SUUR. Dis hoe ek die laaste tyd oor Afrikaans voel. Maar dis complicated. Vat maar die woord self. Dis so genotlik om te sê: Súúúúr. Jy moet jou mond tuit asof jy gereed maak om iemand te soen. Soos jou skoonma. Soet het ook so 'n mond nodig, maar dis net daardie titsel anders, soos om 'n geliefde kleinkind te soen.
My Walliese skoonseun probeer hard om die diftonge van Afrikaans te bemeester, vir die lekker, want jy kry nie dieselfdes in Engels nie. Hy is mal oor sy skoonma se “beskyt”, sê hy, en dan chuckle ons maar en probeer hom reghelp, met iets soos “beskoeit” die gevolg.
Gelukkig gaan soet en suur saam onder die spreekwoorde. En dan is daar “suurklontjie”, nog 'n woord om onder die tong te vertroetel, te suig tot die suur nie meer daar is nie. Afrikaans is 'n taal van vele vreugdes, en jy is waarlik geestelik armer as jy soos so baie Engelse chauviniste net die spraak van gevalle of vervallende empires ken.
So waaroor is ek so soet en suur? Die Afrikaans 100-vieringe. Ek is dit heelhartig eens met deelnemers: Daar is 'n tyd en plek vir alles, en waarom nie feestelik wees op pad na 8 Mei, wanneer Afrikaans amptelik 100 jaar oud is nie? Dis duidelik dat die organiseerders uit hul pad gaan om Afrikaans se wortels onder ander mense as net die Pannevisse en Oom Lokomotiewe te gaan uitgrawe en oop te spalk.
Ek is ook nie vandag suurgat oor die feit dat wit mense en organisasies domineer nie, vir sekere beperkte doeleindes kan jy mense nie sleep en knoei – lekker woord! – na water wat hulle nie wil drink nie. Nee, ek is suur omdat Afrikaans maar net nie sy geskiedenis kan ontduik nie. Tot dusver het ek nie eintlik agtergekom dat iets baie belangriks vir Afrikaans agterweë bly te midde van al die jollifikasie, geloofsbriewe en getuigskrifte nie. Dis naamlik hoe ons swart medeburgers die affêre sien, en my gevoel was dat hulle tot 'n paar weke gelede meer met onverskilligheid as enigiets anders gereageer het.
Tot Donald Trump die Boere kom red het. En Afriforum/Solidariteit die lawaaiwaentjie van wit slagofferskap weer aan die gang kry nadat die wiele in die sand van irrelevansie vasgeval het. En Afrikaners en Afrikaans weer oor dieselfde kam geskeer word, die kam met die baie uittande wat die 30% van wit Afrikaanssprekendes wat in 1992 teen magsdeling met swartmense gestem het, ná al die jare steeds in hul kamaste hou.
Ons dink in stereotipes
'n Mens kan jou medemense nie kwalik neem dat hulle in stereotipes dink nie. Of in kettings daarvan nie. Dis hoe ons as beide roofdiere en prooi vir ander roofdiere aanmekaar gesit is. Ek weet van geen meningspeiling nie en ek hou nie sosiale media dop nie, maar ek sou raai die “bad things” waarvan Afrikaners die slagoffers sou wees, kan so 'n ketting van assosiasies aan die gang sit as mense aan teenargumente begin dink. Dit kry nuwe skakels soos wat daardie stereotipes hul werk doen en diep gewortelde emosies laat ontwaak, en dis nie lank nie of die bloed begin kook met whatabouts as dit by Bela en Afrikaans kom: “Maar wat van Soweto? Wat van 1976?”
Dis nie rasioneel of produktief nie, maar dis dáár en gaan nog lank deel wees van die grootste deel van ons bevolking se emosionele onderbou. En wit arrogansie, waarvan ons net nie ontslae kan raak nie, gaan dit nog lank aktiveer.
Om 'n bietjie balans te probeer bewerkstellig, dink ek altyd hoe iemand soos Sol Plaatje dit sou gesien het. Want Plaatje was allesbehalwe anti-Afrikaans, daarvan getuig sy naam reeds, wat die Afrikaanse/Hollandssprekende mense saam met wie hy grootgeword het vir hom gegee het weens sy haarstyl. Plaatje is die beste joernalis wat Suid-Afrika nog gesien het en was veral bekend vir sy Native Life in South Africa, waarin hy geskryf het oor die verwoesting wat die Wet op Naturellegrond van 1913 gesaai het. Dit het hy gedoen in 'n New Journalism-styl, dekades voor Tom Wolfe en Joan Didion-hulle.
