Bejaarde, senior burger, afgetredene, gryskop, suurstofdief, grys tsoenami en ’n sorg-las op die wêreldekonomie. Die grootste groeiende deel van die populasie is dié oor 65 jaar oud.
Weens ’n krimpende aanwas is daar al hoe minder jonger mense in die arbeidsmark om die afgetredenes te befonds. Ons lewensverwagting het die afgelope jare met meer as 30 jaar vermeerder wat beteken dat daar reeds mense lewe wat ouer as 120 jaar gaan word.
Met ’n aftree-ouderdom van 60 gaan mense langer afgetree wees as wat hulle gewerk het, en tien teen een hul beleggings uitoorleef. Asof dit nie genoeg is om die allerheiligste vrees aan te jaag nie, loer die demensiemonster met gloeiende oë op die horison vir een in drie mense ouer as 75.
Geen wonder die Amerikaners jaag soos besetenes agter alles aan wat “anti-ageing” kan bewerkstellig nie – van botoks tot stamselle vries, rome en salwe, en inspuitings van boudvet in die wange. Miljoene word bestee aan hare kleur, plastiese chirurgie en wonderkure vir jonkbly. En dis alles ’n gejaag na wind – oudword gaan jy oudword, of jy nou styfgetrek is of nie.
Apokoliptiese demografie
Die media speel ’n belangrike rol in hierdie massahisterie en apokaliptiese demografie om oudword uit te beeld as die ergste ding wat met ’n mens kan gebeur. Geen positiewe stories van oudword verskyn as dit nie ’n advertensie vir ’n begrafnisonderneming of inkontinensieprodukte is nie. En kyk jy na die prentjies wat aftreeoorde adverteer, wonder jy waar hierdie mense vandaan kom wat grys is maar nie ’n plooi van ’n dag oud het nie . . .
Ouderdomsdiskriminasie skep ’n drogbeeld wat daartoe lei dat die meeste mense nie voorbereid is op hierdie fase nie, dat dit nie oordink word nie, en dat mense nie regtig met die idee van oudword wil omgaan nie. Ontkenning in die ergste graad sit om in ’n weerstandige stroomop swemmery vir lewe en dood.
Hiermee gepaard gaan ’n diskriminasie wat ondenkbaar is in vergelyking met diskriminasie teenoor geslag en ras. ’n Grappie oor die teenoorgestelde geslag is seksisties, teenoor ’n ander rassegroep rassisties. Grappies oor ouer mense maak die verteller ’n komediant!
Tien jaar gelede was kanker mense se grootste vrees, nou is dit demensie. Hoe meer navorsing gedoen word, hoe minder weet ons werklik wat hierdie toestand veroorsaak.
Demensie: steeds geen kuur, antwoorde
Daar is geen teken op die horison van ’n kuur nie, ondanks die biljoene wat aan narvorsing bestee word. Die mistieke aard van die mens se bewuste ontwyk wetenskaplike navorsers keer op keer. Met meer as 200 tipes demensie reeds geklassifiseer, is daar steeds geen antwoorde nie. Net meer vrae.
Ouderdomsdiskriminasie skep ’n drogbeeld wat daartoe lei dat die meeste mense nie voorbereid is op hierdie fase nie, dat dit nie oordink word nie, en dat mense nie regtig met die idee van oudword wil omgaan nie. Ontkenning in die ergste graad sit om in ’n weerstandige stroomop swemmery vir lewe en dood.Hiermee gepaard gaan ’n diskriminasie wat ondenkbaar is in vergelyking met diskriminasie teenoor geslag en ras. ’n Grappie oor die teenoorgestelde geslag is seksisties, teenoor ’n ander rassegroep rassisties. Grappies oor ouer mense maak die verteller ’n komediant!Tien jaar gelede was kanker mense se grootste vrees, nou is dit demensie. Hoe meer navorsing gedoen word, hoe minder weet ons werklik wat hierdie toestand veroorsaak.Demensie: steeds geen kuur, antwoordeDaar is geen teken op die horison van ’n kuur nie, ondanks die biljoene wat aan narvorsing bestee word. Die mistieke aard van die mens se bewuste ontwyk wetenskaplike navorsers keer op keer. Met meer as 200 tipes demensie reeds geklassifiseer, is daar steeds geen antwoorde nie. Net meer vrae.
