GISTERAAND praat ek met my suster in Amerika oor ons ouers – al twee 92 jaar oud – en hoe bekommerd ons is oor hulle twee wat so alleen bly in die Kaap. Suster was na aan trane omdat ons al twee so ver weg van hulle bly; sy in Pennsylvania en ek in Johannesburg.
Ons ouers woon in 'n kompleks vir bejaardes en is 'n knoppiedruk weg van mediese versorgers en dokters. Hulle het het familie en vriende naby, wonderlike bure en my pa bestuur nog sy eie motor. My pa is in die Kaap gebore en my ma het daar grootgeword. Die Kaap is waar hulle wil wees.
In Anneliese Burgess se storie laas week sê sy haar ouers is ook waar hulle die graagste wil wees – op hulle plaas in die Oos-Kaap. Die meedoënlose angs wat sy en haar broers daagliks beleef oor die bedreiging van plaasaanvalle, die beangsde wakkerskrik in die nag en wonder of hulle veilig is, en die feit dat hulle altyd moet onthou om hulself toe te sluit, het vir my en my suster perspektief gebring en ons laat besef hoe geseënd ons is dat ons ouers sonder enige traumatiese gebeurtenis in hulle lewe, en sonder daardie uitmergelende vrees vir hul veiligheid, 92 jaar oud geword het.
Dankie, Anneliese, dat jy iets so na aan jou hart met ons kon deel. Ek kan my nie indink hoe dit moet wees om elke dag en nag met daardie vrees vir jou ouers se veiligheid saam te leef nie. Dit het ons weer eens laat besef het hoe baie ons het om voor dankbaar te wees. – Cecille Wray
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.