Met wakker burgerlike aktivisme kan ons demokratiese aard van...

MAANDAG MET MAX

Met wakker burgerlike aktivisme kan ons demokratiese aard van nasie in stand hou

Daar is meer aan die demokrasie as net verkiesings, meen MAX DU PREEZ. En vrouesokker, -krieket en -netbal verdien beter borgskappe en meer media-aandag, sê hy. Soos gewoonlik is daar ook sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 07 Augustus 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiedag!

1. Die Golden Arrow-busmaatskappy het gewaarsku dat elkeen van hulle busse met kameras toegerus is en enigiemand wat ’n bus tydens die taxistaking in Kaapstad aanval, geïdentifiseer en vervolg sal word. Verskeie busse is reeds uitgebrand en minstens 110 strafregtelike ondersoeke na geweldpleging tydens die staking is geregistreer. Die taxibedryf staak omdat hulle kwaad is vir die Stad Kaapstad se vasberadenheid om teen onpadwaardige taxi’s en ongeregistreerde taxibestuurders op te tree.

2. ’n Senior bestuurder by Eskom het ’n huurmoordenaar R400 000 aangebied om Dorothy Mmushi, ’n forensiese spesialis wat korrupsie deur misdaadsindikate blootgelê het, te vermoor, berig News24.

3. Die debatte rondom Julius Malema se “Kill the Boer”-dreunsang duur voort. Die redakteur van City Press, Mondli Makhanya, het gister geskryf: “No Afrikaners or farmers were slaughtered as a result of the chant. It is condescending to black people and an insult to their intelligence to say that they will be inspired by a known windbag to go on killing sprees butchering white people. Sure thing, Malema should not be reciting that chant and singing those songs when he knows that a section of the population has expressed its hurt. It is juvenile of him to simply do something in order to get the predictable reaction … But those who overreact must also know that their response simply excites the juvenile in Malema. To him, angering whites is an act of defiance, no matter how infantile his actions are. A mark of his inferiority complex is the joy he derives from getting the kind of reaction he received this week.”

4. Dit is Dag 530 van Rusland se oorlog teen Oekraïne. Militêre kenners meen die Oekraïniese teenoffensief wat twee maande gelede begin het, maak min vordering. Die naweek het Rusland onder meer ’n bloedoortappingsdiensdepot met ’n missiel aan flarde geskiet, wat pres. Volodymyr Zelensky ’n oorlogsmisdaad genoem het. Oekraïne het Saterdag ’n Russiese olietenkskip in die Swartsee met ’n onbemande seetuig beskadig.

5. Studenteproteste teen die hoë bankkoste van hulle NSFAS-toelae duur by verskeie kampusse voort. Die Sunday Times berig dat die vier maatskappye wat gekontrakteer is om die toelaes aan studente oor te betaal, minstens R4,3 miljoen wins per maand daaruit maak. Dit kom onder meer uit ’n fooi van R12 vir elke oordrag, R10 vir kitsbankonttrekkings plus R2,50 vir elke R100 en R12 vir die vervanging en aflewering van ’n verlore NFSAS-kaart. Sowat 361 000 studente is op dié betalingstelsel.

6. Die Orania Beweging wil R2,6 miljoen insamel om ’n replika van die standbeeld van Paul Kruger op Pretoria se Kerkplein te laat maak om in Orania op te rig. Die beweging se hoofbestuurder, Joost Strydom, sê die Kerkplein-standbeeld is in gevaar, maar daar is vasgestel dat dit nie verskuifbaar is nie.

7. Eskom sê hy het tussen 1 en 24 Julie diesel ter waarde van R2,9 biljoen vir oopsiklusgasturbines bestee, terwyl net R1,8 biljoen vir die hele maand begroot is. Fase 1 beurtkrag duur vandag van 05:00 tot 14:00, en dan fase 4 tot 05:00 môreoggend. Môre geld fase 1 van 05:00 tot 16:00, dan fase 4 tot 00:00.


Daar is 'n waarskuwing oor 'n hoë brandgevaar in die noorde van die Noord-Kaap. Miskolle kan vanoggend in Mpumalanga en die Oos-Kaap verwag word, asook langs die Noord- en Wes-Kaapse kus. Die Wes- en Oos-Kaap is ook vandag bewolk.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 24°C • Johannesburg 22°C • Mahikeng 24°C • Mbombela 24°C • Kaapstad 20°C • Durban 23°C • Kimberley 25°C • Bloemfontein 22°C • Polokwane 22°C • Upington 28°C • Gqeberha 19°C • Oos-Londen 23°C.


Max du Preez | Sport: You go, girls!

