Die pasta word duurder, die tente word goedkoper

DONDERDAG MET MERCY

Die pasta word duurder, die tente word goedkoper

Die DA moet versigtig wees dat hulle nie met die PA dieselfde fout maak as Hillary met Trump nie, sê MERCY KANNEMEYER; WILLEM KEMPEN vrees Augustus se woedende weer was maar net die begin; en soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 31 Augustus 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku dat die El Niño-weerverskynsel in die komende maande gaan voortduur en ’n warmer en droër somer as gewoonlik gaan meebring. Die gevolglike styging in elektrisiteitsverbruik weens lugversorging en ander maatreëls teen die hitte sal ook die druk op Eskom laat toeneem, het die weerdiens gesê.

2. Die droogte in Kanada en die slegte weer in Europa kan lei tot buitengewone stygings in die internasionale prys van pasta, het groot produsente volgens Reuters gewaarsku. Die Italiaanse regering het in Mei ’n krisisvergadering hieroor belê nadat pastapryse met meer as dubbel die nasionale inflasiekoers gestyg het. Die wêreldwye produksie van durumkoring is tans op die laagste vlak die afgelope 22 jaar, wat Italië se pastaprodusente genoop het om hulle na ongewone verskaffers soos Türkiye te wend vir hul belangrikste bestanddeel.

3. Weermagoffisiere in Gaboen het gisteroggend in ’n staatsgreep die mag in dié land in Sentraal-Afrika oorgeneem slegs minute nadat aangekondig is dat pres. Ali Bongo Ondimba vir ’n derde termyn as staatshoof herkies is. Ondimba het sy pa, Omar Bongo, in 2009 as president opgevolg nadat dié sedert 1967 aan die bewind was, wat beteken dat Gaboen vir 56 jaar deur ’n Bongo gelei is. Genl. Brice Oligui Nguema het aan die Franse koerant Le Monde gesê hy en ander generaals sou gister vergader om die hoof van ’n oorgangsregering aan te wys.

4. Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, het voor die parlement se staande komitee oor finansies die bank se ondersoek na Phala Phala verdedig. Kganyago het gesê in die ondersoek is bevind dat die $580 000 kontant wat in 2020 aan ’n bestuurder by die lodge oorhandig is, ’n “sekuriteitsdeposito” was en nie ’n finale betaling nie, wat beteken die transaksie is nie afgehandel nie en valutareëls is nie verbreek nie.

5. ’n Koeël wat gevind is op die misdaadtoneel waar die voormalige Bafana Bafana-doelwagter Senzo Meyiwa doodgeskiet is, is afgevuur met ’n geweer wat later gekry is in die huis van Mthobisi Mncube, een van die beskuldigdes in die saak. Getuienis hieroor is gister in die Gautengse hooggeregshof in Pretoria gelewer deur lt.kol. Christian Mangena, ’n ballistiekkenner in die polisie. Die vier ander beskuldigdes is Bongani Ntanzi, Muzikawukhulelwa Sibiya, Mthokoziseni Maphisa en Fisokuhle Ntuli.

6. Staatsbeheerde en genoteerde maatskappye sal ingevolge beoogde wysigings aan die Maatskappywet bykomende inligting oor die besoldiging van werknemers openbaar moet maak. Dit sluit in die gaping tussen die hoogste en laagste lone wat hulle betaal, en die gemiddelde sowel as die mediaanloon van alle werknemers. Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, het vandeesweek die betrokke parlementêre portefeuljekomitee oor die voorgestelde wysigings ingelig. Die komitee sal in Oktober openbare verhore oor die voorgestelde veranderings hou.

7. Die Kremlin het gister gesê Russiese ondersoekbeamptes oorweeg die moontlikheid dat die Wagner-grootbaas Yevgeny Prigozhin se vliegtuig met opset laat neerstort is, wat die eerste erkenning deur die Russiese regering is dat dit enigiets anders as ’n ongeluk kon gewees het. “Dit is duidelik dat verskillende weergawes [van wat gebeur het] oorweeg word, waaronder die weergawe – julle weet waarvan ons praat – dat dit, kom ons sê, ’n doelbewuste gruweldaad was,” het Dmitri Peskov, woordvoerder van die Kremlin, volgens Reuters aan verslaggewers gesê toe hy oor die ondersoek gevra is.


