Tiek, tok, loer en woer, luister mooi as sy ‘Toyota’ koer

DONDERDAG MET DEBORAH

Tiek, tok, loer en woer, luister mooi as sy ‘Toyota’ koer

DEBORAH STEINMAIR verduidelik hoekom sy nog altyd verkies het om die goeie nuus eerste te hoor. WILLEM KEMPEN skryf oor die ANC se grandiose planne met die Nasionale Gesondheidsversekering. En daar is sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 15 Junie 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

1. Daar was tussen Januarie en Maart vanjaar 1 556 moorde in Gauteng, het lt.genl. Elias Mawela, provinsiale polisiekommissaris, aan die wetgewer in Johannesburg gesê. Dit is 153 meer as die getal wat in dieselfde tydperk verlede jaar aangeteken is, hoewel die 2 168 aangemelde verkragtings ’n afname verteenwoordig.

2. Drie Suid-Afrikaanse vliegskole verskyn op ’n Amerikaanse sanksielys omdat hulle glo Chinese vegvlieëniers met behulp van Westerse of Navo-hulpbronne oplei, wat strydig met die VSA se nasionale veiligheidsbelange sou wees. Hulle is die Test Flying Academy of South Africa, Pearl Coral 1173 CC, en die AVIC International Flight Training Academy.

3. Swaar reën het op verskeie plekke in die Boland tot oorstromings en skade aan brûe en paaie gelei.

4. Sakelui se vertroue in die land se ekonomie het in Mei skerp gedaal, volgens die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (SAKKN) se indeks wat gister bekendgemaak is. Die indeks het in Mei met 10,4 indekspunte tot 106,9 gedaal nadat dit in Desember nog 117,3 was, het Netwerk24 berig.

5. Busisiwe Mkhwebane, geskorste openbare beskermer, mag haar nie tot die Konstitusionele Hof wend om aan te voer waarom sy toegang moet hê tot onbeperkte staatsfinansiering van haar regskoste in die ondersoek na haar geskiktheid vir die pos nie.

6. Die appèlhof het bevind dis ongeldig en ongrondwetlik dat ’n individu sy of haar Suid-Afrikaanse burgerskap verloor as hulle burgerskap of nasionaliteit van ’n ander land verkry deur ’n vrywillige en formele handeling afgesien van ’n huwelik. Ingevolge bestaande wetgewing moes burgers eers toestemming van die minister van binnelandse sake kry om hul burgerskap in so ’n geval te behou.

7. Die Europese parlement het begin met gesprekke oor die wêreld se eerste omvattende reëls oor kunsmatige intelligensiestelsels soos ChatGPT. Op die gouste sal so ’n wet egter eers teen 2026 in werking kan tree, wat beteken dat die EU intussen oor vrywillige regulasies met tegnologiemaatskappye sal moet onderhandel.


Nóg waarskuwings is uitgereik oor swaar reën wat tot oorstromings kan lei oor die suidelike Weskus, Overberg en veral oor Kaapstad en die Kaapse Wynlande. Daar is waarskuwings oor sterk wind wat vandag dele van die Wes-, Noord- en Oos-Kaap kan raak. Sonnige weer word vir die noorde van die land voorspel.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 20°C • Johannesburg 19°C • Mahikeng 20°C • Mbombela 26°C • Kaapstad 15°C • Durban 23°C • Kimberley 17°C • Bloemfontein 15°C • Polokwane 24°C • Upington 19°C • Gqeberha 18°C • Oos-Londen 19°C.


Willem Kempen | Die plek waar nasionale gesondheidsversekering (dalk) sal werk

Dis moeilik om ’n ander verklaring te vind vir die ANC se bisarre haas om staatsgedrewe mediese versekering op die wetboeke te kry as dat dit ’n desperate poging is om met volgende jaar se verkiesing darem iets te hê wat as ’n suksesverhaal aan kiesers voorgehou kan word.

Maar selfs as die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), of wat dit ook al teen daai tyd gaan heet, wel die dag deur die president van die land bekragtig word, gaan so ’n stelsel volgens die regering se eie erkenning minstens 14 jaar vat om ten volle in werking te stel. ’n Meer realistiese verwagting, met inagneming van hierdie regering se geskiedenis, is twee of drie keer so lank, indien ooit.

Soos dikwels die geval is, is daar niks fout met die regering se verklaarde doelwit met so ’n stelsel nie: toegang tot beter en goedkoper gesondheidsorg vir ’n groter deel van die land se mense. (Dalk sommer ook wêreldvrede teen volgende Woensdag.)

In ’n ander konteks sou mens kon sê die pad hel toe is met goeie bedoelings geteer, maar in die ANC se geval is daardie pad nooit gebou nie, want een of ander minister se vrou se maatskappy het die tender gekry en dié sit in Dubai en leef van die rente. Of die pad ís gebou, maar is vol gate wat nooit reggemaak word nie. Of die pad is na die verkeerde hek van die hel gebou, of die roete is uiteindelik drie keer langer as wat nodig was sodat iemand se ampsmotor nie te veel beskadig word op pad na sy huisie by die see nie.

