EK het verlede naweek ’n ou boereraatboek, Oupa en Ouma se Boererate (Tafelberg, 1962), by die Boeremark uitgesnuffel en myself verdiep in heerlike boere-wicca. Katvel, dagga, beesmis en die enkele sweetdruppel van 'n perd is als algemene bestanddele in die brousels wat mense iewers opgekook het ... toe hulle gerook was.
Daar is niks wat 'n sluk terpentyn of brandewyn nie kan oplos nie (selfs al is jy swanger). 'n Stewige dosis peroksied doen wonders vir stinkasem. Slangbyt? No worries: “Drink dadelik brandewyn so dikwels dat jy naar word. Sit 'n kooltjie vuur op die bytplek en hou aan totdat die vuur nie meer doodgaan nie. Neem ’n lewende hoender en sny ’n klein snytjie voor die bors. Druk dan die snytjie teen die bytplek en hou dit vas tot die hoender doodgaan. Herhaal indien nodig.”
Ek lees Tant Miem Fischer se Kampdagboek: Mei 1901-Augustus 1902 om die konteks waarin boererate ontwikkel het, beter te verstaan. En ek toets 'n paar boererate uit. Ook gooi ek ’n draai by die Anglo-Boereoorlog se konsentrasiekampe vir vroue en kinders in Irene. Wat weerspieël hierdie wolhaarstories waarmee ons grootgeword het van die Afrikaner se psige of is ons volksgeneeskunde bloot ’n ander vorm van toordery? Dinge raak nogal witchy.
My navorsing oor boererate lei my na die antropoloog Jeanie Blackbeard en ’n groep vroue waarmee sy haar vereenselwig; selferkende Voortrekkerhekse wat boererate op vernuwende maniere toepas. Uit nuuskierigheid vra ek sommer my vriende op Facebook of hulle nog enige boererate van hulle oumas en oupas kan onthou. Groot is my verbasing om ’n thriving boereraat-gemeenskap op Facebook te ontdek en dat van my vriende by sekere rate sweer, soos ’n aartappel in die bed om rustelose bene tot bedaring te bring.
Voortrekkerhekse op nuwe koers
“Sy het duisend name. Soms is sy die maan; soms is sy 'n vrou ouer as ek; soms is sy Sharon en Diana, drie-en-twintigjarige nimfe met hekselag een maanlignag in Aegina; soms is sy die minnares van 'n Spaanse edelman in Mallorca; soms is sy Linda Lee van Westwood, Massachusetts, wat saam met my olé skreeu by 'n corrida in Madrid; soms is sy 'n tiener wat dans voor 'n glasdeur …” – Etienne Leroux in Isis Isis Isis
Dis net ná twaalfuur toe Blackbeard op Google Meet verskyn. ’n Skreef sonlig glip deur die gordyne van my donker sitkamer. Sy dra ’n los bolla en fyn bril wat wip op haar neus wanneer sy ywerig oor boererate begin praat: “My gunstelingboereraat bied ’n kuur vir doofheid deur ’n vlermuis in vet te braai."
“Ek geniet ook nogal die een vir malaria,” val ek by haar in. “Gooi nat perremis in kookwater en sit die persoon vir twintig minute in daai bad. Maak die bad toe met perremis sodat net sy kop uitsteek. As die persoon daar uitkom, pak hom toe met komberse en laat hom goed sweet.”
Blackbeard deel my mee: “My belangstelling in boererate het seker ontwikkel van my ouma in die Oos-Kaap. Ek is half-Engels en half-Afrikaans. Ek het my honneurs gedoen oor Afrikaanssprekende vroue wat kommunikeer met mense wat oorlede is. Dit het my gelei na ’n meesters in heksery waar ek Voortrekkerfabels bestudeer en begin kyk het na die magiese aspekte van boererate.”
Haar PhD-verhandeling kombineer Afrikaner-volksgeneeskunde met heksery. Sy bestudeer die oorsprong van boererate wat na die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog dateer. Daar het Boerevroue, weens beperkte hulpbronne en die verbod op Nederlandse medisyne, hierdie blywende inheemse genesingspraktyk ontwikkel wat weerstand teen Britse mediese strukture en imperialisme gebied het.
