G’n reuk van pienk om snuf in die neus te gee

DONDERDAG MET DEBORAH

G’n reuk van pienk om snuf in die neus te gee

MAX DU PREEZ skryf oor die DA se beurtkrag-protesoptog na Luthulihuis en ANC-lede se reaksie daarop; DEBORAH STEINMAIR versamel ’n handvol lirieke vir protesliedjies; en daar is soos gewoonlik vyf dinge wat jy wil weet.

  • 26 Januarie 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

1. Akademiese personeel aan die Universiteit van Kaapstad gaan moontlik vir die eerste keer in die geskiedenis staak nadat gesprekke oor ’n 6%-salarisaanpassing ’n dooie punt bereik het. Die Academics’ Union (AU) wag nou op ’n stakingsertifikaat van die Kommissie vir Bemiddeling, Mediasie en Arbitrasie (KBMA).

2. Mpho Phalatse, DA-burgemeester van Johannesburg, sal na verwagting op vandag se raadsitting drie mosies van wantroue trotseer nadat die DA en die Patriotic Alliance (PA) stry gekry en hulle brose koalisie nogmaals in die gedrang gebring het. ActionSA, ook ’n DA-alliansievennoot, het die DA daarvan beskuldig dat hulle Phalatse in die steek gelaat het.

3. Jurie Roux, voormalige uitvoerende hoof van SA Rugby, het die Universiteit Stellenbosch in die Wes-Kaapse hooggeregshof die stryd aangesê oor onreëlmatighede in die arbitrasieproses wat bevind het dat hy die universiteit R37 miljoen skuld.

4. Duitsland het ná maande se onderhandelinge onderneem om meer as 100 Leopard 2-oorlogtenks aan Oekraïne te verskaf. Kanselier Olaf Scholz het in ’n verklaring gesê 14 van die A6-variant sal uit die Duitse weermag se voorraad beskikbaar gestel word. Een van Duitsland se voorwaardes was dat die VSA van sy Abrams-tenks ook aan Oekraïne beskikbaar stel vir gebruik teen die Russiese invallers. Die eerste Leopards sal egter eers oor sowat drie maande gelewer kan word, wat dit te laat sal maak om ’n verwagte Russiese offensief binne die volgende paar weke teen te staan.

5. Microsoft het gister bontgestaan om ’n netwerkprobleem reg te stel wat veroorsaak het dat gebruikers in etlike lande gesukkel het met toegang tot onder meer Outlook en Teams.


Weersake

Daar is ’n waarskuwing oor sterk wind en swaar donderbuie wat oor die oostelike gebiede van die Noord-Kaap, weste van die Vrystaat en noordelike dele van die Oos-Kaap verwag word. Moontlike buie en donderbuie word oor die binneland en ooskus verwag.

Kliek hier vir meer.

Die maksimum temperature vir vandag: Pretoria 32°C • Johannesburg 29°C • Rustenburg 31°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 26°C • Durban 28°C • Howick 28°C • Bloemfontein 31°C • Polokwane 29°C • Upington 38°C • Gqeberha 28°C • Oos-Londen 26°C.


Max du Preez | Hoe ruik pienk mense?

Alle Suid-Afrikaners moet besorg wees oor die hoë politieke temperatuur in die land en die moontlikheid van onstabiliteit en geweld. Dit gaan veral in die maande voor (en dalk ná) die verkiesing oor 16 maande ’n bron van kommer wees.

Die gebeure tydens gister se protesoptog deur die DA na die ANC se hoofkwartier, Luthulihuis, om teen beurtkrag beswaar te maak, was nie goeie nuus nie.

Die optog was teaterpolitiek, ja, en dit was seker ook uitlokkend, soos die ANC dit bestempel het. Maar watter protesoptrede is nie uitlokkend nie – dis mos die idee van protes?

Só het die DA se optogplakaat gelyk.
Só het die DA se optogplakaat gelyk.

Volgens die ANC se nasionale woordvoerder, Pule Mabe, is die ANC se Jeugliga gestuur om Luthulihuis teen die DA te “beskerm”. Dit was die tema van omtrent elkeen wat daar gepraat het of met wie ’n onderhoud op TV gevoer is: Ons is hier om Revolutionary House (sic) te beskerm.

Die polisie het plek-plek hulle hande vol gehad om ANC-lede te keer om die DA-lede te bestorm. Volgens eNCA se verslaggewer op die toneel was van die ANC-lede met kieries, sambokke en bakstene bewapen. Volgens die verslaggewer was nie een DA-lid bewapen nie.

Oor middagete spreek ’n lid van die Jeugliga-taakspan (die liga het al lankal nie meer verkose leiers nie) oor die luidsprekerstelsel die skare toe – ek het dit op TV gevolg.

En hier was wat sy (ek weet nie wat haar naam is nie) onder toejuiging voor Luthulihuis gesê het: “Comrades, we have won the first round. There is no smell of pink people here.”

Ja-nee. Welkom in 2023.

Dis mos Julius Malema-speak, nie hoe die regerende party met sy uitgesproke beleid van nierassigheid behoort te praat nie.

(En boonop was die meeste van die sowat 1 000 DA-protesteerders nie “pienk” nie.)

Die ANC se beswaar is dat die DA eintlik voor Eskom se hoofkantoor moes gaan betoog, want dit is die instansie wat vir elektrisiteitsvoorsiening verantwoordelik is.

