‘Gee vir ons boendoe-geregtigheid!’

MOETIE-MOORDEWRAAK

‘Gee vir ons boendoe-geregtigheid!’

In die joernalis KARL KEMP se nuwe boek, ‘Why We Kill’, ondersoek hy die krisis in Suid-Afrika van gemeenskappe wat die reg in eie hande neem. In hierdie uittreksel oor ’n dubbele moord in Limpopo in 2022 was die slagoffers verdagtes in die ontvoering van drie jong meisies.

Image: ANGELA TUCK

VIR Elias en sy born-free vriende sou Ramatsitsi en sy bende se verklaarde motiverings oor politieke vryheid waarskynlik geen sin gemaak het nie. Maar moetie- en rituele moorde? Dit sal hulle ken. Hulle bly per slot van sake in Vhembe waar moetie-moorde deel van die lewe is.

Hulle verwyl hulle dae luilekker langs die pad. Hulle plak op ’n oop erf met hulle karwas-besigheid. Net agter hulle is nog 'n erf met twee rowwe steenhuise, albei afgesper deur ’n lendelam hek en heining. Oorkant die pad is ’n klein taverne – die betonblok-tipe – en ’n haarsalon, waar die drinkers hulle hare in ’n “chiskop” of ’n “bob-cut” kan laat sny.

Verskeie ander dienste word op plakkate geadverteer: makumba a hone – “eiers te koop”, of ria luka – “vleg of weef beskikbaar”. Die plek is smerig en deurtrek met slonserige bossies: dis als erg onmerkwaardig. Die amper-pad is reguit, stukkend en sinkplaat-rof en dit loop eintlik deur niemandsland. Dis omring deur die Soutpansberg wat wag hou. Dis die soort plek waar selfs die sonbesies nie ’n duit kan omgee om te skree nie.

Dit moes nogal ’n skok gewees het, laatmiddag op 17 Augustus 2022, toe ’n Toyota Etios volspoed en gat-oor-kop met ’n gerammel en ’n slag deur die bos bars om op sy wiele te land, ’n katspoeg vanwaar die spannetjie werk. Een van die insittendes is uit die voertuig geslinger (Elias onthou net hy’t ’n rooi T-hemp gedra), en met ’n vinnige kyk kon jy die ander twee uitmaak deur die newels van skok en rook, steeds sittende in die verpletterde luikrugmotor.


Read this article in English:


Wie weet wat deur Elias se gedagtes gegaan het? Dit was amper 17:00, tjailatyd, maar hulle’t nog ’n motor gehad om klaar te was met die eienaar wat staan en wag. Sulke ongelukke kon sekerlik nie ongewoon gewees het nie, gegewe die temperament van township-padgebruikers, die verwaarloosde hoofroete en die feit dat ’n hele vallei se mense net twee smal bane gehad het om te gebruik.

Elias het gesien hoe die insittendes van die Etios probeer om die voorruit uit te skop en te ontsnap. Maar net toe het ’n Toyota Quantum taxi ingetrek vanuit dieselfde rigting as die Etios. Dit was propvol mense wat dadelik uitgeklim het. Hulle het almal baie kwaad en opgewonde gelyk.

Elias en sy trawante bly in ’n Suid-Afrikaanse township  in ’n tyd van bykans ongekende sosiale woede en misdaad onder mekaar. Selfs hier, diep in die bos, kon dit nie moeilik gewees het om uit te pluis wat aan die gebeur was nie.

Boendoe-geregtigheid hier loop so diep en sterk soos in enige groot metro. Enige twyfel oor wat aan die gang was is egter uit die weg geruim toe die man wat uit die Etios geslinger is met ’n vuurwapen tevoorskyn kom om die horde van sy lyf af te hou.

“Dit was toe wat die mense in die Quantum gesê het: ‘Hierdie is die ontvoerders wat die kinders in ons gemeenskap gevat het, gee ons boendoe-geregtigheid! Die ontvoerders het toe probeer weghardloop en die gemeenskap [Elias se groep en ander omstanders] het nie geweet wat aan die gang is nie. Hulle het steeds gedink dit was ’n ongeluk, hulle het nie geweet nie."

