Gasvrye mans, woedende Trumpetters en ander onaangename reuke

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Gasvrye mans, woedende Trumpetters en ander onaangename reuke

MERCY KANNEMEYER skryf oor mense wat in die bek geruk moet word, WILLEM KEMPEN sê die helde kom nie altyd eerste nie, en soos van gister af is daar vandag weer sewe goed wat jy wil weet.

  • 13 Junie 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre

1. Meer as 100 ANC-lede in KZN, insluitende die streeksleier en voormalige raadslid Thami Sithole, het na die DA oorgestap.

2. Twee sokkerafrigters is Sondag net ná 'n wedstryd op die Lingelethu-sportveld in Site C in Kaapstad doodgeskiet. Die een is geïdentifiseer as Michael Lukubeni, en die ander oorledene se naam is nog nie bekend gemaak nie. Die polisie sê volgens ooggetuies het meer as een skieter die mans genader en in die kop geskiet. Die motief is onbekend.

3. Gaan Ace Magashule sy eie party stig, gaan hy by sy ou kameraad Carl Niehaus se Areta aansluit, of staan sy kop soos dié van 'n ander ou ANC-kameraad, Mzwanele Manyi, EFF se kant toe? Magashule is gister uit die ANC geskop nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy die party se beeld skade berokken het toe hy verlede jaar onregmatig die president van die party, Cyril Ramaphosa, uit die party “geskors” het. Hy kan nog appelleer.

4. Vegan-mans laat sewe keer meer gasse anaal vry (om die platvloerse p-woord te vermy) as mans wat ook vleis eet. Maar dit is nie op sigself 'n slegte ding nie, dalk net vir mense wat saam met hulle leef: Hulle ingewand-bakterieë is gesonder as vleiseters s’n. “Our Western idea that farting is a sign of something being wrong is totally false," sê Rosemary Stanton van die University of New South Wales in Sydney aan die tydskrif New Scientist. “Farting is a sign of a healthy diet and a healthy colon."

5. Ondersteuners van Donald Trump het gister wild op sosiale media tekere gegaan en met geweld gedreig wanneer hy vandag in Miami in 'n hof op 37 federale aanklagte oor geheime dokumente in sy besit in die hof moet verskyn. “MAGA will make Waco look like a tea party,” het iemand op 'n regse platform bekend as The Donald geskryf. Die Republikeinse kongreslid Andy Biggs het aan sy 730 000 Twitter-volgelinge getweet: “We have now reached a war phase. Eye for an eye.”

6. Die omstrede en flambojante voormalige Italiaanse premier Silvio Berlusconi is dood. Hy het die politiek, sport, vermaak en media 50 jaar lank oorheers en was herhaaldelik in siviele en strafregtelike hofsake betrokke. Hy was 'n sanger op 'n plesierboot voordat hy 'n politikus geword het.

7. Die ANC is toe nie Vladimir Putin se enigste buitelandse vriend nie. Die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-un, het gister in 'n boodskap aan die Russiese president gesê hy sal Putin se hande vashou en die strategiese samewerking tussen die twee lande versterk omdat hulle 'n gedeelde ideaal het om 'n magtige staat te bou.


Daar is waarskuwings oor sterk en skadelike wind in Kaapstad en die Overstrand vandag, asook langs die kus tussen Saldanhabaai, Kaap Agulhas en Mazeppabaai in die Oos-Kaap. Dan is daar ook die kouefront wat oor die Wes- en Noord-Kaap beweeg met laer temperature wat tot in die Oos-Kaap verwag kan word. Verder noord sal dit meestal koel wees, en deels bewolk in Mpumalanga en die Vrystaat.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 17°C • Johannesburg 16°C • Mahikeng 17°C • Mbombela 22°C • Kaapstad 14°C • Durban 22°C • Kimberley 14°C • Bloemfontein 13°C • Polokwane 22°C • Upington 15°C • Gqeberha 20°C • Oos-Londen 20°C.


Willem Kempen | Soms is die helde die mense wat die vullis verwyder

'n Paar jaar gelede bel 'n kollega van my by 'n sakeblad vroeg een oggend 'n prominente mynbaas om sy kommentaar op 'n storie te kry. Nee, sê sy vrou, hy sal jou nounou terugbel, hy het net gou die vullissakke gaan uitsit.

Daar is hoop vir die land, dag ons toe, as selfs die captains of industry soms nog self die vuilgoed moet uitvat soos die res van ons.

Ek dink aan sulke mense as helde, want ons het nodig dat die bestes en slimstes onder ons ook bereid is om hulle hande vuil te maak of op te offer sodat dinge gedoen kom. Soos die nuwe burgemeester van Kathu, Henriëtte du Plessis, wat haar gehuurde ampsmotor verruil het vir twee bakkies wat gebruik kan word om die munisipaliteit se werk gedoen te kry. 

Of Marlene van Staden, in lewe burgemeester van Modimolle, oor wie Piet Croucamp Sondag vertel het hoe sy self gaan kyk het of die township se padstrepe geverf is soos dit moet.

Bo: Ashleigh Buhai. Onder links: Johannes Mosehla. Onder regs: Brad Binder.
Bo: Ashleigh Buhai. Onder links: Johannes Mosehla. Onder regs: Brad Binder.

Daar was die naweek 'n paar sporthelde ook, en ook nie net die wenners soos Tete Dijana en Gerda Steyn in die Comrades nie. Mense soos Johannes Mosehla, wat op 81-jarige ouderdom die oudste mens geword wat al dié moordende ultramarathon kon klaarmaak. Dis twee jaar ouer as wat die legendariese Wally Hayward was toe hy in 1988 die vorige oudste atleet was wat kon klaarmaak. Mosehla se tyd van 9:26:10 plaas hom boonop gemaklik in die vinnigste helfte van al Sondag se deelnemers. En Makashule Gana van Rise Mzansi wat sy vierde Comrades klaargemaak het.

