BAKSTEEN. Troffelkop. Wingnut. Hoender. Clutchkop. Bom. Plascon. Bees. Psycho. Haas. Popeye. Vingers. Skille. Rooies. Vale. Boesman. Ot. Tokka.
En dit was maar net van die kinders in ons B-klas, die wreedste en lelikste byname uitgelaat. Op die Afrikaanse platteland was byname amper meer algemeen as gewone name. Aanvanklik is dit sekerlik om dieselfde pragmatiese redes as vanne gebruik om mense met dieselfde name van mekaar te onderskei.
Tweede name, of vanne, het al in die 11de eeu in Engeland na vore gekom en in die 14de eeu is dit algemeen in Europa gebruik om families te identifiseer en onderskei. Gewoonlik het dit na ’n plek verwys. Ek is Albertus van Wyk, wat Van Wijk in Hollands was, wat maar net aangedui het dat ek Albert is wat van ’n sekere wyk af gekom het. Dieselfde met Van Dijk en Van der Wal en Van Noordwyk.
Watter Van Zyls?
Waar ek regtig in Mpumalanga vandaan kom, was daar swart Van Zyls en wit Van Zyls. Die Noord-Kaap en veral Namakwaland boks in ’n ander liga as dit by byname kom. Ook uitmekaarkenname. Raymond Grobler sê daar was twee Ansies in Lime Acres – die een by die materiaalwinkel was Ansie Lap en die een Sondae agter die orrel was Ansie Kerkorrel, natuurlik.
Of in Senekal in die Oos-Vrystaat, vertel Elmari Potgieter, was daar op ’n slag onder die boere ’n Rooi Jan, Wit Jan (blond), Jan Dooie Hond (veearts) en Jan Perdetand (hoof van die plaaspatrollie). Danelle van Heerden, wat in Witsand se distrik grootgeword het, sê haar pa het bekend gestaan as Koos Kinders (werk vir jouself uit), maar daar was ook ’n Koos Duif en ’n Koos Jonaskraal (mense is baie keer op hulle plaasname genoem). Sy sê daar was ook ’n Jurie Mossie en Jurie Afarm en ’n Slim Gert en ’n Lang Gert. En daar was ’n tannie Koueboude, wat kort rokkies gedra het.
Woordeboekdefinisies van byname konsentreer gewoonlik op die positiewe kant. Oxford sê: “A familiar or humurous name given to a person or thing instead of or as well as the real name.” Om vir iemand ’n bynaam te gee het altyd ’n intieme aspek. ’n Bynaam vervang altyd ’n formeler naam, en met intimiteit kan 'n mens opbouend wees, maar ook venyniger.
Die suiwerste vorm van bynaam is seker die troetelname vir ons kinders. My Isabella was by tye Isabibi, Liefiekind, Patatski, Patroon, Patrys, Bossiekop en nog veel meer.
Goed bedeeld
Destyds was menseregte op die Suid-Afrikaanse platteland nog net ’n vreemde gerug uit Europa, en jy moes maar vat wat jy kry as die mense jou genoem het soos jy gelyk het. Hanri Wondergem sê haar ouma was Hoender omdat sy ietwat snaaks geloop het met een voet wat oos gewys het en die ander een wes. En haar skoolpel was H2O – helse twee ore!
Nadine Petrick sê ’n Belinda in hulle skool wat aan die molliger kant was, het wreed verander na Ballonda, en Bun Booyens onthou ’n gesette sammajoor wat nie lank geneem het om as Vet Kadet bekend te word nie.
Geen genade nie. Nog een van Bun se sammajore was glo Botterbreins: “Heel gemoedelik in die koel oggendlug, maar dan’t hy skielik begin kop verloor wanneer dit warm word.” En Eloise Reid het so ’n beneukte ou op varsity geken: Hokleeu.
Piet van Heerde sê daar was ’n oom in Springbok wat so by die kant van sy mond uit gepraat het ná ’n vroeë beroerte, en almal het hom geken as oom Side Cutter. Dis nog nie so lelik soos Adri Jurgens-hulle se juffrou wat as Frikkadel bekend gestaan het oor haar aansienlike omtrek nie, en toe sy uiteindelik met baie moeite en die genade van bowe ’n klompie kilo’s afskud, verander die kinders dit in ’n oogwink na Pattie toe. Mens kan maar net jou kop in skaamte laat sak.
