NOGMAALS, MET GEVOEL |
Beer Adriaanse soek iets tasbaars anderkant die beeldorgasmes.
Kliek hier om te lees
1. Khumbudzo Ntshavheni, minister in die presidensie, het aan Business Day gesê sy vertrou dat Enoch Godongwana, minister van finansies, vandag die staatsbegroting ter tafel sal kan lê en dat enige meningsverskille daaroor agterna tussen kabinetslede hanteer sal kan word. “Tomorrow, the minister of finance will finalise and present the budget. It will be tabled, discussed and, if there is a need, sent back,” het sy gesê.
2. Die Amerikaanse departemente van buitelandse sake en binnelandse veiligheid het in 'n verklaring gesê hulle werk saam met ander vennote om Donald Trump se uitvoerende bevel te implementeer om Afrikaners in die VSA te hervestig. “Consistent with President Trump's executive order on addressing egregious actions of the Republic of South Africa, the US Department of State is coordinating with the Department of Homeland Security and implementing partners to consider eligibility for US refugee resettlement for disfavoured ethnic minority Afrikaners in South Africa who are victims of unjust racial discrimination," lui gister se verklaring.
3. Pres. Donald Trump het sy beplande tariewe op alle invoere van staal- en aluminiumprodukte vanaf Kanada gister tot 50% verdubbel in reaksie op die provinsie Ontario se besluit om 'n 25%-tarief op sy uitvoer van elektrisiteit na die VSA te hef. “Also, Canada must immediately drop their anti-American Farmer Tariff of 250% to 390% on various US dairy products, which has long been considered outrageous. I will shortly be declaring a National Emergency on Electricity within the threatened area,” het Trump op Truth Social gesê.
4. Die makelaarsgroep JPMorgan het Suid-Afrikaanse genoteerde aandele gister tot “neutraal” van “oorgewig” afgegradeer, met verwysing na kommer oor ekonomiese verlangsaming en die gebrekkige doeltreffendheid van beleidshervormings. “While South Africa's investment case on reforms remains an attractive point of departure, it is unlikely to result in meaningful [economic] growth that’s above 2% in the coming two years,” sê hulle in 'n nota aan kliënte.
5. Die Trump-administrasie se beste opsie om die amptelike Suid-Afrikaanse houding teenoor die VSA te verander en Amerikaanse belange te beskerm, sal wees om spesifieke ANC-regeringsamptenare te teiken wat vir anti-Amerikaanse beleid verantwoordelik is, sê die konserwatiewe Hudson Institute in 'n verslag. Sulke maatreëls kan die amptenare se persoonlike rykdom en vermoë om na die buiteland te reis teiken, lui die verslag.
6. Johannesburg se Helen Joseph-hospitaal is onderbefonds en word so swak bestuur dat dit nie geskik is vir die doel waarvoor dit gebruik word nie, lui 'n ondersoekverslag wat Maandag deur die gesondheidsombud uitgereik is. Die ondersoek is aangevra nadat die omroeper Thomas Holmes, ook bekend as Tom London, in September verlede jaar op sosiale media oor sy behandeling by die hospitaal gekla het.
7. Die voormalige Filippynse president Rodrigo Duterte is gister per vliegtuig van Manila na Den Haag geneem, slegs ure nadat 'n bevel vir sy inhegtenisneming deur die internasionale strafhof uitgereik is weens moorde as deel van sy “oorlog teen dwelms".
Biden, Trump en die prys van eiers
Dagsê
“Wat kos eiers?" is nie so 'n eenvoudige vraag soos mens dalk sal dink nie. Die antwoord hang af van 'n klomp goed, soos watse soort eiers dit is, hoe dit geproduseer is, watter soort lewe die henne lei, waar jy dit koop, of dit reeds gaargemaak is, en of jy die produsent of 'n middelman of 'n eindgebruiker is. Maar kom ons sê ons praat van rou, gepasteuriseerde hoendereiers op 'n winkelrak, die soort wat jy gewoonlik in veelvoude van 'n dosyn in 'n supermark kan koop, en vergeet vir eers al die aansprake oor wat die henne gevoer is of hoe groot en watter kleur die dop is.
By watter prys jy ook al uitkom, dit sal heelwat hoër wees as 'n jaar of drie gelede. Die rede hiervoor is die groot aantal hoenders wat van kant gemaak is om voëlgriep te probeer bekamp. Dit is waar hier by ons en dis waar in die VSA, waar meer as 160 miljoen hoenders sedert Februarie 2022 doodgemaak is om die siekte te bestry.