Daar is 'n hittegolf in die Oos-Kaap met waarskuwings oor 'n hoë brandgevaar daar, asook in die noorde van die Wes-Kaap en die ooste van die Noord-Kaap. Die Kaapprovinsies kan ook vandag in verskeie dele buie vandag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 24°C • Johannesburg 23°C • Mahikeng 26°C • Mbombela 26°C • Kaapstad 15°C • Durban 25°C • Kimberley 29°C • Bloemfontein 27°C • Polokwane 24°C • Upington 31°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 31°C.


Willem Kempen | Dis maklik: Gooi dit weg en koop volgende keer net ’n nuwe een


Enorme haelstene het die afgelope week op plekke in Duitsland, Frankryk, Italië, Kanada en Brasilië geval. Die lys is dalk langer; dié lande het net die meeste aandag in die nuus gekry.

In dele van Europa is die soveelste hittegolf van die somer deur dié haelstorms, swaar reën en gepaardgaande oorstromings gebreek. Saam met die hitte het die veldbrande in die noordooste van Griekeland die afgelope week of twee 'n gebied so groot soos die stad New York vernietig. In dieselfde tyd het Maui in Hawai deurgeloop onder die dodelikste veldbrande in die Amerikaanse geskiedenis.

In Zermatt in die Switserse Alpe is 'n temperatuur van 31,2°C verlede Donderdag aangeteken, die warmste Augustus-dag tot nog toe in dié gewilde ski-bestemming wat 1 638 m bo seevlak geleë is. Vier dae later het dit daar gesneeu en het die kwik geval tot net 'n halwe graad bo vriespunt.

Maandag vra Damian Carrington in The Guardian onder die opskrif “Dramatic climate action needed to curtail ‘crazy’ extreme weather": Has humanity finally broken the climate?

Oor die naweek was daar ook 'n omgewingskrisis van 'n heel ander aard toe sowat 100 000 musiekliefhebbers vir die jaarlikse Leeds Festival in Bramham Park in Yorkshire saamgekom het. Soos nou al die gebruik geword het, het 'n span mense Maandag opgedaag om te kyk of hulle van die derduisende tente kan herwin wat gewoonlik deur die feesgangers agtergelaat word. Die tipiese kampeertentjies is so goedkoop daar dat baie mense nie die moeite doen om dit agterna op te slaan en iewers heen terug te karwei nie, en liewer volgende keer weer 'n nuwe een gaan koop. Volgens een bron word sowat 250 000 tente jaarliks by Britse musiekfeeste eenvoudig as rommel agtergelaat.

Dié keer was dit selfs erger as gewoonlik. 'n Lid van die opruimspan, Jack Lowe, het 'n video geneem van wat hy in Bramham Park gesien het, en op X gesê:

“It’s going to take us a while to digest what we saw when we went to help salvage tents and equipment for a refugee charity at the end of Leeds Festival yesterday. This is just a fraction of it – littering on the grandest scale we’ve ever witnessed. Utterly appalling."

Asof dit nie reeds erg genoeg is nie, kan net 'n fraksie van die tente herwin word, onder meer omdat sommige feesgangers dit op die laaste dag doelbewus stukkend gesny het juis sodat vlugtelinge en ander haweloses dit nie weer kan gebruik nie. Die res van die tente of wat daarvan oor is, moet op stortingsterreine begrawe word waar dit iemand anders se probleem word.

In elk geval, kom ons beweeg aan: Teen die tyd dat jy hier lees, sal goew. Ron DeSantis en sy mense weet hoe erg Florida onder die orkaan Idalia deurgeloop het – en met 'n bietjie geluk is daar genoeg tente beskikbaar vir almal wat daardeur dakloos gelaat is.


Image: ANGELA TUCK

Oppas, DA: Gayton McKenzie kén politiek

Die DA moet bitter versigtig wees dat hulle Gayton McKenzie, leier van die Patriotiese Alliansie, nie hanteer soos die Demokrate oudpres. Donald Trump hanteer het nie. Gayton McKenzie was Maandagaand ’n gas op In gesprek met Lourensa Eckard op kykNET. Hy het onder meer gesels oor die veelpartykoalisie, die mosie van wantroue teen die huidige burgemeester van Johannesburg, Kabelo Gwamanda van Al Jama-ah, en oor die manier waarop die DA hom en sy party hanteer.

