Een lieflike herfsdag in Cullinan

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Een lieflike herfsdag in Cullinan

ANNELIESE BURGESS vertel meer oor die magic van Vrye Weekblad se eerste boekefees in Cullinan.

  • 16 April 2023
  • Daagliks
  • 4 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre!

Ek groet vanoggend vanuit ’n lieflike herfserige Cullinan.

Toe ek en Max Vrydagmiddag met die agterpaaie langs van die lughawe af gery het – verby mielielande en plate kosmos – was ons effens senuweeagtig dat nie genoeg mense die pad sou vat om ons boekefees by te woon nie. Maar ons hoef ons glad nie daaroor te bekommer het nie! Die saal was vol vir ons redakteursgesprek daardie aand, en die kaartjies vir Lientjie Wessels se wonderlik kreatiewe kos was uitverkoop (die wildsvleis-en-miso-bobotie met geelrys en peerblatjang was sensasioneel). Dit het my hart baie warm gemaak om die geselligheid om die kersgetooide langtafels op die stoep van die feessaal te ervaar.

Die aand het vir van ons redaksielede en vriende om ’n potspeltafel in die kroeg van die hotel geëindig (maar wat in Cullinan gebeur, bly in Cullinan – al wat ek bereid is om te sê is dat daar danspassies ter sprake was en ’n hele paar sopies Jägermeister).

Gister was ’n heerlike, heerlike dag. Ons boekeredakteur, Deborah Steinmair, het die fees die laaste paar maande so stilletjies tussen al haar ander weeklikse skrywery deur gereël. Ons ken Deborah nou al as ’n stille oorpresteerder, en hierdie boekefees was ’n triomf. Daar was alles wat ons van so ’n Vrye Weekblad-byeenkoms wou hê: ’n skerp (en soms aweregse) program; interessante en insiggewende gesprekke; ontmoetings tussen lesers, skrywers en redaksielede; baie lag; en heerlike kos(en wyn).

Dit is vir my altyd so lekker om skrywers in lewende lywe te sien, en die energie op ’n verhoog en die onverwagse vonke wat dit soms tot gevolg het, is die magic wat ’n boekefees so die moeite werd maak. En dis hoekom ons sal aanhou om dit te doen (daar is planne vir nog ’n fees in die Vrystaat en een in die Kaap vanjaar).

Die gesprek tussen Gielie Hoffmann en die regisseur Mercy Kannemeyer (wat ook ons Dinsdag-nuusbrief skryf) het ons almal laat skater van die lag omdat dit so speels en tjatjarag was. Mercy het gepraat oor hoe sy ’n boek van Jeanne Goosen in ’n verhoogstuk verwerk het.

Die gesprek tussen die joernalis en radio-aanbieder Ilse Salzwedel en die skrywers Bettina Wyngaard (Lokval) en Elizabeth Wasserman (Die fantastiese Mevrou Smit) oor hulle krimi’s was vir my ook verruklik omdat die informele geselstrant my so ingetrek het. Bettina sê oor hoe sy die karakters in haar boek ontwikkel: “Ek is ’n absolute beheervraat. My karakters meld nie aan nie; ek roep hulle.”

Daar was ook baie chatter (ná die tyd) oor Deborah se gesprek met ses vroueskrywers, Gerda Taljaard, Bettina Wyngaard, Renée Rautenbach Conradie, Michèle Meyer, Celeste Theron, Emma Bekker en Marida Fitzpatrick. Dit was veral die deel van die gesprek oor hoe vroue oor erotika en seks skryf wat mense aan die gesels gehad het. Gerda het in die gesprek gesê: “Die vroulike blik is meer subtiel. Erotika kan gaan oor hoe jy iemand se hare sny, of kaal voete in die gras ...”

Dis ’n lekker gesprek om verder te voer. Ek het sterk idees hieroor. En ná die tyd, in ’n gesprek met kollegas, is ek uitgedaag om iets daaroor te skryf. Ek sal.

Die dag is afgesluit met ’n diepgaande gesprek tussen ons hoofredakteur, Max du Preez, en die skrywers Johann van Loggerenberg en Pieter du Toit. Johann is natuurlik die voormalige hoof van die ondersoekeenheid by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Dit is hierdie soort gesprekke wat vir my die hart en siel is van wat ons redaksie die “boonste deel” van Vrye Weekblad noem. Indringende ontleding oor die stand van ons land. Terwyl ek so geluister het na die absolute stilte in die volgepakte gehoor tydens hierdie gesprek, het ek geweet julle dink ook so.

Pieter sê: “Ons word tans regeer deur ’n onbekwame en korrupte regering. Dit is nou ’n jaar sedert ons die Zondo-kommissie se bevindings van 5 500 bladsye gekry het. Maar daar het tot nou toe nog absoluut niks daarmee gebeur nie. Die Zondo-kommissie het eenvoudig gekom en gegaan.”

’n Gesprek wat my tussen die oë getref het, was die een tussen die boekeredakteur Phyllis Green, die superskrywer Sophia Kapp en Leonie van Rensburg van Graffiti Boeke. Die gesprek het gegaan oor hoe mens ’n topverkoper skryf. Maar uiteindelik was daar ’n pleidooi van Leonie dat al ons boekliefhebbers boekwinkels moet ondersteun. Regte boekwinkels met rakke. En boeke daarop. Eerder as om al ons boeke aanlyn te koop. Want sonder boekwinkels wat ruik na papier en ink sal ons almal armer wees. Ek stem volmondig saam.

Ek sal volgende week weer aanbevelings doen. Salige Sondag.

Groetnis
Anneliese

Ns. Lewer asseblief kommentaar onderaan die artikel! Ek hou altyd so baie daarvan om van julle te hoor!


Hoe om VWB 3.0 heeltemal gratis te lees! 

Vrye Weekblad is voorlopig nog gratis. Al wat jy hoef te doen om dit te kan lees, is om 'n lesersprofiel met jou e-pos te skep. Gaan na vryeweekblad.com. As jy enigsins sukkel, stuur vir my 'n boodskap by hulp@vryeweekblad.com en ek help graag.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.