Plant die politieke mosterdsaadjie saam met ’n knippie...

WOENSDAG MET WILLEM

Plant die politieke mosterdsaadjie saam met ’n knippie Amerikaanse sout

Is Malatji en sy medeleiers van die ANC-jeugliga leeus of hiënas, wil MAX DU PREEZ weet. WILLEM KEMPEN skryf oor nog ’n Kennedy wie se kop Withuis toe staan. En soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 05 Julie 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiemôre


1. Die ANC steun Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, se appèl teen ’n hofbevel wat die beëindiging van die sogenaamde ZEP’s (Zimbabwean Exemption Permits) onwettig en ongrondwetlik verklaar. Die regerende party het by monde van sy eerste adjunksekretaris, Nomvula Mokonyane, aan JJ Tabane van eNCA gesê: “Ons was ’n bietjie naïef om te glo Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon. Dit werk nie vir Suid-Afrikaners nie, en ook nie vir die buurlande nie. Ons het ’n uitdaging om onwettige mynbou te hanteer; ons het ’n probleem met die dwelms.”

2. Die vermeende lede van die polisie se BBP-eenheid wat afgeneem is waar hulle drie mense langs ’n Gautengse hoofweg aanrand, is geïdentifiseer. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, wou nie aan News24 sê of die beamptes in hegtenis geneem is nie, net dat hulle “aan interne prosesse onderwerp sal word”. Die agt mans is lede van Paul Mashatile se beskermingspan, maar die adjunkpresident was glo nie teenwoordig tydens die voorval nie.

3. Greig Oliver, die 58-jarige man wat Maandag in ’n valskermsweefongeluk in Seepunt dood is, was in Suid-Afrika om sy seun, wat skrumskakel vir die Ierse o.20-span speel, te ondersteun. Oliver het in sy jongdae self vir Skotland uitgedraf en was later ’n afrigter by die Ierse klub Munster. Hy was ook ’n hulpafrigter van die Ierse o.20-span waarin sy seun speel.

4. Die SAL gaan in die boekjaar tot einde Maart waarskynlik sy eerste bedryfswins aanteken sedert 2011, het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, gesê. Dié wins gaan ’n fraksie verteenwoordig van die bykans R50 biljoen wat die nasionale lugdiens sedert daardie jaar in reddingsboeie van die regering ontvang het.

5. Vittorio Massone, wat die hoof van Bain SA was in die tyd toe die onderneming by staatskaping by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens betrokke was, werk deesdae vir ’n groot Italiaanse motorverspreidingsmaatskappy, het News24 berig. Massone se CV noem glo niks van dié skandaal nie.

6. Brittanje se National Health Service vier vandag sy 75ste bestaansjaar. Die NHS geniet groter steun onder die publiek as die koninklike familie of enige ander Britse instelling, maar is veral sedert die Covid-pandemie onder geweldige finansiële druk. Die NHS was die Westerse wêreld se eerste universele, gratis gesondheidsorgstelsel.

7. Viëtnam gaan nie toelaat dat die fliek Barbie daar wys nie omdat dit ’n toneel bevat met ’n kaart van die sogenaamde “nine-dash line” in die Suid-Chinese See. Viëtnam en China stry al jare oor wie se grondgebied dit is en oor die geldigheid van dié lyn.


Dis vandag mistig langs die platorand in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap, asook die noorde van die Wes-Kaap. Dit sal deels bewolk wees in dele van Mpumalanga, Limpopo, die noordkus van die Noord-Kaap, dele van die Wes- en Oos-Kaap, asook KwaZulu-Natal, waar geïsoleerde buie langs die noordkus verwag kan word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 21°C • Johannesburg 19°C • Mahikeng 22°C • Mbombela 20°C • Bloemfontein 19°C • Polokwane 22°C • Kimberley 20°C • Upington 24°C • Kaapstad 17°C • Gqeberha 14°C • Oos-Londen 14°C • Durban 19°C.


Max du Preez | Jong leeus of jong hiënas?

Die ANC-jeugliga is op 9 April 1944 gestig, ’n inisiatief van vier energieke jong aktiviste wat ontevrede was dat die ANC so passief en visieloos was: Anton Lembede, Nelson Mandela, Oliver Tambo en Walter Sisulu.

