Dink net, as ál die kranse antwoord gee

WOENSDAG MET WILLEM

Dink net, as ál die kranse antwoord gee

MAX DU PREEZ sê dit sal 'n pragtige gebaar van versoening wees as die DA en die Vryheidsfront Plus die inisiatief neem om ‘Die Stem’ uit die nasionale lied te verwyder. WILLEM KEMPEN wonder oor die inhoud van 'n pakkie aan sy dogter in Frankryk. En soos gewoonlik is daar vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 19 April 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre


1. Markus Jooste se prokureurs het probleme met sy paspoort aangevoer as rede waarom hy nie gister in Oldenburg, Duitsland, in die hof verskyn het om tereg te staan op strafregtelike aanklagte van onder meer bedrog nie. Suid-Afrikaanse owerhede, insluitende die Valke en die Reserwebank, het ontken dat hulle die gevalle Steinhoff-baas se paspoort hou. Duitse aanklaers het nou aansoek gedoen vir ’n lasbrief vir Jooste se inhegtenisname.

2. R1,4 miljoen was nie te veel om te betaal vir die huurvlug wat Thabo Bester en dr. Nandipha Magudumana na die land teruggebring het nie, het dr. Aaron Motsoaledi, minister van vervoer, aan die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake gesê. Motsoaledi sê dit sou nie gewerk het om die twee op ’n kommersiële vlug te plaas nie, onder meer omdat dit ander passasiers ongemaklik sou gemaak het.

3. Pres. Cyril Ramaphosa het uiteindelik die nuwe lede van die raad van die SAUK aangewys, meer as ses maande nadat die termyn van die ou raad verstryk het. Khathutshelo Ramukumba is as voorsitter en Nomvuyiso Batyi as ondervoorsitter aangewys. Die ander lede is: Renee Horne; Tseliso Thipanyane; Phathiswa Magopeni; Aifheli Makhwanya; Magdalene Moonsamy; Rearabetsoe Motaung; David Maimela; Dinkwanyane Mohuba; Mpho Tsedu; en Palesa Kadi.

4. Die raad van die Universiteit Stellenbosch gaan ’n komitee van drie lede aanwys om bewerings van nepotisme teen die rektor, prof. Wim de Villiers, te ondersoek. Een van die drie lede sal ’n onafhanklike regskenner wees.

5. Derek Hanekom, voormalige minister van toerisme, is aangewys as tussentydse voorsitter van die direksie van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL). Die ander tussentydse direksielede is Fathima Gany, Fundi Sithebe en Mahlubi Mazwi. Johannes Weapond, Clarissa Appana en Dumisani Sangweni is ook direkteure.


Kyk weer ...

Hoë brandgevaar in verskeie dele van die Noord-, Oos- en Wes-Kaap, insluitende die Sentraal-Karoo. Sonnige en warm weer voorspel oor die grootste deel van die land. Dit sal bewolk of mistig al langs die kus wees.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 27°C • Johannesburg 25°C • Polokwane 26°C • Mbombela 29°C • Upington 32°C • Bloemfontein 28°C • Kaapstad 23°C • George 28°C • Worcester 30°C • Durban 30°C • Gqeberha 29°C.


Max du Preez | Te hel met ‘Die Stem’

Die eindstryd van die Varsitybeker is ’n groot dag op ons rugbykalender. Maandagaand se wedstryd, toe die NWU-Arende die Universiteit van Kaapstad se Ikeys net-net geklop het, was hoogs aanskoulik.

Voor die wedstryd begin het, het die spelers voor die pawiljoen gaan staan vir die speel van die nasionale lied. Die stemme van die studente was maar yl, tot die strofes van “Die Stem” opkom. Toe weergalm dit.

Ek was lanklaas by NWU en het nie ’n goeie begrip van wat daar en in die studentelewe aangaan nie. Maar die luidkeelse sing van “Die Stem”-gedeelte het my nogal ontstel.

Terwyl ek na die kameraskote van die studente op die pawiljoen kyk, begin ek wonder: Het die jongmense dié strofes harder gesing omdat hulle nie die woorde van “Nkosi Sikelel’ iAfrika” ken nie, of bloot nie daarvan hou nie, of was dit ’n uitdrukking van ’n politieke houding?

Twee van die helde van die dag op die veld was die NWU se haker, Vernon Paulo, ’n swart man, en Tino Swanepoel, die span se briljante heelagter, ’n bruin man. (Ek sal geld daarop verwed dat albei dié spelers in die volgende jaar of twee Springbokke gaan word.)

Paulo en Swanepoel was duidelik ook baie gewild onder die wit (seker meestal Afrikaanssprekende) studente.

So, dalk het die studente die strofes uit “Die Stem” uit volle bors gesing net omdat dit Afrikaanse woorde is, nie omdat hulle rassiste is nie.

Wat my bring by my ou private kruisvaart sedert 1994: Skrap die strofes van die apartheidsvolkslied in ons nasionale lied en vervang dit met Afrikaanse (en Engelse) lirieke wat dieselfde melodie as “Nkosi Sikelel’ iAfrika” volg.

Die idee dat ons nasionale lied verskeie tale gebruik, is ’n goeie een. Tans word Xhosa, Zoeloe, Sotho, Afrikaans en Engels gebruik. Dit weerspieël ons diversiteit.

Maar dit was nooit ’n goeie idee om woorde uit die ou apartheidslied in te sluit en die melodie te hou nie.

