Hoe ernstig kan ons die sensus opneem?

DONDERDAG MET MERCY

Hoe ernstig kan ons die sensus opneem?

MERCY KANNEMEYER skryf oor die eenmanvertoning Boesak, wat by die Woordfees op Stellenbosch te sien is. WILLEM KEMPEN ontdek dat Suid-Afrika 'n land van hoenders is. En daar is weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 12 Oktober 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiemôre!

1. 'n Brandstofkrisis dreig as die vraag aanhou styg terwyl die land se raffineringsvermoë beperk bly, het Ayanda Noah, groepvoorsitter van die Sentrale Energiefonds (SEF), volgens News24 by die Afrika-olieweek in Kaapstad gewaarsku. Net drie van Suid-Afrika se ses raffinaderye is in bedryf. Volgens Noah sal die land teen 2025 meer as die helfte van die nodige geraffineerde brandstofprodukte moet invoer omdat dit nie plaaslik gedoen sal kan word nie.

2. Sowat 640 werknemers van die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling het gedurende die 2022-'23-boekjaar bedank, het die parlement se betrokke portefeuljekomitee gister gehoor. Die ANC-LP Qubudile Dyantyi het al dié bedankings 'n “exodus" genoem: “If you're going to have 640 just leaving, resigning, it is a problem, and it is not improving, because in the previous year it was 486 that left the department, and the year before that it was 420. So, it is not getting better," het hy gesê.

3. Die finansiëledienste-tribunaal het Markus Jooste van Steinhoff se aansoek van die hand gewys dat twee boetes van altesame R15 miljoen wat deur die JSE aan hom opgelê is, tersyde gestel word. Jooste se regspan het vroeër aangevoer daar is geen bewyse dat hy geweet het van die rekeningkundige onreëlmatighede wat tot Suid-Afrika se grootste korporatiewe skandaal gelei het nie, maar die tribunaal het dié argument verwerp.

4. Aanklagte is laat vaar teen drie van die verdagtes in die Thabo Bester-ontsnappingsaak. Hulle is Moeketsi Ramolula, Thabang Mier, en Nastassja Jansen. Die saak is nou oorgeplaas na die Bloemfonteinse hooggeregshof, waar dit in Februarie sal hervat.

5. Premier Benjamin Netanyahu van Israel het ingestem tot 'n spesiale oorlogskabinet waarin onder andere die opposisiepartyleier Benny Gantz, 'n voormalige minister van verdediging, sal dien. Dit kom volgens Reuters neer op 'n tussentydse eenheidsregering. Die Gazastrook was gister weer sonder elektrisiteit te midde van 'n verwagte aanval deur Israelse grondmagte.

6. Die EU het gevra dat Elon Musk meer doen om die verspreiding van disinformasie op X te beperk. Thierry Breton, die EU se kommissaris vir interne markte, het gesê daar is aanduidings dat X gebruik word om propaganda te versprei rondom die konflik in die suide van Israel. “I therefore invite you to urgently ensure that your systems are effective and report on the crisis measures taken to my team," het Breton in ’n brief aan Musk gesê.

7. Republikeine in die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers het vir Steve Scalise as speaker benoem nadat hulle verlede week van Kevin McCarthy ontslae geraak het. Dis egter onduidelik of Scalise genoeg steun het om 'n stemming te wen omdat die Republikeinse meerderheid net 221 teenoor 212 is.


Daar is weer waarskuwings oor swaar donderbuie in dele van KwaZulu-Natal, die Noord- en Oos-Kaap, Noordwes en die Vrystaat. Daar is ook 'n hoë brandgevaar oor die ooste van Noordwes. Die grootste deel van die land kan buie en donderbuie verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 29°C • Johannesburg 26°C • Mahikeng 29°C • Mbombela 24°C • Kaapstad 19°C • Durban 25°C • Kimberley 25°C • Bloemfontein 24°C • Polokwane 32°C • Upington 26°C • Gqeberha 20°C • Oos-Londen 22°C.


