Tussen torings wolke, ’n geheime biblioteek + Kanada sê Trump...

SALIGE SONDAG

Tussen torings wolke, ’n geheime biblioteek + Kanada sê Trump moet loop doppies blaas

ANNELIESE BURGESS geek uit oor herlewingslandbou (hou maar verby as dit jou verveel), kuier in die Vrystaat, ontdek 'n biblioteek vol ongeleesde boeke in Noorweë, en vertel meer oor die Kanadese wat sê hulle is g'n 51ste enigiets nie.

Goeiemôre

Dit was min of meer die perfekte week. 'n Heerlike onderhoud met die speaker van die parlement, 'n draai in die Vrystaat, my dogter en 'n maatjie by my vir die naweek, 'n kollega wat kom vir supper en 'n ysige swem vanoggend in die Kogelbaai-getypoel.

Ek en my vriendin Dominique Botha en haar pa en boetie vat die week die pad Reitz toe. Ek en Dominique deel 'n plaasjapiehart, 'n diep liefde vir ons pa's, en 'n hartstog vir landskap en woorde (haar aangrypende hulde aan Breyten Breytenbach in die kerk op Pniel twee Sondae gelede het my weer laat besef hoe buitengewoon haar talent is), maar hierdie week was dit familiesake. Hare en myne.

My broer Chris, redakteur van Landbouweekblad, bied 'n konferensie oor herlewingslandbou aan, en haar pa, Andries, ontvang 'n toekenning.

Ons ry deur die uitgestrekte groen somervlaktes en torings wolke van die noordoos-Vrystaat, die aarde en hemel in 'n eindelose omhelsing. Mielielande en sonneblomme. Kosmos en populierbome. 

Net anderkant Reitz lê Van Rooyenswoning, die plaas van Danie Slabbert. Danie laat my dink aan 'n ou Boereoorlog-generaal – 'n lang man met 'n baard, 'n fier houding en 'n diep Christelike geloof.

Bo links: Daar word saamgekuier by die aandgeselligheid op die skougrond. Bo regs: Danie Slabbert. Onder: Boere by van die verskillende besoekpunte op Danie se plaas om sy tegnieke in aksie te sien.

Danie is een van die dryfvere agter die Riemland Studiegroep, 'n groep boere van Reitz, Petrus Steyn, Warden, Lindley en Tweeling, en ander belanghebbendes wat kennis deel, navorsing doen en praktiese ervaring uitruil oor progressiewe boerderypraktyke.

Die wit bakkies van 400 boere staan ingeryg op die randjie naby sy opstal. Onder op die vlakte is 'n groot trop swart Drakensberger-beeste, beweegbare hoenderhokke, en 'n kampie skape. Daar word wors op vure gebraai vir middagete; dit is die lekkerste wors wat ek nog in my lewe geproe het. Dit word op die plaas gemaak, van Danie se grasgevoerde beeste

Danie pas die afgelope agt jaar herwinningspraktyke op sy plaas toe. Ek luister nou al jare na my Chris-broer vir wie herlewingslandbou 'n lewenspassie geword het, so ek kan nogal uit-geek hieroor. Ek probeer dit eenvoudig hou – die basiese prinsiep is om te fokus op grondgesondheid en om saam met die natuur te werk eerder as daarteen.

Ná vyf jaar van die toepassing van herwinningspraktyke op Danie se plaas was van die resultate as volg: 50% meer goeie weidingsgrasse, 80% meer inheemse peulplante, 64% meer grasbiomassa, 60% hoër botaniese diversiteit en meer as dubbel die weidingskapasiteit teen drie keer die veeladings. En in terme van die water-effektiwiteit, het die grond dubbel die hoeveelheid reënval per uur geabsorbeer as voorheen.

Wendell Berry is 'n Amerikaanse skrywer, digter, omgewingskenner en boer. Hy skryf al sedert die 1960's oor die verhouding tussen mense en die natuur en het 'n groot invloed op die herlewingslandbou-beweging gehad, al het hy nie self die term geskep nie.

Good farming is a spiritual discipline.

The soil is the great connector of lives, the source and destination of all. It is the healer, restorer, and resurrector, by which disease passes into health, age into youth, death into life.

As dit bietjie airy-fairy klink, sal 'n besoek aan Danie se plaas jou die filosofie in aksie laat sien.

Worsrolletjies in die veld. En pannekoeke vir nagereg. Wat meer kan mens vra?

