Die media moet die son óral laat inskyn

MAANDAG MET MAX

Die media moet die son óral laat inskyn

MAX DU PREEZ wonder oor Thabo Mbeki se sogenaamde gewildheid en skryf ook oor Suid-Afrikaners se (on)geduld ten opsigte van ingrypende en spoedige veranderings in die bestuur van die land. En daar’s vyf dinge wat jy wil weet.

  • 17 April 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiedag!

1. Minstens 40 lede of vrywilligers van Burkina Faso se veiligheidsmagte is in die noorde van die land deur vermeende Islamitiese ekstremiste doodgeskiet, en tientalle ander is gewond, het AP berig. Die ekstremiste het vermoedelik bande met Al-Kaïda en die Islamitiese Staat.

2. ’n Brand het duisende inwoners van die Dakota-nedersetting in Isipingo suid van Durban dakloos gelaat. Meer as 300 plakkershutte het afgebrand, het eNCA berig.

3. Die G7-lande het in Sapporo in Japan onderneem om vinniger van fossielbrandstowwe ontslae te raak, maar kon nie ooreenkom oor nuwe spertye vir die afskaf van vuil energiebronne soos steenkool nie. Veral Japan en die VSA het wal gegooi teen ’n vroeëre einde aan steenkool.

4. In ’n verrassende wending het ’n plan van die regering om sogenaamde militêre veterane op te lei om slaggate oral in die land reg te maak, net tot ’n nuwe gat van R40 miljoen in die staatsbegroting gelei, het Rapport berig. Die meeste van die 90 masjiene wat glo vir die projek aangekoop is, het “geheimsinnig verdwyn” uit ’n pakhuis in Roodepoort. Ewe geheimsinnig is hoeveel van die “sterk jong mans” wat glo die werk sou doen, in die geledere van die land se militêre veterane te vinde sou wees.

5. ’n Voormalige Indiese parlementslid, Atiq Ahmed, is Saterdag ten aanskoue van televisiekykers doodgeskiet terwyl die polisie hom en sy broer, Ashraf Ahmed, vir mediese ondersoeke geneem het. Ashraf Ahmed is oomblikke later deur dieselfde aanvaller doodgeskiet, maar die kameras was nie toe nog by nie. Die broers was in polisie-aanhouding weens hulle vermeende betrokkenheid by ’n omvangryke misdaadnetwerk.


Vandag se weer

Hoë brandgevaar in dele van die Noord-Kaap, asook oor die Sentraal- en Klein-Karoo in die Wes-Kaap. Oggendmis in Gauteng en Mpumalanga, en meestal koel tot warm weer oor die grootste deel van die land. Ligte tot matige wind langs die Wes- en Oos-Kaapse kus, maar frisser in KZN.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 22°C • Johannesburg 21°C • Rustenburg 25°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 27°C • Durban 29°C • Worcester 33°C • Bloemfontein 26°C • Polokwane 23°C • Upington 32°C • Gqeberha 28°C • Oos-Londen 28°C.


Max du Preez | Mbeki se voete van klei

So Thabo Mbeki is die gewildste politieke leier in Suid-Afrika? Wat de hel?

’n Steekproef van die Social Research Foundation het bevind dat Mbeki met 53% die gewildste politikus is, met Cyril Ramaphosa op 41%, Jacob Zuma op 27% (!), Helen Zille op 25%, Julius Malema op 24%, Mmusi Maimane op 23%, John Steenhuisen op 16%, Herman Mashaba op 14% en Paul Mashatile op 11%.

Daar is veel goeds oor Mbeki te sê. Ek het hom in 1983 in Lusaka ontmoet en oor die jare goed leer ken – ek kan selfs ’n paar sappige skinderstories oor hom uit my eie ervaring vertel.

Hy is ’n intellektuele, wel belese mens en het as die ANC-in-ballingskap se hoofdiplomaat die bevrydingsbeweging goed gedien, veral in die Weste. Hy was ook in die 1980’s die eerste kontakpunt vir mense binne Suid-Afrika om met die ANC in verbinding te tree en die idee van ’n onderhandelde skikking te bevorder.

Ek het die meedoënlose kant van Mbeki in die vroeë 1990’s ervaar, eers met die woeste skinderveldtog wat hy teen Ramaphosa gevoer het nadat Nelson Mandela laat blyk het dat hý en nie Mbeki nie hom in 1999 moes opvolg, en toe met die manier waarop hy sy ou vriend Van Zyl Slabbert soos ’n gebruikte kondoom weggesmyt het.