Sport is nie net vermaak of die uitputting van fisieke energie nie. Dit het ook te make met simboliek, die kohesie van gemeenskappe, kultuur, inspirasie en trots.

In 1969 het Honduras en El Salvador vier dae lank oor sokker oorlog teen mekaar gemaak, bekend as La Guerra del Fútbol.

Daar is vele inspirerende verhale van sport wat mense uit armoede en slegte omstandighede opgehef het: boksers, atlete, swart Amerikaanse basketbalspelers, rugbyspelers soos Makazole Mapimpi en Siya Kolisi.

Die Springbokke se oorwinnings in die Wêreldbeker-rugbykampioenskappe in 1995, 2007 en 2019 was rare oomblikke van optimisme en nasionale eenheid.

En nou is daar Banyana Banyana, ons nasionale vrouesokkerspan. Hulle het wel gister teen Nederland in die wêreldkampioenskap vasgeval, maar hulle het tot die laaste 16 deurgedring, is die Afrika-kampioene en is skielik ’n span met wie internasionaal rekening gehou moet word.

In ’n donker tyd vir Suid-Afrika bring Banyana hoop, trots, inspirasie en glimlagte oor ras- en klasverdelings heen.

Vertrou Suid-Afrika se vroue om tot ons redding te kom.

Dit is skandalig hoe sokker in Suid-Afrika wanbestuur word. Bafana Bafana is 62ste op die wêreldranglys. Daar is geen rede onder die son waarom veel armer en minder ontwikkelde Afrika-lande soos Kameroen, Côte d’Ivoire en Burkina Faso baie beter as ons vaar nie – Bafana is 12de op die Afrika-ranglys.

Sokker is Suid-Afrika se nasionale sport. Soos ek hier skryf, is daar duisende kinders in townships, plakkerskampe en landelike gehuggies wat ’n sokkerbal rondskop. Ons het baie meer sokker- as rugbyspelers.

Dit is waar dat ons nie sokker en rugby net so met mekaar kan vergelyk nie, want rugby het ’n groot hupstoot gekry deurdat dit oor die dekades die voorkeursport van die meer bevoorregtes was. Maar dit is ná 30 jaar van normalisering darem nie meer ’n sterk argument nie – kyk maar hoe sterk is rugby in die bruin gemeenskap van veral die Boland.

Ek het in die vroeë 1990’s in Wallis vakansie gehou. Dit was verstommend om te sien hoe rugbymal die skole en klubs in van die kleinste dorpies is. Dieselfde is waar van Nieu-Seeland, ’n land van net 5 miljoen mense en tog die grootste krag in rugby in die wêreld.

Dít is waar ons moet begin, met al ons sportsoorte: laerskole en hoërskole, in ons stede, ons townships en op die platteland.

Ons moet ook so gou moontlik van die vooroordeel ten gunste van seuns en mans in sport ontslae raak.

Ek weet nie juis hoekom ons ’n minister van sport het nie, maar as hy sy sout werd is, gaan hy nou druk op die sokkerbase toepas om meer geld en energie aan vrouesokker te bestee – meer en beter skole-, plaaslike en nasionale toernooie en ligas.

Ná ons nasionale vrouesokker- en netbalspanne se onlangse goeie vertonings is daar ’n goeie kans dat dié sporte gewilder gaan word en beter borgskappe en media-aandag gaan verdien.

Dieselfde geld vrouekrieket – ons nasionale span is klaar onder die vyf topspanne in die wêreld – en vrouerugby.

Go girls!


Ai, die kiesers is darem maar domonnosel

The best argument against democracy is a five-minute conversation with the average voter. – Winston Churchill

Daar is ’n goue draad deur al die kommentare oor ons nasionale politiek onderaan nuuswebwerwe, in briewe aan koerante en gesprekke in die kantoor se koffiekamer of om die vleisbraaivuur: Hoe onnosel is die Suid-Afrikaanse kieserskorps om oor en oor vir ’n korrupte, onbevoegde party te stem wat hulle daagliks in die steek laat?

En baie van hulle haal dan die ou gesegde van Albert Einstein aan: “The definition of insanity is doing the same thing over and over and expecting different results.”

Vir die meeste van dié kommentators, en hulle is meestal bleek van vel, is die onderliggende betekenis duidelik: Swart Afrikane is nog nie ryp vir ’n demokratiese proses nie.

Dit is inderdaad nie vreemd nie om te wonder hoe, volgens onlangse meningspeilings, sowat die helfte of net meer as die helfte van die kiesers steeds lojaal teenoor die ANC is. Ek stem saam dat die ANC van 2023 in sy wese korrup is met swak leierskap en bitter min visie.

