Amper niemand behoort ooit ’n gedig te skryf nie

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Amper niemand behoort ooit ’n gedig te skryf nie

DEBORAH STEINMAIR skryf oor die nuutste wenners van die Ingrid Jonker- en ander pryse, en WILLEM KEMPEN sien uit na die Skerpioene 2.0. Soos altyd is daar ook sewe goed wat jy vandag wil weet (soos oor Donald Trump se nuutste aanval van capitalitis).

  • 15 Augustus 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre

1. Chinese en Suid-Afrikaanse maatskappye het verlede week ooreenkomste ter waarde van meer as $2 biljoen (sowat R38 biljoen teen die huidige wisselkoers) onderteken, het eNCA berig. Die betrokke produkte sluit in minerale en landbouprodukte waaronder wol. Die ooreenkomste val saam met volgende week se gesprekke tussen sakeleiers wanneer die Brics-beraad in Johannesburg plaasvind.

2. Die sekshandelaar en kinderverkragter Gerhard Ackerman is tot onder meer 12 keer lewenslange gevangenisstraf gevonnis weens misdade wat verband hou met die netwerk wat hy in Johannesburg bedryf het. Regter Mohamed Ismail het Ackerman vroeër op meer as 700 aanklagte skuldig bevind, waaronder die verkragting van minderjariges.

3. Die saak teen die 70-jarige voormalige Maak ’n Las-aanbieder Nico Nel is in die streekhof in Hermanus tot 18 Oktober uitgestel vir moontlike pleitonderhandelinge, het Netwerk24 berig. Nel het na bewering bykans R3 miljoen van ’n bejaarde egpaar van Kleinbaai verduister.

4. Duitse owerhede wil aansoek doen dat Suid-Afrika die voormalige Steinhoff-baas Markus Jooste aan hulle uitlewer. Jooste staan in Duitsland tereg op twee aanklagte van bedrog, maar voer aan dat hy nie soontoe kan reis nie omdat sy paspoort deur Suid-Afrikaanse owerhede gehou word.

5. Donald Trump het gister op sy Truth Social te velde getrek teen die staatsaanklaer en getuies in Georgia terwyl ’n jurie in 'n voorverhoor in Fulton County moet besluit of die voormalige president vervolg moet word oor pogings om die uitslag van dié deelstaat in 2020 om te keer. NO, I DIDN'T TAMPER WITH THE ELECTION,” was een van sy deurdagte stukkies kommentaar. 

6. Die uitbarsting van Italië se vulkaan Etna, die aktiefste vulkaan in Europa, het tienduisende mense op lughawens gestrand gelaat nadat onder andere British Airways, Ryanair en easyJet vlugte na Catania en Comiso in Sisilië opgeskort het.

7. Hoewel die Eris-variant van die coronavirus tans in die VSA hospitalisasie weens Covid laat styg, verwag mediese kenners nie dat ’n nuwe entstof teen die siekte veel aftrek sal kry nie, het Reuters berig. Hospitalisasie weens Covid in die VSA het weens Eris met meer as 40% toegeneem vanaf die onlangse laagtepunte wat in Junie bereik is, maar dis nog steeds meer as 90% onder die piekvlakke wat tydens die Omicron-uitbraak in Januarie verlede jaar bereik is.


Daar is waarskuwings oor 'n hoë brandgevaar in dele van die Noord-Kaap en Noordwes. Warm weer word oor die grootste deel van die binneland verwag. Mpumalanga, Limpopo, die Wes- en Oos-Kaap, asook KwaZulu-Natal kan reën verwag. Daar is vanoggend miskolle in dele van die Noord- en Oos-Kaap, asook die Vrystaat. 

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 27°C • Johannesburg 26°C • Mahikeng 29°C • Mbombela 28°C • Kaapstad 18°C • Durban 19°C • Kimberley 23°C • Bloemfontein 22°C • Polokwane 29°C • Upington 26°C • Gqeberha 17°C • Oos-Londen 18°C.


Willem Kempen | Kom ons hoop die nuwe Skerpioene kan steek soos die oue

Dis goeie nuus dat die planne vir die “nuwe” Skerpioene besig is om spoed op te tel, al is dit nog te vroeg om te weet hoeveel dit regtig soos die oue gaan wees.

Die parlement se ontbinding van die destydse Skerpioene (die Nasionale Vervolgingsgesag se direktoraat vir spesiale operasies) in 2008 staan uit as ’n donker oomblik in ons geskiedenis. Jacob Zuma het daarmee gewys dat hy as nuwe partyleier ferm in beheer van die ANC was, ook in die parlement, en dat niks in sy pad sou staan om staatskaping in al sy afskuwelikheid op ons los te laat nie. Zuma se ANC het hulle net mooi niks gesteur aan die publiek se vertroue in die ou Skerpioene se integriteit en vermoëns nie, en ook nie aan opposisiepartye wat probeer keer het nie.

Image: ANGELA TUCK

Pres. Cyril Ramaphosa het al in Oktober verlede jaar aangekondig dat die NVG se Ondersoekdirektoraat (OD) ’n permanente liggaam sou word, in reaksie op aanbevelings deur die Zondo-kommissie na staatskaping. Die kabinet het verlede week uiteindelik die Wysigingswetsontwerp op die Nasionale Vervolgingsowerheid goedgekeur, wat die Skerpioene 2.0 ’n bietjie nader aan 'n werklikheid maak.

Mens hoop maar die kabinet se gesloer is weens die gewone spoed waarmee burokratiese prosesse verloop en nie ’n gebrek aan entoesiasme vir die nuwe eenheid nie. Dis seker te veel gevra dat alles so flink moet verloop soos sê nou maar die vonniskwytskelding vir sekere gevangenes waarmee die kritieke probleem van oorbevolkte tronke pas so ’n lekker dwarsklap gekry het.