Een van die tegnieke wat op Danie se plaas toegepas word, is hoëdigtheid-beweiding waardeur tydelike elektriese heinings gebruik word om kuddes op 'n stuk weiding te konsentreer. Die kampies word gedurig geskuif, tot soveel as elke uur.

Benewens die feit dat dit diere dwing om nie selektief te wei en selfs nie-so-lekker gras en bossies te eet, maak hulle die grond los met hulle hoewe, versprei hulle mis en urine eweredig en trap plantreste en organiese materiaal die grond in. Dit lei tot koolstofvaslegging, beter water-retensie en bevorder die groei van 'n wyer verskeidenheid grasspesies en plante. Kandelaargras het byvoorbeeld min of meer op Danie se plaas verdwyn, maar het as gevolg van hoëdigtheid-beweiding weer hier begin groei. 

Herlewingslandbou gaan natuurlik ook oor hoe 'n boer gewasse plant (ek hoop ek het nou nie die gaap-stadium by julle bereik nie).

Die fokus is op minimale grondversteuring en die opbou van grondgesondheid deur diverse gewasse te roteer, dekgewasse te plant om wortels in die grond te hou, erosie te voorkom en stikstof vas te lê, en om habitatte te skep vir voordelige insekte, mikrobes en swamme wat plantgesondheid en plaagbeheer ondersteun.

En dít is waarvoor Andries Botha sy toekenning ontvang die aand by 'n geselligheid in 'n skuur op die Reitz-skouground. Oom Andries is 'n legendariese boer uit die Viljoenskroon-distrik, en het in die vroeë 1970's, saam met 'n groep ander boere, pioneerswerk gedoen om plaasmasjinerie te ontwikkel wat die grond langs 'n plantry net “rip". Oesreste het in die grond gebly en grondkompaksie en winderosie teengewerk, iets wat 'n groot probleem in die sanderige grond van die Vrystaat was. Vandag is dié manier van plant standaardpraktyk. 

Miskien moes mens op 'n plaas grootgeword het om die diep betekenis te kan waardeer van my broer en Danie se generasie wat die baanbrekerswerk van ons pa's se generasie raaksien en eer. Ek en Dominique raak altwee bewoë toe haar pa opgeroep word om sy toekenning, en 'n spesiale biltongmes wat die Riemlandgroep vir hom laat maak het, in ontvangs te neem. En ek kan sien dit vat aan oom Andries ook.

In Wendell Berry se woorde: “A proper community, we should remember also, is a commonwealth: a place, a resource, an economy. It answers the needs, practical as well as social and spiritual, of its members – among them the need to need one another."

Bo: Ek by oom Andries, en my broers. Heel links is Don en regs Chris. Onder links: Oom Andries en Dominique nadat hy sy toekenning ontvang het. Regs: Die toekenningsertifikaat.

Die biblioteek van ongeleesde boeke

Die Deichman Bjørvika is die openbare biblioteek in Oslo, Noorweë.

Die argitektuur en binnenshuise ontwerp weerspieël die biblioteek se rol as 'n verwelkomende en gratis openbare ruimte. In die aand gloei die gebou van binne, en bedags val strale lig deur die oop vensters.

Binne-in die biblioteek is 'n ander biblioteek. Op die boonste verdieping is die “stil kamer van ongeleesde boeke". Dit staan bekend as die Toekomsbiblioteek.

Elke jaar, sedert 2014, word 'n skrywer van iewers in die wêreld uitgenooi om 'n manuskrip vir die toekoms te skep. Hierdie stuk literatuur word dan verseël, en sal eers oor 'n eeu oopgemaak word.


Die biblioteek van ongeleesde boeke word verbind met 1 000 bome wat in die omliggende woude geplant is, en wat gebruik sal word om die papier te maak vir die boeke wat niemand van ons ooit sal sien nie (jy kan hier na die woud kyk op Google Earth).

Die kamer is oop vir almal. Jy mag daar sit en dink, maar die glaslaaie, wat 'n sagte, geel lig uitstraal, bly gesluit. In 2114 sal die laaie oopgesluit, die 1 000 bome afgekap en die 100 stories wat vir 'n eeu weggesteek is, gedruk word.

