Liefste vriende
Kan jy iets meer as een keer verloor? Natuurlik kan jy – dink maar aan jou selfoon, leesbril, motorsleutels. Wat ek eintlik wil vra, is: Kan jy iets wat jy nooit teruggekry het nie, weer en weer verloor? Die antwoord is ook ja.
Toe ek destyds weg is van my man, het ek vir dae, weke gehuil. Ek het gehuil oor twee klein dogtertjies wat nou nooit in ’n standvastige kerngesin gaan grootword nie. Ek het ook gehuil oor ’n droom wat dood is: die droom van jong liefde wat seëvier oor die aanslae van die lewe, die onmoontlike droom om ’n problematiese mens in wie ek soveel potensiaal raakgesien het, te help om die lewe te navigeer. Hoe arrogant was die laaste droom; die redderskompleks.
Dele van die droom wat aan skerwe lê, het ek later herwin, beter as wat ek my dit ooit kon verbeel: die droom om iemand aan jou sy te hê wat altyd aan jou kant is, iemand standvastig en bestendig, maar met diepte. Iemand wat jou altyd die voordeel van die twyfel gee en selfs jou foute liefhet. Dit bestaan, hoor.
Toe my oudste dogter klein was, het sy, soos baie van ons, aanvanklik gesukkel om “d” en “b” te onderskei, daardie twee spieëlbeelde. Sy was in ’n Engelse laerskool en het ’n briefie geskryf: I love mom and bad. Ons is weg van Bad en hy was baie sad. Hy het opgehou werk. Hy het ’n erfdeel uit Oostenryk ontvang en kon redelik gemaklik leef, maar het armoede gepleit wanneer dit kom by onderhoud. Ons het swaar gekry.
Maar dis alles in die verlede, amper dertig jaar al. Tot ek eergister die nuus kry dat hy sterwend is aan kanker. ’n Mens dink nie jy sal huil oor iemand wat jy jare gelede in woede agtergelaat het en met wie jy sedertdien bitter min kontak gehad het nie, en vir jare reeds geen kontak nie.
Jy huil oor soveel dinge. Oor die optimistiese dogter wat jy eens was, dwaas en idealisties, min of meer clueless oor haar eie oriëntasie, so gretig om in te pas, die “regte” ding te doen, in die suburbs nes te skop en twee kinders mooi groot te maak met drie gebalanseerde etes per dag en stapels boeke. Jy huil oor die band wat jy gevorm het met ’n volksvreemde buitestaander, die swartskaap van ’n welaf en uiters benepe gesin, die swerwer wat elke rock-konsert in Europa in die sewentigs bygewoon het. ’n Dodelik aantreklike man. Ek het ’n foto gehad en langs die pad verloor van hom wat iewers in die wêreld langs ’n hooimied staan in 'n wit frokkie met lang swart lokke en baie soos Jim Morrison lyk. ’n Verloopte hippie wat gereeld vir my gesê het, in ’n swaar Duitse aksent, die woorde wat ek, bebrilde bleeksiel, so graag op skool wou hoor: “You are such a pretty girl.”
Ek het 'n hele bundel geskryf oor sy onstuimige jeug. Een vers begin só:
The boy tried to cut his meat
But sharper than his knife
Were his father’s teeth
And more prongs
had his father’s tongue
Than the blunt fork in his fist
His mother smiled sweetly
glanced to the side
Two sweethearts had she –
the father and the boy
And the father figured he looked bigger
when he stood on the boy
At seventeen in a long leather coat
The boy left home with a bone in his throat
Ek huil oor ’n groot ou huis in Alberton, in die skadu van reusebome, wat ek vol boeke en drome gestop het, en heelwat kleur. Plompbeen-babas wat naderwaggel, irisse en kappertjies in die jaart. Hy het soms vir my Frank Zappa gesing: She’s a good girl, she chops the wood, she makes your fire … en die res. Ek het soms aangehaal uit Crossby, Stills, Nash & Young: Our house is a very very very fine house, with four cats in the yard, life used to be so hard but now it’s easy ’cause of you. Dit was nie waar nie. Om saam met ’n ongediagnoseerde bipolêre mens te leef wat in ontkenning is en alle medikasie weier, is nie ’n grap nie. “Bipolêr” is eintlik nog vleiend: die wipplank was meestal plat op die grond met rare, vreesaanjaende maniese episodes. ’n Mens grootliks onbekend met lewensvreugde.
Later onthou ’n mens die rare oomblikke van vreugde: hoe bevredigend dit was om hom uit sy maag te laat lag, hoe sag hy soms kon praat, en mooi. Dat hy vertel het toe hy as kind nie kon slaap nie, het hy die roete tussen Gleisdorf en Graz in die Steiermark in sy kop gestap en elke struik en landmerk raakgesien. Stories van sy reise met rugsak waar hy meestal op strande geslaap het en wanneer hy gerook was, bel hy sy ma van ’n tiekieboks êrens op die aardbol en sy sê: “Spinnst du schon wieder?”
Ek huil oor iemand wat vir ’n dekade vlees van my vlees was, oor die sewe sakke sout, die vertroud raak en meeleef met ’n gefolterde individu wat sy eie grootste vyand is. Ek weet die lewe was nie vir hom maklik nie en ek hoop die oorgaan is sag en dat daar iets beter wag. Grüβ Gott.
Tschüs
Deborah
Ons Boeke- en Agterblad-aanbiedings
Hierdie is ons laaste volwaardige nuwe Boeke- en Agterbladaanbieding. Die volgende twee weke bederf ons julle met hoogtepunte uit die argief. En daar was baie.
Ek het nog 'n Orphan X-boek gelees – spanning uit die boonste rak en haarfyn karakterisering. Ek het nog 'n misdaadriler gelees en 'n liefdesverhaal waaroor almal praat, en besluit spanning bied meer ontsnapping as romanse. Maar dis 'n persoonlike mening. Joan Hambidge vertel jou van Alain de Botton se boek oor Proust. 'n Handvol skrywers en begeesterde lesers vertel wat boeke in hulle lewe beteken. Hou aan lees.
Waar gaan ons wees sonder ons stylghoeroes, die Fomolistas? Ek treur reeds. Tel vir oulaas waardevolle wenke op oor bobaas-boerewors, 'n perfekte pissaladière van Stanley Tucci, vel-essens, en nog 'n paar goed op hulle radar. Moenie Laureen Rossouw se 15+ vrae aan ons inwonende genie, Willem Kempen, misloop nie. In Die laaste woord treur ek oor woorde wat verlore gaan. Fomo vir oulaas.
Snapshot
A Sunday afternoon stroll in the fifties
frozen for ever in white and brown
little Sepp in suit and tie at eight or so
frowning happily into the sun
Mama like a movie star, slim ankles
the hint of a smile white arms folded
Sister on the shoulders of Herr Karner
Baby plump on Nanny's arm
Papa the palpably present eye of the camera
Behind the smiling faces the shadows lengthen
into history
into the private little miseries
the unendurable boredom
of a perfectly normal family
– Deborah Steinmair
Uit: A See-through Suitcase
Vermy hulle liewer
Iewers in hierdie uitgawe skryf Deborah oor dié woord, wat verwys na “ ’n soort kwaksalwer, iemand wat werk doen waarvoor hy nie opgelei is nie en boonop nie belasting betaal nie".
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.