Dankie vir die grappie

DONDERDAG MET DEBORAH

Dankie vir die grappie

DEBORAH STEINMAIR bedank die grapmakers.

Image: ANGELA TUCK

EK glo om grappies te maak, is bedagsaam. Dit beteken jy is ingestel daarop om ander op te beur. Flou grappies, dad jokes, almal is welkom. Ek hou van grappies. En wanneer iemand wat jy goed ken, jou steeds verras met die flinkheid van haar kop. Gisteraand staan my persoon en groente kap. Sy begin sing: “Seldery, Seldery, sal jy die Boere kom lei, Seldery?”

Soms lees ek ’n boek wat die absurde, waansinnige aard van hierdie lewe reflekteer terwyl dit my uitasem laat skaterlag. Dit wil gedoen wees. Humor sonder ’n donker onderstroming kan maklik laf raak. Dit is die kontras wat verras en amuseer – absurditeit as die keersy van verlies en ontsetting.

Toe ’n goeie vriend van my een dag onverwags oorlede is, daag sy susters uit Duitsland op vir die begrafnis. Ons sit in sy sitkamer. Sy groot rifrughond is verward en troosteloos. Hy breek weg uit die erf en jaag ’n man in die straat. Die man beklim ’n klein boompie, wat ombuig sodat hy soos ’n ryp vrug sentimeters van die blaffende hond se neus af swaai. Dit alles sien ons, die vriende en naasbestaandes, deur die venster, deur betraande oë, apaties. Toe vra die oorledene se suster, met ’n vinger wat wys: “Ist das normal?” Sulke absurde detail bly ’n mens by.

The Dog of the North deur Elizabeth McKenzie is ’n onvergeetlike road trip. Die titel verwys na ’n voertuig, ’n verwaarloosde kombi-agtige tjor op sy laaste bene. Die verteller, Penny Rush, se huwelik is op die rotse en sy is werkloos. Sy neem vanuit Kalifornië die bus en trein na Santa Barbara om uit te help met ’n krisis. Haar ouma, Pincer, is monsteragtig: ’n chirurg, ’n beheervraat en pakrot met sadistiese neigings. Haar huis en sake is ’n puinhoop. Haar rekenmeester, Burt Lampey, het Penny ontbied om die huis te laat skoonmaak terwyl hy haar ouma besig hou.

Maar Burt beland in Ongevalle en die skoonmaakmense vind ’n wapen in haar ouma se huis en ’n lyk in haar skuur. Penny probeer die gemors uitsorteer. Boonop is haar biologiese pa, die versteurde Gaspard, op haar spoor en bekruip haar oor deelstate heen. Sy is platsak, al is haar grootouers (geskei) albei skatryk en beheer sy hulle sake.

Terwyl Burt in die hospitaal is, woon sy in sy tjor vol hondehare met ’n fiets, ’n strykplank, ’n buiteband, ’n piñata in die vorm van ’n donkie en darem ’n futon. Sy is in rou omdat haar ouers ’n paar jaar vantevore spoorloos verdwyn het tydens ’n ekspedisie in Australië. Haar ouma het haar in ’n woedevlaag met ’n geroeste borsspeld in die bobeen gesteek en die wond raak septies, maar sy beur voort. Boonop ontwikkel sy in haar verwarde toestand gevoelens vir Burt se broer wat soos ’n krimpvarkie lyk.

Penny het ’n manier om na die lewe te kyk wat my verruk. Sy kom op een van haar verdwene ma se gunstelingboeke af, Voss deur Patrick White, ook een van my gunstelingskrywers. Hier is haar opsomming van sy styl: “…White is a writer who can find the disgusting in everything, and his language and syntax create primal unease. He won the Nobel Prize for it.”

Die boek herinner my daaraan hoe belangrik dit is om te lag. Uit die maag, dat die trane loop. Dankie vir die reis, Elizabeth McKenzie. Ons het dit nodig.


As ’n miskruiersou weier
ommie akkies
aan te jaag,
moet ’n ander ou
(óf vrou)dit doen,
vir my is dit te laag ...
Want — besef dit tog maar goed —
ek is pragtig opgevoed
en wil nooitstenimmer rol
aan ’n defekasiebol.

− Philip de Vos

(Bron: Ou LitNet)

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.