Slaan aan ’n vrou, en jy slaan aan ’n rots

MAANDAG MET MAX

Slaan aan ’n vrou, en jy slaan aan ’n rots

Daar lê 'n rowwe jaar voor, sê MAX DU PREEZ. Maar uiteindelik is dit vroue wat deur die eeue ons gemeenskappe geanker en stabiel gehou het. Soos altyd is daar ook sewe dinge wat jy vanoggend wil weet.

Goeiedag!

1. Dit gaan dalk elders vrotterig met Suid-Afrika, maar nie op die sportveld nie. Die Springbokke het Roemenië gister in 'n Wêreldbekerwedstryd met 76-0 afgeransel, met Makazole Mapimpi en Cobus Reinach wat elk drie drieë gedruk het. Die Proteas het teen die verwagting in die eendag-krieketreeks teen Australië 3–2 gewen met 'n oorwinning van 122 lopies in gister se stryd op die Wanderers. Marco Jansen het 5 paaltjies gevat.

2. Die gebrek aan kapasiteit by Transnet se steenkoolkorridor kan binnekort tot 30 000 steenkoolmynwerkers hulle werk laat verloor, sê ClucasGrey Investment se Brendan Hubbard. Seriti Power het reeds aangedui dat 605 werkers by Klipspruit in Mpumalanga afgelê gaan word.

3. Cyril Ramaphosa het by sy lofrede by Mangosuthu Buthelezi se begrafnis kliphard na die IVP gevry. Dit is belangrik dat 'n volhoubare versoening tussen die IVP en die ANC bereik moet word, het hy gesê. Die IVP is deel van die Veelpartymanifes saam met die DA en ActionSA, wat dalk 'n goeie kans staan om in volgende jaar se verkiesing die beheer oor KZN by die ANC oor te neem.

4. Suid-Afrika ervaar 'n sistemiese mislukking en die ganse openbare, sosiale en institusionele infrastruktuur kan binnekort ineenstort, skryf prof. William Gumede van Wits se departement regeerkunde in die Sunday Times. “The sad reality is that South Africa has entered a period of system collapse in which we will see and feel the results of years of state capture, mismanagement and neglect.”

5. 'n Opwekkingseenheid by die Kusile-kragstasie wat 800 MW krag lewer, het gister weer elektrisiteit begin lewer nadat dit vir 20 dae weens instandhouding afgeskakel was. Nog van Kusile se opwekkingseenhede sal in die volgende vier maande weer operasioneel wees, sê die minister van elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa.

6. 'n Nazi-staat? Meer as 30 000 Hasidiese Jode het in Uman in Sentraal-Oekraïne aangekom as deel van 'n pelgrimstog na die graf van Rabbi Nachman wat in 1810 oorlede is. Uman is al verskeie kere deur Russiese missiele getref.

7. Die BBC het 'n ondersoek na ernstige aanklagte van verkragting en seksuele wangedrag tussen 2006 en 2013 teen die komediant Russell Brand begin. Brand het 'n deel van dié tydperk as aanbieder by die BBC gewerk. Hy ontken al die aantygings.


Daar is waarskuwings oor skadelike golwe tussen Plettenbergbaai en Richardsbaai, asook oor 'n hoë brandgevaar in dele van die Noord-Kaap en Noordwes. Dis vandag deels bewolk tot bewolk oor die grootste deel van die land. Limpopo en Mpumalanga kan vanoggend ligte reën verwag. Daar is miskolle in die Vrystaat, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 28°C • Johannesburg 26°C • Mahikeng 29°C • Mbombela 21°C • Kaapstad 18°C • Durban 24°C • Kimberley 27°C • Bloemfontein 26°C • Polokwane 23°C • Upington 29°C • Gqeberha 20°C • Oos-Londen 23°C.


