GELOFTEFEESSALE op plattelandse dorpies is met piepklein begrotings gebou. ’n Gebou móés op elke dorp opgerig word om op 16 Desember elke jaar die Gelofte te hernu, want ons praat hier van die aardse monument vir ’n heilige eed aan ’n almagtige Opperwese, en ’n volk kan nie kanse vat nie.
Maar die idee van ’n volle gebou met fondamente en werkende ablusie wat vir slegs twee uur per jaar gebruik word, het ook weerstand gevind van pragmatiese boere in die werkkomitees.
Boonop was die Gelofte ’n interdenominasionele projek, of selfs ’n pre-denominasionele projek, want in die tyd wat die vrome ouderling Andries Pretorius of die vrome prediker Sarel Cilliers (afhangende van wie jy glo) na bewering die Gelofte geskryf het, was dit onseker of hy (of hulle) ’n Gaatjieponder, Dopper of Stoepsitter was, want hoewel die binnepolitiek in Gereformeerde kerke uit die Nederduitse land in 1838 reeds onstuimig was, sou dit eers ’n dekade of wat later tot skeuring en die drie susterkerke lei.
Die meeste Geloftefeessale en -monumente is eers later gebou, tydens die opstuwing van Afrikaner-nasionalisme in die dekades ná die Anglo-Boereoorlog, en enigiemand wat kerkpolitiek ken, sal weet dat die NG kerkrade net-net genoeg geld in ’n Geloftefeessaal sou belê om die ding staan te maak, maar darem genoeg om nie die Hervormers of Doppers per ongeluk goed te laat lyk met NG Kerk-geld nie. En, die Here behoede ons, as die uitspattige Apostolies onbedoeld sou baat vind, sou dit ’n ramp wees.
16 Desember is áltyd warm
Dit behoort jou dus nie te verbaas om te hoor dat die karige Geloftefeessaal op ons dorpie in Mpumalanga op 16 Desember 1981 nié ’n plafon gehad het onder sy lae sinkdak nie. Nodeloos om te sê, dit was ’n snikhete dag. Waar ek gestaan het tussen die wye swart broekspype van ooms met Brylcreem-hare en die sykousbene van swetende tantes met blokkige skoene en eerbiedige kerkhoede, was my 10-jarige brein self by die punt wat dit onrealistiese beloftes boontoe gemaak het in ruil daarvoor om die lyding te verlig.
Gelukkig was daar die inskripsie op die hoeksteen van die klein Geloftemonument in ’n karig omheinde kampie met ’n sierlike ysterhekkie in die klitsgrasveld agter die saal om my verbeelding op hol te jaag. Die monument was ’n grofgepleisterde, rooi, falliese konstruksie met ’n wawiel op die bopunt, sowat twee-en-’n-half meter hoog.
Die oorspronklike woorde op die hoeksteen is verlore, maar dit was basies ’n opdrag van die oprigters van die monumentjie in 1916, aan die Voortrekkernageslagte, om in 2016 die torinkie oop te breek en ’n knapsak binne in te vind met dokumente en artefakte. Dit was dit.
In daardie stadium van my brein se ontwikkeling was dit vol van die avonture van Mikro se misterieuse Boereoorlogheld Ruiter in die nag, Karl Kielblock se rebelse seerowerseuntjie, Lafras Cuyper, op die groot oseane van die wêreld, en sensasie van sensasies, Leon Rousseau se wetenskapsfiksie-speurder, Fritz Deelman.
Die jaar 2016 was toe nog 35 jaar in die toekoms, maar my verbeelding het reeds in volkleur op die silwerdoek gegalop. Wat sou daarbinne wees? Die vel van die leeu wat Paul Kruger as 14-jarige seun geskiet het? Dolosse uit Dingaan se kraal? ’n Paar Webley-rewolwers van Boere-offisiere uit die oorlog? Dalk ’n Mauser-geweer? Miskien is daar selfs ’n leersakkie met ongeslypte diamante uit Kimberley se gat, of nog beter, ’n hopie regte Krugerponde!
Ek het nooit uitgevind wat in die knapsak was nie. In die vier dekades sedertdien het ek ver wegbeweeg van hierdie plek en ook die mense wat nog by die Gelofte betrokke is. ’n Paar jaar gelede het ek uit pure nuuskierigheid iemand uit die gemeenskap probeer opspoor wat sou weet, maar vergeefs. As ek moes raai, sou ek sê dit is waarskynlik slegs ’n naïewe boodskap op ’n vergeelde rolletjie perkament wat die Volk maan om sy oog op die toekoms en sy vertroue in God te hou. En ’n geroeste knipmes.