Die idee van ’n nasionale lied is immers om ’n sin van nasionale kohesie te bevorder, van nasieskap. Maar op die oomblik sing baie Suid-Afrikaners net die dele in Xhosa, Zoeloe en Sotho en bly tjoepstil, of gaan sit selfs, as die Afrikaans en Engels begin. Cosatu, Numsa, die EFF en die ANC-jeugliga is van die organisasies wat dit doen.

Moenie vir my kom sê die woorde uit “Die Stem” in ons nasionale lied is neutraal en praat nie apartheid goed nie – wat terloops waar is. Saam met die marsmusiek wat die ou volkslied tipeer, laat dit geen twyfel nie oor waar dit vandaan kom.

Ek is ’n wit Afrikaner. Ek wéét wat “Die Stem” beteken, waarvan dit ’n simbool is. Ek het dié deel van ons nasionale lied self nog nooit gesing nie. Ek vind dit aanstootlik.

As die idee was dat wit en bruin burgers in die lied erkenning moet kry, wat ek ondersteun, hoekom moet dit via die apartheidsvolkslied gebeur?

Ons wil vir swart en bruin landgenote sê ons is hier, ons is deel van julle, en ons doen dit deur die apartheidslied in herinnering te roep?

As ons nuwe Afrikaanse (en Engelse) woorde gebruik en “Die Stem” se melodie laat gaan, kan ek jou waarborg dat al die swart en bruin Suid-Afrikaners wat vandag beswaar het, dit geesdriftig gaan saamsing. Dan is dit weer ’n nasionale lied.

Die ideaal sou natuurlik wees as partye wat die meeste wittes verteenwoordig, die DA en die Vryheidsfront Plus, die inisiatief neem om ons nasionale lied te verander. Watter gebaar van versoening sal dit nie wees nie.

Maar ek hou nie my asem op nie.


Image: ANGELA TUCK

Willem Kempen | Egte Franse polonie, bedien in ’n egte SA Braaibroekie

Ons het begin bymekaarmaak aan die eerste pakkie wat ons oor die water gaan stuur vir ons oudste kind, wat in Februarie in 'n commune aan die Franse Riviera as au pair begin werk het. Hoofsaaklik dinge wat sy nie daar maklik in 'n winkel kan opspoor nie, of wat hier veel goedkoper as daar is.

Op die lysie tot dusver is dinge soos verkouemedisyne, want in haar huishouding daar glo hulle blykbaar nie juis aan sulke goed nie. En dis duur by die naaste apteek, wat terloops nie op Maandae oop is nie.

En ook: wat ons noem brandsous, want dit kry jy nie maklik daar nie. Nie eens Tabasco nie; wat nog te sê 17 verskillende fabrikate ingewand-vernietigende peri-peri op enige supermark se rakke soos by ons.

Grootste verrassing op die lys is goeie oorfone – een paar vir haar en een vir 'n Britse vriendin wat ook in Frankryk werk en nie kon glo hoe goedkoop dit in Suid-Afrika is nie. Ja, oorfone wat in China vervaardig is en na Suid-Afrika uitgevoer is, is goedkoper in Europese geld as die identiese paar in Cannes of Londen. Go figure.

Ook in die pakkie is Peppermint Crisp, wat hier by ons vat-vat aan 'n erfenisdis is, en gewoonlik saam met die eerste hartoorplanting en die Kreepy Krauly as Suid-Afrika se grootste geskenke aan die mensdom voorgehou word. Selfs in die beste pâtisseries het hulle nog nooit van Peppermint Crisp-tert gehoor nie. Hulle weet letterlik nie wat hulle mis nie.

'n Ander Suid-Afrikaanse staatmaker, maar een wat nié die pakkie gaan haal nie, is daardie pienkerige stolling wat soms in dik skywe hier by ons as “Franse polonie" verkoop word. Ek is nie seker wat die Franse gesondig het dat dié stukkie kulinêre mistasting aan hulle land gekoppel moes word nie, want sover ek kan agterkom, is die woord “polony” 'n Engelse verwringing van die Italiaanse stad Bologna, waar dié wors van dikwels onsekere inhoud glo in die 17de eeu ontstaan het. Ek sal wel baie verbaas wees as ons Franse polonie op 'n chemiese vlak enige ooreenkomste met 'n wors uit Italië sou hê. (Dis waarskynlik nie toeval dat die Amerikaanse woord “baloney” vir polonie ook 'n sinoniem vir “bullshit” is nie.)

Maar om terug te kom by die pakkie, ons het ook gewonder watter unieke Suid-Afrikaanse item ons kan aanstuur sodat die Franse 'n beter idee van ons eiesoortige kultuur kan kry. Dis toe dat ek afkom op die Braaibroekie, gemaak van daardie wit-en-blou (en rooi, groen, swart en maroen) geruite vadoeke van 100% katoen wat mens in al wat Suid-Afrikaanse kombuis is sal aantref.

Wat 'n skitterende idee. Nou kan jy terselfdertyd elegant geklee wees én enige tyd jou hande afvee terwyl jy kos maak. En as jy langs die swembad staan en braai, is dit sommer ook 'n natlappie, daardie ander konsep waarmee die res van die wêreld sover ek weet nie juis vertroud is nie. Vatlappie, vadoekie, waslappie, natlappie, alles in een.

Ek gaan sommer ook voorstel dat my kind daar by Jan se restaurant in Nice 'n draai gaan maak om te hoor of hy nie dalk Braaibroekies vir sy kelners wil aanskaf nie – kan daar 'n beter uitrusting wees as hy dalk eendag egte Franse polonie uit Suid-Afrika aan sy klante wil voorsit?


These poems
they are things that I do
in the dark
reaching for you
whoever you are
and
are you ready? 

June Jordan

(Uit: “These poems”)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.