Blomme vir Moedersdag? Nie vir my nie!

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Blomme vir Moedersdag? Nie vir my nie!

MERCY KANNEMEYER sê kinders is erger as tatoeëermerke.

Image: ANGELA TUCK

SONDAGOGGEND (op Moedersdag) is ek vinnig by die Woolies in, want ek het toe nou lus vir poeding. In die lekkergoedry staan ’n paar mans besig om sjokolades uit te kies, seker vir hulle ma’s of susters of vrouens. ’n Paar het blomme in hulle mandjies en een staan met skoonmaakmiddels. Die een met skoonmaakmiddels is seker ’n grap, want wie wil dít nou as Moedersdaggeskenk hê? Soos wat ek die mans so staan en bekyk, val dit by my dat dit nooit ek sal wees nie.

Ek sal nooit ’n Moedersdaggeskenk kry nie. Moenie worry nie, sover my kennis strek is daar g’n fout met my voortplantingsmeganisme nie. Ek wil doodeenvoudig nie kinders hê nie. En nee, daar het niks traumaties met my gebeur wat my tot by hierdie besluit gebring het nie. Dis een van die min lekkertes van vrou-wees in Suid-Afrika – ek kan kies. En ek het gekies om eendag nie kinders te kry nie.

Die snaakse ding is dat soveel soos wat ek nie kan motiveer hoekom ek eintlik nie kinders wil hê nie, kan ek ook nie aan ’n rede dink om wel kinders te kry nie. Dis nie dat ek nie van kinders hou nie, ek wil hulle net nie hê nie. Dis ’n lewenslange commitment, dis erger as tattoos! Tattoos kan jy nog gaan verwyder as jy nie daarvan hou nie, maar jy kan nie jou kind verwyder as jy daai kind klaar in die lewe gebring het nie. Mense spot my en sê ek is net nog 28 jaar oud, ek sal nog van plan verander. Ek twyfel sterk.

Iemand het by geleentheid gevra of daar iets in my grootwordjare verkeerd geloop het dat ek nie kinders wil hê nie. Haha. Daar het absoluut niks dramaties foutgegaan nie. My pa het my ’n keer of wat by die crèche vergeet, maar gelukkig was my crèche-juffrou een van die vroue wat ’n ma-rol in my lewe gespeel het, so daai letsel het ek lankal laat gaan. By ’n ander geleentheid het ek in ’n waskom vol water beland en moes die dokter iets aan my oortjies doen, maar ook dié situasie het my nie veel skade aangerig nie. My ouers het elke aand seker gemaak ek en my broer weet hulle het ons lief.

Ek was nog altyd omring deur vroue wat sterk ma-rolle in my lewe vertolk het. My eie ma, Maria, my oumas, my anties, my juffrouens, dosente, mentors en vriende soos René van Rooyen, Kabous Meiring, Martie Meiring, Saartjie Botha en Lee-Ann van Rooi.

Daar is mense wat gemaak is vir ma-wees, en dan is daar mense wat net weet dié gig is nie vir hulle nie. Ek praat nou nie hier van die vroue wat graag ma’s wil wees, maar nie kan nie. Bless julle. Hier praat ek van myself. Autonomy oor my liggaam. Die geskenk wat ek het om my vrye wil uit te leef.


Dooiwater

Ek swenk weg van die mooi sekerte van lyne en sink
in 'n onverskilligheid van skakerings want donkerte

regeer in my gemoed, want dis dooiwater,
want swartmosseltande tussen koponderstebo

bamboese lag in my slaap, groeperings godverlatenheid.
Want diep in hierdie skets wat ek meen te wees,

spoel die vertroebeling van redenasie en houding.
Ek moet oplos. Want donkermaan is my siel.

– Wilma Stockenström

(Bron: Ou LitNet)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.