Vrystaat staan vir partytjie
Ek is gelukkig van hierdie droewige formaat van Geloftefeesvieringe verlos deur die feit dat ’n familievriend ons gesin in die volgende jaar na ’n Geloftefees in die Vrystaat genooi het, 300 km van ons tuisdorp af, naby Verkykerskop, by die Bo-Cornelisrivier-Geloftefeesterrein. Hier het ek gesien dat jou gemiddelde wit Afrikaanse Vrystater aansienlik groter klem lê op die feesgedeelte van die geleentheid as die Geloftegedeelte daarvan.
Eerstens het hierdie gemeenskap se fees, doer op die vlakte in die mooiste gedeelte van die Oos-Vrystaat, vir ’n week aangehou in plaas van net twee uur. Die feesterrein bestaan uit ’n saal in die middel, met ’n laer van sowat 12 tabernakels rondom.
Afgesien van die onsubtiele uitverkore-volk-simbolisme wat die woord “tabernakel” oproep, was dit eintlik besonder lekker plekke. ’n Tabernakel was soort van die hoofkwartier van ’n familie, byvoorbeeld die Van Niekerks, die Conradies of die Venters. Elke familie sou hulle uitgebreide familie en vriende nooi om saam te kom kampeer op die feesterrein. Bietjie soos die Siciliaanse Cosa Nostra, maar sonder die bloed.
Die tabernakel was in die meeste gevalle ’n permanente paalstruktuur met ’n gras- of rietdak en oop kante. In die week voor die aanvang van die fees sou die familie die kante van die tabernakel met goiing- of kunsmissakke toemaak en skielik het ’n dorpie op die vlakte ontstaan. In die tabernakel is geëet, gefuif, konsert geoefen en gekuier.
Selfs as kind, voordat ek veel van ’n politieke bewussyn gehad het, het die vertonerige gedeeltes van Afrikaner-nasionalisme my nie veel aangestaan nie. Die breedsprakige, dramatiese vuur-en-swael-predikers, die kadette op skool en die liefde vir militêre orde en magsvertoon, al die geleende Europese liedjies in die FAK-sangbundel, en Volkspele. Bowenal Volkspele.
Daar was niks van hierdie tierlantyntjies by die Geloftefeesviering in die Vrystaat nie. Geen jong man het ooit ’n geborduurde onderbaadjie gedra of geen jong vrou ’n Voortrekkerrok nie, behalwe miskien op die een dag wat die fees se amptelike spreker met ’n ossewa met ’n volle span osse in die grootpad gaan haal is. Selfs dit was cool, want waar in jou lewe het jy nou al op ’n kakebeenwa gery?
Daar was ’n debatsaand, maar dis wragtig die enigste debatsaand wat ek ooit gesien het waar mense lê soos hulle lag, want niemand neem dit ernstig op nie. Daar was ’n afgetrede Vrystaatse hoofregter wat saans vir die kamp se kinders redelik grusame spookstories vertel het van sy woonwa se trappie af. Party kinders het later so gesukkel om te slaap dat uit sommige oorde gefluister is van “demoniese invloede op die kinders”.
Verskeie van die boere het perde na die fees gebring, en enigiemand kon enige tyd vra om op ’n perd te gaan ry, of selfs om te leer om te ry. Daar was trampoliens en ’n dam om in te swem, en ja, natuurlik jukskei. Die beste gedeelte, vir tieners, was die laataandspeletjies in die saal.
Die speletjies, met strawwe, wat gewoonlik ’n konsensuele soen behels het, was eintlik ’n uitgebreide soort kenmekaar en hofmakery, met ’n redelike sterk hormonale drif. Verhoudings sou later, met die koffiedrinkery in die tabernakel wat soms deurgedruk het dagbreek toe, verder gevorm en verdiep het.
Dit was nie ’n preutse spulletjie nie, allermins. En die voggies het gevloei, hoewel diskreet en binne beheer. Ek onthou selfs dat ’n koerantpapier-joint vol papegaaislaai iewers in ’n populierbos deur my hande aangegee is.
Politiek was iets doer anderkant
Ek onthou dat daar by die Geloftefees ’n moratorium op enige politieke gesprekke was, aangesien die betrokke families uiteenlopende politieke oortuigings gehad het. Ons praat eintlik nou maar van die breuk wat in 1983 in die Nasionale Party gebeur het, met Andries Treurnicht se Konserwatiewe Party.
Ondersteuners van die Progressiewe Federale Party, of, God behoede ons, enige bevrydingsbeweging, sou nie welkom gevoel het nie.