Dit is waar, maar myns insiens is dit heeltemal legitiem (dalk nie wenslik nie, maar legitiem) vir die DA om te verklaar dat die mislukkings van Eskom aan die ANC se kultuur van korrupsie, kaderontplooiing en wanbestuur te wyte is en hulle beswaar aan dié party se hoofkantoor te rig.

Die sin wat ek gekry het, was dat die ANC skaam-kwaad was, want die DA het ’n ou struggle-kreet gesteel (met ’n dubbele betekenis): Dit was die Power to the People March. ’n Paar sprekers het boonop verklaar dat die DA ’n mislukking is daar waar hulle regeer. Ja, right.

Vurige politieke kontestering is nie net onvermydelik nie, dit is normaal in ’n land met ’n robuuste demokrasie soos ons s’n. Maar leiers van al die politieke partye moet weet dat waar dit op geweld uitloop, die bloed op húlle hande sou wees.

Dit is dalk ’n goeie idee om ’n soort vredeskomitee te stig waaraan alle partye en die polisie kan deelneem om te sorg dat die volgende twee jaar vreedsaam verloop.


Image: ANGELA TUCK

Gwede baba met die badwater weg

Moenie vandag ’n goedvoelstorietjie by my kom soek nie.

’n Mens huil nie oor alles nie, maar ons ly aan verontwaardigingsuitputting. Ons is gedesensitiseer, tot kort duskant gevoelloosheid geskok. Daagliks hoor ons: Massaskieterye in Kalifornië, biljoene gesteel, liggame ontbind in lykshuis weens beurtkrag, bedrog in Oekraïne. Dis te veel.

Diere – diere dring nog deur ons gelatenheid. Toe ons klein was, het ek en my broers by die inry op ’n kombers voor die kar gesit en net een ding op die silwerskerm het hulle laat huil: wanneer ’n dier doodgaan. Cowboys en sogenaamde Indiane was vervangbaar.

Sheba die tier het my oor die rand gestoot. Haar dood het ons laat onthou hoe stukkend ons bestel is. Sy het nie hier gepas nie. Ek dink aan William Blake se gedig:

Tyger tyger, burning bright
in the forests of the night;
what immortal hand or eye,
could frame thy fearful symmetry?

Daar is te veel van ons. Daar is nie meer plek vir wilde diere nie. Dit is ironies dat mense, ondanks hulle waansinnige bevolkingsontploffing, so begaan is oor libido en vrugbaarheid dat hulle seeskilpaaie se eiers opvreet omdat hulle glo dis ’n seksuele opkikker, soos renosterhoring. Uitgevrete sekspeste, ons.

Ja, soms wil ek rondwals in die verrotting van menswees. Ons is almal so. Kyk maar na die reeks Donkerbos op Showmax en skaam jou.

Image: ANGELA TUCK

Kom ons huil en word kwaad. Woede is blykbaar ’n bruikbare emosie, anders as skuld, wat verlam. Woede kan motiveer tot optrede. Kom ons wees woedend vir die ANC, wat hulle skisofrenies wil verwyder van hulle maaksel of eerder hulle opfoksel, Eskom. Wat vroom opsystaan en beweer beurtkrag is hulle grootste opponent in die verkiesing. Regtig? Dis soos ’n man wat ’n vrou slaan en dan by haar kla omdat sy hom dwing om so buffelagtig op te tree: Kyk wat het jy my laat doen. Daar is ’n kognitiewe dissonansie, die alleruiterste oortreffende trap van ontkenning.

Ons is woedend, maar te moedeloos vir protes. Watter protesliedjies sou ons kon aanhef? Ek versamel ’n handvol lirieke:

Die trane die rol oor jou, Eskom
Vonkel, vonkel kleine ster
How do we sleep when our beds are burnin’?
Toemaar, die donker man
Dark side of the moon
Hello darkness, my old friend
Come on, baby, light my fire
I had a match, but she had a lighter
Aandlied van die voëls
Sit dit af, sit dit af
Rage against the dying of the light 

Ek voltooi nou my nagte soos ’n hinderniswedren, een struikelblok op ’n slag. Ek lê oopoog en wag vir krag en die lawende suising van die waaier. Twaalfuur is daar nuwe woordspeletjies: Wordle, Wortel, Watse, Wördl, Quordle. Dan gaan die krag vir twee ure af. Sesuur kom die Vrye Weekblad-nuusbrief in. Dan gaan die krag weer af. In die donker raadpleeg ons Eskom se Push in die lig van ’n selfoonskerm. En nou is daar ook ’n pothole-app van Sanral.

So navigeer ons die wildernis.

Gimme hope, Jo’anna ’fore the morning come.



Ouer Word

'n Eindigheid sprei langsaam, ongevra,
'n stipter onderskeiding word van krag.
Wat ek verloor het suig my terug in drome,
hul nagtelike helende verwarring;
wat oorbly dwing my voorwaarts, stoot of dra
my onversetliker van dag tot dag
met afgepaste tydverdryf en werk.
Ek hul my heelheidshalwe in 'n huis
wat stuksgewyse toeslik tot 'n kluis.

Iets wat 'k onthou: eens was ek 'n beminde
kind, tintelend van hiernamaalse onkunde,
deur louter eindeloosheid ingeperk.

– Elisabeth Eybers 

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.