'N LIEFDE VIR LEES | Deborah Steinmair vra 'n paar bekendes wat boeke vir hulle beteken.
Kliek hier om te lees
1. As die staatsbegroting wat gister deur Enoch Godongwana, minister van finansies, ingedien is wel met die nodige meerderheid deur die parlement aanvaar word, sal BTW vanjaar en weer volgende jaar telkens met 0,5 persentasiepunte verhoog word. Die kerwe vir persoonlike inkomstebelasting en kortings is vir die tweede opeenvolgende jaar nie vir inflasie aangepas nie. Die staat se skuldlas is nou net onder R6 triljoen, die ekwivalent van meer as 76% van die Suid-Afrikaanse bruto binnelandse produk.
2. Godongwana het 23 lede aangewys wat op die Africa Expert Panel sal dien wat die G20-lande van raad sal bedien oor beleidsuitdagings vir Afrikalande. Die paneel sal gelei word deur Trevor Manuel, voormalige minister van finansies en voorsitter van Old Mutual.
3. Die Kremlin het teen gisteraand nog geweier om Rusland te verbind tot die voorgestelde onmiddellike wapenstilstand van 30 dae in die oorlog met Oekraïne waaroor senior Amerikaanse en Oekraïense amptenare in Saoedi-Arabië ooreengekom het. Die Kremlin-woordvoerder Dmitri Peskov het gesê hulle wag nog op “gedetailleerde inligting" oor die ooreenkoms.
4. Onderwysers aan die Zanemfundo Primary School in die misdaadgeteisterde Philippi in Kaapstad word deur polisiebeamptes na en van die skool begelei nadat ’n groep gewapende mans einde Februarie die terrein betree en beskermingsgeld geëis het. 'n Privaat veiligheidsfirma beskerm ook nou die skool, het News24 gister berig.
5. Die Europese Unie het 'n reeks “teenmaatreëls” ingestel in reaksie op die tariewe wat pres. Donald Trump op ingevoerde staal en aluminium aangekondig het en wat gister in werking getree het. Soveel as €26 biljoen se Amerikaanse goedere word geraak, insluitend bourbon, jeans en Harley-Davidson motorfietse. Die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, het gesê dis jammer dat dit nodig was om teenstappe te doen: “Tariewe is belasting; dit is sleg vir besigheid en nog erger vir verbruikers. Dit ontwrig voorsieningskettings en bring onsekerheid vir die ekonomie mee.”
6. Verset teen Trump se handelstariewe en ander maatreëls is wêreldwyd aan die oplaai, berig The Guardian. Die aantal Kanadese besoekers na die VSA het byvoorbeeld in Februarie met 23% gedaal vergeleke met 'n jaar tevore. In Swede het sowat 40 000 mense reeds by 'n Facebook-groep aangesluit wat om 'n boikot van Amerikaanse maatskappye vra – ook Facebook self – en 'n lys van alternatiewe produkte bied. Die Noorse oliemaatskappy Haltbakk het vroeër gesê hy gaan in reaksie op die Withuis-ontmoeting tussen Volodymyr Zelensky en Donald Trump nie meer Amerikaanse vlootskepe van brandstof voorsien nie: “We have today been witnesses to the biggest shit show ever presented ‘live on TV', by the current American president and his vice-president. Huge credit to the president of Ukraine for restraining himself and for keeping calm even though USA put on a backstabbing TV show. It made us sick."
7. Minstens 17 stede oor die wêreld heen is al geraak deur sogenaamde “climate whiplash" waar die weer vinnig tussen ekstreme nat en droë toestande omswaai, wys 'n studie wat vir die organisasie WaterAid gedoen is deur prof. Katerina Michaelides van die University of Bristol en prof. Michael Singer van Cardiff University. Dit is deel van 'n patroon wat as “global climate weirding” bekend staan. Die stede sluit in Hangzhou in China, die Indonesiese megastad Jakarta en Dallas in Texas, asook Bagdad, Bangkok, Melbourne en Nairobi, het The Guardian berig.
Jirre julle ...
Dis ál hoe ek kan groet. Ek is al weer besig om my tasse te pak en dit reën steeds elke dag in Pretoria, al is die somer stadig besig om herfs toe te kantel. Teen die tyd wat hierdie brief in jou e-pos beland het sal ek besig wees om in George van die vliegtuig af te klim waar ek onmiddellik na Wilderness sal vertrek en myself gaan vestig vir drie maande in 'n woud. Tussen die stekelrige fynbos, los klippe en ruwe berge moet ek 'n nuwe tuiste skrop.
Hier moet ek nuwe familie vind terwyl ons 'n love story verfilm en ek saam met die kunsdepartement 'n huis gaan moet deel. Ek sien uit na die stilte en sterre, al is ek besonders bekommerd om my lewe hier agter te laat. My kinders is goed ingerig by hulle pa: Hy gun my dit vir die jare wat ek bloed uit 'n klip getap het en af en toe my polse.