Tot so onlangs as 10 jaar gelede het die meeste vroue “normaal” geboorte gegee. Vroedvrouens het die magiese gebeurtenis met knap effektiwiteit in die slaapkamer tuis afgehandel. Toe tree die medici tot die proses toe en maak dit wat as normaal beskou is ’n mediese probleem. Die gevolg is dat daar deesdae min normaal is aan geboorte gee – dit is nou ’n geskeduleerde mediese prosedure wat in gesofistikeerde hospitale uitgevoer word.
Dieselfde het met veroudering gebeur – dit het stadig maar seker ’n mediese probleem geword. Waar oupa 10 jaar gelede kens geword het as gevolg van verkalkte are, word daar nou ná breinskanderings demensie by hom gediagnoseer en word hy met ’n doodsvonnis huistoe gestuur.
Min hulp, leiding of ondersteuning word gebied om die doodsafwagtende by te staan. ’n Nuwe retoriek van verlies, die wegkwyning van ’n geliefde, en lewende dood tree in tot op die punt waar die meeste mense wat met demensie leef iewers in ’n kil siekeboeg bedlêend vol chemikalieë verdoof word.
Familie en vriende verdwyn
Familie en vriende verdwyn, mediese intervensies neem toe, en lewenskwaliteit neem af. Die gesofistikeerdheid van die wetenskap het die sogenaamde “medical gaze” tot gevolg – al wat ons sien, is ’n biomediese geval, ’n pasiënt wat deur medikasie in toom gehou moet word sodat hy of sy so hanteerbaar moontlik vir die ouetehuispersoneel sal wees. Voer, trek aan, bad, maak skoon – werk gedoen!
Wat gebeur met die mens agter hierdie diagnose? Die ma, die onderwyseres, die introvert, die plantkundige, die wonderlike kok? Word die hele bladsy van lewe eenvoudig deur demensie skoongevee om net ’n lewende kadawer agter te laat?
Kan dit wees dat die wêreld se uitkyk, die medikalisering van oudword, dalk die oorsaak van dié swaarkry is? Dat ons onvermoë om verby die toestand te kyk die grooste oorsaak van lyding en verdriet is, en nie die toestand self nie? Dat die aggressie, ronddwaling, hartseer en ontrekking ’n reaksie is op die manier waarop demensielyers hanteer word, eerder as ’n gevolg van die “siekte”?
Tyd vir binnetoe kyk
Kan dit wees dat oudword ’n oorgangsfase is, ’n tyd vir binnetoe kyk? Dat jou wees-in-die-wêreld anders beskou kan word buite die paradigma van ’n mediese toestand?
Desmond Tutu het die wêreld probeer bewusmaak van “the sacredness of the human spirit”. Demensie se wortels lê onder andere in die brein. Die vraag is: Tas dit ook die “spirit” aan?
Navorsers wat in die menslike psige belangstel, het bevind dat die mens se bewustheid van die self nie as gevolg van demensie verweer nie, maar wel as gevolg van die manier waarop die wêreld hom hanteer. Intense observasie toon dat bewustheid nie geaffekteer word nie – soveel so dat dit selfs in die Wêreldgesondheidsorganisasie se definisie van demensie genoem word:
“Demensie is ’n sindroom – gewoonlik van ’n chroniese of progressiewe aard – wat met ’n erger verswakking van kognitiewe funksie (m.a.w. die vermoë om gedagtes te verwerk) gepaardgaan as wat met normale veroudering ondervind word. Dit affekteer geheue, denkvermoë, oriëntasie, begrip, berekening, leerkapasiteit, taal en ontwikkeling. Bewustheid word egter nie geaffekteer nie. Die agteruitgang van kognitiewe funksie gaan dikwels gepaard met die agteruitgang van emosionele beheer, sosiale gedrag of motivering, en soms gaan dié dinge die kognitiewe verswakking vooruit.”
Dit beteken basies dat demensielyers dalk nie verbaal kan kommunikeer nie, dat hulle dalk nie die regte woord gebruik om iets te beskryf nie, maar dat hulle wéét. Bewustheid hoef nie geverbaliseer te word nie, dit is ’n diepgewortelde wéét.
