15 vrae vir Carla Mackenzie

AGTERBLAD

15 vrae vir Carla Mackenzie

Sy is die regisseur van Spitstyd, RSG se huistoeryprogram, asook die aanbieder van RSG Sport en Top Treffers op Saterdae. Op eTV is sy een van die aanbieders en inhoudsregisseurs van die ontbytprogram The Morning Show. LAUREEN ROSSOUW vra die vrae.

© AUGUST PHOTOGRAPHY
© AUGUST PHOTOGRAPHY

1. Waarna luister jy as jy alleen is?

Janis Joplin, The Cat Empire en Tracy Chapman.

2. Lees jy graag? En wat lees jy op die oomblik?

Ek lees graag, minder tans as wat ek graag sou wou. Ek het so pas Danie du Toit se digbundel Nuwe Noord klaargemaak.

3. Wou jy nog altyd radio- en TV-werk doen?

Ek het altyd 'n groot fassinasie met die medium (radio en TV) gehad. Ek het eers hokkie vir Suid-Afrika gespeel en toe op 20-jarige ouderdom by die kampusradiostasie in Stellenbosch (MFM) begin. Vandaar het die gogga behoorlik gebyt.

4. Wat is dit wat jou die meeste van die beroep aantrek?

Die deel van inligting. Om te kyk wat op die oomblik in die land of 'n omgewing gebeur en inligting te deel deur die beste kenners vir die kyker/luisteraar te kry is vir my die belangrikste.


Read this article in English:


5. Het jy al ooit 'n rampsalige aanbieding gehad? Vertel.

Sjoe, gelukkig nie dat ek nie sal wil terugkeer nie! Ek het al 'n program of twee gedoen waar my ‘comms’ doodgegaan het en ek nie die director kon hoor nie, so ek moet maar self in my kop tel wanneer die onderhoud op 'n regstreekse TV-program min of meer moet eindig. Gelukkig is ek nog hier, hahaha!

6. Vergeet jy soms jou woorde?

Wanneer ek regstreeks uitsaai, maak ek so ver as moontlik seker niks onverwags gebeur nie. Wanneer ek iets opneem vergeet ek soms my woorde, maar ek kort net die eerste woord van die eerste sin, dan is als reg!

7. Wat doen jy eerste ding elke oggend?

Ek word redelik vroeg wakker as gevolg van die ontbytprogram, so die eerste ding wat ek doen is om dadelik my foon op te spoor en te kyk hoe laat dit is. (Daar’s een oggend in die week wat ek die pad om 04:00 moet vat.)

8. Is daar enige boek wat jy vir almal kan aanbeveel om te lees?

'n Antjie Krog-digbundel. Gryp enigeen :).

9. Waarvoor sou jy meer tyd wou gehad het? Vertel.

Ek wens ek het meer stiltetyd in die week gehad. My gunsteling-ding om te doen is om vir my 'n koffie te kry en deur my eie buurt of 'n ander mooi buurt te ry en net na huise se argitektuur te kyk.

10. Hoe bring jy jou vrye tyd deur?

Ek het nie veel daarvan nie, maar ek maak altyd tyd om my gras te sny. Dis een van my gunsteling-dinge om te doen. Wanneer ek nie tyd het nie, kry ek maar ons tuinier om die gras te sny, Dit maak my baie rustig (dit lyk soos 'n gholfbaan).

11. Jou celebrity crush?

Claire Johnston.

12. Die duurste ding waarop jy al jou geld geblaas het?

My bergfiets :).

13. As jy kon kies, saam met wie sou jy graag in 'n romantiese rol in 'n fliek wou speel?

My lewensmaat is ook 'n akteur, so as dit so kan uitwerk sal ek bly wees, hahaha!

14. Hoe was jy as kind?

Ek was 'n stil kind, het nooit veel gepraat nie en het baie buite gespeel. Straatkrieket met die seuns in die buurt, muurtennis en vandaar my liefde vir sport. Ek het baie oor die lewe gewonder en of kinders of mense dieselfde dinge dink as ek.

15. Waarna sien jy uit?

Ek moes deur 'n paar dinge gaan toe ek jonger was, so ek sien uit na elke dag. Elke dag is 'n dag wat ek in 'n stadium gedink het ek sal nie kan beleef nie. Die kleinste dinge is vir my seëninge. Ek dink dis hoekom ek in verskeie fasette in die bedryf kan werk, want daar’s nog 'n dag om na uit te sien.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.