$1,58 biljoen, meer as 40°C, en ander koue feite

DONDERDAG MET MERCY

$1,58 biljoen, meer as 40°C, en ander koue feite

‘Wat is ’n vrou?’ is ’n simpel vraag, sê MERCY KANNEMEYER, en WILLEM KEMPEN vertel van die man met die pers frokkie en jeans wat al weer dood is. Soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet, en jy kan kaartjies koop vir ons eerste Melkbos-boekefees!

  • 10 Augustus 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

1. Pres. Cyril Ramaphosa het die Wes-Kaapse taxistaking ten sterkste veroordeel en ’n beroep op alle partye gedoen om oor 'n oplossing te onderhandel. Altesame vyf sterftes kan nou al met die staking verbind word, het Bheki Cele, minister van polisie, gister gesê.

2. ’n Jaar oue baba is deur die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling uit sy ma se toesig verwyder nadat ’n video oor die naweek versprei is wat wys hoe ’n vrou hom skop en op hom trap. Die kind se pa het die voorval by die Norwood-polisiekantoor in Johannesburg aangemeld, waarna die ma Maandag in die Johannesburgse landdroshof verskyn het.

3. Paniekknoppies vir sekswerkers is een van die planne in Gauteng se begroting van R2,7 biljoen om misdaad te bekamp, het Faith Mazibuko, Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid, aan News24 gesê. Haar departement beplan onder meer ook om 351 kameras in middestede en townships te installeer.

4. 'n Enkele kaartjiehouer in die Amerikaanse deelstaat Florida het eergister $1,58 biljoen in die Mega Millions-boerpot gewen. Dit sal die derde grootste enkele uitbetaling in die geskiedenis van Amerikaanse loterye wees, het ABC News berig.

5. Lidlande van die Europese Unie het begin voorberei aan die eerste sanksies teen individuele lede van die junta wat verlede maand die mag in Niger oorgeneem het, het Reuters berig.

6. Spanje en Portugal loop tans deur onder hulle derde hittegolf van die somer, met temperature van meer as 40°C op plekke. Groot bosbrande in die suide van Portugal het die laaste paar dae 15 000 hektaar se bome verwoes.

7. Die Amerikaanse departement van handel sê meer as 460 maatskappye het hulle belangstelling uitgespreek om te deel in die subsidieskema vir halfgeleiers wat 'n jaar gelede deur pres. Joe Biden aangekondig is in 'n poging om die land se mededingendheid met China in wetenskap en tegnologie te verbeter.


Daar is waarskuwings oor 'n hoë brandgevaar in dele van die Noord- en Wes-Kaap. Miskolle sal vanoggend oor dele van Gauteng, Mpumalanga, die Vrystaat, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal voorkom. Dit sal deels bewolk tot bewolk wees in Gauteng, Mpumalanga, Limpopo, die Wes- en Noord-Kaap, asook KZN. Buie word vanoggend in KZN verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 22°C • Johannesburg 20°C • Mahikeng 20°C • Mbombela 21°C • Kaapstad 27°C • Durban 23°C • Kimberley 22°C • Bloemfontein 20°C • Polokwane 19°C • Upington 25°C • Gqeberha 27°C • Oos-Londen 27°C.


Willem Kempen | Ons gaan aanhou soek na Sugar Man

Moet vir niemand sê nie, maar Rodriguez is dood.

Eergister, op 81, in dieselfde Detroit waar hy sy lewe lank gewoon het. 

Sixto Rodriquez, die ou wat daai plaat Cold Fact in 1970 gemaak het. Waar hy op die cover gekruiste bene sit in 'n pers frokkie en jeans en 'n hoed en shades.

Is hy dan nie lankal dood nie?

Dalk ja, hy was al 'n hele paar keer dood, maar elke keer raak hy weer aan die lewe. Sy lewe het nou nie juis 'n reguit lyn geloop nie.

Hy was mos net in Suid-Afrika beroemd?

Jaaaa, en nee. Dit was meer 'n geval van tydsberekening; hy het hier by ons van voor af gewild geword nadat die Australiërs en sy eie mense al bietjie van hom vergeet het, maar hy was darem nou ook nie nét hier suksesvol nie. Aan die ander kant: Dis net ons wat die dokkie Searching for Sugar Man oor hom gemaak het.

Maar hoekom was sy musiek nou juis hiér so gewild, vra Max gister op ons redaksie se WhatsApp-groep.

Elmari Potgieter stuur 'n aanhaling:

“Still, Rodriguez's Cold Fact found its way into thousands of South African homes and record stores. While the album celebrated a matter-of-fact political cynicism not unprecedented in the US, its blatant critique of politics and a general delight in hippy culture marked it as legitimate protest music in South Africa."