In Native Life het hy geskryf hoe talle progressiewe Afrikaanse boere wal geskop het teen die wet, maar die knie moes buig teen die ver-regses daaragter, gelei deur Piet Grobler en die oorlogsheld Christiaan de Wet. Plaatje het laasgenoemde en hul gevolg die skuld vir die wet gegee omdat hulle die wet en sy versteekte artikels bedoel het as teenvoeter nie teen grondaankopers nie, maar teen swart sharecroppers. Hulle wou keer dat 'n swart middelklas op die been kom. Sou hy tot vandag geleef het, sou hy 'n reguit streep van De Wet na Flip Buys en Kallie Kriel van AfriForum getrek het.
Plaatje het koerante en mobiele bioskope bedryf, reuseskares toegespreek en die voorganger van die ANC help stig. Hy het swart mense se saak in Brittanje gaan stel, in die ewige hoop dat redelikheid tog sou seëvier in Suid-Afrika. Maar teen die 1920’s was daar een nuwe wet onder al die nuwe skeidingswette wat hom verpletter het: die Wet op Naturelle-administrasie wat in 1927 van krag geword het. Dit was veel erger as selfs die 1913-wet, het hy geskryf.
Gelyklopende prosesse
Die wet moet teen die agtergrond van twee gelyklopende prosesse gesien word. Aan die een kant was daar die Britte se versoeningsbeleid teenoor Afrikaners, met 'n rits regstellende aksies, waaronder die instelling van Afrikaanse pleks van Hollandse skole. Die verampteliking van Afrikaans naas Engels in 1925 was die eindpunt van hierdie proses: wetlik en simbolies was Boer en Brit nou gelyk.
In daardie jaar was die wetmakers druk besig met die ander proses, die stelselmatige transformasie van swart mense tot totaal gemarginaliseerde nie-burgers, “a pariah in the land of his birth”, soos Plaatje se beroemde woorde in Native Life dit stel. Wit bemagtiging teenoor die siniese verbreking van oorlogsbeloftes, grondonteiening teenoor grondsubsidies, slawerny vermom as arbeidswette teenoor massa-opvoeding van armblankes.
Die naturelle-administrasiewette was soos Afrikaans se verampteliking die eindpunt van die totale vervreemding van liggaam en siel vir swart mense. Burgerskap het net in reservate gegeld, en daar is almal onder stamhoofde ingedeel. Hierdie stamhoofde is deur die naturelle-administrasiedepartement aangestel en was oorwegend Uncle Toms. Die mees drakoniese bepaling was egter dat enige persoon wat van sedisie verdink is – en die term is nie veel verder omskryf nie – summier in die tronk gestop kon word, waar sadistiese lyfstraf nog algemeen was.
Lokasies en reservate het onder die gesag van die goewerneur-generaal geval, wat die mag van lewe en dood oor swart mense gehad het. In die lokasies is hierdie mag aan ondemokratiese amptenare en polisiemanne gedelegeer. Dit sou tot in die 1990's duur; teen daardie tyd was die republiek se wit president die uiteindelike groot makhulu buite die tuislande. Dit was ook die raamwerk waarbinne die De Klerk-bewind nog vir oulaas pa gestaan het vir moorddadige aanvalle op burgerlikes deur staatsaangestelde agente, in wat as die derde mag bekend geword het.
Plaatje was in sy twintigs reeds een van die voorste kampvegters teen hierdie proses van stelselmatige verontmensliking, maar het geen wrok teen Afrikaners gekoester nie. Hy het wel geskryf jy moes maar jou hoed afhaal en albei jou hande voor jou vashou as jy in Boerebuurte kom, maar as 'n geroemde toespraakmaker het hy daarvan gehou om Demosthenes in Afrikaans te speel. Op 'n keer het 'n Hertzog-ondersteuner hom só verwelkom in hul midde: “Jy is nou wel vrot van die Jan Smuts, maar as 'n k****r praat jy beter Afrikaans as die Engels van enige k****r wat Engels probeer praat.”
Plaatje is deur baie waarnemers uitgesonder vir sy humorsin en daarom kon hy dit aanteken. Maar hy het ook sulke kleinlike rassisme verpes, en te velde getrek teen Hertzog se Swart Manifes, waarin hy volgens Plaatje naturelle beskryf het “as iets boos en ondermynend van beskawing”. Nogtans het hy Afrikaans voorgehou as model vir die ontwikkeling van Setswana, een van die grootste passies in sy lewe.
Een projek ná die ander duik in die hek
Maar in dieselfde tyd as wat hierdie model in die parlement getriomfeer het met die verklaring van Afrikaans as ampstaal, moes hy aanskou hoe die een projek ná die ander in die hek duik wanneer dit by Setswana kom. Sy tweetalige koerante, drie van hulle, het almal onder finansiële druk geswig. Eers tydens sy verblyf oorsee om te protesteer teen die 1913-wet kon hy met die hulp van Britse taalkundiges sy Sechuana Proverbs en A Sechuana Reader begin saamstel.