Ek onthou die heel eerste keer wat ek verstaan het dat insluiting by die idille van die fees met spesifieke voorwaardes kom. Dit was 1986. Ek was 15. Ek het nader gestaan na ’n vuur toe waar ’n paar ooms gebraai het. Hulle was teen dié tyd redelik bekkig. Ek het uit die gesprek afgelei een of ’n paar van hulle was inligtingsoffisiere in die Suid-Afrikaanse Weermag se reserwemag – die ou Kommandostelsel.
Hulle het gepraat van sekere verligte Afrikaners wat ongewenste neigings begin toon. Die tyd rondom 1986 was ’n tyd waarin Suid-Afrika in ’n laevlak-burgeroorlog was. Die toekoms was erg onseker en menings oor die toekoms in die binnekringe van die Afrikanerdom was erg verdeeld.
Die man wat die meeste gepraat het, met fris voorarms en ’n weglêsnor, het gesê: “Ja, en dan het jy nog De Kat ook, wat al hierdie liberale idees versprei. Hulle gaan hulle vasloop. Ek sal daai redakteur klap dat hy op sy gat gaan sit!”
Daar en dan het ek geweet ek is in die moeilikheid, en waarskynlik vir die res van my lewe, as dit die hoofstroom-standpunt in gematigde wit geselskap is. Ek het gesukkel om te verstaan wat mens teen die bors kon stuit van De Kat, behalwe vir die slegte uitleg. Min het daardie man geweet wat op hom wag. Ek het nooit sy mening oor Max de Preez se Vrye Weekblad twee jaar later gehoor nie, maar ek neem aan dit kon nie vleiend gewees het nie.
Min sou ek kon droom hoe konsekwent en onverbiddelik hierdie insider/outsider-onderskeid deur die insiders in stand gehou sou word. Natuurlik, met die verlies aan mag deur die Afrikaner-binnekring, het die relevansie hiervan vir die res van Suid-Afrika grootliks verdwyn.
Die party(tjie) is verby
Ek moet die feeskomitee van destyds ’n bietjie krediet gee. Hulle het gesien dat dinge onomkeerbaar aan die verander was. Die fees het die gewoonte gehad om dominees en sprekers van buite te nooi om te kom praat en preek. Baiekeer prominente figure uit die stad. In die laat 1980’s het hulle verskeie mense genooi wat in die wit Afrikanerkonteks gesien is as liberaal, of progressief. Selfs mense wat die status quo effens kon uitdaag.
In ’n stadium was die dominee wat sekerlik die naaste daaraan gekom het om ’n Afrikaanse glansdominee te wees, Johann Symington, die feesprediker, en later ook die spreker. Ek kan my maklik voorstel dat De Kat by ds. Symington aan huis sou kon kuier. Dalk het hulle.
Die ander spreker wat ek onthou, was dr. Louw Alberts, ’n kernfisikus. Ek grinnik nou stilweg as ek daaraan dink dat my ouers destyds na hom ook verwys het as ’n oopkop- en selfs liberale man. Hy was sekerlik ’n charismatiese en besonder slim oom en het ’n bietjie meer van die kompleksiteit kon sien wat vir “Die Volk” voorgelê het as die meeste mense by die fees, maar hy was die visepresident van die Atoomkragraad – meer van ’n Afrikaner-insider kon jy jou kwalik voorstel!
Dis te lank gelede om die detail van die toesprake en preke te onthou, maar ek onthou dat al twee probeer het om die storie van Bloedrivier meer konteks te gee. Om weg te beweeg van die “ons vs. hulle”-narratief, of ’n “swart oormag teen wit uitverkorenes”-tipe storie. Ek dink daar was iets dat wat voorheen as ’n eksklusiewe wonderwerk gesien is, eintlik ’n verweefde deel is van ’n ontstaansmite in ’n postmoderne wêreld.
Dit was maar ’n uitdagende projek, want die Gelofte is een van die oermites waarmee die konstruksie van ’n wit Afrikanervolk aanmekaargetimmer is, en karring jy daaraan, karring jy aan die hele rede hoekom almal daar saam gekamp het.
Sonder die idee van die Gelofte en die idee van ’n volk self het jy maar net ’n lukrake spul afstammelinge van Franse, Duitse en Hollandse voorouers wat nie goed genoeg of nie gelukkig genoeg was om ’n betekenisvolle lewe in Europa te kon uitkerf nie en deur globale magte in Suider-Afrika uitgespoel het waar hulle maar die beste van ’n slegte saak probeer maak het. Dis maar ’n bleek en depressiewe gedagte langs die meer aantreklike uitverkore-ligdraers-in-die-donker-kontinent-storie wat destyds meer prominent was.
