Mense verdien vrede en sekuriteit

MAANDAG MET MAX

Mense verdien vrede en sekuriteit

MAX DU PREEZ wens ons kon by die internasionale magspolitiek verby kyk en die Israeli's en Palestyne as mense raaksien. ANNELIESE BURGESS sê enige party wat die woord ‘vreugde’ in sy verkiesingsmanifes gebruik, kry haar ondersteuning. Soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 09 Oktober 2023
  • Daagliks
  • 11 min om te lees

Goeiedag!

1. Teen VWB se saktyd gisteraand het die Israeli-dodetal ná die Hamas-aanvalle op 600 gestaan en was daar steeds gevegte in die suide van die land en die Gaza-strook. Daar word geraam dat Hamas meer as 100 mense as gyselaar geneem het.

2. Eskom sal “dalk” teen die einde van die jaar ’n plaasvervanger vir André de Ruyter hê, het die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, aan Bloomberg TV gesê. Transnet se top-pos, daarenteen, kan nog lank vakant wees. Dit is volgens Gordhan moeilik om “in die Suid-Afrikaanse konteks” die regte mense vir die aanstellings te vind.

3. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het sy voorganger, Ace Magashule, nou openlik geblameer vir die ineenstorting van dienslewering en korrupsie wat die Vrystaat verlam het.

4. City Press het gister berig dat daar ’n ondersoek is om vas te stel of maj.genl. Dumisani Khumalo, hoof van misdaadintelligensie en die man aan wie die land se diepste geheime toevertrou word, sy sekerheidsklaring moontlik op bedrieglike wyse verkry het. Dit is blykbaar “binne ’n skamele vyf dae afgehandel”.

5. In Sunday Times se hoofberig gister is beweer dat die sekretaris van die parlement, Xolile George, stilletjies ’n verhoging van 70% bekom het. Hy verdien nou R4,4 miljoen per jaar – meer as pres. Cyril Ramaphosa – nadat hy die pos verlede jaar vir R2,6 miljoen aanvaar het. Dit is blykbaar om “tred te hou met die ontwikkelende ekonomiese landskap en verhoogde lewenskoste”.

6. Suid-Afrika se epidemie van transito-rooftogte neem geensins af nie. Trouens, die bendes wat dié georganiseerde misdaad uitvoer, raak net meer vermetel. Die polisie in Gauteng is nou op soek na die bende wat, nadat hulle die naweek 'n transito-rooftog op die N12-hoofweg in die suide van Johannesburg uitgevoer het, ’n vrou in ’n BMW gekaap en haar gedwing het om hulle in die rigting van Soweto te neem.

7. Die dodetal ná ’n reeks aardbewings in die weste van Afghanistan het skerp gestyg tot meer as 2 000 mense. Dit volgens ’n Taliban-woordvoerder.


Ontwrigtende reën sal tot môreaand langs die Oos-Kaapse kus tussen Port Alfred en Port Edward voorkom wat tot oorstromings kan lei. Hewige donderstorms, moontlik met sterk tot skadelike winde, en groot hoeveelhede klein hael word oor die Oos-Vrystaat en die sentrale dele en suidooste van Noordwes verwag. Brandgevaartoestande word verwag oor die weste en suide van Noordwes, dele van die Vrystaat, die noorde en noordooste van die Noord-Kaap en die verre suidweste van Gauteng. Die grootste deel van die land sal bewolk tot deels bewolk wees, behalwe in die omgewing van Kaapstad en Upington. Reën en buie kan ook aan die Suid-Kaapse en KwaZulu-Natalse kus verwag word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 31°C • Johannesburg 28°C • Mahikeng 32°C • Mbombela 24°C • Kaapstad 23°C • Durban 22°C • Kimberley 34°C • Bloemfontein 32°C • Polokwane 25°C • Upington 32°C • Gqeberha 17°C • Oos-Londen 17°C.


Anneliese Burgess | Rise Mzansi het dié naweek (hopelik) begin rise

Net verlede week maak kollega Piet Croucamp op ons WhatsApp-groep die punt dat Rise Mzansi nog nie uit die blokke gekom het nie. Maar met die afsluiting van hulle drie dae lange “konvensie vir die mense” met 800 afgevaardigdes in Johannesburg gister het ek hoop dat die groepering, onder leiding van Songezo Zibi, nou as politieke party gaan begin rigting kry.

Toe ek in Desember met Zibi gesels het, het hy gesê hulle gaan hulle nie laat aanjaag nie. Dat daar eers  ’n “deurdagte gesprek” moet plaasvind tussen Suid-Afrikaners wat Rise Msanzi as ’n potensiële politieke tuiste sien, en dat Rise Mzansi doelbewus ’n gemeenskapsgedrewe inisiatief gaan wees – nie een waar leiers die kitaar slaan nie.

In sy toespraak gister sê hy: 

“We must tell those who think we are political service providers they must choose from, that those days are over. That is the old politics of stadiums full of people waiting to hear another roll of false promises and exaggerated achievements when the country is on fire.