McKenzie, wat net so terloops ongelooflike goeie televisie maak, was geesdriftig en vol oortuiging. Dit was asof hy álles glo wat uit sy mond uit kom.

Deur die loop van die week is daar heelwat klappe na McKenzie se kant toe uitgedeel, alles uit die hand van die DA. Op ’n vraag oor die plakkate wat mense van die DA oor McKenzie en sy party maak – onder meer een waar pres. Cyril Ramaphosa die poppemeester en McKenzie sy pop is – antwoord McKenzie spottenderwys dat sy geliefdes die dag wanneer hy doodgaan foto’s vir sy begrafnis-slideshow by die DA kan gaan vra. Hy meen hulle het so baie foto’s van hom; hulle is Gayton-mal (hy wou Gayton-befok sê, maar is vooraf gevra om nie enige kragwoorde op die program te gebruik nie).

Die DA meen ook ’n stem vir die PA is ’n stem vir die ANC, en dat die PA nie vertrou kan word nie. McKenzie hou egter vol dat die DA nie werklik koalisievennote wil hê nie. Hulle wil mense hê wat hulle kan domineer. As McKenzie en die PA volgens die DA nie vertrou kan word nie, hoekom sê Herman Mashaba van ActionSA en Corné Mulder van die Vryheidsfront Plus dan nie dieselfde van die PA nie, wou McKenzie weet. McKenzie like nie net vir Mulder omdat hy ’n eerlike en opregte leier is nie, maar Mulder se vrou maak blykbaar ook die beste aartappelslaai in Suid-Afrika.

Leser, you can’t make these things up, haha. (Vinnige reklame vir die program waarby ek betrokke is: Skakel Maandagaande om 20:30 in op kykNET vir In gesprek met Lourensa Eckard. Ons episodes is ook op DStv Catch Up beskikbaar.)

Image: ANGELA TUCK

Terug na my inleidende punt: Die Demokrate in Amerika het Donald Trump en sy ondersteuners érg onderskat. Hillary Clinton het by geleentheid in 2016 gesê Trump se ondersteuners is ’n “basket of deplorables”. Deplorables?! Is die Afrikaanse vertaling “betreurenswaardiges”? Hóé sê enigiemand so iets van mense? Mense wat in iemand ’n uitweg, ’n antwoord, ’n oplossing gesien het. Of ons met Trump en sy ondersteuners saamstem, is nie hier – nes met McKenzie – ter sprake nie. Die feit van die saak bly: Hy’t gewen en sy’t verloor. Myns insiens was haar ego een van die deurslaggewende faktore wat haar die verkiesing gekos het. Sy was te gemaklik.

Mag die DA nie in daai gemaksone inbeweeg waar hulle een persoon of een party afmaak as betreurenswaardig nie. Op 29 Augustus 2023 tweet Leon Schreiber:

“This loser spends all night begging to be let into a party he was never invited to. After the whole street laughs at him, he comes out the next day and says he never wanted to go to the party in the first place […]. Gaan speel met jou ANC-maatjies en bly weg, vuilgoed!”

Dit nou ná afloop van ’n video wat McKenzie geplaas het waarin hy sê dat hy die deure vir die DA toegemaak het. Hulle moenie by die PA kom aanklop wanneer dit by volgende jaar se verkiesing kom nie.

“Vuilgoed” en “deplorable” klink baie dieselfde. Ligloop, Leon.

Die Patriotiese Alliansie en Gayton McKenzie gaan nêrens heen nie. Kyk na die tussenverkiesings. Die PA se steun hét op plekke gegroei. Weereens, jy hoef nie met ’n party se politiek, ideologie en dies meer saam te stem nie; maar let’s maar now call a spade a spade: McKenzie kén politiek, hy ken die lewe, en, baie belangrik: Hy ken sy mense.

Die Patriotiese Alliansie bied ’n tuiste vir bruin kiesers op die platteland, die Vlakte, en die dorpies wat in die groter skool van politiekery vergeet word.


Uit: ballade van ’n wasdag

ek en my ma is wasgoed wat sy
dophou deur die kombuisvenster was-
goed wat sing-sing huil
Ma sê altyd: dit is nie sy tyd nie
dit is nie sy tyd nie
sy het nie  meer tyd nie
so staan sy gebukkend oor die was-
goed en spoeldraai met skuim en seperig
sonder ophou was sy Boeta se ongeluksklere

– Jolyn Phillips
(Uit: radbraak)

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.