Max du Preez | Die nasionale krisis vereis meer as net een bekwame minister

Die staatskas is leeg. Die begrotingstekort is skrikwekkend. Werkloosheid word niks beter nie. Al hoe meer kinders gaan honger slaap en wanvoeding ondermyn kinders se brein- en liggaamlike ontwikkeling.

Daar lê 'n rowwe jaar voor ons. Ekonome, nyweraars en bankbase sê almal dit gaan waarskynlik eers veel erger word voor dit beter word.

Dit is 'n nasionale krisis in elke sin van die woord.

Die een plus is dat ons 'n kundige, realistiese minister van finansies in Enoch Godongwana het.

Maar dit weeg kwalik op teen die twee groot negatiewes: Ons is minder as 'n jaar weg van 'n algemene verkiesing met die regerende party klaar onder kwaai druk van die kiesers; en daar is min vooruitsigte dat die absolute onbeholpenheid en vrotsige bestuur van die staat enigsins gaan verbeter.

Die één stap wat Suid-Afrika nie kan bekostig nie, is die inkorting van sosiale toelaes. Amper die helfte van die bevolking ontvang die een of ander vorm van dié toelaes. Om dit af te skaf of te verklein, sou onmenslik wees en gaan boonop ons stabiliteit bedreig.

Die nagmerrie is dat die ANC se hoogste besluitnemende liggaam, die nasionale uitvoerende komitee, hoofsaaklik uit ekonomiese analfabete bestaan.

Die party se twee alliansievennote, die SA Kommunisteparty en Cosatu, dreig en blaas boonop met skril populistiese stemme oor enige poging tot 'n spaarsamigheidsveldtog.

Dit is moeilik om te sien hoe die nasionale tesourie 'n verhoging van 2% in BTW gaan kan vermy. Hoe minder geld jy verdien, hoe seerder gaan dit jou maak. Dit gaan 'n uiters ongewilde stap wees.

Ons durf nie die begrotings vir onderwys, gesondheid en plaaslike regerings sny nie. Die bestaande geld moet bloot beter bestee en bestuur word.

Ek het Saterdag in my pap gestik toe ek op televisie sien hoe Jacob Zuma se kavalkade met peperduur, nuwe swart SUV’s by Mangosuthu Buthelezi se begrafnis aankom. Ses van hulle het ek getel, dalk was daar meer. Die voertuie alleen moet na aan R5 miljoen kos.

En dít vir 'n skelm en 'n leuenaar wat ons land amper in die afgrond in bestuur en laat besteel het, wat amper ses jaar al nie president is nie, wat kastig so terminaal siek is dat hy mediese parool moes kry?

Volgens OUTA kos dit R3,4 biljoen per jaar om ons politici te beskerm. Duisende polisiemanne (en dalk -vroue) word hiervoor gebruik, terwyl misdadigheid daagliks toeneem. Die Valke se begroting is maar R2,25 biljoen.

Dís waar ons kan begin om uitgawes te sny: ydelheidsprojekte. BBP-beskerming is nie die enigste nie.

'n Kleiner kabinet, minder staatsdepartemente. 'n Radikale projek om vermorsing stop te sit. 'n Bevriesing van alle staatslone vir die volgende twee jaar sal ook baie help.

Godongwana verstaan dat die staat geen keuse het nie as om uitgawes kwaai te sny. Maar hy gaan pres. Cyril Ramaphosa en sy kabinet se dekking nodig hê om dit te kan doen en dié lot is in 'n verkiesingsbui.

Dit is 'n krisis wat ons vierkant voor die ANC-regering se deur kan lê. Ons ekonomiese groei is veral deur onvoldoende energie en die wanbestuur van spoorvervoer en hawens deur die kniekoppe geskiet.

Sowat 35 000 steenkoolmynwerkers gaan in die maande wat kom, afgelê moet word omdat die steenkool nie effektief per spoor vervoer en deur die hawens hanteer kan word nie.

Kragvoorsiening wissel tussen fase 4 en 6 en selfs ná die installering van biljoene rande se privaat sonkragpanele die afgelope jaar is die kans skraal dat dit binne die volgende jaar beter sal gaan.