Die projek is die konsep van die Skotse kunstenaar Katie Paterson. Elke jaar kies 'n klein groepie, genaamd die Toekomsbiblioteek-trust (wat Paterson insluit), 'n skrywer om 'n manuskrip van enige lengte, in enige genre te skryf. Die enigste voorwaarde is dat slegs die skrywer dit mag lees. Die eerste skrywer in die reeks was Margaret Atwood. Sedertdien is skrywers soos Karl Ove Knausgård en Ocean Vuong gekies. Die geheime manuskripte word elke jaar op die laaste Sondag van Mei in die Toekomsbiblioteek se woud oorhandig. 

Die Toekomsbiblioteek is nie die eerste van Paterson se kunswerke wat die menslike verhouding met die langtermyntyd aanpak nie. Sy spoor haar fassinasie met die tema terug na haar vroeë 20's, toe sy as 'n bediende in Ysland gewerk het, en getref is deur die buitengewone landskap rondom haar. “Jy kon amper tyd lees in die strata, jy kon die middernagson en die energie van die Aarde voel," sê sy in hierdie onderhoud met die BBC

Dit het gelei tot een van haar eerste werke, Vatnajokull (die klank van): 'n telefoonnommer wat enigiemand kan bel om te luister na 'n Yslandse gletser wat smelt. As jy die nommer skakel, word jy deurgesit na 'n mikrofoon onder die water in die Jökulsárlón-lagune aan Ysland se suidkus, waar blou ysberge die see indryf.

Hemel, hoe wonderlik is dit? 

Die BBC-joernalis skryf: “Discovering the Silent Room is like coming across a portal to another world. After taking a series of escalators up five floors – past the students working at the desks and children leafing through picture books – you arrive at a wooden cave in a quiet corner among the bookshelves.

“Once you've taken off your shoes, you can enter. Inside, ridges along the walls encircle the small space with 100 locked glass drawers, one for each of the manuscripts.

“It feels like being inside a tree, says Paterson. It's quite magical, because it's very small and intimate: surrounded by tree rings, with light shining through the manuscript drawers."

Hierdie storie het my week gemaak. In 'n wêreld waar dit soms voel asof die vernietiging van die aarde die enigste legacy is wat ons vir ons toekomsgeslagte gaan nalaat, is hierdie so 'n uitdrukking van hoop.

Lees meer oor Katie Paterson hier. 


Die Kanadese is moeg vir Trompie

Hierdie BBC-artikel het my genot gegee – gewone Kanadese wat op klein maniere hulle verset teen Trump wys. Soos koffiewinkels wat “Americano" koffie nou “Canadiano" noem 🤣.

Kanada se minster van buitelandse sake, Melanie Joly, het dié week aan CNN se Christiane Amanpour gesê dat Kanada “te veel disrespek" deur die Trump-administrasie moes verduur, wat onder andere deurentyd na die land as 'n 51ste staat verwys, en die eerste minister “goewerneur” noem. 

Die akteur Jeff Douglas was op sy dag die gesig van Molson Canadian Beer en het 'n reeks “I Am Canadian"-advertensies vir die handelsmerk gemaak. Hy het dié week 'n lighartige, maar diep patriotiese video op YouTube geplaas waarin hy die “I am Canadian"-konsep gebruik om die middelvinger vir Trump se “51ste staat"-retoriek te wys.

We're not the 51st anything," verklaar hy in die video, wat viral geraak het in Kanada.

Daarmee groet ek.

Salige Sondag

AB

The Peace of Wild Things

When despair for the world grows in me
and I wake in the night at the least sound
in fear of what my life and my children’s
lives may be,

I go and lie down where the wood drake
rests in his beauty on the water, and the
great heron feeds.

I come into the peace of wild things
who do not tax their lives with forethought
of grief. I come into the presence of still
water.

And I feel above me the day-blind stars
waiting with their light. For a time
I rest in the grace of the world, and am free.

– Wendell Berry

Uit: The Peace of Wild Things And Other Poems 


Lees

Eat, pray, love: Meet the twentysomething nuns

Speel

Maak papiervliegtuie. Daar is 'n klomp ontwerpe op Foldnfly.com. As ek weer al die niggies en nefies op die plaas het in Julie, gaan ons 'n vliegtuigkompetisie hou!

Slim

'n Slim stukkie gereedskap om 'n folder in 'n webwerf te verander – uitstekend om jou idees en projekte aanlyn te deelBlot

Aanhaling

“The arc of the moral universe is long, but it bends towards justice.” – Martin Luther King Jr

Luister

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.