Soveel keer hoor ’n mens: “Ons gaan nie meer vir haar kuier nie. Sy is nie meer die ma wat ons grootgemaak het nie”. Ma-wees is nie ’n breinfunksie nie, dit is ’n sielsfunksie. ’n Diepgewortelde wete wat in elke sel van ’n ma se liggaam geborge is.
En al kan ’n ma nie haar kind se naam onthou nie, is daar ’n geborgenheid in die teenwoordigheid van haar vlees en bloed wat nie uitgespreek hoef te word nie. En hoe gaan jy as haar kind dit weet? Jy gaan lank genoeg by haar tyd spandeer, in haar oë kyk, en dan sal jy dit weet.
Die pas van oudword het te stadig vir die tegnologiese wêreld geword – afgetree is so goed soos afgedank. Ouer mense neem die stigmatisering ter harte en glo dat die “afdraand van die dag kil is” (Alba Bouwer).
Nuwe neurologiese paaie in brein
Min navorsers fokus egter op neuroplastisiteit – die feit dat die mens se brein deurlopend nuwe neurologiese paaie vorm. Op ouderdom 55 tot 60 ontwikkel die brein unieke neurologiese paaie wat nooit vantevore ontwikkel het nie. Dié paaie bring insig, inkeer, terugkyk, oordenking en wysheid.
’n Lewe se ervaring word met hierdie “veroudering” van die brein nuwe betekenis gegee – die gejaag na status is skielik minder belangrik. En hier tree die tweestryd in – terwyl die wêreld goue handdrukke aan 60-jariges uitdeel, ontwikkel die brein nuwe geleenthede tot insig en kreatiwiteit.
Ongelukkig kry die kondisionering in die meeste gevalle die oorhand – nadat hulle tydens hul middeljarekrisis ’n nuwe sportmotor gekoop of ’n vinnige romanse met die oorlamse blondine aangeknoop het, blaas die meeste die aftog en begin hulle in blaaskwale en aftreeoord-praatjies inkoop.
Dit is tyd dat die laaste stansa van die lewe gesien word vir wat dit is – ’n tyd om met groter waagmoed die nie-konkrete deel van menswees aan te pak. Om stil te word en te luister na die ritmiese hartklop van die sonsopkoms en -ondergang, die seisoene wat wissel en die grootsheid van die heelal.
En as hierdie inkeer met kensheid gepaardgaan, laat dit menswaardig geïntegreerd bly en in familiebande geborge bly. Dit is tyd dat oudword in ere herstel word as die beste fase van ’n lewe se beleggingsopbrengs, dat ouer mense hul regmatige plek in die samelewing inneem en begin waarde toevoeg op die vlak waar ons dit die meeste nodig het – om die wêreld ’n beter plek te maak.
Die Joodse konsep “tikkun olam” verwys na die herstel van dit wat gebroke is, en uit die Joodse kultuur leer ons dat ons verbond met die lewe is om die wêreld ’n beter plek te maak. Wie beter om hierdie rol in te neem as ouer mense? By hulle leer ons wysheid, insig, vergifnis en deernis – as ons maar net lank genoeg wil stilstaan en luister.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!
Registreer gratis om hierdie artikel te lees.
Hallo! Vrye Weekblad het op 1 Oktober 2022 geskuif van Arena Holdings na die Nuwe Vrye Weekblad Mediagroep. Dit beteken dat ons jou asseblief moet vra om weer ’n lesersprofiel te skep.
Dít sal jou vir Oktober, wat C. Louis Leipoldt nie verniet “die mooiste, mooiste maand” genoem het nie, toegang gee tot alle artikels wat in dié maand gepubliseer is.
Ons hoop dit gee Arena genoeg tyd om alle uitstaande subskripsiegelde aan huidige intekenare uit te betaal.
Van 1 Januarie 2023 sal jy 'n subskripsie uitneem. Maar vir nou is alles mahala! Geniet dit. En dankie dat jy weer met ons is!
Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan
Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe). Vir ou Arena-subskripsie-navrae: Skakel 0860 52 52 00 of e-pos hulp@vryeweekblad.com.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.