Die Unie se onderriginstansies was steeds onder die dwang van die Macaulay Minute van 1835, wat verklaar het dat enige inheemse taal as outomaties minderwaardig teenoor Engels beskou moes word, en het niks gedoen om boeke in Setswana te produseer nie. Trouens, in Tswana-gebiede is eenvoudig boeke in Sesotho aan skole verskaf.
Selfs die sendelingskole het kortpaaie geneem en godsdienstige tekste geproduseer in die Tswana-variante van hul eie gemeenskappe. Daar was geen impetus om 'n gemeenskaplike ortografie vir alle Setswana-sprekers te skep nie.
Plaatje het te hore gekom van 'n bejaarde Tswana-man naby die Lesotho-grens wat 'n magdom stories en ou woorde geken het. Hy wou bitter graag by hom uitkom, maar het nie eens die geld gehad om soontoe te reis nie – ook omdat hy so besig was in die dosyne rolle wat hy as aktivis en spreker gevul het - en was erg ontsteld toe hy verneem die man is dood.
Vergelyk dit met Afrikaans in 1925, wie se saak bevorder is deur parlementslede soos C.J. Langenhoven en Afrikaanse akademici, onderwysers en dominees met stewige salarisse en toelaes en ruim staatshulp.
Om sy Setswana-spreuke uit te brei, het Plaatje £25 by Wits-Universiteit gekry, maar moes baie tyd bestee om elke liewe stukkie besteding te motiveer, selfs vulpenne en 'n tuinslang wat hy aan 'n hoofman moes skenk om sy guns en dié van sy onderdane te behou. Hy het geld by Amerikaanse weldoeners gevra om die spreuke te kan druk, en vir ander projekte soos volksverhale en die uitbreiding van 'n woordeboek, sonder sukses. Hy het selfs politieke kapitaal opgebruik deur aan De Beers te skryf met 'n ingewikkelde argument dat sy vertalings van Shakespeare die Kommunistiese Party aan bande sou lê.
De Beers het sy aansoek van die hand gewys. Afgesien van sy baanbrekerroman, die bekende Mhudi, is net een van sy vyf Shakespeare-vertalings in sy leeftyd gedruk. Net een is ná sy dood gedruk, die ander drie het verdwyn, so ook sy versameling Setswana-volksverhale en sy werk om die woordeboek uit te brei. Sy biograaf, Brian Willan, skryf: “In this sad inventory of lost work lies one of the great tragedies in South African literature.”
Tale is in stasis
Eers in 1996 sou Setswana – en ander inheemse tale – Afrikaans inhaal en as amptelike tale erken word. Teen daardie tyd is Afrikaans opgebou tot “wetenskapstaal” en het dit 'n allemintige letterkunde versamel met werke van wêreldklasgehalte, waarvan sommige in dosyne wêreldtale vertaal is.
Die ander inheemse tale is in stasis, feitlik nog net waar hulle was in 1996. Die groot tragedie is dat die Macaulay Minute se koloniale sentimente feitlik heelhuids deur die postapartheid- swart elite oorgeneem is en dat Engels dus outomaties as meerderwaardig beskou word. Volksfeeste en die internet het Afrikaans laat bly floreer, maar dieselfde houding onder sy eie middelklasgebruikers is ook grootliks verantwoordelik vir die agteruitgang wat daar wel is in verengelsende skole en universiteite.
Dit is foutief om van die “Wonder van Afrikaans” te praat. Vele tale het eers in die laat 19de eeu gekonsolideer geraak, soos Duits, Italiaans of Noorweegs (Nynorsk), net soos Afrikaans. Maar ook omdat dit sedert die Anglo-Boereoorlog 'n politieke projek was. Vir wit Afrikaanssprekendes was die kaping van die kombuistaal 'n manier om gelykheid met die seëvierende Britte te kry, vir die Britte om hulle verdeel-en-heers strategie toe te pas. Politici aan albei kante, soos J.B.M. Hertzog na wie Afrikaans se grootste literêre prys vernoem is, het eksplisiet die onderdrukking van “naturelle” bepleit.
Die wet wat Plaatje tot groter wanhoop as die 1913-wet gedryf het, die Wet op Naturelle-administrasie van 1927, het swart mense van hul laaste aanspraak op grond ontneem en hulle tot tweedeklasburgers verklaar. Diegene onder hulle wat om hul regte geagiteer het, in die voetspore van Plaatje, is sommer gou hierna ingevolge die sedisiebepalings van die wet vervolg, tot dit die ANC jeugliga onder Nelson Mandela genoop het om die gewapende stryd as enigste uitkoms aan te neem.
In dieselfde tyd as wat Afrikaans amptelike status gekry het, en Afrikaners finaal die kettings van die Boere-oorlog kon afskud, is swart mense aan 'n parallelle, fascistiese bewind onderwerp wat nog vir drie, vier generasies sou duur.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.