Spoed van 'n ander soort was van Brad Binder, die Suid-Afrikaanse motorfietsheld wat in Sondag se Italiaanse MotoGP met 'n vierde plek tevrede moes wees, maar vroeër die naweek 'n nuwe wêreldrekord opgestel het vir die hoogste snelheid wat al in dié formule aangeteken is: 'n verbysterende 366,1 km/h – nie op 'n reguit stuk pad nie, maar op 'n baan waar daar 'n draai voor is waarvoor jy weer moet rem ...

Op die gholfbaan het die 34-jarige Ashleigh Buhai Sondag haar segetog voortgesit deur die ShopRite LPGA Classic in Galloway, New Jersey, met een hou te wen. Oor daai meesterlike sethou van haar het sy gesê: “That putt on five was a ‘Hallelujah’, and I was like, ‘Those things need to happen for you to win.'”

Dalk het die land ook 'n bietjie luck nodig, en hier en daar is daar tekens dat die gety begin draai het. Nou moet ons net eers die vullis uitvat, dan kan ons weer begin vorentoe kyk.


Waar is die onvoorwaardelike liefde?

Dit is hoog tyd dat iemand vir Gretha Wiid goed in die bek ruk. Hoe op dees aarde, in die jaar van ons Heer 2023, kom mense nog met hulle homo- en transfobiese gedrag weg?! Onder watter holier-than-thou klip leef mense soos Gretha dat hulle dink hulle is geregtig op hulle ongrondwetlike opinies?

As jy sosiale media oor die afgelope twee weke dopgehou het, sou jy sien dat daar weer heelwat teen die LGBTQIA+-gemeenskap uitgevaar is. Woolworths se Pride-reeks. Die reënboog-sebra-oorgang in Kaapstad. Die EFF wat die homofobiese prof. Patrick Loch Otieno Lumumba as spreker na een van die party se tienjaar-herdenkingsfeesvieringe genooi het.

Aanvanklik het ek net my oë gerol, want die heen-en-weer-gebakleiery op sosiale media is geweldig vervelig. Hiermee sê ek nie ons moet die homo- en transfobe net los nie; ek sê net ek is nie so seker of ons hulle nog enige lugtyd en breintyd moet gee nie. Natuurlik wil ’n mens die goeie stryd stry en die anti-LGBTQIA+-spanne op hulle plek sit, maar ek’s bevrees ons gaan onsself moeg maak. Wat nuuts kan ’n mens nog oor die hele situasie sê? Hoeveel mense moet nog doodgaan voor ons ophou diskrimineer?

Wat my verstand totaal en al te bowe gaan, is hoedat die sogenaamde Christene wat van onvoorwaardelike liefde preek, nie daai einste onvoorwaardelike liefde vir hulle medemens kan wys nie. Hulle is ook die tipe wat die Bybel selektief lees. En hier gee ek nie voor dat ek my Bybel van hoek tot kant, Genesis tot Openbaring, ken nie, maar ek weet darem dat God gesê het jy moet jou medemens liefhê soos jouself. Deur te diskrimineer en vinger te wys na ander se sogenaamde “sonde” is jy nie besig om jou medemens lief te hê soos jouself nie; jy verontagsaam die grootste gebod! Wat my verstand verder te bowe gaan, is hoe sommige Christene maak asof sommige “sonde” groter as ander is. Daai einste mense wat maak asof hulle daar was die dag toe Jesus gekruisig is, kyk verby dinge soos gesinsgeweld, rassisme en ongelykheid. Hulle staar vir hulle blind vas teen gay-wees. Julle is boring. En boonop verkeerd.

Katedraal van St John the Divine in Manhattan vier Pride Month.
Katedraal van St John the Divine in Manhattan vier Pride Month.

Nee o donner. Só sal ons nie kan aangaan nie. Mense soos Gretha Wiid en prof. Lumumba hoort agter tralies. Het iemand hulle al by die Menseregtekommissie gaan aankla? In ’n progressiewe land soos Suid-Afrika moet ons geen, maar géén, verdraagsaamheid aan homo- en transfobe meer wys nie. Ja, ons land het sy kak, maar die Grondwet is daar om die gemarginaliseerdes en kwesbares te beskerm. Ons gaan nie in ’n debat oor die Grondwet en die regstelsel klim nie. Die punt is, daar moet opgetree word teen enigiemand wat in 2023 nog dink hulle gaan wegkom met hulle ongrondwetlike uitsprake omdat hulle vir hulle kwansuis met die volle wapenrusting beklee. Nee. One misstep, and you’re out.


The Weather-Cock Points South

I put your leaves aside,
One by one:
The stiff, broad outer leaves;
The smaller ones,
Pleasant to touch, veined with purple;
The glazed inner leaves.
One by one
I parted you from your leaves,
Until you stood up like a white flower
Swaying slightly in the evening wind.

White flower,
Flower of wax, of jade, of unstreaked agate;
Flower with surfaces of ice,
With shadows faintly crimson.
Where in all the garden is there such a flower?
The stars crowd through the lilac leaves
To look at you.
The low moon brightens you with silver.

The bud is more than the calyx.
There is nothing to equal a white bud,
Of no colour, and of all,
Burnished by moonlight,
Thrust upon by a softly-swinging wind.

– Amy Lowell

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.