Die grootste vloekwoord in ANC- en EFF-kringe het drie letters: IMF, die Internasionale Monetêre Fonds. Maar as die Brics-bank nie genoeg geld teen 'n lae rentekoers aan ons gaan kan leen nie, is dit dalk in elk geval volgende jaar ons voorland.


Slaan aan ’n vrou, slaan aan ’n rots

Dis dalk waar van ander gemeenskappe ook, maar dit is beslis waar van Suid-Afrika: Dit was (en is) vroue wat deur die eeue ons gemeenskappe geanker en stabiel gehou het.

Terwyl Suid-Afrika die afgelope naweek die lewe van 'n politikus gevier het wat 'n dekade lank 'n laevlak-burgeroorlog aangepor het, het Iran die dood 'n jaar gelede van 'n 22-jarige vrou, Mahsa Amini, herdenk. Sy is deur die Iranse polisie vermoor omdat sy nie haar hijab reg gedra het nie.

Die weerstand wat die vroue van Iran sedertdien teen die tirannieke bewind van fundamentalistiese Moslem-politici bied, sal in die geskiedenis as een van die mees heroïese hoofstukke opgeteken staan. Honderde is in die proteste doodgeskiet, duisende in die tronk gestop en minstens sewe is deur die staat tereggestel. En steeds duur die proteste voort.

Nasionale helde is gewoonlik mans, want hulle word presidente en generaals. Terwyl ek Saterdagnag na 'n dokumentêre film oor Amini kyk, begin ek nadink oor vrouehelde wat nie genoeg erkenning kry nie.

Soos Mantatisi, wat in 1813 op 40-jarige ouderdom die leier van die Batlokoa in die Wilgerriviervallei by vandag se Harrismith geword het toe haar man, die hoofman van die klan, dood is en haar seun, Sekonyela, te jonk was om by hom oor te neem.

In 1822 is haar klan deur Mpangazitha van die amHlubi oorval, wat weer voor Shaka se leër gevlug het – dit was deel van die aaklige Lifaqane-periode – en in die jare daarna het sy as een van die voorste en mees gevreesde militêre stratege en veggeneraals in Sentraal-Suid-Afrika ontpop.

Image: CRAIG MELVILLE

Die wit gemeenskappe van die suidpunt se trauma het so agt dekades later gekom, met die oorlog tussen die Boere van Transvaal en die Vrystaat en die Britte. Ja, daar was dapper generaals soos Christiaan de Wet en Koos de la Rey, maar dit was weer die vroue wat die ankers was. Vroue soos Nonnie de la Rey, vrou van Koos, wat maande lank voor die Britte gevlug en deur hulle generaals gevrees is. En soos Emily Hobhouse, die Engelse vrou wat die toestande in die haglike konsentrasiekampe wêreldkundig gemaak het.

Charlotte Maxeke was die eerste swart Suid-Afrikaanse vrouedokter; sy het in 1903 in Ohio gegradueer. Sy was 'n vurige kampvegter vir mense- en vroueregte en in 1918 stigter van die Bantu Women’s League, wat later die ANC se Vroueliga geword het.

Ek het 'n klompie jare gelede na 'n uitstalling oor Rosa Parks in Washington gaan kyk. Sy was 'n kleremaakster wat in 1955 geweier het om uit 'n bus in Montgomery, Alabama, geskop te word omdat sy swart is, wat tot 'n groot busboikot gelei en 'n belangrike rol in die veldtog vir burgerregte gespeel het.

Daar was 'n handgeskrewe nota van haar in die uitstalling wat net ná die voorval geskryf is. Sy skryf: “I had been pushed around all my life and felt at this moment that I couldn’t take it anymore.”

