Oor die derde dood van Vrye Weekblad

TERUGBLIK EN 'N HEILDRONK

Oor die derde dood van Vrye Weekblad

Sy wil haar vuis lig, soos in a luta continua, sodat Vrye Weekblad se gees kan voortleef, skryf MARITA VAN DER VYVER.

EK skryf hierdie woorde in die kar, op pad na die legendariese Les Grands Buffets in Narbonne, om my Fransman se verjaardag te vier. Hy het reeds nege maande gelede verjaar, maar dis hoe lank ons moes wag om plek te kry by hierdie “internasionale vertoonvenster" van Auguste Escoffier se oordadige kookkuns. Tafels en tafels vol verleidelike kos waarvan jy soveel kan eet as wat jou maag kan verdra.

En dit voel soos 'n vreemde, gepaste manier om Vrye Weekblad te groet, want ons hou al weke lank begrafnis, en almal weet 'n tradisionele Afrikaanse begrafnis behels 'n klomp kos. Maar dit herinner my ook aan La Grande Bouffe, daardie omstrede Frans-Italiaanse satire van die 1970's oor 'n groep hedonistiese vriende wat 'n vakansiehuis huur om hulleself letterlik dood te eet. Dis nie wat ek by Les Grands Buffets wil doen nie, maar omstredenheid en satire was nog altyd deel van VWB. En die wonderwerkers wat week ná week, against all odds, hierdie feesmaal van woorde vir ons voorgesit het, was ware lewensgenieters.

Vergeelde kiekies uit vergete albums

Ek ken baie van hulle persoonlik, en elke keer as VWB ondergaan, woed ek saam met hulle teen die lig wat ál minder word. Met hierdie derde dood is ek moeg gewoed. Nou wil ek eerder terugkyk en die hedonisme onthou, die vlymskerp humor, die kick-ass attitude van 'n groep geliefde uitdagers en opstandiges. Dis waarom ek vandeesweek deur die vergeelde kiekies in my vergete foto-albums geblaai het.

Op die befaamde foto van die stigterslede met die heel eerste uitgawe in 1988 staan Max, wat ek sedert sy dae by die Engelse koerante ken, Victor Munnik en Elsabé Wessels, wat albei saam met my joernalistiek geswot het op Stellenbosch, en Karien Norval, wat een Kersdag by 'n dekadente fees in my ouerhuis was. Max en Elsabé was ook daar, my ouers gelukkig nie. Dit was 'n spontane, luidrugtige samekoms van vriende wat van die Feesdae se familieverpligtinge wou wegkom.

Max du Preez en Karien Norval op Kersdag in die vroeë 1990's.
Max du Preez en Karien Norval op Kersdag in die vroeë 1990's.

'n Vorige jaar het ons op Oukersaand 'n meer formele ete vir verlore siele om 'n lang tafel gehou. Oorlede Andrea Vinassa, een van VWB se vroeë skitterende kunsredakteurs, was een van die gaste, sien ek op my kiekies. So ook Laureen Rossouw, dekades voordat sy VWB 2 en 3 se Style Queen sou word. Vir Kerneels Breytenbach, wat ook eers heelwat later by die digitale weergawes betrokke sou raak, ken ek ook van daardie loskopdae se laatnag-kuiers in restaurante.

Andrea Vinassa en Johan Liebenberg, wat ook soms vir VWB geskryf het, een Oukersaand in die 1980's.
Andrea Vinassa en Johan Liebenberg, wat ook soms vir VWB geskryf het, een Oukersaand in die 1980's.
Elsabé Wessels en Laureen Rossouw 40 jaar gelede, vóór die eerste VWB.
Elsabé Wessels en Laureen Rossouw 40 jaar gelede, vóór die eerste VWB.

Julle is my tribe

Nog twee redaksielede van die papierkoerant wat vóór ons die donkerte ingestap het, Koos Prinsloo en Ryk Hattingh, het ek in hulle persoonlike eerder as professionele hoedanigheid leer ken. Toe Ryk ná VWB 1 nog 'n mal perd opsaal en “die eerste Afrikaanse pornografiese tydskrif" begin, het hy 'n tong-in-die-kies-onderhoud met my kom voer. So word ek toe die enigste vrou met klere aan in die eerste uitgawe van Loslyf.

Links: Die laaste keer toe ek vir Ryk Hattingh gesoen het, toe sy roman Huilboek in 2017 bekroon is, skaars 'n maand voor sy dood. Regs: Koos Prinsloo met 'n verspotte plastiek-oorbel in die laat jare tagtig.
Links: Die laaste keer toe ek vir Ryk Hattingh gesoen het, toe sy roman Huilboek in 2017 bekroon is, skaars 'n maand voor sy dood. Regs: Koos Prinsloo met 'n verspotte plastiek-oorbel in die laat jare tagtig.

Baie van die redaksielede en medewerkers vir wie ek lief is, het langs die pad uit die bus geval of vrywillig afgeklim, weens persoonlikheidsbotsings, meningsverskille, geldkwessies en al die ander dinge wat Afrikaanse dwarstrekkers en draadtrekkers al van die Voortrekkers se dae af uitmekaar laat spat. Maar ek gaan daar by Auguste Escoffier se restaurant ook op hulle 'n heildronk instel, op almal wat ooit deel was van VWB, die skrywers, die kunstenaars, die lesers. Julle is my tribe.

Laatnag saam met Kerneels Breytenbach, meer as 30 jaar gelede.
Laatnag saam met Kerneels Breytenbach, meer as 30 jaar gelede.

VWB is dood, lank lewe VWB

Toe Anneliese Burgess my in 2019 by die Woordfees voorkeer en vra of ek vir die beplande wedergeboorte van VWB wil skryf, het ek sonder 'n oomblik van aarseling ja gesê. Ek het al dikwels in my lewe ja gesê vir versoeke wat ek eerder moes geweier het. Maar oor daardie ja was ek nog nooit spyt nie. Selfs toe hulle my laas jaar nie meer kon betaal nie. Daarom wil ek nie net my glas vir 'n heildronk lig nie, maar ook my vuis, soos in a luta continua, sodat VWB se gees kan voortleef. VWB is dood, lank lewe VWB.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.