Vrye Weekblad het jóú nodig

MARKPLEIN VAN IDEES

Vrye Weekblad het jóú nodig

Dink jy Vrye Weekblad verdien 'n plek in die Afrikaanse mediawêreld en om te groei en groter, beter te word? MAX DU PREEZ vra namens die redaksie vir intekenare om te kom hand bysit.

Image: ANGELA TUCK

VRYE WEEKBLAD lewe in 'n relatief klein ruimte: ons probeer nie by die jongste daaglikse nuus bly nie, ons skryf nie oor celebrities of sosiale skandale nie en ons gee nie sportuitslae nie. Ons fokus eerder op konteks, verduideliking, ontleding, menings en idees. 

En op skryfwerk van die hoogste gehalte.

In ons plaaslike bedryfsirkels word Vrye Weekblad 'n “nis-publikasie” genoem. Sommiges noem ons weer “elitisties”.

As “nis” beteken ons is anders as die ander weeklikse en daaglikse publikasies, en as “elitisties” beteken ons skryf vir mense wat in meer as net die daaglikse getjommel belangstel en dieper nadink, dan sal ek dié etikette teësinnig aanvaar.

Elders in die wêreld blom publikasies wat doen wat ons doen. Soos die New Yorker, The Atlantic, Politico, De Correspondent, De Groene Amsterdammer, Time, Vox, The Spectator, New Statesman, Mother Jones en ander.

Die Afrikaanse publiek word kwantitatief goed deur die media bedien; in gedrukte koerante en tydskrifte, oor die radio en op televisie, asook op nuuswebwerwe.

Maar ons het Vrye Weekblad ses jaar gelede digitaal laat herleef omdat ons geglo het die Afrikaanse lesersmark verdien méér as dit.

Daar is 'n behoefte om dieper te delf, om losser en vryer te dink, om meer vernuwende en soms kontrêre idees in die pot te gooi, om beter te verstaan en te verduidelik, om meer serebraal te prikkel sonder om vervelig of pretensieus te wees, om meer energie en aandag aan die gehalte van die skryfwerk te gee.

Die Afrikaanse media word boonop deur een mediareus gedomineer, en dan is daar die sterk stem van die Solidariteit-beweging wat knaend deurslaan. 'n Alternatief was noodsaaklik.

Ons was aanvanklik deel van die Arena-stal (wat ook die Sunday Times, Business Day en Financial Mail uitgee), maar 'n uitdagende, avontuurlustige Afrikaanse koerant het nie goed daar gepas nie.

In Oktober 2022 het ons met nuwe aandeelhouding op ons eie bene begin staan. Toe word dit sommer 'n baie beter en meer opwindende publikasie.

Ons was vir 17 maande gratis om te lees. Net voor ons in Februarie agter 'n betaalmuur ingeskuif het, het rondom 25 000 mense ons weekliks gelees. Vir 'n gehalte-publikasie was dit buitengewoon.

Ons sowat 3 000 mees toegewyde lesers het dadelik ingeteken, maar sedertdien groei die getal intekenare heelwat stadiger.

Dít is die rede vir hierdie skrywe: Ons het julle nodig om ons te help om die groot gros gratis lesers te oorreed om ook maar die R75 per maand te betaal – dit is darem net R18,75 vir 'n paar dae se lekker lees elke week.

Jy gee waarskynlik meer as dit per week aan Kongolese karwagte wat sê hulle pas jou kar op en sal jou help om uit jou parkeerplek te maneuver, al het jou kar kameras wat jou daarmee help.

Die potensiaal vir 'n digitale publikasie soos Vrye Weekblad om inkomste uit advertensies te genereer is baie beperk. Ons hoofinkomste sal altyd intekenaargelde wees.

Die ander model is dié wat Daily Maverick gebruik: filantropiese joernalistiek met 'n bietjie hulp van goedgesinde lesers. Dit is nie vir ons beskore nie, ook nie wenslik nie.

Ons wil nie gedurig wonder of ons skenkers dalk aanstoot gaan neem oor iets wat ons skryf of 'n rigting wat ons inslaan nie. Dit lei net tot subtiele selfsensuur.

Onthou: niks is ooit regtig verniet nie.

As ons soms teen die stroom op wil swem omdat ons dink dit is nodig en geregverdig, wil ons dit kan doen.

Vrye Weekblad se skrywers konformeer nie tot enige ideologie nie. Niemand word aangesê of selfs subtiel beïnvloed oor wat om te sê nie. Ons verskil soms skerp van mekaar. En dit is 'n goeie ding.

En wanneer lesers verskil of saamstem, sê hulle dit in die mees intelligente en beskaafde kommentaarspasie in die hele Suid-Afrika, in Afrikaans en Engels. Ons lesers hou ons eerlik en op ons tone.

Vrye Weekblad het 'n muur van gepantserde staal tussen bestuur en redaksie. Niemand in die direksie of die bestuur sal dit ooit waag om aan die redaksie voor te skryf of druk op ons te plaas nie, subtiel of andersins.

Dis hoe dit moet wees.

Onbevange. 'n Markplein van idees.

Dink jy nie ook só 'n Afrikaanse publikasie, so 'n instelling, behoort te gedy nie?

Ek wil vandag elkeen van julle wat hier lees, vra om 'n vriend, familielid of kollega wat die soort mens is wat Vrye Weekblad wil lees (of behoort te lees), te oortuig en te help om in te teken. Of twee, of drie, of vyf van hulle.

As aansporing het ons tien geskenke om te deel. Boeke en wyn. As jy in aanmerking vir ’n geskenkpakkie wil kom, stuur ’n e-pos na hulp@vryeweekblad.com met die naam of name van die mense wat jy gekry het om in te teken. Ons trek sommer aan die einde van Junie vyf name uit ’n hoed.

Jy kan natuurlik ook Vrye Weekblad as 'n geskenk aan iemand gee deur 'n intekenbewys vir een, ses of 12 maande te koop. Dit is vinnig en eenvoudig – betaal eenmalig en stuur die e-pos met die geskenkkode aan die persoon vir wie jy dit gekoop het.

Kliek hier om antwoorde te vind op algemene vrae oor ons webblad en intekenopsies. Jy kan ons ook kontak op WhatsApp: 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos na hulp@vryeweekblad.com. Daar sal altyd iemand wees wat graag wil help.

Hoe meer intekenare ons het, hoe sterker gaan ons finansieel wees, wat beteken ons kan meer aan ons inhoud bestee en net groter en beter word.

Asseblief, kom sit hand by?

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.