Molweni vriende
Ek het die afgelope week in Queenstown gewerk aan ’n storie vir die komende week se uitgawe. Donderdagaand sien ek nie meer kans vir die erg neerdrukkende gastehuis nie. Ons familieplaas is so ’n uur weg. Ek’s lus vir ’n vuur en my grootboet se geselskap.
Ek wil voor donker die woeste stuk pad tussen Queenstown en Dordrecht ry. Dis gelem met slaggate en losloop-vee.
Teen die tyd dat ek voor Bannockburn se hek stilhou, glip die laaste lig weg. Ek hoor die geruis van die rivier. Die laagwaterbrug is onbegaanbaar. Ek sal moet omry na die agterste hek. Maar ek het nie ’n sleutel nie, en boonop sal ek nie met my Brezza op die veldspoor regkom nie. My broer sal my moet kom haal, maar ek kan nie bel nie, want dit is beurtkrag en dan verdwyn die MTN-sein op Indwe saam met die ligte.
Ek besluit om maar om te ry na die buurman. Hy’t ’n sleutel vir die agterste hek en hy sal nie omgee om my ’n lift te gee af huis toe nie.
Op die dorp is daar net lig by Willem se petrolpompe. In die dag lyk die verflenterde dorp al erg genoeg, maar in die donker voel dit post-apokalipties. Hope rommel. Bokke en beeste in die parkie langs die poskantoor waar ’n tent staan van Saterdag se Sassa-uitbetalings.
Die onmiskenbare reuk van rioolvuil hang in die lug. Voor die sjebeen in die hoofstraat staan ’n klomp figure om ’n vuur wat sommer op die sypaadjie gemaak is. ’n Duidelik besope vrou slinger oor die straat. Ek ys om te dink wat met haar gaan gebeur, dronk en alleen, in hierdie mean streets sonder lig.
Die pad na Henk-hulle is slymnat met diep bakkiespore. Die maan is agter ’n wolk. My brights voel nie besonder bright in die stikdonker nie. Ek voel ’n stekie paniek toe my kar begin rondgly in die modder.
Die pad raak ewe skielik baie sleg. My bande kry nie vastrapplek nie en die motor slinger onvas van een kant na die ander. Ek kan Henk-hulle se kragopwekker hoor. Ek sal maar die laaste stuk te voet aanpak, want ek sien al hoe beland ek vanaand hier in ’n sloot. Ek sak op plekke enkeldiep in die modder weg en trek maar my skoene uit.
Die veiligheidslig is aan op Henk se werf, maar die huis is donker. Die honde blaf verwoed. Ek voel skielik bang. Vir die honde en die donker en die onheilige gedoef van die kragopwekker wat alles omvou. Ek gly-gly terug kar toe.
Van hier is dit omtrent twee kilometer te voet na ons huis. Dit is nog ’n uur en ’n half voor die krag aankom. Ek oorweeg dit om te stap, maar dis waarskynlik onwys om die donkerte in my plastiek-Birkenstock-sandale aan te durf, want slange. Ek sal maar moet wag.
Ek gaan haal die bottel wyn wat ek saamgebring uit die kattebak en gooi vir my ’n stewige skeut in die papierkoppie van vroeër se wegneemkoffie.
Die maan kom agter die wolke uit. Ek kan die buitelyne van die berge sien. Aan my regterkant op die draad sit ’n gevlekte arendsuil en frons.
So sit ons in die stilte, ek en hy. Tot 21:30.
My foon pieng met inkomende boodskappe. Ek bel my broer. “Welkom in Afkanniestan,” lag hy. “Die as is af. En kan nie gefix word nie.”
Ek dink aan die storie wat ek vir hierdie week geskryf het. “Ja, Suid-Afrika gaan dit maak,” sê Firoz Cachalia, voorsitter van die president se kajuitraad oor korrupsie. “Ons is op ’n donker plek, maar ons het die regte mense en die regte gesprekke om die bus om te draai.”
Ná drie ure se rondval in die donker modder van Suid-Afrika se onverskoonbare verval (en ná die week in Queenstown, maar meer dáároor Vrydag) moes ek erken dat ek ietwat uitge-Pollyanna is (en ek verwys nie hier na die vrou met dié skuilnaam in ons kommentaarseksie nie).
Ons tas letterlik en figuurlik in die donker rond. Terwyl die ANC sê ag wat, dis nie so erg nie. Soms raak selfs die grootste optimis gatvol vir vrolik wees.
Maar vandag skyn die son weer. En my sunny disposition ook.
Salige Sondag.
AB
Praat met my by annelieseburgess@vryeweekblad.com
19 dae voor ons Stilbaai-boekefees
(UWK-studente ruk op!)
Het jy al jou kaartjies bespreek vir ons boekefees die laaste naweek in Februarie?
Ons bydraende redakteur Anastasia de Vries laat weet dié week wat gebeur het toe sy die program vir Vrye Weekblad se Stilbaai-boekefees op haar departement by UWK se sosiale media plaas:
“Groot fout! Meer as die tussen sewe en 10 studente vir wie ons ’n borgskap kon vind, wil nou saam Stilbaai toe. Dis die lekkerste skrywers- en boekprogram ooit met van die grootste name in die joernalistiek en skryfwêreld wat hulle graag wil ontmoet en so aan en so aan, sommer saam met planne vir hoe meer studente die fees kan bywoon: Hulle kan kezat (geld bymekaargooi) vir vervoer en verblyf en kaartjies, beddens deel, tent opslaan op die strand of … of. Ek moes ’n bietjie huil (van trots en dankbaarheid) toe ’n student laat weet sy sal haar eie koste dra, dan kan ons ’n ander student saamneem wat dit nie kan bekostig nie. Nou weet ek dit al: Ek sal warm gehou word oor hierdie fees tot die dag van ons vertrek! Maar hoe dit ook al sy: Die naweek van 24 tot 26 Februarie is die boekefees op Stilbaai dié fees vir studente van die UWK se departement Afrikaans en Neerlandistiek. Een raai oor wie die meeste opgewonde en trots is?”
Hoe om VWB 3.0 heeltemal gratis te lees!
Vrye Weekblad is voorlopig nog gratis. Al wat jy hoef te doen om dit te kan lees, is om 'n lesersprofiel met jou e-pos te skep. Gaan na vryeweekblad.com. As jy enigsins sukkel, stuur vir my 'n boodskap by hulp@vryeweekblad.com en ek help graag.
Ek haat en ek het lief
Ek haat en ek het lief: ek weet
nie hoe nie.
O my land, o my land: jy is ek.
Ek ken jou en ek haat jou
soos ek my haat.
Ek het jou lief soos ek my
soms lief durf hê.
- NP van Wyk Louw
Kyk
Hier is ’n interaktiewe kaart oor klimaatsbesoedeling:
As jy op Google Street Views die “Random”-opsie kies, kan jy die wêreld se strate verken:
The Wonders of Google Street Views
Lees
Van die BBC: Montessori: The world's most influential school?
Van die NYT: Women have been misled about menopause
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.