Hierdie is die vertaalde weergawe van Elias se verklaring. Terwyl hy dadelik kon sien wat werklik aangaan, was dit vir hom onmoontlik om te weet of diegene wat op die punt gestaan het om slagoffers te word, skuldig was.

Gelukkig het ’n jong vrou uit die Quantum geklim – nuusverslae het haar ouderdom as 23 gegee. Sy’t vir Elias se span, en almal wat saamgedrom het, vertel dat hierdie mans haar selfoon en sak gesteel het en probeer het om haar te ontvoer by die nuutgeboude Mphephu Plaza, ’n paar kilometer terug.

Die volle waarheid oor wat hierna en waarskynlik ook vroeër gebeur het, sal vir altyd slegs bekend wees aan die mense wat daar was. Dit het egter volgens Elias as volg afgespeel:

Die twee in die motor kon uit die wrak breek. Die een wat uitgeslinger is – Rooitrui – het sy vuurwapen uitgepluk. En toe, amper soos ’n middelvinger aan wat gemeenskappe landwyd beweer, het ’n SAPS-vangwa uit die bloute verskyn. Die vangwa het glo gestop en Rooitrui het dankbaar na die polisiemanne gehardloop. Hy was óf gered óf is vir die besit van 'n vuurwapen gearresteer – dit is nie duidelik nie. Elias sê bloot: “Hy het vir sy lewe na die vangwa toe gehardloop.”

Die ander twee… hulle sou nie so gelukkig wees nie. Om watter rede ook al – en hier moet die leser self besluit op grond van wat ons reeds waargeneem het – het die polisie hulle nie te hulp gesnel nie. Hulle was vermoedelik reeds deur die skare omring. Elias sê eenvoudig die ander is toe “geslaan en verbrand deur die gemeenskap”, nadat hulle “ondervra” en “ondersoek” is. Hy sê die hele voorval het van 17:00 tot 19:00 geduur. Daar is ’n video van die gebeurtenis – natuurlik is daar – wat die geslanery wys waarin geen polisiemanne gesien kan word nie.

“Die polisie kon nie help nie,” sê Elias, “omdat die gemeenskap te veel en te kwaad was.” Die geslanery op die video is baie energieker as wat in Zandspruit gebeur het.

Hierdie was ’n bloeddorstige horde, ’n mob, ’n monster van ’n verskynsel. ’n Mens sien vaagweg ’n figuur wat deur twee mense, ’n man en 'n vrou, aangeval word. Dié drie is omring deur al die ander, dalk wagtend vir hulle beurt. Die man het ’n bonkige kort sweep en hy lig dit met albei hande bo sy kop en bring dit neer, keer op keer. Die vrou gooi ’n klip na die krioelende slagoffer en gryp dit weer om weer teen sy kop te gooi. Die man moet nog by die drempel van die dood uitkom, want hy rol nog rond, probeer wegkom, maar sy bewegings is reeds traag en vergeefs.

Ten minste ses ander Quantum-taxis is nou in die pad geparkeer en sper alle verkeer af. Die persoon wat die video neem sê “joh-joh” elke keer as die sweep die liggaam tref, saam met die gejou, die gelag en geskreeu. Reg voor hom staan ’n moeder, baba op die heup, en die twee kyk saam.

Skielik sny die video af en ons sien die bewustelose liggaam van een van die beweerde ontvoerders wat deur ’n voet in ’n plakkie omgedraai word. En dan sny dit weer ná wat tien minute of ’n uur later kan wees, en ons sien die Etios wat brand, die skare nou ver weg, opgewonde aan die rumoer.

Anders as in Zandspruit is dit ’n behoorlike vuur. Die hitte blaas in ’n spiraal uit die motor uit. ’n Bondel swart rook skiet die lug in en moes deur die hele vallei sigbaar gewees het, tot by die Heilige Woud en Thohoyandou. Die taxi’s toet sonder einde, een lang, ononderbroke dreunsang. Die onderskrif onder die video-greep het drie laggende emojis en een gebroke hartjie: “hupfi vhuluvhi vhothuthubekana” (die brein het na bewering ontplof [tydens die verbranding]).

