Onverbonde aan die werklikheid

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Onverbonde aan die werklikheid

Die regering práát onverbonde, maar hy dóén nie onverbonde nie, skryf MAX DU PREEZ. MERCY KANNEMEYER sê kinders is erger as tatoeëermerke. En daar’s vyf dinge wat jy vandag wil weet.

Goeiemôre

1. John Steenhuisen van die DA het te velde getrek teen voorgestelde rasseteikens in die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming, wat vir kommentaar gepubliseer is. Steenhuisen het gesê die wet teiken veral bruin en Indiër-werknemers, en dat dit 'n “nuwe laagtepunt" vir die ANC verteenwoordig, berig News24. Die DA beoog om die wet in die Konstitusionele Hof te beveg.

2. 'n Forensiese ondersoek dui op 'n gekonkel met die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, se PhD in openbare administrasie, berig News24. Mabuyane het ontken dat daar enige onreëlmatighede was.

3. Drie veiligheidswagte van Fidelity het in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn in verband met 'n transitorooftog verlede week waarin twee voertuie van die maatskappye van tot soveel as R10 miljoen beroof is.

4. Türkiye sal waarskynlik op 28 Mei weer na die stembus gaan vir 'n tweede ronde van die land se presidentsverkiesing. Dis omdat die  dienende pres. Recep Tayyip Erdoğan nie die vereiste 50% van die stemme kon kry nie teen Kemal Kilicdaroglu, die kandidaat van ses verenigde opposisiepartye. Met meer as 99% van die stemme getel het Erdoğan 49,4% en Kilicdaroglu 44,96% van die steun gehad.

5. Sowat 200 000 Somaliërs in die sentrale gedeelte van die land is deur vloedwaters gedwing om hulle wonings te ontruim nadat die Shabelle-rivier sy walle oorstroom en paaie onder water gelaat het, berig AFP.


Vandag se weer

Oggendmiskolle oor die grootste deel van die land. Gauteng, Mpumalanga, Noordwes en dele van Limpopo en die Vrystaat deels bewolk tot bewolk met geïsoleerde buie en donderbuie. Warm in die Laeveld. Noord-Kaap sonnig en koel tot warm. Wes-Kaap sonnig tot deels bewolk en koel tot warm. Oos-Kaap sonnig en koel tot koud. KZN deels bewolk in die noorde met geïsoleerde buie en donderbuie langs die kus aanvanklik, andersins sonnig en koel. Winderig in Noord-Kaap, en langs Wes- en Oos-Kaapse en KZN-kus.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 18°C • Johannesburg 16°C • Mahikeng 23°C • Mbombela 19°C • Kaapstad 18°C • Durban 22°C • Kimberley 19°C • Bloemfontein 19°C • Polokwane 19°C • Upington 24°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 20°C.


Max du Preez | Die militêre stert swaai die Cyril-hond

Hoe luider die ANC-regering protesteer dat hulle “onverbonde” is en nie die kant van Rusland oor die oorlog in Oekraïne vat nie, hoe meer weerspreek hulle dade dit.

Het die weermag en die departement van verdediging nou die stert geword wat die hond swaai?

Is pres. Cyril Ramaphosa in beheer van wat dié entiteite doen en sê, of is hulle besig om hom te ondermyn? Is hier dalk sprake van ’n buitelandse-beleid-coup?

Net ’n paar uur voordat dit gister bekend geword het dat die hoof van die leër, genl. Lawrence Mbatha, tans met ’n weermagafvaardiging in Moskou is om “samewerking en interaksie” tussen die twee weermagte te bespreek, het Ramaphosa in sy presidensiële nuusbrief weereens verklaar dat Suid-Afrika nie oor die oorlog kant kies nie.

Hy het verder gegaan as dit en selfs kritiek op Rusland se inval in Oekraïne geïmpliseer: “As a country, we are committed to the articles of the United Nations Charter, including the principle that all members shall settle their international disputes by peaceful means. We support the principle that members should refrain from the threat or use of force against the territorial integrity or political independence of other states.”

Ramaphosa se brief was duidelik daarop gemik om die hitte uit die woordestryd tussen Suid-Afrika en Amerika te haal, want sy minister van finansies het aan hom verduidelik wat dit die Suid-Afrikaanse ekonomie in ’n tyd van ernstige krisis gaan kos as die Amerikaanse regering gunstige handelsooreenkomste beëindig en die res van die Weste en ander Navo-lande Suid-Afrika nie meer as ’n goeie vennoot in Afrika sien nie.

En nou moet hy skielik aan Washington, Londen, Parys en Berlyn – én Kyiv – verduidelik wat sy leërhoof in die Kremlin maak.

Geen redelike Suid-Afrikaner sou wou hê dat Suid-Afrika ’n vyand moes maak van Rusland omdat hulle die aggressor in Oekraïne is nie, en ook nie ontken dat daar baie sterk argumente is vir Suid-Afrika en ander lande om ’n blok buite die magstryd tussen die Weste, Rusland en China te vorm nie.

Maar Rusland het ’n soewereine demokrasie, ’n mede-lidland van die VN, sonder enige regstreekse provokasie binnegeval en groot dele van veral die ooste in puin gelê. Die VN en menseregte-organisasies beskuldig Rusland van oorlogsmisdade.