“We are here because Rise Mzansi’s volunteers and supporters have decided that it is impossible to get new results while keeping the same old tired politicians and their political parties in place.

“We are here to ask them to hold up the sun from setting on our hopes and dreams. We are here to make sure that the night is quiet, and the winter is short, and that freedom, joy and prosperity will come in the morning.”

Ondersteuners onderteken die People's Declaration by Rise Mzansi se konvensie vir die mense.
Ondersteuners onderteken die People's Declaration by Rise Mzansi se konvensie vir die mense.
Image: X

Zibi het destyds vir my gesê ons het ’n ander kaliber mens nodig in die Suid-Afrikaanse politiek. En as ek so luister na die gesprekke by die konvensie wat op X gedeel is, wil dit voorkom asof Rise Mzansi inderdaad ’n heel ander gehalte afgevaardigde beet het, en dat daar iets vars, nuut – en heel anders – in die politiek aan die broei kan wees.

Enige party wat die woord “vreugde” in sy verkiesingsmanifes gebruik, kry my ondersteuning! Kyk bietjie na die video van Rise Mzansi se jong leierskap hier onder (in hulle “2024 is our 1994”-T-hemde) wat op X geplaas is. En die liedjie “Ngilele E Hotel” van Killorbeezbeatz is, soos my dogter sê “a total vibe". Miskien net die tipe vibe wat ons vuisvoos nasie nodig het.

En daai “Our hearts are full” in die plasing op X: Wat kan ek sê? Daai is 100% my tipe vibe. Phansi met die moeë, droë, verkalkte, voorspelbare, selfsugtige, stiksienige, uitgediende ou politiek. Phansi! Mag daar ’n politiek van die hart oprys.


Israel en Palestina: haat in die hartland

Ek sit sedert Saterdagoggend vasgenael voor my televisiestel en hop van CNN na BBC World na Sky na Aljazeera om die hartverskeurende verskrikking wat in Israel en Gaza aangaan, te probeer verstaan. En dan gaan soek ek boonop ekstra inligting op YouTube en Telegram.

Na twee dae se kyk en lees en luister het ek een oorweldigende gewaarwording: Die haat wat die meeste Palestyne en Israeli’s vir mekaar voel en die minagting vir menselewens aan albei kante, voel vir my byna primordiaal, primitief.

Terroriste aan albei kante.

Ek is geen ekspert wat die Midde-Ooste betref nie, maar ek was al in Ramallah en Hebron, en in Jerusalem en Tel Aviv, ek volg gebeure daar ten nouste en ek het kennisse aan Palestynse en Israelse kant wat ek oor die jare by internasionale konferensies oor vrede en versoening ontmoet het.

Ek het so 15 jaar gelede by een so ’n konferensie oor Suid-Afrika as gevallestudie van versoening gepraat. My kernpunt was dat ’n deel van die verduideliking hoekom ons hier aan die suidpunt kon slaag, was omdat ons dit sélf gedoen het; dat ons nie nie die vredesproses geïnternasionaliseer het nie; dat ons nie toegelaat het dat moondhede wat mekaar vyandiggesind is, vir ons voorsê wat om te doen en in die proses hulle eie belange dien nie.

Die grootste deel van my gehoor en al my mede-paneellede het my verveeld aangekyk – die Israeli’s, die Palestyne, die Amerikaners, die Europeërs en die Asiërs. Wat ’n simpel idee van ’n dom outjie uit Afrika.

Gister kyk ek weer na al die verklarings en uitsprake oor die nuwe konflik van oraloor: Amerikaanse en Europese leiers noem die invallers in Israel terroriste en blameer Iran; uit Iran en die Arabiese wêreld word die invallers as trotse vryheidsvegters geloof. En almal wonder wat Amerika nou daaraan gaan doen.

Dit pas Israel natuurlik. Sonder Amerika se geldelike en militêre hulp sou sake vandag gans anders gelyk het. Onwrikbare steun vir Israel is al dekades lank ’n verkiesingskwessie in Amerika, deels te danke aan die invloedryke Joodse lobby, deels weens kwalik verskuilde Islamofobie.

Die Palestyne het nie so ’n borg of weldoener nie. Israel se weermag en polisie is ’n formidabele, moderne, internasionaal gerekende gevegsmag (hulle beskik selfs oor kernwapens); die Palestyne het geen lugmag of leër nie, net gevegsgroepe soos Hamas met eenvoudige wapens.

Wanneer ons hier in Suid-Afrika na die konflik tussen Israel en die Palestyne kyk, sien baie van ons dit deur ’n Westerse, ’n Amerikaanse bril:

Die Israeli’s is ’n wonderbaarlike nasie wat ’n moderne modelstaat in die woestyn opgebou het. Dit is die heenkome, die beloning vir Jode ná die Holocaust.