Einste dié kwytskelding is een van die redes waarom daar baie werk op die nuwe eenheid wag voordat hulle selfs naastenby die reputasie van die ou Skerpioene sal begin geniet. ’n Paar hoëprofiel-ondersoeke en vervolgings sal die ding doen – sal dit nie byvoorbeeld mooi en goed wees as Die Man van Nkandla se volgende besoek aan die tjoekie ’n bietjie meer as net ’n drive-thru is nie?


Image: ANGELA TUCK

Dominique se lieflikste woorde

Dominique Botha, ’n gewaardeerde Vrye Weekblad-bydraer, het pas die Ingrid Jonker-prys gewen met haar debuutbundel, Donkerberg. Ek is verheug – sy was my eerste keuse ook.

Ek het in VWB oor die bundel geskryf:

’n Mens slaan die boek oop en onmiddellik word jou asem weggeslaan deur die droewe, klassieke, landelike, tydlose skoonheid van haar verse. Dis ryk, dig en allerlieflik. Vol stilte en bedrieglike eenvoud.

Dominique het ’n unieke, onvergeetlike stem. Ek weet nie met wie om dit te vergelyk nie. D.J. Opperman in Komas uit ’n bamboesstok? Breyten Breytenbach? Anna Akhmatova? Ingrid Jonker wie se potensiaal verwesenlik is?

Hanna Kamfer het in VWB geskryf dat amper niemand op aarde ooit moet dig nie, en sy het ’n punt beet. Daar is ’n handvol, ’n klein handjievol, mense wat oor die natuurlike rou talent sowel as belesenheid beskik om die wêreld in ’n vers op sy kop te draai. Botha is een van hulle. Daar is skynbaar geen einde aan haar woordeskat en talent nie. Aan haar sensitiwiteit en intuïsie, die elegansie van haar denke, die geslypte skerpheid van haar lens.

Hier is een van haar verse:

voorbode

my pa word al hoe kleiner
wanneer hy uit
stap om my die maanlig
op die werf te wys

soos ’n grys ster bo donkerberg
krimp hy tot ’n tuindwerg ongeverf
tussen die kannas op die werf

Daar is iets onafwendbaars en noodwendigs aan haar woorde, asof dit op geen ander manier gesê kon word nie, selfs al sou niemand anders dit op hierdie manier stel nie. Dis soos spreuke en tekste en Breyten se gebede.

Ek kan dit nie hoog genoeg aanbeveel nie. Koop dit, lees en herlees dit en ontdek weer die “sweet power of poetry”.

Die kortlys vir die kykNET-Rapportpryse is ook aangekondig:

KYKNET-RAPPORTPRYS: FIKSIE (ROMANS)

  • Op pad na Moormansgat deur Chris Karsten (Human & Rousseau)
  • Eugene deur Kirby van der Merwe (Human & Rousseau) 
  • Roman deur Cas Wepener (Protea Boekhuis)

KYKNET-RAPPORTPRYS: NIEFIKSIE

  • Wieg deur Joan Kruger (Litera) 
  • Retoervloot deur Dan Sleigh (Tafelberg) 
  • Die Kaapse slawe 1652-1838 deur Eunice Visser (Protea Boekhuis) 

KYKNET-RAPPORT HERMAN BINGE-PRYS: FILM

  • As die katjiepiering blom deur Audrey Jantjies (Kwela)
  • Op pad na Moormansgat deur Chris Karsten (Human & Rousseau)
  • Om beter te kan moor deur Christelle van Rooyen-Wessels (Penguin)

JAN RABIE-RAPPORTPRYS: DEBUUT- OF TWEEDE PROSAWERKE

  • bottelnek breek bek deur Dianne du Toit Albertze (Human & Rousseau)
  • Wit leuen deur Ruan Kemp (Tafelberg)
  • Eugene deur Kirby van der Merwe (Human & Rousseau)

Met die uitsondering van die niefiksie-kandidate, het ons oor al die boeke op VWB geskryf. Want ons hou jou op die hoogte.



my kinders is ryk maar my kinders is arm

voor jy my joune gemaak het
was ek andries en sandra se dogter
van die plaas rietpan
distrik bothaville
gedra na die doopvont
in ’n rok van oorlewering en linte
in vioolkraal se voorkamer
vol familie en meubels
ingeseën met ’n sponskoek
oorstrooi in ’n fynsuiker mandala

gebak deur anna wat my grootgemaak het
totdat ek self ’n perd kon teken en droom
die maan is ’n emaljebak met roeskolle
vol mageu wat anna brou
en om en by die maandeind bars anna se sog uit die hok
en vreet die maan weer op

somers het verseil soos verlore albasters
agter tuinstoele so swaar soos ’n dooie kalf
op grasperke ingedrink in die lang blou skaduwees
van ’n veraf rammelende belofte

tromme het snags nog gerol
soos die trein oor sy spore na groenebloemstasie
swiepend deur sonsteek modder weerlig en wind
om die oes van die land te kom haal

en piepende donskuikens
geel soos mimosa-balletjies af te laai
om groot gebroei te word in anna se jaart
totdat sy kom aanklop het by die agterdeur
met ’n gat in die kop
deur haar man se swaaiende byl toegedien
vol end van die maand woede

daar is gejaag deur nag en reën
en ma het gehuil
terwyl anna se sinne uitgebloei het op haar skoot

nou sit anna al baie jare in die son
in klerksdorp se lokasie
om valke en muskeljaatkatte wat nie bestaan nie
van die miesies se lankvergane pluimvee weg te hou

– Dominique Botha

(Uit: Donkerberg)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.