Skinbad the Sailor
My ou pel Kabous Verwoed vertel my van ’n Engelsman wat hy in die vroeë 2000's in ’n kroeg vol skippers in 'n vissersdorpie in Skotland ontmoet het. Die man het homself met groot trots onder sy bynaam voorgestel. “Een van die Skotte vertel my toe later die dorp het baie haringvissers. Daar is 'n pub vir vissermanne, een vir skippers en dan een vir toeriste. Ek het per ongeluk by die skipperspub ingestrompel.
“My Skotse vriend reken toe die Engelsman is 'n afgetrede bankier wat sy seiljag op die loch kom parkeer het en al jare, teen die ander manne se sin, in die skipperspub drink. Die Engelsman het vreeslike littekens op sy gesig gehad van puisies in sy jeug. Sy bynaam wat die Skotse skippers hom gegee het: Skinbad the Sailor.”
’n Bynaam kon ook detail oor jou fisieke eienskappe aan die wêreld bekend gestel het waarvan hulle nie noodwendig geweet het nie, verál as jy in die koshuis was. Neels van Heerden vertel die een arme teruggetrokke seun het net skielik as Vonkie Doël begin bekend gestaan ná so 'n paar weke in st. 6, later sommer net Vonkie. Eendag vra die bybelkunde-juffrou waar sy bynaam vandaan kom. Al waaraan hy kon dink, was om te sê dat sy pa ’n elektrisiën was.
Omdat ons nasie nie altyd so suksesvol is om bo die vulgêre vlakke uit te styg nie, ten spyte van jare se volkspele, die FAK-sangbundel en die Staatsteater, het die benede parte maar altyd ’n rol bly speel, veral onder adolessente jong mans. Elke koshuis het sekerlik ’n Tribbes gehad, en dit was altyd ’n brandmaer ou. En omdat hierdie nie ’n gesinstydskrif is nie, kan ons nou maar aan diegene wat dit nog nie kon uitwerk nie, onthul dat dit die akroniem is vir net “tril en ribbes”. En dis maar dieselfde met die maergat Plore wat 'n mens oral raakgeloop het.
My gunsteling sal egter vir altyd die nutsman bly van wie Helen Schoer vertel – hy’t net een arm gehad en was in die dorp bekend as Seekat.
Kissie en Kransie
Dis ook mense se gewoontes of beroepe, of hul ouers se beroepe, wat die kreatiewe sappe aan die spat gehad het. Omdat my pa ’n prediker was, het ek heel onkreatief as Pous of Priester bekend gestaan.
Die manshaarkapper in ons dorp, wat ook ’n Vaaldam-hengelfanatikus was, se bynaam het sommer twee vlieë met een klap uitgehaal. Jan Barber. En dan is wat Pieter Rossouw van Piketberg vertel vir my so pragtig. Die begrafnisondernemer daar was Jan Kis, met die twee kindertjies wat heel onregverdiglik Kissie en Kransie genoem is. En Laureen Rossouw sê die waterfiskaal in hul dorp het alom bekend gestaan as Kanaalpadda.
Maria Smit sê daar was ’n oom in die Gamtoos wat vir die eerste keer op 50 vrou gevat het en toe sommer sewe kindertjies verwek het. Sy naam was uiteindelik Solly Ram. Carin Bosman herinner my aan hierdie een, ’n lelike een, wat sekerlik getuig van ons chauvinistiese samelewing, maar nietemin nie geïgnoreer kan word nie. By ons was dit die naam wat vir die koshuisjuffrouens gegee is wat gedurig by die huis gekuier het waar al die ongetroude konstabels gebly het: Staatsmatras. Nee, jirlikheid.