Dié “jong leeus” het nie nonsens van die ouballies gevat nie, en in 1949 selfs ’n mosie van wantroue in die ANC se leier, dr. Alfred Xuma, gewen en hom met dr. James Moroka laat vervang.

Die Jeugliga het ná ’n lang periode toe die ANC-leierskap in ballingskap of in die tronk was, in 1991 weer lewe gekry toe Peter Mokaba die leier geword het. Hy is deur Lulu Johnson, Malusi Gigaba en Fikile Mbalula opgevolg. In 2008 het Julius Malema die leier geword, maar hy is in 2011 uit die ANC geskop. Die ANC het die liga se uitvoerende komitee in 2013 ontbind.

Onder Mokaba, maar veral later onder Malema, was die Jeugliga ’n militante, populistiese organisasie wat in verontwaardiging, beledigings en dreigemente van geweld gespesialiseer het. Die Jeugliga was in 2007 aan die voorpunt van die veldtog om Jacob Zuma tot president te verkies en Malema het selfs gesê hulle is bereid om vir Zuma te sterf.

Op 26 Julie 2013 het Malema die Economic Freedom Fighters (EFF) gestig met meestal jonger mense en gewese Jeugliga-lede as ondersteuners.

Die Jeugliga het verlede naweek herleef nadat dit die eerste kongres in agt jaar gehou en die parlementslid Collen Malatji tot president verkies het. Dié proses is deeglik deur Luthulihuis bestuur en daar word nou beweer dat Malatji ’n marionet van die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, is.

Die ANC is weer, soos in die 1940’s, in ’n verswakte toestand en verloor met elke verkiesing meer steun.

Gaan die herstigte liga die ANC nuwe lewe gee, of bloot met die EFF meeding met radikale uitsprake en hulle eie sakke vol geld stop?

Gaan hulle jong leeus wees, of jong hiënas? EFF Lite? Of Mbalula se pionne, op soek na lekker vet poste?

Malatji het in sy eerste leierskaptoespraak al die olifant in die vertrek genoem: Malema. Julius is nie weens ekonomiese vryheid uit die ANC geskop nie, maar omdat hy ongedissiplineerd was, sê Malatji, en nou bou hy die EFF as ’n kultus rondom homself waar niemand hom mag kritiseer nie.

As ek in Malatji en sy medeleiers se skoene was, sou ek ’n robuuste veldtog begin het om die ANC van korrupsie te suiwer en te verplig om behoorlike dienste aan die armes te lewer. Dít is die werklike probleem in Suid-Afrika.

Maar Malatji en Kie is soos EFF-papegaaie: Economic Freedom or Death, was hulle slagkreet.

Dalk kan die ANC doodgewoon nie meer gered word nie.


’n Kennedy hier en ’n Alsiende Oog daar ...

Samesweringsteorieë kan nogal prettig wees. Die bestes betrek antieke geheime ordes met okkulte simbole, fabelagtige hoeveelhede geld en mag, en sinistere families of broederskappe wat al eeue lank heimlik oor ons almal regeer. En natuurlik een of ander Groot Geheim, wat die wêreld onderstebo sal keer as dit die dag uitkom.

Image: ANGELA TUCK

Die binnekring van ingeligtes sal nie huiwer om ’n sluipmoord te reël of ’n regering tot ’n val te bring of selfs ’n oorlog iewers te orkestreer om die Groot Geheim te help bewaak nie. Ten spyte hiervan hou hulle om onverstaanbare redes daarvan om oral gekodeerde leidrade oor hulle bestaan te plant sodat die Dan Browns van die wêreld dit vir ons almal kan ontsyfer. ’n Alsiende Oog hier en ’n kristalpiramide daar, en siedaar: Die storie leef voort tot aan die einde van tyd, of as die Ancient Aliens terugkeer (as hulle nie reeds hier is nie).

Die bewaking van die Groot Geheim noodsaak gewoonlik langs die pad ’n swetterjoel mindere geheimpies, en die beste samesweringsteorieë is dié wat die grotes en die kleintjies ewe maklik verklaar. Neem byvoorbeeld een van my eie gunstelinge: dat die ganse Rooms-Katolieke Kerk hoofsaaklik tot sy nou kwynende almagtigheid gegroei het danksy ’n ambisieuse projek van ’n paar invloedryke families uit die laaste reste van die antieke Romeinse era wat wou seker maak hulle rykdom en mag bly staan, kom wat wil.