Die Amerikaanse departement van landbou het einde Februarie gesê die gemiddelde rakprys van eiers is sowat $4,95 per dosyn, wat teen gister se wisselkoers nagenoeg R90 is, oftewel R7,50 per eier. In sommige groter Amerikaanse stede is dit tot soveel as dubbel daardie prys. En die projeksies is dat Amerikaanse eierpryse teen einde vanjaar met nóg minstens 40% sal styg.
Ek weet nie presies watter soort eiers om dit mee te vergelyk nie, maar op Checkers se webwerf sien ek pryse wat wissel van ongeveer R3,30 tot R4,30 per eier, en so hoog as R5,80 as jy iets wil koop wat aanspraak maak op “free-range"-status.
Vir 'n behoorlike vergelyking moet 'n mens 'n klomp ander goed ook in berekening bring, maar dis veilig om te sê die prys van eiers is nie juis voor in die ry as 'n bron van openbare woede hier by ons nie.
In Trumperika is dinge heel anders. Daar is 'n gewilde vraag nie soseer “Hoekom is eiers so duur nie?" nie, maar “Hoe is dit Joe Biden se skuld?" Donald Trump het voor die verkiesing met sy gebruiklike bulldozer-benadering beloof om eierpryse reeds “op dag een" drasties af te bring as hy president word. Sy administrasie het so twee weke gelede 'n plan van $1 biljoen aangekondig met hulp vir pluimveeboere sowel as geld vir nuwe navorsing oor voëlgriep. Brooke Rollins, minister van landbou, het ewe dramaties gesê: “To every family struggling to buy eggs: We hear you, we’re fighting for you and help is on the way.”
Maar die werklikheid is dat die hoë pryse net so min Biden se skuld was as dat Trump dit nou kan afbring deur nog geld na die probleem te gooi. Boonop is verskeie werknemers van die departement van landbou wat spesifiek by die staat se stryd teen voëlgriep betrokke was, in Februarie “per ongeluk" afgedank as deel van die gat-oor-kop-besnoeiings in die staatsdiens wat deur Trump aangeblaas word. 'n Ander moontlike oplossing is om die Centers for Disease Control and Prevention te vra om te help, dalk selfs met nuwe soorte inentings, maar oeps, Musk se kettingsaag het daar ook al ingevaar. En, wel, inentings ...
Of jy sou die Environmental Protection Agency kon gevra het om te help, want voëlgriep is in baie opsigte ook 'n ekologiese probleem, maar – nog 'n oeps.
'n Ander opsie is om meer eiers in te voer van lande soos Türkiye, China en Nederland (laasgenoemde was in 2023 die wêreld se grootste eier-uitvoerder), maar enige transaksie sal onderhandel moet word met een oog op die tariewe wat Trump links en regs op vriend en vyand hef, en selfs dan sal sulke lande aan net 'n fraksie van die Amerikaanse vraag kan voldoen.
Trump se antwoord op die hele gedoente is om voor te gee dat hy Amerikaners só baie geld op ander plekke help spaar dat hulle moet ophou kla oor duur eiers. Hy het onlangs 'n plasing gedeel van Charlie Kirk, hoof van die konserwatiewe organisasie Turning Point USA, waarin hy sê: “Shut Up About Egg Prices – Trump Is Saving Consumers Millions”.
Die ding is nou net, selfs die MAGA-gepeupel het nie die gewoonte om te shut up as iemand hulle eers oor iets opgewerk het nie, ook nie as dit Trump self is nie.
En is dit nie 'n pragtige ironie dat The People, in die tuiste van die kapitalisme en vrye markte, van die staatshoof verwag om goedkoper kos op hulle tafels te reël nie?
Tot volgende keer
Willem
indeks van alles wat ongesê is
na al die angs, die oproep, ons elkeen
aan die ander kant op 'n stellasie van asem
en tussen ons die slackline van stilte en die
afstand wat gevaarlik kraak. wie het hierdie
gat gegrawe waarin ons nou moet val?
dis uiteindelik ek wat myself eerste oorgee
aan swaartekrag, en slegs om
jou te spaar. moet my eerder nie só probeer
liefhê nie, nie met soveel miskiene en mare
en ampers nie. nie so digby effens nie.
– Bibi Slippers
Uit: Soekenjin
Slegs regverdig
Iewers in die huidige uitgawe van VWB sal jy 'n verwysing sien na dié internasionale program waaraan die VSA nou onttrek het, wat kan beteken dat Suid-Afrika meer as $1 biljoen se toewysings uit die Amerikaanse staatskas sal verbeur.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.