Haar studie fokus op drie wit Afrikaanssprekende vroue wat as hekse identifiseer en hulle spiritualiteit deur middel van tradisionele volksgeneeskunde beoefen. Om haar studie te voltooi het sy deelgeneem aan ’n inisiasieproses om as 'n heks aanvaar te word. “Omdat die heksekring nie 'n Wicca-een is wat 'n gestruktureerde inwyding vereis nie, kan myne beskou word as ’n proses van opvoeding totdat die heksekring besluit het dat ek op my eie kon staan as 'n ‘babaheks’ by ons byeenkomste." Dit is natuurlik ’n hot topic om te definieer wat presies ’n heks is.
Nie satanskinders
“Ons moet ons vooropgestelde idees oor heksery verander.” – Jeanie Blackbeard
Tydens die Middeleeuse heksevervolging, wat soms The Burning Times genoem word, is heksery met satanisme en boosheid verbind. Die Malleus Maleficarum (vertaal as die “Hamer van Hekse”) is vir die eerste keer in 1487 gedruk en versprei. Dit is geskryf as 'n handleiding oor hoe hekse lyk, hoe hulle leef en hoe om hulle te vernietig. Deur die verskeie vertalings van die Malleus Maleficarum het een sentiment duidelik gebly: Omdat hulle vroue as swakker beskou het as mans, was vroue meer vatbaar vir die duiwel en sy trawante.
Die boek verduidelik dat heksery inderdaad ’n werklike verskynsel is en baseer hierdie bewering op Katolieke leerstellings. Dit voer aan dat hekse se mag slegs van die duiwel kon kom aangesien net hy sulke boosaardige mag sou verleen en mense sou dryf om skade te berokken. En omdat die duiwel werklik is, is heksery ook werklik.
Bygeloof of toordery?
As 'n mens in ag neem in watse haglike omstandighede boererate ontwikkel het in Kitchener se konsentrasiekampe, raak dinge nogal donker. Baie van die bestanddele wat herhaaldelik in boererate gebruik word, is bloot omdat dit al was wat die Boerevroue by hulle gehad het: terpentyn, lampolie en brandewyn is byna in elke resep.
Wat is die verskil tussen bygelowe en toordery? wonder ek terwyl ek met Blackbeard gesels. Sy glo intent het iets daarmee te doen.
Afrikaanssprekende vroue wat heksery beoefen in Suid-Afrika vul ’n gaping in die antropologiese literatuur omdat ander studies oor heksery gewoonlik op swart gemeenskappe fokus. Die studie beklemtoon dat hierdie vroue nie net hulle spiritualiteit as ’n vorm van bemagtiging gebruik nie, maar ook om te herdefinieer wat dit beteken om ’n Afrikaanse vrou in ’n veranderende samelewing te wees. Dit bied ’n nuwe beskouing van hoe spiritualiteit, feminisme en kulturele identiteit met mekaar verweef is.
“Johanna Brandt het ’n groot rol in die ontwikkeling van boererate gespeel,” sê Blackbeard. Brandt (1876–1964) was ’n Suid-Afrikaanse skrywer, nasionalis en natuurkundige geneser wat bekend geword het vir haar werk oor alternatiewe medisyne en boererate. Sy was ook ’n vroeë voorstander van naturopatie en het boeke geskryf oor dieet, gesondheid en volksgeneeskunde.
Blackbeard meen boererate funksioneer steeds as 'n lewende kennisstelsel, veral onder Afrikaanse vroue. Die studie wys hoe hierdie tradisie verder strek as net genesing: Dit vorm identiteit, versterk gemeenskappe en daag die dominante Westerse mediese narratief uit.
Die navorsing wys dat boererate nie net ’n historiese verskynsel is nie, maar ’n lewende kennisstelsel wat steeds binne Afrikaanse gemeenskappe aangepas en oorgedra word.
My gunstelingboererate
Geelkoors
Neem ’n stukkie vars brood en smeer dit dik met vars vet. Vang sewe kopluise, plak op die brood met vet en laat die pasiënt dit eet. Die kieme eet dan glo die luise en gaan dood.
Allerlei kwale
Drink ’n paar druppels terpentyn, ’n paar druppels lampolie en ’n bietjie melk.
Dronkenskap
Gooi ongemerk ’n bietjie perdesweet in die bottel wyn, skud dit dan goed deurmekaar en sit dit weer op dieselfde plek terug. Die persoon sal 1 glas wyn drink en vreeslik siek word daarvan, maar dit sal die laaste keer wees. ’n Paar druppels varkmelk in die plek van perdesweet is ook goed.
Ek dink boererate is soos die Bybel: Jy moet dit neem met ’n knippie sout, asyn én brandewyn!
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.