JY lees nou aan Vrye Weekblad se tweede laaste uitgawe.
’n Groot klomp mense het die laaste paar weke op allerlei platforms hulle vreugde uitgespreek dat Vrye Weekblad haar deure sluit. Een skerp outjie het verklaar dat die groot nadeel van ’n digitale koerant is dat jy dit nie kan gebruik om vuur te maak, hondepie op te droog of jou agterent af te vee as jou toiletpapier op is nie.
Ek dink die schadenfreude het meestal te make met ons artikels en menings oor die politiek in Suid-Afrika, en so ’n bietjie oor Israel se volksmoord in Gaza en die fenomeen Donald Trump.
Maar daar was veel, veel meer aan Vrye Weekblad as die politiek.
Ons het die laaste ses jaar of so essays en artikels geplaas wat in die gehalte van dink- en skryfwerk ver uitstyg bo die normale beskikbare dieet in Afrikaanse publikasies.
Ek verwys nie net na ons eie redaksie se skryfgoed nie, maar ook na dié van ons gewaardeerde medewerkers en bydraers.
Ek het in my eie gemoed geen twyfel nie dat Afrikaans ’n klein bietjie armer sonder Vrye Weekblad gaan wees.
Ons by Vrye Weekblad 2.0 en 3.0 het voortgebou op die tradisie van Vrye Weekblad 1.0, die gedrukte weergawe: gooi die ou Afrikaanse borstrok in die asblik; niks is verboten nie, solank dit classy is, goed deurdink en goed geskryf is. Wees avontuurlustig, verkennend en eksperimenterend, en bowenal kreatief.
Moenie Afrikaanse lesers onderskat en hulle soos uptight, verkrampte mense van die vervelige voorstede behandel nie. Ek dink te veel Afrikaanse publikasies wil net veilig speel en nie die dominee of die skoolhoof of Kallie Kriel aanstoot gee nie. Te veel is bang vir die kommentare van grootbek-reaksionêres onderaan berigte of in sosiale media.
Dit is ’n resep vir middelmatigheid en dit is ’n bietjie van ’n belediging vir die intelligensie van Afrikaanse lesers. Afrikaans verdien beter. Dink vir jouself, dammit.
Ons het ook grense verskuif met hoe ons Afrikaans gebruik. Ons is dankbaar dat daar geleerde taalkundiges is, maar ons hoef nie al hulle reëls klakkeloos toe te pas nie. Ons wil skryf soos ons mense praat. (Ek weier byvoorbeeld self van Dag 1 af om die besitlike vorm “hul” te gebruik, want niemand, niemand praat so nie.)
In 'n tyd dat die meeste media hulle nie veel aan boeke steur nie, was Deborah se boekeseksie uitstekend en invloedryk. Ons het boonop elke dag 'n gedig geplaas, wat uniek in Suid-Afrika is.
Ons het ook deurgaans geweier om al die Nederlandse (en Duitse) voorskrifte vir Afrikaans na te volg. Ons beskou Afrikaans as ’n inheemse taal wat aanhou verander en groei. Ons verstaan dat ons lesers in ’n land en ’n wêreld woon waar hulle daagliks met Engels te make kry. As ons van Vladimir Putin praat, weet hulle wie dit is en hoe om dit uit te spreek. Ons hoef nie Wladimir Poetin te skryf nie (snaaks dat niemand nog opdrag gegee het dat ons Wie-het-nám pleks van Vietnam moet skryf nie). Ons gebruik China eerder as Sjina.
’n Familielid bel my die ander dag en vra waar Litoue en Estland is, hy kry dit nie op die kaart nie. Daarom het ons by Lithuanië en Estonië gehou.
Al die ander tale in ons land, en alle Engelstalige lande, gebruik biljoen vir ’n duisend miljoen, nie die Nederlandse miljard nie. Jy gaan nie maklik iemand hoor praat van “die miljardêr Johann Rupert” nie, hy is gewoon ’n biljoenêr.
Ja, ek weet dit klink effe chaoties, maar ons Afrikaanssprekers moet maar aanhou aanpas en nie skrik daarvoor om die Taaliban se reëls te breek nie. Dis óns taal. Moet dit net nie uit luiheid doen nie.
Ewenwel, ons gaan in hierdie en in volgende week se uitgawe ’n keur van ons artikels sedert 2019 plaas net om jou te herinner aan wat jy gaan mis ná einde Maart.
En tussenin plaas ons die mymeringe van van ons medewerkers en redaksielede oor wat Vrye Weekblad vir hulle beteken het.
Dis tog ’n goeie ou Afrikaanse gewoonte, so ’n uitgerekte begrafnis.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.