Mbeki was nie die vrotste president in Afrika se geskiedenis nie, maar twee goed het sy nalatenskap vir ewig beklad: sy belaglike teorieë en beleid oor MIV/vigs wat tot die onnodige dood van tienduisende mense gelei het, en sy weiering om ’n verslag van sy eie mense bekend te maak, of daarvan werk te maak, wat bevind het dat Robert Mugabe die verkiesing gesteel het.

Dit was gróót foute waarvoor ’n baie duur prys betaal is. En toe is hy nog egoïsties genoeg om teen alle raad in vir ’n derde termyn as ANC president te staan, wat regstreeks tot die rampspoedige presidensie van Jacob Zuma gelei het.

Daar is ander goggas wat ook oor die Mbeki-kladboek geloop het, soos sy beskerming van die skelm Jackie Selebi, toe kommissaris van polisie, die beëindiging van die Skerpioene as onafhanklike eenheid wat hy geïnisieer het, en die weiering om daadwerklik van die wapenskandaal werk te maak.

Nou speel Mbeki die hoogheilige held van die demokrasie met ’n skreiende brief aan die ANC wat kwansuis vir Ramaphosa beskerm. Ek sal nie verbaas wees as hy besope was toe hy die brief geskryf het nie, want dit was vol uitroeptekens, snaakse lettertipes, teenstrydighede en foute.

Ek het al tevore daaroor geskryf dat Mbeki se dampkring al jare lank stink skinderstories oor Ramaphosa by my en vele ander joernaliste aandra.

Mbeki is nie verkeerd nie dat die ANC Ramaphosa se beweerde skandes met ’n sterker hand moes bestuur het, maar komende van hom is dit min werd.

Moenie vergeet nie, Thabo was tjoepstil deur die nege rampspoedige jare van Zuma. Geen piep van hom toe die ANC die Nkandla-skandaal en staatskaping help toesmeer het nie.

Die gewildheidstabel hier bo wys onteenseglik dat daar iets groots fout is in ons politieke kultuur. Dit is nou as dit betroubaar is – 27% steun vir Zuma en 25% vir Zille lyk vir my bra onwaarskynlik.


Image: ANGELA TUCK

Geduld, o geduld wat so baie kan dra

Is ons Suid-Afrikaners te ongeduldig deur ingrypende en spoedige veranderings in die bestuur van die land te eis, of is ons juis te geduldig?

Dié vraag het Saterdagaand ter sprake gekom toe ek, Pieter du Toit en Johann van Loggerenberg op ’n paneel by ons (heerlike! Hoogs suksesvolle!) boekefees in Cullinan gepraat het.

Pieter, assistentredakteur van News24 en een van die beste joernaliste in ons land, en ek het nogal klem gelê op die tekortkominge van ons regerings op drie vlakke en die verrotting in die regerende ANC.

Ons het die flaters met die uitlewering van die Guptas en die tragiese komedie van Thabo Bester se ontsnapping en ontwyking van die gereg as metafore vir die onbeholpenheid van owerheidsweë uitgewys.

Ek het spesifiek gesê ek kan sien dat daar stappe geneem kan word wat ons kragkrisis en ons spoorvervoer-en-hawenskrisis binne ’n jaar of twee kan verlig. Maar, het ek gevra, wat doen ons met die kriminalisering van die staat, met die dosyn of meer groot misdaadsindikate, met die mislukking van die polisie, misdaadintelligensie en die staatsekuriteitdienste? Dit lê myns insiens aan die hart van ons krisis.

Max du Preez, Johann van Loggerenberg en Pieter du Toit.
Max du Preez, Johann van Loggerenberg en Pieter du Toit.

Johann, eens ’n pionier van die nasionale inkomstediens wat oor jare deur staatskapers geteiken is en al dié gebeure behoorlik en vreesloos geboekstaaf het, was meer filosofies – ietwat onverwags, het ek gedink, en ek ken hom al jare lank. Hy het al die rede in die wêreld om kwaad en ongeduldig te wees.

Dié goed gebeur in siklusse, sê hy, en dit gebeur in die meeste lande in die wêreld. Ons moet ons nie in die hoofopskrifte van verval en korrupsie vasstaar nie; ons moet eerder na oplossings op langer termyn kyk en daarvoor werk.

JP Landman, ’n politiek-ekonomiese ontleder wat oor die hele spektrum hoog aangeslaan word, het hom uit die gehoor by Johann geskaar. Daar is geen quick fixes nie. Ek parafraseer hom nou, maar sy boodskap was dat ons ons nie vir die mislukkings boeglam moet skrik nie.