Van waar ek of jy sit, kan dit lyk asof mense wat ander politieke keuses as ons maak, dom is.

Soos die derde van die wittes wat in die wit referendum van 1992 “nee” gesê het en aan apartheid wou vasklou. Hoe kon hulle nie gesien het nie dat hulle keuse ook een was vir ineenstorting en bloedvergieting, selfs ’n burgeroorlog?

Soos die kastige gesofistikeerde Britte wat vir Brexit gestem het (en dit nou berou).

Soos rondom die helfte van die kiesers van Zimbabwe wat Zanu-PF aan die bewind gehou het, selfs nadat hulle die ekonomie heeltemal verwoes het.

Soos die meerderheid Russe wat nog agter die outoritêre, oorlogsugtige megalomaniak Vladimir Putin staan.

Soos die meer as ’n miljoen Suid-Afrikaners wat Julius Malema verafgod, al is hy ’n korrupte diktator met ’n uitspattige lewenstyl wat vasberade is om al Zanu-PF se foute te maak.

Maar die heel beste voorbeeld is die magtige Amerika.

Image: ANGELA TUCK

Soos dinge vandag staan, is daar ’n baie sterk moontlikheid dat Donald Trump die Republikeinse Party se presidensiële kandidaat in volgende November se verkiesing gaan wees. As Joe Biden wel die Demokratiese Party se kandidaat gaan wees, het Trump seker ’n goeie kans om weer president te word.

As die spesiale ondersoeker Jack Smith sy sin kry, gaan Trump vóór die verkiesing op vier federale aanklagte tereg staan. Hy gaan dus dalk in die tronk wees of ’n veroordeelde misdadiger wees as hy verkies word. As die saak eers ná die verkiesing voor die hof kom, gaan die president van die grootste wêreldmoondheid weke of maande lank Beskuldigde Nommer Een in die bank wees. (Daar is ’n groot debat in Amerika of ’n president aan homself ’n presidensiële kwytskelding mag toeken – Trump sal sekerlik probeer.)

Trump gaan waarskynlik daaraan skuldig bevind word dat hy sy presidensiële mag misbruik het om die verkiesing, waarin hy deur Biden verslaan is, te korrupteer of die uitslag omver te werp en dat hy hoogs geheime dokumente wederregtelik in sy besit gehad en daaroor gelieg het.

Elke keer as ’n nuwe saak teen Trump in die hof gebring word, styg sy gewildheid in sy party. Hy het heelwat meer steun as naaste teenstander in sy party, Ron DeSantis, en al die ander kandidate saam.

Twee-derdes van die Republikeine glo steeds, teen alle bewese feite en dosyne hofuitsprake in, dat Trump eintlik die 2020-verkiesing gewen het. Ondanks sy morsige privaat lewe en sy bewese immoraliteit staan die fundamentalistiese Christene steeds agter hom.

En mense noem swart Suid-Afrikaanse kiesers dom omdat hulle aanhou om die ANC te steun?

Dit is maar hoe dit in die demokrasie werk: Kiesers word beweeg deur ander oorwegings as net beleid, ’n rekord van goeie regering of die integriteit van politieke leiers.

Dit gaan vir baie oor identiteit, geskiedenis en vrese, hoe irrasioneel ook al.

Om weer vir Winston Churchill aan te haal: “Democracy is the worst form of government, except all those other forms that have been tried from time to time.”

A, maar die demokrasie is veel meer as net verkiesings elke vier of vyf jaar.

Image: ANGELA TUCK

’n Behoorlike demokrasie beteken ’n oop gemeenskap, vryheid van spraak en assosiasie, die verskansing van menseregte, ’n onafhanklike regbank en die oppergesag van die reg.

Overgeset synde, ten minste in Suid-Afrika: Grondwetlikheid – al dié beginsels is in ons Grondwet vasgesement. Ons is boonop ’n konstitusionele demokrasie, wat beteken die Grondwet is ’n hoër gesag as die wetgewende of uitvoerende gesag.

Ek en jy kan seker nie veel doen om miljoene mense so ver te kry om die vrot ANC volgende jaar uit die kussings te lig nie, maar met wakker burgerlike aktivisme kan ons die demokratiese aard van ons nasie in stand hou.

Wakker slaap, kamerade.

Max


The Trees

The trees are coming into leaf
Like something almost being said;
The recent buds relax and spread,
Their greenness is a kind of grief.
Is it that they are born again
And we grow old? No, they die too,
Their yearly trick of looking new
Is written down in rings of grain.
Yet still the unresting castles thresh
In fullgrown thickness every May.
Last year is dead, they seem to say,
Begin afresh, afresh, afresh.

– Philip Larkin

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.