Bun Booyens, wat kortstondig skool gegee het voordat dit hom permanent die skrik op die lyf gejaag het, onthou ’n skraal, effens geboë en oorblufte ou in st. 7. “Sy naam was Behoefte. Hy het vir die Sesdes flank gespeel en was met elke beweging iewers in die pad. Toe kry ek my Rassie-oomblik: Vir die game teen Paul Roos sit ek hom op heelagter. Hy was die heeltyd so ver uit posisie dat hy nêrens kon inmeng nie en toe wen ons die wedstryd. Ek dink ek het hom tot Man of the Match verklaar.”
Dit het my ook om die een of ander rede aan ’n hiphopper in die Kaap laat dink: Bak-’n-Eier. Wonder of hy nog aktief is.
Dis nie benede Afrikaanse mense om ’n fisieke gebrek of tekortkoming uit te buit vir ’n lekker naam nie. John Lane sê die een ou wat hy geken het, het so gehakkel dat hulle hom Ratkas genoem het. So ’n krapperige ratkas. Raymond Grobler onthou ’n Piet Sprinkler, ook ’n arme hakkelaar.
Lieb van Zyl sê in Potch in die koshuis het hulle ’n ou gehad wat iets vreesliks gedrink het (kan jy dit glo?) “Een van die landbou-ouens het gesê hy drink soos 'n kalf wat nie betyds gespeen is nie. Toe word sy bynaam van daardie dag af Speen.”
En Kabous (wat blykbaar vandeesweek op vorm is) se gunsteling is sy oorlede pa se beste vriend op universiteit wat vreeslik stadig gepraat het. Staaaaaaadig gepraat het. Sy naam was oom Sudden.
Chris du Plessis onthou ’n ou op skool wat so gespoeg het as hy praat. Ou Pistool. En ’n ander een wat hulle Gys Doos genoem het. Want sy naam was Gys en hy was so ’n doos dat geen ander naam sou werk nie. Chris sê ook hy’t eenkeer ’n spannetjie bymekaar gekry om sy huis te help opknap, en hulle was Darrel, Doomblik, Koskas, Puma, Essie en Langes. Jy kan maar vir jouself die stories daaragter verbeel.
Byname is ook kanonvoer
My bedoeling met hierdie bynaamstorie was aanvanklik om te ondersoek hoe mense taal gebruik in politiek en om magsposisies te vestig, en hoe taal eintlik ons realiteit kan skep, en al daai diep dinge, maar toe ek al hierdie snaakse stories hoor, besluit ek om maar eerder die stories te vertel.
Maar ons kan praat oor hierdie dieper dinge. Byname van onderwysers is ’n goeie voorbeeld van hoe mense in ’n magtelose posisie (veral vroeër jare), woorde kan gebruik om so 'n bietjie van daai mag terug te krabbel. Dis nie áltyd die geval nie – soms is dit net ’n goedige vernoeming. Ons dierbare Afrikaansonderwyser op laerskool, oom Herman Cronjé, se bynaam was byvoorbeeld Spook.
Niemand kon ooit verklaar hoekom hy Spook geheet het nie. As hy sy humeur verloor het, het hy ook so gespoeg dat die eerste twee rye se kinders moes koes. En hy’t ’n plank gehad, Maroela, waarmee hy jou só op jou agterent kon looi dat jou keel opdroog. Maar hy was ook die ou wat elke Vrydag se dubbelperiode gebruik het om vir ons voor te lees uit Pieter Fourie se dramas Faan se Trein en Faan se Stasie. Die kinders het aan sy lippe gehang.
Ons onderhoof op hoërskool het as Bom bekend gestaan. Hy was ’n goedige Vrystater, maar hy kon ook binne millisekondes in die rooi van sy moermeter invlieg. Dus, Bom. Die ander teorie was dat hy aan bomskok gely het omdat hy so ’n vreemde maneuver gemaak het as hy op die stoep aangestap kom. Hy sou sy kop eenkant toe swaai asof hy sy nekwerwels moes inhaak, en terselfdertyd sy skouer rol. Bomskok, dis duidelik, het die kenners onder ons gefluister.
Chris du Plessis reken daar was ’n ou in McGregor, ou Vorms, wat uiteindelik uit die onderwys moes loop, en dis ook nie moeilik om uit te pluis hoekom nie. Hy’t altyd die matriekmeisies ná skool laat agterbly “om vorms te teken”.