Kyk uit vir my boek, Helder oornag, wat deur Protea uitgegee gaan word.
My kinders het dit luuks gehad; al was ons by tye bitter arm, het ek meeste van die tyd van die huis af gewerk en 'n gladde sisteem vir hulle uitgewerk omdat ek sterk gekant is teen televisie en tablette. Die huis is ingerig met 'n speelkamer in elke vertrek met bokse vol flitskaarte wat ek spesifiek vir my seun gemaak het. Dis asof hulle in die laaste jaar begin blom het.
My seun het vir 11 jaar doeke gedra en iewers vandeesmaand besluit hy is nou klaar daarmee: Dit het jare se terapie en mooipraat gekos. Hy het ook besluit om te begin stort, sy eie klere aan te trek en sy hare te kam. Eerlikwaar, ons almal se monde hang oop. Niemand weet wat hierdie verandering aangespoor het nie, maar hy het sommer sy eie sense vir fashion ook ontwikkel. Ek wonder of dit iets uit te waai het met 'n sense of self wat hy besig is om van bewus te raak, of dalk daai meisie by die busstop wie se hand hy gereeld vashou.
Gister is ek ingeroep na my dogter se skool; ek verwag die ergste omdat ek weier om by die 100 mamma-WhatsApp groepies betrokke te wees. Die lewe is te kort vir kakpraat.
“Jou dogter is begaafd,” laat weet haar onderwyseres my. “Sy kan al lees en somme in haar kop optel, ek sou aanbeveel dat jy dit nou ontgin en verder vat.”
Ek waai vir my dogter wat agter in haar graad 1 klas sit terwyl die onderwyseres met haar rug na die kinders toe staan. Natuurlik kan sy, dink ek stilweg. Sy het 'n verantwoordelikheidsbesef wat party mense nooit sal ontwikkel nie. Haar boetie se special needs het veroorsaak dat sy geweldige empatie vir mense en diere het. Hoe verduidelik ek vir die wêreld hierdie kind help my doeke omruil en skottelgoed was? Dis nie omdat ek dit van haar verwag nie, dit gebeur vanself. Sy luister nuus. In die middae gaan stap ons alleen deur die veld en dan vertel sy my van al die dinge by haar skool. Sy het 'n ryk verbeelding: My woudbaba van die Tsitsikammaberge.
Ek wil dankie sê vir elkeen van julle; asook aan Ali, Willem, Deborah, Laureen, Anneliese, Angela en natuurlik Max. Dis hier waar ek leer rook het op 'n Google Meets op Maandagoggende. Hans, Corné, Linda en Sybrandus, wat hierdie enjin olie; dit voel of ek julle persoonlik leer ken het al is dit deur 'n klomp emoji’s wat sweet tap. Dankie dat julle my nie gefire het nie, al het ek so lomp die leisels probeer oorneem. Julle het 'n sagte plek vir die randeiers. Mag ons weer 'n veilige hawe skep vir andersdenkendes in 'n nuwe ruimte en altyd vir onsself bly dink terwyl ons aandagtig luister.
Ek gaan Ali se groen beanie mis. Ook die tye wat ek hom in die middel van die nag gekontak het met klein eksistensiële krisisse: Dankie dat jy my leer skryf het. Angela wat so diep in haar hand sug met haar bril en dan behaaglik aan 'n sigaret teug terwyl sy haar besonderse haredos ongeërg uit haar gesig vee: You are a force to be reckoned with, thanks for showing me the ropes. Vir Max kan mens altyd deur 'n ring trek. Kyk, daai man het grasie en deernis met almal en tree altyd beleefd op, al sê hy soms fok. Anneliese was 'n joy, al het sy my eendag behoorlik op die vingers getik: Dankie vir daai wake-up call. Ek beskou Deborah en Laureen as my guardian angels. Willem, jou eindelose geduld, wysheid, meegevoel en stoute humor het ons tot hier gedra: Jy het 'n manier om iets stuitig kwyt te raak in die grootste paniek.
Op daardie noot groet ek met 'n playlist. Ek hoop ons loop mekaar weer raak.
Liefde-van-wie-weet-waar,
Celeste
Bly by my
bly by my
wanneer dit reën
sodat my treurigheid klein kan word
bly by my
met die kraal van jou hande
sodat die winde verby my ore waai
bly by my
met jou wit uiltjie
sodat ek vergeet van my afsterf
bly by my
wanneer die aarde se onderlyf skeur
en my klein eiland verdrink in die nag.
– Antjie Krog
Uit: Eerste gedigte
St. Benedictus
Jy soek na 'n karakter in 'n fliek in wie se oë jy “byna deurlopend ’n groen tennisbal se weerkaatsing kan sien".
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou. Ons hoor graag van jou, maar hou by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.