Dis die soort “vriend” wat jy liefs op ’n afstand hou.

Ons skuld Amerika ook niks nie. Hulle eie buitelandse beleid en vorige militêre vergrype in ander wêrelddele maak van hulle geen goeie voorbeeld om na te volg nie. Dus ook maar ’n “vriend” met ’n reukie.

Maar sonder ons handelsbande met en beleggings en finansiële hulp vanuit Amerika, die Europese Unie en ander Navo-lande sou Suid-Afrika gou een van die armste lande van die wêreld word, en daarmee saam sou ons stabiliteit verdwyn.

Dit lyk al hoe meer asof die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika hom ernstig misgis het of bloot gelieg het toe hy beweer het dat Suid-Afrika wapens aan Rusland verskaf. Dit lyk baie meer waarskynlik dat die Lady R-vragskip ammunisie vir die SANW in Simonstad kom aflaai het.

Dit is nie die kern van die saak nie. Wat wel is, is die herhaalde besoeke aan die Kremlin deur Suid-Afrikaanse kabinetslede, generaals en ANC-afvaardigings, gesamentlike militêre operasies en die gulde ontvangs van senior Russiese ministers alhier.

Wat wel tersaaklik is, is die herhaalde uitsprake deur baie senior ANC-leiers wat Navo en Amerika vir die oorlog blameer en Rusland vergoeilik.

Dit maak die amptelike neutrale posisie van Suid-Afrika ’n grap en ’n verleentheid.

Dit kan ’n baie duur grap vir gewone burgers word.


Image: ANGELA TUCK

Blomme vir Moedersdag? Nie vir my nie!

Sondagoggend (op Moedersdag) is ek vinnig by die Woolies in, want ek het toe nou lus vir poeding. In die lekkergoedry staan ’n paar mans besig om sjokolades uit te kies, seker vir hulle ma’s of susters of vrouens. ’n Paar het blomme in hulle mandjies en een staan met skoonmaakmiddels. Die een met skoonmaakmiddels is seker ’n grap, want wie wil dít nou as Moedersdaggeskenk hê? Soos wat ek die mans so staan en bekyk, val dit by my dat dit nooit ek sal wees nie.

Ek sal nooit ’n Moedersdaggeskenk kry nie. Moenie worry nie, sover my kennis strek is daar g’n fout met my voortplantingsmeganisme nie. Ek wil doodeenvoudig nie kinders hê nie. En nee, daar het niks traumaties met my gebeur wat my tot by hierdie besluit gebring het nie. Dis een van die min lekkertes van vrou-wees in Suid-Afrika – ek kan kies. En ek het gekies om eendag nie kinders te kry nie.

Die snaakse ding is dat soveel soos wat ek nie kan motiveer hoekom ek eintlik nie kinders wil hê nie, kan ek ook nie aan ’n rede dink om wel kinders te kry nie. Dis nie dat ek nie van kinders hou nie, ek wil hulle net nie hê nie. Dis ’n lewenslange commitment, dis erger as tattoos! Tattoos kan jy nog gaan verwyder as jy nie daarvan hou nie, maar jy kan nie jou kind verwyder as jy daai kind klaar in die lewe gebring het nie. Mense spot my en sê ek is net nog 28 jaar oud, ek sal nog van plan verander. Ek twyfel sterk.

Iemand het by geleentheid gevra of daar iets in my grootwordjare verkeerd geloop het dat ek nie kinders wil hê nie. Haha. Daar het absoluut niks dramaties foutgegaan nie. My pa het my ’n keer of wat by die crèche vergeet, maar gelukkig was my crèche-juffrou een van die vroue wat ’n ma-rol in my lewe gespeel het, so daai letsel het ek lankal laat gaan. By ’n ander geleentheid het ek in ’n waskom vol water beland en moes die dokter iets aan my oortjies doen, maar ook dié situasie het my nie veel skade aangerig nie. My ouers het elke aand seker gemaak ek en my broer weet hulle het ons lief.

Ek was nog altyd omring deur vroue wat sterk ma-rolle in my lewe vertolk het. My eie ma, Maria, my oumas, my anties, my juffrouens, dosente, mentors en vriende soos René van Rooyen, Kabous Meiring, Martie Meiring, Saartjie Botha en Lee-Ann van Rooi.

Daar is mense wat gemaak is vir ma-wees, en dan is daar mense wat net weet dié gig is nie vir hulle nie. Ek praat nou nie hier van die vroue wat graag ma’s wil wees, maar nie kan nie. Bless julle. Hier praat ek van myself. Autonomy oor my liggaam. Die geskenk wat ek het om my vrye wil uit te leef.


Dooiwater

Ek swenk weg van die mooi sekerte van lyne en sink
in 'n onverskilligheid van skakerings want donkerte

regeer in my gemoed, want dis dooiwater,
want swartmosseltande tussen koponderstebo

bamboese lag in my slaap, groeperings godverlatenheid.
Want diep in hierdie skets wat ek meen te wees,

spoel die vertroebeling van redenasie en houding.
Ek moet oplos. Want donkermaan is my siel.

– Wilma Stockenström

(Bron: Ou LitNet)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.