unhappy with the status quo, I am so looking forward to a high turnout, certainly higher than 2019, which surely they will deliver?"


Daar is 'n waarskuwing vir toestande wat 'n uiters hoë brandgevaar oor dele van die Kaapprovinsies inhou. Dis vandag mooi weer en warm oor die binneland, maar deels bewolk tot bewolk in Mpumalanga, Limpopo en Noordwes, asook in die Noord- en Wes-Kaap. Mis word ook vanoggend in die Noord- en Oos-Kaap verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 28°C • Johannesburg 25°C • Mahikeng 27°C • Mbombela 25°C • Kaapstad 22°C • Durban 26°C • Kimberley 28°C • Bloemfontein 27°C • Polokwane 25°C • Upington 31°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 26°C.


Willem Kempen | Onthou jy die Goudstad?


As jy nog nooit in Joburg gewoon het nie, mis jy baie. Randburg of Sandton of iewers anders in die voorstedelikheid tel nie. Jy moes iewers in of naby die middestad gewoon het, daar waar die energie van groot geld en magtige korporasies reg langs die armoede en die chaos en die wanbestuur en die wetteloosheid voortwoed.

Dit was van die begin af so, daar waar die eerste goudkleims afgesteek en die Uitlanders en die Burghers vir mekaar begin grom het en almal saam begin bou het aan die stad waar die goud later met strate bedek is. Waar die Engelse tannies tydens die Randse Rebellie soggens met teetyd aan die stad se kant van Westcliff gaan kyk het hoe Jan Smuts se kanonne die opstandige wit mynwerkers van Fordsburg bombardeer.

Braamfontein, Hillbrow en Berea, Joubert Park, Melville, Brixton en Mayfair, Langlaagte, Blikkiesdorp, Hurst Hill, die Markteater, die Alhambra, die Carlton ... Oor die jare was daar nog altyd iets opwindend en selfs romanties aan Johannesburg wat soms opgemaak het vir alles wat sleg was. Maar is dit nog so?

Anneliese Burgess is hierdie week in Egoli om self uit te vind, en sy sal in môre se uitgawe daaroor skryf soos net sy kan. Hier is 'n voorsmakie van wat sy al gesien het:

“Kensington. Malvern. Yeoville. Bez Valley. Troyeville. Absolute twilight zone. Selfs ek is nou tot in my skoene geskok met wat hier aangaan."

En onthou, jy sal haar storie net kan lees as jy 'n intekenaar is. Kliek hier om een te word as jy nog nie is nie.

Ek wil nie soos daai vrou wees nie

Goeiemôre

Dit het in my veertigs begin (min of meer dieselfde tyd as wat ek die doodsberigte in koerante begin lees het).

Dit was by 'n paartie op Clifton. Die buurvrou oor wie ek aanvanklik baie nuuskierig was­­ (laat sestigs), uit ’n bekende Kaapse politieke familie, is ook genooi. Wat ek gekry het, was presies die teenoorgestelde as waarna ek uitgesien het. Sy’t die party in haar wit kaftan en groot swart sonbrille gekaap met haar klagtes oor alles wat verkeerd is op Vierde Strand; onvergenoegd, selfbelangrik, onsensitief en onsmaaklik.

Dit was die eerste keer wat ek myself as ’n ouer vrou begin verbeel het. En ek het geweet ek wil nooit soos daardie vrou wees nie. 

Lees die volle brief hier.


I always loved the wild things best

(vir Eugène Marais)
opgedra met dank aan Leon Rousseau

op sewentig eet die perdedief
Jakob Breytenbach beskuit in die tronk
aangedra deur Eugènetjie Marais
vir 'n held van die eerste water

(oom Jakob steel want hy is lief vir diere sê Eugène se ma)

haar man kwyn sonder aansien
in 'n skommelstoel op die voorstoep
haar laatlam se dae halm oop
in velde en voorkamers waar die ure
asem ophou in narsings
en kwikkies soos note op 'n frase
by die kombuisvenster vleis afsmeek

wees bang vir die sonde
mijn kindjie
wees bang
hy pik en bijt nes 'n giftige slang

op Markplein tussen nagmaalspore
onder doringbome verkwansel Eugène se oom
die hemelbesem Lang Piet
foto’s van hom en King Coffee die swart dwerg
wat hy later blosend terugkoop

(die swart gevaar omsluip nog soms die trekkers se nagte)

die kind is suide toe op 'n wa
met 'n vrag lemoene vir Kimberley bestem
en ruil vrot vruggies met oopmond Vrystaters
vir kuikens om

'n geleerde man in 'n krawat keer terug
en pendel in 'n koets
tussen Pretoria en die goudstad
om klippe in die pad te lê
van die vrome takhaar Kruger
terwyl sy pa die stoeppilare
in die middel van die nag
kersierooi verf

(oud president Burgers wil in 'n skaapkraal begrawe word)

na jare van versugting
net maande van geluk
'n smoordronk arts
te laat uit die stad verjaag
die bruidegom geknip uit koerantpapier en fier
in die psalms van sy hande
die rokende na-vat
van 'n verkoolde bruidsvlug

('n klippie val uit Kruger se skoen diep 'n donker vywer in)

in sy dakkamer in Londen
troos Eugène 'n siek sjimpansee
deur die ongeneeslike winter
in advokaatsleer het hy min sin
“g’n man met 'n siel bokant die van 'n streepmuis
kan hom voortdurend aan die soort werk gee nie.”

sy dae verdwyn soos spelde

met die laaste groet staan hy op 'n bank
om oor die skare voor die hokke te wuif
die apie was met die wedersiens so dol van blydskap
dat Marais haar in die hok mog omhels

'n newel op vlerke van papawer
krul om die nokke van die suiderkruis

ylend in Lourenço Marques
onthou hy die heerlikste maaltyd van sy lewe
as die seeskilpad met eiers in vet gebraai
deur die dronk kaptein wat belowe het
van pêrels so groot soos appels

'n heuningvoël lok hom terug
deur versengde provinsies
om in die kaal takke van strofes en klinkers
'n korf oop te breek

met versoete vleuels dra sy woorde
die mees beskeie blom van die veld verse aan

saans dop die maan soos die oog van 'n malle om

terwyl daar nog vars papier is vlug
hy met 'n sak vol truuks
oor riviere wat wemel van krokodille
en ken sy gelukkigste jare tussen bobbejane
waar hy kon stap soos 'n boer deur sy skape

respyt en spyt'

'n nagrefrein wat
haarself met swaar voete
deur 'n donkerwordende partituur sleep

alles kon hy besweer
maar nie die adder aan eie bors
wat met vrypas deur sy are
aan die hart kom drink het
soos by 'n kuip

'n verslete verstoteling
voortvlugtend vir beelde
wat deur sy drome galop
sonder behae in sy dae
en sy nagte hel

die knal van 'n haelgeweer het die newel gevel 

Jan Konterdans
die vioolspeler uit die groot woestyn
het hom kom haal

om hom terug te neem
na oom Dirk se huis.

Hy het dit so aan Jan vertel: 

“Daar gaan 'n wonderlike skouspel op die voorstoep wees.

Op die vloer sal dit wemel van bont vere in al die kleure van die reënboog.
Selfs die gedruis van die waterval is onhoorbaar onder die gefluit!
Op 'n rusbank, in die middel van die gewemel en die geraas, sit oom Dirk.
Sy hoed, sy skouers, sy skoot, tot sy velskoene, vol voëltjies…

bedaard en kalm
asof dit by hom van die gewoonste is.”

- Dominique Botha

Uit: Versindaba

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.