Géén stelsel, maak nie saak hoeveel meriete dit dalk op papier het, kan suksesvol wees as dit bedryf word deur mense met die tipiese ANC-mentaliteit nie.

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, het in sy toespraak in die parlement toegegee dat bekostigbaarheid en “fears of corruption and mismanagement” die grootste struikelblokke in die pad van ’n suksesvolle NGV is, maar ook dat “not all public hospitals have been run like Tembisa Hospital”.

Genadiglik nie, maar hy sou ook kon verwys het na Life Esidimeni, of Digital Vibes, of die kamtige “Covid-medisyne” wat die weermag vir miljoene rande by Kuba gekoop het, en, en, en ... En ons dan sommer ook vertel hoeveel korrupte amptenare in enige van hierdie gevalle voor stok gekry en gestraf is, en hoeveel van hulle nog in presies dieselfde poste sit waar hulle steeds met feitlik enigiets wegkom. En waar hulle teen volgende jaar dalk die NGV sal moet maak werk.

Dit sal goed wees as die minister eers werk maak van dié soort ding, en om toe te sien dat die basiese dinge beter gedoen word by die staat se eie hospitale en klinieke, as om grandiose planne op almal af te dwing wat op net een plek ’n kans het om te werk: verkiesingsplakkate.

En selfs daar is dit nie ’n uitgemaakte saak nie.


‘White Noise’ en TikTok

Nou die nag, toe die aardbewing in Boksburg ons kasdeure laat ratel, dink ek weer aan Don DeLillo se roman White Noise. Dit is in 1985 gepubliseer. Dis bekroon en het ’n soort kultusboek geword omdat dit die tydsgees in Amerika in die 80's so knap vasgevang het: die verbruikersidille, massamedia en sterflikheid. Die pa in daardie roman het in die nag gaan kyk of die dogtertjie nie haar komberse afgegooi het nie, toe sy in haar slaap fluister. Hy hou sy oor teen haar mond en hoor die woorde: “Toyota Celica …” Sy gesin het graag saans die TV-nuus gekyk en berigte oor natuurrampe, oorloë en katastrofes in verre wêrelddele het hulle veilig en knus laat voel. Solank dit ver van ons af is.

Image: ANGELA TUCK

Nou kan niemand meer knus en veilig voel nie, want dit gaan nêrens meer rustig nie, nie hier nie en ook nie in verre lande nie. Boonop is geen land meer so ver of woes geleë nie, noudat die wêreld ’n dorp geword het. Ondersese en ondergrondse kabels en bogrondse torings hou dag en nag aan sein. Baie van ons het ook familielede in die buiteland en belê dus persoonlik in wat oorsee gebeur. Ek het gisternag van Putin gedroom.

Ek het nog altyd gekies, as ek ’n keuse gehad het, om eerste die goeie nuus te hoor, sodat dit my kan versterk teen die aanslag van die slegte nuus. Toe ek ’n kind was, het Riaan Cruywagen dikwels saans in die TV-nuus ’n snaakse brokkie vir laaste gebêre sodat hy met ’n skalkse glimlag kon groet. Die verlede is, soos Eben Venter oor plaasherinneringe sê, besmet. Dit was alles leuens.

Image: ANGELA TUCK

Al hoe minder jongmense stel nog belang om die nuus te lees, luister of kyk. Dis eenvoudig ’n gemoedsbekakking, dis vreesaanjaend en dit skep stres in elke sel van jou lyf. Hulle verkies om grappige brokkies op TikTok te kyk. Dis veel gewilder as nuus. TikTok is ’n perd van ’n ander kleur. Vanoggend het ek gekyk hoe iemand ’n traan pink oor haar ouma se gehekelde toiletoortreksel en dit was snaaks en roerend.

Ons is op soek na komiese verligting. As ons land ’n boek was, sou ’n mens dink: Alles kan nie net aanhoudend so sleg gaan nie – behalwe miskien as die boek A Little Life was. Daar is wel komiese verligting in die vorm van naragtige, burleske gedrag van ministers en amptenare. Maar dis ’n lag met ’n traan, soos ons hol kekkellag oor Gretha Wiid se hatigheid. Ons moet die gelag betaal.

En ons het ’n kitssamelewing geword. Alles moet vinniger, soos ons skootrekenaars en internetverbinding. Ons sien nie meer kans om te wag tot die verkeerslig na groen oorslaan nie. Oranje is ’n niemandsland wat almal van alle kante navigeer. Rooi is die nuwe oranje.

Ons het nie geduld vir lang uiteensettings nie: Gooi dit vir ons in vyf of tien bullet points. Moenie lang grappe vertel nie; dis waarskynlik politiek inkorrek of onsensitief. Deel eerder ’n kort clip. Die horlosie … TikTok.


Duiwe in ’n den

loer
woer
paar
koer

– Johan Myburg
(Uit: Narreskip)

Jy wil hierdie mense ontmoet en na hulle luister! Ons almal het hoop net so nodig soos fassinerende boekgesprekke. Bespreek nou jou kaartjies by Quicket. Sien jou daar!

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.