Nuwe binnekringe
’n Dekade nadat ek hierdie Geloftefees die laaste keer as skoolkind bygewoon het, het ek na die fees teruggekeer as ’n nuusverslaggewer by die SAUK. Ek was werklik nuuskierig om te sien hoe die idee van die Gelofte oorleef het in die nuwe Suid-Afrika, wat toe reeds sowat ses jaar aan die gang was.
In daardie stadium het ek in ’n ander soort tydelike idille geleef. Ek was ’n verslaggewer by die SAUK net voor die millennium, en daardie tyd moet sweerlik beskou word as ’n goue tyd vir nuusverslaggewing by die korporasie. Dit was in die tyd waar apartheid se venynige korporaals soos mis voor die oggendson verdwyn het, maar nog voordat die ANC se apparatchiks onder Snuki Zikalala hulle tentakels oral ingekry het. Die nuuskantore is deur redakteurs beheer wat nie marionette was nie.
Ek was omring deur interessante mense van alle rasse en agtergronde – ervare SAUK-verslaggewers; ou ANC-vryheidsvegters wat kom leer verslaggewer wees; jong, bruisende latte uit Soweto; jong bruin vroue vol idees wat so pas klaar in die Kaap studeer het; ou UDF-aktiviste wat joernaliste geword het. Dit was ’n prikkelende en outentieke ervaring en mense het seker gemaak dat ek tuis voel. Die idee van Afrikaner-insiderskap was ver van my gedagtes.
Dit was dus heel interessant om weer Verkykerskop toe te ry net voor 16 Desember, wat toe reeds as Versoeningsdag bekendgestaan het.
Dit is moeilik om te oordeel hoeveel van my waarnemings veroorsaak is deur my eie meer kritiese en minder onskuldige instelling, maar ek het gesien dat die fees ’n deel van sy vitaliteit verloor het. Daar was minder mense, en sommige van die tabernakels het leeg gestaan, wat nie net ’n fisieke nie maar ook ’n simboliese gevoel van verlatenheid by my gewek het – nie alleen is die laer fisiek gebreek sodat jy van buite kon sien nie, maar ook simbolies. Ek het onderhoude met verskeie jongmense gevoer en onsekerheid was ’n duidelike tema.
Eens buite die laer …
Die grense van Afrikaner-insiderskap het deur my lewe ’n tema gebly. Moenie ’n fout maak nie: Dit bly altyd daar. Ek het nooit na insiderskap gesmag nie, maar in sommige beroepe help dit om nie ’n volledige outsider te wees nie, soos as jy ’n senior redakteur is by ’n Afrikaanse safari-tydskrif of ’n landboutydskrif.
Soms verlang jy na aspekte daarvan. Vir my het dit meestal met taal te doen. Maar ook die gemoedelikheid en die warmte wat jy in Afrikaanse gemeenskappe kry. Die manier waarop stories vertel word en die grappies, altyd die grappies. Ek identifiseer erg met ’n goeie Tolla van der Merwe-storie, of selfs ’n Nico Nel-storie. Dit is elke keer vir my ’n riem onder die hart om te hoor wyle dr. Jan Spies was ’n liberaal, selfs ’n lefty. Ek weet nie hoe waar dit is nie, maar dit blyk die insiders sal vir jou plek maak as jy outentiek en snaaks genoeg is.
So ’n paar jaar gelede sit ek en ’n vriend redelik aangeklam in ’n braairestaurant en gesels. ’n Hele gros ander manne het reeds geloop ná ons middagete – almal meer deel van die boere-binnekring as ek.
Ek bekla my lot by hom. Ek het agtergekom sommige ouens behandel my meer stief ná ’n openbare relletjie op Twitter tussen my en Steve Hofmeyr. Ek het Hofmeyr en sy volgelinge op ’n redelik onelegante wyse beledig.
Ek vra toe my vriend: “Maar sê my, Pieter, jy’s eintlik net so liberaal soos ek. Hoekom is hulle nie so goor met jou nie?”
En toe sê hy iets wat ek nie sal vergeet nie: “Ja, maar ek verkondig dit nie van die dakke af nie.”
Daar het jy dit. Jy kan die grappies en pannekoek en biltong en selfs afval aanhou geniet, solank jy nie jou kritiese idees uitbasuin nie. Dít is die waarheid.
- Hierdie artikel is die eerste keer op 25 Augustus 2023 in VWB gepubliseer.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.