’n Twaalfde landstaal, nuwe banknote en ander verhale wat...

DONDERDAG MET DEBORAH

’n Twaalfde landstaal, nuwe banknote en ander verhale wat soms waar word

WILLEM KEMPEN dink Thapelo Amad as burgemeester van Afrika se rykste stad was 'n bedekte seën, DEBORAH STEINMAIR verkies soms 'n goeie storie bo een wat waar is, en soos altyd is daar vyf goed wat jy vandag wil weet.

Goeiemôre!

1. Banknote en muntstukke met nuwe ontwerpe sal van vandag af in die land in omloop wees, het die Suid-Afrikaanse Reserwebank aangekondig.

2. Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) word eersdaags Suid-Afrika se 12de amptelike landstaal wanneer pres. Cyril Ramaphosa die 18de wysiging aan die Grondwet bekragtig.

3. Die Russiese regering sê Dinsdagaand se aanval deur twee dreuntuie op pres. Vladimir Putin se woning in die Kremlin was 'n sluipmoordpoging deur Oekraïne, wat dit ontken en “geen kennis daarvan dra nie". Sover bekend is niemand in die aanval beseer nie.

4. Regter Motlholo Khabisa het die borgtogaansoek van dr. Nandipha Magudumana en haar medebeskuldigdes tot 11 Mei uitgestel.

5. 'n Polisiesersant van iets in die 40 is gisteroggend in die landdroshof in Motherwell in Gqeberha doodgeskiet waar hy as hofordonnans diens gedoen het. Sy vuurwapen is glo van hom afgeneem voordat hy geskiet is, maar verdere besonderhede was teen gistermiddag nog nie bekend nie.


Weersake

Daar is waarskuwings oor ’n hoë brandgevaar oor dele van  Noordwes, die Noord-Kaap en die Vrystaat. Die grootste deel  van die land kan geïsoleerde buie en donderbuie verwag, met ligte reën in dele van die Wes- en Oos-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 27°C • Johannesburg 25°C • Rustenburg 28°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 21°C • Durban 28°C • Howick 28°C • Bloemfontein 27°C • Polokwane 25°C • Upington 30°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 24°C.


Willem Kempen | Iets is fout met ’n proses wat Phalatse nie verkies kry

Are those our councillors walking out?" het 'n verbaasde Panyaza Lesufi volgens News24 gevra toe 'n groepie ANC's uitgestap het uit die raadsaal tydens Maandagmiddag se spesiale sitting om 'n nuwe burgemeester vir Johannesburg verkies te kry.

Wel, ja, dit was inderdaad ANC's wat uitgestap het. Selfs hulle het nou genoeg gehad van die party se provinsiale voorsitter se strategie om die EFF en ander minderheidspartye te gebruik om die ANC in beheer van die stad te hou. Want, sê die rebelle, Lesufi se toenadering tot die EFF is strydig met die ANC se verklaarde beleid oor koalisies.

Die voorwaarde vir die EFF se voortgesette steun is dat iemand uit een van die klein partytjies wat rondhang in die flatuswolk onder die ANC se rokspante as burgemeester aangewys moet word.

Maak so, sê Lesufi. Nee, sê die ANC-raadslede nou, want dis strydig met wat die nasionale uitvoerende komitee gesê het ons moet doen. Nou moet Fikile Mbalula – heel moontlik een van die opposisie se sterkste wapens in volgende jaar se verkiesing – uit Luthulihuis ingryp om die ANC se binnegevegte te probeer stopsit.

Die uiteinde van alles was dat ná ure se uitstel en besluiteloosheid die raadslede steeds nie kon stem oor 'n nuwe burgemeester nie.

Dalk was die kortstondige burgemeesterskap van Thapelo Amad van Al Jama-ah die beste ding wat kon gebeur het, want jy moet reddeloos in jou eie dermkanaal vasgevang wees om nie te besef het op watter fiasko dié man afgestuur het nie. En nou wil die EFF sowaar Amad se partygenoot Kabelo Gwamanda op die ANC's afdwing. G'n wonder hulle het uitgestap nie.

Ek wonder of enigiemand dr. Mpho Phalatse van die DA sou kon klop as die mense van Johannesburg regstreeks en individueel kon kies wie hulle burgemeester moet wees; as die demokratiese proses nie 'n kronkelpad tussen partybelange en persoonlikhede en komplekse kompromieë en ideologiese fiksasies deur hoef te geloop het nie.