Die Palestyne is militante Moslems met kopdoeke en gewere wat aanmekaar “Allahu Akbar” skreeu. Hamas (en Islamitiese Djihad en Hezbollah) is moorddadige terroriste wat Iran en ander Islamitiese fundamentaliste se vuilwerk vir hulle doen.

Vir baie swart Suid-Afrikaners is blinde lojaliteit jeens die Palestyne ononderhandelbaar, want hulle is Amerika en die Weste se vyande.

Ek wens ons kon almal verby die internasionale magspolitiek en vooroordele kyk en die mense van die streek begin raaksien.

Die Hamas-vegters se doodskiet en ontvoering van Israelse burgerlikes Saterdag is beslis moreel totaal veragtelik.

Maar Benjamin Netanyahu se bloedstollende dreigemente dat sy weermag Gaza tot ’n “deserted island”, tot “rubble” gaan reduseer, is ewe onaanvaarbaar. Dit ruik na volksmoord. Hy het die mense van Gaza, die digs bevolkte plek op aarde, gewaarsku om pad te gee of te sterf – maar waarheen? Hulle is al dekades lank die toegekampte gevangenes van Israel.

(Lees hier vir meer agtergrond oor Gaza: Gaza Strip: A beginner’s guide to an enclave under blockade)

Image: ANGELA TUCK

Een ontleder op Aljazeera het gister iets gesê wat by my ingesink het. Vuurpylaanvalle en straatskietery kan deur televisiekameras vasgevang en die wêreld oor gebeeldsend word, maar die “slow violence” wat al dekades lank teen die Palestyne in Gaza en die besette Wesoewer gepleeg word, kan nie visueel so vasgevang word nie. 

Dié “slow violence” manifesteer deurdat die Palestyne al dekades lank as onwelkome indringers in hulle eie land behandel word.

Dat hulle op ’n daaglikse basis verneder en aggressief deur soldate behandel word – meer as 200 Palestyne is al vanjaar só in Gaza doodgeskiet.

Dat duisende Palestyne in haglike omstandighede in tronke in Israel aangehou word.

Dat setlaars van onwettige nedersettings op Palestynse grond beskerm en toegelaat word om Palestyne aan te val en hulle huise af te brand, soos onlangs weer gebeur het.

Die moord op die Aljazeera-joernalis Shireen Abu Akleh deur Israelse soldate op 11 Mei verlede jaar, wat Israel weier om te laat ondersoek, is deel van die “slow violence”.

Die herhaaldelike ontheiliging van die Al Aqsa-moskee in Jerusalem deur Israelse soldate is deel van dieselfde verskynsel.

(Tamir Pardo, gewese hoof van die befaamde intelligensie-agentskap Mossad, het hom onlangs by diegene gevoeg wat sê Israel se behandeling van die Palestyne is vergelykbaar met apartheid. Lees hier meer: Israel imposing apartheid on Palestinians, says former Mossad chief | Palestinian territories | The Guardian)

Netanyahu is sleg vir Israel. Sy korrupsie-hofsaak sloer nou al lank. Hy is in ’n koalisie met ekstreem regse politici wat wil hê net Jode moet regte in Israel hê en hulle ten gunste van die “uitwissing” van die Palestyne uitspreek. Netanyahu steun die oprigting van nóg onwettige nedersettings op Palestynse grond. Meer onlangs het hy probeer om die status van die regbank en die oppergesag van die reg te ondermyn.

Dit is in dié atmosfeer wat iets moontlik is soos die spektakel op televisie verlede week toe Ortodokse Jode gespoeg het op Christen-pelgrims wat ’n kruis op die Via Dolorosa in ou Jerusalem gedra het.

Ek ys om te dink hoeveel mense in die komende dae in Gaza gaan sterf, en dalk elders, want die konflik kan dalk net na die Wesoewer en die noordgrens met Libanon uitbrei.

Israel is korrek as hulle aan die Palestyne verklaar: Ons kan meer van julle doodmaak as julle van ons.

Die apartheidbase het ná Sharpeville in 1960 die ANC, PAC en SAKP verban, vele leiers in die tronk gesmyt en verklaar die revolusie is verby. En toe kom 1976, en die turbulente 1980’s. En toe 1994.

Die geskiedenis van die laaste halfeeu leer ons dat Israel duisende Palestyne kan doodmaak en hulle huise en geboue die een ná die ander kan platvee, maar die Palestynse weerstand teen onderdrukking en ontheemding gaan nooit gebreek word nie.

Die mense van albei nasies verdien vrede en sekuriteit.


Daagliks bestap ek die grysblou strate
verweerd
verwaarloos
Wat is daar om voor bang te wees?
Ek sien 'n mooi vrou
Bettie Lou, I lost my heart
Ek begin sing:
the nearer your destination
the more you slip sliding away

– Jeanne Goosen

(Uit: Het jy geweet ek kan toor?)


Lees hierdie week se hele uitgawe:

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.