'n Jaar later stap sowat 20 000 vroue na die Uniegebou in Pretoria om teen die paswette beswaar te maak. Dit is gelei deur Rahima Moosa, 'n vakbondleier van die Strand wat 'n jaar tevore ook 'n groot rol met die opstel van die Vryheidsmanifes gespeel het, Sophie de Bruyn (wat nog leef), Lilian Ngoyi, Helen Joseph en Albertina Sisulu, wat almal voorste anti-apartheidsaktiviste was.

Ek dink aan Ruth First, alumnus van Jeppe High School for Girls waar my vrou baie jare later hoofmeisie was. First was 'n joernalis, een van die aangeklaagdes van die hoogverraadverhoor van 1956-'61 en was in 1963 vier maande in eensame aanhouding voor sy in ballingskap gegaan het. Sy was 'n navorser by die Eduardo Mondlane-universiteit in Maputo toe 'n bom wat deur die veiligheidspolisie aan haar gestuur is, haar op 17 Augustus 1982 doodgemaak het. Sy was met die Kommunisteparty se leier en later minister Joe Slovo getroud.

Helen Suzman het in 1959 van die Verenigde Party weggebreek en die Progressiewe Party gestig, wat sy 36 jaar lank in die wit parlement verteenwoordig het. Sy was 'n genadelose teenstander van die Nasionale Party en het 'n goeie vriendskap met Nelson Mandela en ander opgebou nadat sy jaar ná jaar Robbeneiland besoek het om die omstandighede van politieke gevangenes te ondersoek.

Met die embarrasserende manewales van Busisiwe Mkhwebane vars in ons gedagtes, is dit ook goed om haar pionier-voorganger as openbare beskermer, Thuli Madonsela, te onthou.

VAN BO LINKS: Helen Suzman, Mahsa Amini, Rahima Moosa, Charlotte Maxeke, Ruth First, Thuli Madonsela, Rosa Parks.
VAN BO LINKS: Helen Suzman, Mahsa Amini, Rahima Moosa, Charlotte Maxeke, Ruth First, Thuli Madonsela, Rosa Parks.

Twee van die voorste helde van my beroep is Maria Ressa van die Filippynse mediagroep Rappler, wat voorverlede jaar die Nobelprys vir Vrede gekry het, en Anna Politskovskaya van die Russiese koerant Novaya Gazeta, skrywer van onder meer Putin’s Russia, wat in 2006 deur die regime vermoor is.

Belarus is nie gereed om 'n vrou as president te hê nie, het die diktator van dié land, Alexander Lukashenko, in 2020 verklaar toe Sviatlana Tsikhanouskaya haar as kandidaat beskikbaar gestel het nadat haar man in die tronk gestop is. Sy is vandag die leier en simbool van die opposisie in Belarus, al moes sy na Letland uitwyk.

Dit is maar net 'n paar van die vrouehelde van wie ons weet omdat hulle name in die media genoem is. Daar is miljoene ander – ma’s en oumas, susters en dogters – wat kinders onder moeilike omstandighede grootmaak, families bymekaar hou en 'n teenvoeter vir liefdeloosheid is.

Dankie.

Met groot waardering vir my ma, my drie susters, my dogter en die vrou wat bereid was om met my te trou.

Wathint' Abafazi, Wathint' Imbokodo.

Max


Skull song

A sea-god, whose father had been a mortal, becomes a skeleton.

The skin of the sea was thick, to-night,
And the tone of the sea was dull;
When I found by the edge of the sullen sea
The half of a sea-god’s skull.

Half of a sea-god’s skull was there,
Half of a sea-god’s tail.
When I dug them out of the clutch of the sand
The peering moon went pale.

The peering moon went pale, because
Her other eye had seen
The other half of the sea-god’s bones
Ten thousand fathom green . . .

Ten thousand fathom green with sea,
The sea-god’s other bones
Swayed in a dead sea-goddess’s arms
On a pile of sea-washed stones.

The skin of the sea was thick, to-night,
And the tone of the sea was dull,
While I buried away from the sinister sea
All the mortal part of a skull.

– Genevieve Taggard

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.