Pieter van der Merwe laat weet dis oor lirieke soos dié tot Suid-Afrikaners spreek (uit This Is Not a Song, It's an Outburst: Or, the Establishment Blues"):

The mayor hides the crime rate
Council woman hesitates
Public gets irate, but forgets the vote date
Weatherman complaining, predicted sun, it's raining
Everyone's protesting, boyfriend keeps suggesting
You're not like all of the rest.

Deborah Steinmair sê: “Ek het hom in The Armchair in Observatory gesien. Intieme ruimte. Hy was onder die prop. Toe kom sy manager op die verhogie en vra dat mense asseblief nie vir hom drinks gee nie, soos in don’t feed the animals. Toe gee iemand hom 'n zol."

Image: ANGELA TUCK

Deborah plak die voorblad van sy album After the Fact op die groep. Hoekom is daar 'n derde skoen op die foto, wat lyk soos 'n kind s'n?

Sugar man, won't you hurry
'Cos I'm tired of these scenes
For a blue coin won't you bring back
All those colors to my dreams


Image: ANGELA TUCK

Jy hoef nie ver te soek na jou naaste nie

Dis 9 Augustus 2023 om 07:10. Ek het so pas vir my ’n koppie koffie gemaak. Twee skeppies koffie en ’n titseltjie laktosevrye melk. Buite is een of ander voëltjie besig om geraas te maak. Die wind kap saggies teen die vensters. Ek hoef nie vandag in te gaan vir my 9-5 nie. So, ek het vanoggend bietjie meer dinkspasie. Breinspasie.

Pieng. Pieng. WhatsApps wat deurkom van mense met goeie bedoelings wat my ’n gelukkige Vrouedag toewens. Amper vergeet.

Daar is heelwat wat ’n mens nog oor vrouwees kan sê. (By nabetragting besef ek dat ek oor elkeen van hierdie dinge ’n mini-tesis kan skryf.)

In Suid-Afrika is die viering van Vrouedag so erg geproblematiseer en verpolitiseer weens die menigte uitdagings waarmee vroue hier te kampe het. Met goeie rede voel mense dat hulle op Vrouedag niks het om te vier nie, want ons susters, ma’s, oumas, dogters en niggies lê in hulle grafte weens hierdie regering se onvermoë om geweld teen vroue en kinders as ’n nasionale ramp te verklaar.

Diegene met ’n ideologiese uitkyk sal heel moontlik gesprekke voer oor male privilege, manspreading, mansplaining (lol, ek het al heelwat rubrieke daaroor geskryf; dankie tog ek is verlos, amen), salarisgapings tussen mans en vroue, en ’n klomp ander onderwerpe wat van Amerika af tot in ons binnekamers oorgespoel het.

Image: ANGELA TUCK

Kom ons haal gou vir JK Rowling, allerhande feministiese teorieë, die Fox News- transfobiese geraas, die Amerikaanse Hooggeregshof en Roe v Wade uit die gesprek uit. Die trajek van Amerikaanse wokeness het gemaak dat ons anderste tipe gesprekke hier voer. En dis so lastig. Suid-Afrika se situasie is uniek – ons Grondwet maak voorsiening vir die beskerming van álle mense. Die meeste Suid-Afrikaners is ook christene. Sê Jesus nie iewers dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself nie? Jy hoef nie ver te soek na jou naaste nie. Die punt is: Hou op judge.

Iemand het my op ’n keer gevra wat is ’n vrou. Wat ’n simpel vraag, dink ek. ’n Vrou is enigiemand wat identifiseer as ’n vrou. Ek staan steeds by hierdie antwoord. This is the hill I am willing to die on.

Wat my verstand totaal en al te bowe gaan, is wanneer mense van die bergtoppe af gil dat nie álmal (lees transgendervroue) tog werklik kan verstaan wat dit beteken om ’n vrou te wees nie. And look, ek is nou al amper 30 jaar lank ’n vrou, en ék verstaan ook nie aldag wat dit beteken om ’n vrou te wees nie. So, as daar vroue met ander insig is wat lig op die saak kan werp, verwelkom ek dit met ope arms.

Hoe mense identifiseer, moet ons nie pla nie. Liberation is collective. Dit vat absoluut niks van my vrouwees af weg om iemand wat nie soos ek as cis-vrou gebore is, te omhels en te aanvaar nie.

As jy Vrouedag gevier het, hoop ek jy het dit geniet. Ek simpatiseer met almal wat voel daar’s niks om te vier nie. Wat my en my huis betref – ons streef na bevryding.


Image: ANGELA TUCK

Bespreek sommer nou dadelik jou kaartjies vir Vrye Weekblad se eerste Melkbos-boekefees hier.


Jaargety

Witstinkhout trek haar kantrok aan,
heuningbye besoek alom,
die eerste blare oophand in die son.
Ooppitjie tros sy sade rooi,
boslelies vinger-in-die-lug,
jasmyn strooi haar geur.
My oor aan die huilboerboon se stam
sê vir my
hoeveel lente
vir hom en my oorbly.

– Dolf van Niekerk

(Uit: Portrette in my gang)


VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.