Hulle het die petrol van die Etios gebruik om die twee aan die brand te steek. Die karwas-span stem nie saam of die mans aan die brand gesteek en toe in die motor gesit is, of andersom. Die feit is dat hulle verbrand is, dood of lewendig. Die polisie het die wrak later daardie aand verwyder.

“Toe hulle besig was om te sterf, het hulle gesê: ‘Ons weet waarheen ons die kinders geneem het.’ Maar hulle kon nie sê waar nie, want hulle was reeds op die punt om dood te gaan.’

“So, hulle wou bieg? Hulle wou sê waar hulle die kinders heen geneem het?’

“Ja. Maar hulle kon nie, want ..." Elias voltooi nie die sin nie.

Die “kinders” verwys daarna dat hierdie hele deurgang vyf dae voorheen deur die plaaslike bevolking afgesper is vir protes, omdat drie jong meisies – die agtjarige Rudzani Muhanelwa, veertienjarige Mudzuli Tshilongo en 'n derde onbekende – binne minder as die bestek van ’n week in Augustus vermis geraak het. Die vermeende ontvoerders was natuurlik veronderstel om betrokke te wees by daardie ontvoerings.

Nadat hulle nie daarin kon slaag om die meisies se ligging by hierdie twee slagoffers te kry nie, het die skare op die SAPS-stasie in Siloam toegesak om die vrylating en ondervraging van die derde verdagte te eis. ’n Openbare Orde Polisie-eenheid moes ingeroep word om die skare uitmekaar te jaag.

Die vermeende ontvoerders was blykbaar twee mans van Botswana en ’n Zoeloe. Elias glo vas hulle wou die kinders vir moetie hê, omdat hulle lekkergoed in die motor gevind het, waarskynlik voor dit verbrand is. Ook dat die insittendes misdadigers was, omdat drie verskillende nommerplate gevind is.

Hoeveel van hierdie storie is waar?

Dat ’n motor gebrand het, staan bo twyfel. Enigiemand wat die toneel besoek het, kon die puin, die stukkende glas, die bande se binneraamwerk en drade, die klippe en stene en die reghoekige skroeimerk op die grond sien. En ja, daar is ’n Toyota Etios-embleem, verfrommel en swart maar baie duidelik wanneer die letters weer saamgestel word.

Daar is natuurlik ook die video, waarin die motorwasser gesien kan word, sowel as die padtekens en terrein. Maar dit is al. Al wat mens met absolute sekerheid kan sê is dat twee mans doodgebrand is langs daardie stuk pad op of omstreeks 17 Augustus.

Was die voorval wat dit vooruitgeloop het bloot ’n roof, of was dit ’n poging tot ontvoering om sinistere, okkulte doeleindes? Die plaaslike koerante sou berig dat die 23-jarige vrou wat op ’n ander manier getoor was – letterlik soos ’n zombie van die ry by die inkopiesentrum na die motor buite op die parkeerterrein gelei is, waar sy skielik tot haar sinne gekom het.

Die polisie het in hul verklaring erken dat klagtes van ontvoering en roof teen die enkele oorlewende in aanhouding gelê is. En bygevoeg dat verdagtes gesoek word vir die twee moorde.

Die provinsiale kommissaris. luitenant-generaal Thembi Hadebe, het in haar verklaring mense gewaarsku om weg te bly van boendoe-geregtigheid: “Die neiging van sommige gemeenskapslede om die wet in eie hande te neem, sal genadeloos aangepak word en die verantwoordelikes sal opgespoor en voor die reg gebring word.”

Sy het natuurlik geen melding gemaak van die bewering dat die polisie die twee mans doelbewus gelaat het om te sterf nie.

Maar ook: wie gee om?

Why We Kill is beskikbaar op Takealot.com teen R265. 

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.