Ruda Landman, veteraan-joernalis en openbare intellektueel, het vertel van ’n wroegsessie op Stellenbosch baie jare gelede waarin die Afrikaner-establishment uitmekaar geskeur is. Oudredakteur Piet Cillié staan toe op en sê iets soos: “Ja, so die Boere se moere, maar wat nou?” Sy wou sê ons kan die huidige regerende establishment uitmekaar pluk, maar wat dan?

Dit was ’n gepaste intervensie.

Ek self glo ons in die media moenie ’n oomblik huiwer om die onbeholpenheid en korrupsie van mense in gesagsposisies behoorlik te dokumenteer nie. Ons moet die son oral laat inskyn, die probleme behoorlik uitwys en omskryf, anders stoom die skelms en luies en magsugtiges bloot voort.

Ons moet ons klein bende ondersoekende joernaliste wat dié werk doen, koester en veilig hou.

Maar ons moet dalk deegliker besin oor waarmee ons ons lesers/luisteraars/kykers laat. Ons moet darem ook die ander kant van ons gemeenskap reflekteer – buite die skelms se binnekringe is daar geen Suid-Afrikaners van enige kleur of streek of oortuiging wat nie om hulle rondkyk en sê: Nee, hel, dis mos nie wie ons as Suid-Afrikaners is nie.

Ons moet ewe veel aandag gee aan ons mense se suksesstories, aan organisasies in die burgerlike samelewing wat hard werk om die verrotting om te draai en aan mense hulle menswaardigheid terug te gee, aan die suksesse van ons energieke sakelui, groot en klein. En sommer aan gewone mense wat eerlike lewens lei, hard werk en vir hulle families en gemeenskappe goed is.

Ons moet brutaal eerlik wees oor die mislukkings, ja, maar ons moenie in die proses alle hoop in die grond in slaan nie.

Ons is dalk na daaraan om te kan sê ons het ’n mislukte regering, maar om Suid-Afrika ’n failed state, ’n mislukte staat, te noem, doen die mense van ons land ’n ernstige onreg aan.

Ons gaan g’n toelaat dat ons demokrasie en ons selfrespek gesteel word nie.

***

Dis Sondagoggend skuins voor nege – dis nou gister. Dis bewolk en nogal koud in Cullinan, die ou myndorpie buite Pretoria.

As deel van Vrye Weekblad se boekefees is daar ’n poësievoorlesing in die ou klipkerk op die dorp. Dis mos ’n verspotte idee – wie staan op ’n Sondagoggend vroeg op vir so iets?

En daar is die kerk vol. Nege digters lees hulle gedigte voor en die gehoor word meegevoer. Dit wys jou net.

Die poësievoorlesing gisteroggend in die klipkerk.
Die poësievoorlesing gisteroggend in die klipkerk.

Ek was diep geroer en het terselfdertyd erg skuldig gevoel. Ek het die afgelope jaar net een Afrikaanse digbundel gekoop, en dit was Antjie Krog s’n – seker deels omdat ons mekaar van grootwordjare in Kroonstad ken en lank saam gewerk het.

Wel, ek het Afrikaanse poësie nou herontdek en my leeshorisonne verbreed. Ek is daaraan herinner dat die digters die profete, die sjamane van elke taal op aarde is. Ons skeep hulle af.

Doen iets daaromtrent as jy lief is vir Afrikaans. Gaan koop sommer nog dié week minstens een Afrikaanse digbundel en lees dit; lees ook vir jou geliefdes.

Die digters op ons verhoog was Jolyn Phillips, Pieter Odendaal, Johan Myburg, Johann Lodewyk Marais, Eunice Basson, Martjie Bosman, Jaco van der Merwe, Kirby van der Merwe en Emma Bekker.

Hier onder is Jolyn Phillips se gedig “heil die leser”.


heil die leser

in my pa se huis hou ek hom dop
die vissermanshande wat deur bladsye blaai
die gebundelde man wat seine gooi
met sy adamsappel woorde sluk
hoe sy hart ensiklopedie
as hy bene oorkruis sit en met sy
hande beduie ons moet hom uitlos
want hy kan net nugter lees

ek onthou sy gliserien-oë
my pa die letter-boemelaar
hy soek sy storie
hy tel hulle op
hy stryk hulle plat
sy oë smeul soos ’n gebakte patat

hy sê altyd:
“daar is god waar daar verstand is
skarrebol waardeer die weggegooides”

in my pa se huis
skryf ek hom weg
wegter van my –
ek wysig sy swets.

– Jolyn Phillips

(Uit: radbraak)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.