Dink net, 'n burgemeester wat gewild en bekwaam en welsprekend is en verstaan hoe om die rykste stad in Afrika – darem nog – te bestuur sodat die boeke klop, water en elektrisiteit vloei, stukkende goed herstel en vullis verwyder word soos dit moet. Dis mos nie onmoontlik nie, of is dit?


Image: ANGELA TUCK

Soetklinkende sprokies

Ek is ’n fiksieleser. Ek hou nie daarvan dat feite ’n goeie storie pootjie nie. Ek hou nie van daardie mense wat jou in die helfte van ’n lekker vertelling in die rede val nie en sê: “Nee, dit was eintlik 450 meter eerder as 400.”

Maar soms ontdek jy dat iets wat jy nog altyd as die heilige waarheid aanvaar het, eintlik versinsel is.

Ek lees ’n ontstellende storie oor die Taj Mahal: Hierdie lieflike gebou voor wie prinses Diana en vele ander romantiese siele geposeer het, is glo nie werklik die durende monument van ’n man se onsterflike liefde vir sy gestorwe vrou nie. Ene Pujya P.N. Oak het ’n boek daaroor geskryf: Taj Mahal, The True Story. Volgens hom is dit ’n Hindoe-tempel gewy aan lord Shiva wat deur die Moslem-wewenaar Shah Jahan oorgeneem is as grafkelder vir sy vrou. Hulle pragtige liefdesverhaal is glo ook sprokie en verdigsel.

Die storie was dat die gebou se naam ontleen is aan die gestorwe vrou, Mumtaz Mahal. Behalwe dat dit nooit haar naam was nie. Dit was Mumtaz-ul-Zumani. Daar is blykbaar bewyse dat die Taj Mahal eeue ouer is as Shah Jahan en rekords uit die jare ná Mumtaz se dood maak geen melding van die oprigting van die struktuur nie. Argitektoniese elemente bewys ook glo duidelik dat die gebou ’n Hindoe-tempel eerder as ’n Moslem-mausoleum is. Daar is foto’s ter stawing. Jy kan dit hier gaan lees.

Ek voel steeds die oorspronklike storie was mooier.

Daar is webwerwe wat historiese mites ontluister. So het Marie Antoinette blykbaar nooit gesê: “Laat hulle koek eet” nie. Hierdie sin is glo lank voor haar tyd al aan verskillende historiese figure toegedig. Blykbaar was daar ’n grootskaalse veldtog van verdagmaking en disinformasie teen die arme vrou, wie se kop uiteindelik gerol het.

Ek het weer gedink oor fopnuus toe ek Justice Malala se boek The Plot to Save South Africa lees. Ek skryf in Vrydag se koerant daaroor. Chris Hani, wat vrede nagestreef het, se beeld is berekend beswadder deur die Natte, wat kommuniste bo alles gevrees het. Vele leuens is oor hom versprei, soos dat hy geweld aangewakker het; dat hy en Winnie Mandela besig was om ’n weermag op die been te bring. Soos Steve Biko is hy verdag gemaak en om die lewe gebring.

Ons kla oor die regering se korrupsie, maar as jy hierdie boek lees, sal jy sien – as jy dit nog nie geweet het nie – dat die vorige regering min of meer net so psigopaties soos Vladimir Putin was; gemene, geslepe liegbekke, moordenaars en toesmeerders wat Sondae vroom in die kerk gesit het.

Daar is vele weergawes van die geskiedenis. Ons moet ten minste verskillende kante van die saak lees en vir onsself dink. Ons is lief vir ons illusies en vir mooi stories wat ons aan die slaap sus. Maar dikwels is dit disinformasie wat ons gevoer is en wat ons vir soetkoek opgeëet het.

Daarom is ’n vrye pers so belangrik. Lees wyd en weeg die feite.


die huisboeke

dankbaar, so dankbaar dat julle stil
en strenges toegewyd op my gewag het

terwyl ek rondgefoeter het in heidenlande
ver van hier,
en as dit nie vir hannah was nie,
weggevee was in die middernag
by labuleng

slapeloos om drie vou ek julle oop: weer
sif daar perkamenterige ster-
jasmyntjies op my neer

− Petra Müller

(Uit: rondom die gedagte van geel)

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.