Nou, my geloof in dié teorie is soos ’n mosterdsaadjie: klein en broos, maar dit gee nogtans ’n lekker smakie aan soveel dinge as jy dit in die regte sop saam in die pot gooi. In daai soort sop kan alles saamkook van die Cosa Nostra tot by die ontvoering van die Italiaanse premier Aldo Moro in 1978 tot by die bisarre dood van “God se bankier”, Roberto Calvi, in 1982. Met ’n paar eetlepels Mussolini en ’n skeut Berlusconi na smaak. En neem alles nodeloos om te sê met ’n knippie sout.

Die goue draad deur al dié dinge is geheimhouding. Hoe meer geheimhouding daar is, hoe makliker gaan die manne (en ook nie nét die manne nie) mekaar begin afdreig of beskerm as hulle mekaar se geheime begin deel. Hoeveel van die kindermolestering wat in die fliek Spotlight uitgebeeld word, sou byvoorbeeld moontlik gewees het as dit nie was vir daardie kultuur van geheimhouding nie?

Robert F. Kennedy junior
Robert F. Kennedy junior

Terselfdertyd kan mens dinge openbaar maak op so ’n manier dat dit eintlik net wys dat jy nog baie het om weg te steek. ’n Goeie voorbeeld is die tydsberekening verlede week – Vrydag om middernag – van die Amerikaanse regering se aankondiging dat sowat 1% van die amptelike dokumente oor die sluipmoord op John F. Kennedy in 1963 stééds nie openbaar gemaak gaan word nie.

Deels in reaksie op Oliver Stone se fliek JFK het die Amerikaanse Kongres in 1992 die John F. Kennedy Assassination Records Collection Act goedgekeur, waarvolgens alle inligting daaroor in die staat se besit teen Oktober 2017 vir die publiek toeganklik gemaak moes word. Tog het eers Donald Trump en sedertdien Joe Biden die wet heel teësinnig eerbiedig, en vrystellings van verdere dokumente (dikwels boonop met dele uitgehaal) is verskeie kere uitgestel op advies van die FBI, die CIA en ander nasionale veiligheidsagentskappe. Lees meer daaroor hier.

Een van die mense wat in reaksie hierop twee en twee bymekaargesit en die vierkantswortel van nul gekry het, is een van die vreemdste karakters in die Demokratiese party: Robert F. Kennedy junior. Einste hy wat al jare lank beweer die CIA het ’n hand gehad in die sluipmoord in 1968 op sy pa, die destydse prokureur-generaal wie se naam hy gekry het, én vyf jaar tevore op sy pa se broer in Dallas, Texas.

John F. Kennedy en sy vrou, Jackie.
John F. Kennedy en sy vrou, Jackie.

Goed en wel tot dusver, maar Robert junior glo ook in ’n paar ander sameswerings. Sy 2021-boek The Real Anthony Fauci: Bill Gates, Big Pharma, and the Global War on Democracy and Public Health het ’n miljoen kopieë in die VSA verkoop. Hy staan bekend as ’n “MAGA Democrat” en sy politiek is in verskeie opsigte veel nader aan dié van regses soos Roger Ailes en Steve Bannon as aan sy eie party. Boonop staan sy kop Withuis toe; minstens die vierde Kennedy met sulke ambisies.

Hy is waarskynlik nie gewild genoeg om die Ovaalkantoor te haal nie, maar hy kan dit dalk nou net dit vir die Demokrate moeiliker maak om Trump II of DeSantis I daaruit te hou. En sal dit nou nie ironies wees as ’n sameswering van meer as ses dekades gelede weer ’n rol speel in wie die volgende Amerikaanse president gaan wees nie?


Power out!

Power out! 
All dark and black ...
Fret not
Body bumps 
Hands gliding softly 
Feet and the floor 
Rug! Another rug! 
Body bumps into another 
We mesh and dance swiftly 
Away in the dark! 

– Hayley Broadway


Hierdie maand nog, vanaf 21 Julie, kuier ons in Clarens. Onthou om verblyf te bespreek en pak jou jas en serp in, want dit gaan snerpend koud wees, maar ons program is witwarm.

Kliek hier om kaartjies te bespreek.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.