Allan Venter sê hulle’t ’n onnie gehad met sulke slap enkels, ou Foxtrot, en een met ’n maer kop en skerp neus, ou Pik-Pik, en die ronderige juffrou was Kubus. Seriously?! Maar die beste was ’n houtwerkonnie wat so waar as vet ’n houtbeen gehad het. Hy’t altyd safaripakke en Grasshoppers gedra, en sy houtbeenkous met duimspykers bo gehou. Hy was Plankpootjie.
Hy Trump ons almal
Byname word ongelukkig ook gebruik om mense werklik te verneder en af te kraak. Dit kan ongelooflik kragtig wees. Toe ek in omtrent st. 3 was, was daar ’n baie sterk groep seuns in st. 5. Cool dudes, wat in ’n bende saam rondgeloop het; skerp, snaaks en soms ook boelierig. Een ou het nie lekker ingepas by die groep nie en hy’t gewoonlik so 'n paar treë agter hulle aangestrompel. Thinus Pretorius. Lank en lomp met ’n bril, en so 'n bietjie onbeholpe om homself te verdedig as mense met hom lelik was. En mense wás lelik met hom, om die een of ander rede. Ek het die idee gekry die groep verdra hom sodat hulle hom so nou en dan kon rondklap.
Hy was weerloos, en die groep cool seuns het hom Stinkie genoem. Sonder enige ander rede as om net goor en aaklig te wees. Thinus het nie lank ná skool nie sy eie lewe geneem.
Politici maak ook seker hulle kry die beste waarde uit ’n kragtige bynaam. Dis juis omdat dit informeler en intiemer is, dat ’n bynaam soveel venyniger kan wees. Die laaste van die Nasionale Party-politici, ou Marthinus van Schalkwyk, is so 'n bietjie van ’n vaalseun. Volgens alle aanduidings ’n baie goeie staatsamptenaar, maar nou nie juis ’n vuur-en-swawel-spreker soos sy voorganger, FW de Klerk, nie. Ek dink dit was Tony Leon, die destydse DP se leier, wat hom die eerste keer Kortbroek genoem het, ’n naam wat soos kougom aan ’n wolkombers aan hom gekleef het, en dalk die definiërende oomblik van sy politieke loopbaan was. Hy’t nooit weer heeltemal herstel nie.
Die meester van politieke oorlogvoering met byname is natuurlik Donald Trump. Wat sy opponente betref, spaar hy nie die roede nie. Sleepy Joe, Crazy Bernie, Low IQ War Hawk (Liz Cheney), Crazy, Crooked, Lyin’ Hillary, Leakin’ James Comey, Laffin’ Kamala, Crazy Kamala, Governor Newscum, Cheatin’ Obama, Tampon Tim. Ek dink nie goedigheid speel ’n rol by enige van dié naamkeuses nie. Dis altyd baie persoonlik. Die ongelukkige waarheid is dat dit skynbaar heel effektief is.
Gemeentelede, om hierdie preek mee af te sluit, hier is nog ’n streep kontekslose, maar ware byname. Net vir pret. Jan Poephol en Meelslang was glo bure in Piketberg (Pieter Rossouw). In Namakwaland het ons 'n oom Papsnoek gehad, ’n Willem Beeskalf en Bertus Bok (Gawie Meyer). Marli Hamilton se man was by die Pampoenboere in Potchefstroom. Daar was onder andere 'n Jan Brandslang, Modder, Lang Baber en Klein Baber. Riana Salgado se pa se twee pelle was Jan Bal en Jan Trane. Adrie Jurgens onthou vir Panga, Badprop en Broodpoot.
Die laaste woord laat ek oor aan Pieter P. Fourie: “My ma se suster het nogal 'n ding gehad vir byname. Daar naby Fouriesburg geboer. Sy't verwys na (onder meer) Rondomlelik ('n baie lelike man) en Koekdief (wat alewig met ander mans se vroue gelol het). En dan was daar 'n onderwyser in Oudtshoorn wat die dominee se vrou afgevry het. Ons het na hom verwys as Pastoriepiesang of Hemelhings.”
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.