Willem Kempen | Elkeen van ons besit gemiddeld sowat 0,6 hoenders ...

Die meeste gesprekke oor die 2022-sensusverslag gaan vashaak by die enorme amptelike ondertelling van meer as 31%. Dis jammer, want dit laat mens noodwendig wonder oor die geloofwaardigheid en betroubaarheid van die res van die syfers. Gaan lees gerus hier die verslae, wat al die syfers heel verteerbaar aanbied.

'n Paar dinge wat uitstaan:

• Suid-Afrika se totale amptelike bevolking op 2 Februarie verlede jaar was 62 027 503. Dit verteenwoordig groei van net minder as 20% sedert 1996, terwyl die ekonomie in dieselfde tyd met net 12% gegroei het as die uitwerking van inflasie in berekening gebring word. Dít is agteruitboer op 'n groot skaal ... 

Die Wes-Kaap is nou ná Gauteng en KwaZulu-Natal die provinsie met die meeste mense, nagenoeg 7,1 miljoen. In 1996 was die Wes-Kaap nog in die vyfde plek.

• Die land se afgeronde rassesamestelling – helaas nog in die ou-ou terme – lyk só: 81% van die bevolking is swart, íngesluit 8% wat bruin is, 7,3% is wit (in die vorige sensus in 2011 was dit 9%) en 2,7% is Indiërs.

• Afrikaans (10,6% van die bevolking) is die derde grootste huistaal, met Zoeloe (24,4%) en Xhosa (16,3%) die grootstes.

• Die proporsie Afrikaanssprekendes het afgeneem van 14,5% in 1996 tot 10,6% in 2022.

• Die Noord-Kaap is die enigste provinsie waar meer as die helfte (54,6%) van die mense se huistaal Afrikaans is, met die Wes-Kaap (41,2%) tweede. In KZN gee net 1% van die bevolking hulle huistaal as Afrikaans aan.

Dalk die beste nuus is dat waar in 1996 byna 'n vyfde (19,1%) van die bevolking ouer as 20 heeltemal ongeskoold was, het dié syfer nou gedaal tot 6,9%. In 1996 het net 16,3% van dieselfde ouderdomsgroep sekondêre onderwys voltooi; dit het nou meer as verdubbel tot 37,6%. Dié syfers sê niks van die gehalte van daardie onderwys nie, maar tog.

Selfs beter nuus – en hieroor gaan die spoeg spat – is dat byna 90% van die bevolking nou in formele behuising woon, dat byna 95% van die bevolking toegang tot elektrisiteit het, en dat 82% toegang tot 'n waterpypleiding tot by hulle blyplek het. Terselfdertyd was daar natuurlik ook 'n toename in die gereeldheid van onderbrekings van daardie dienste.

Die ander aanspraak wat die wenkbroue gaan laat lig, is dat net 2 418 197 mense wat buite Suid-Afrika gebore is, tans in die land woon.

Op 'n (effens) ligter noot, Suid-Afrikaners het op die sensusdatum ongeveer 38 miljoen hoenders besit, loshande die gewildste soort lewende hawe – wat ook beteken dat die huidige voëlgriep-uitbraak in meer as een opsig 'n nasionale ramp is. Volgende op die lys is skape (17 miljoen), beeste (12 miljoen), bokke (7 miljoen) en varke (2 miljoen)

En terloops, volgens een tabel in die sensusverslag is presies 17 660 558 skape in die land getel, wat mens moet laat wonder: Hoe op aarde het al die tellers wakker gebly?


Image: ANGELA TUCK

Allan Boesak: die koning van comebacks

Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat dr. Allan Boesak die koning van comebacks is. Maar kom ek verduidelik hoekom ek so sê.

Ek en ’n vriend praat onlangs oor die omstredenheid rondom Boesak. En my vriend merk op dat Boesak met sy nalatenskap, die presidensiële kwytskelding wat hy ontvang het nadat hy weens geldverduistering in die tronk was, die werk waarop hy voortgebou het nadat hy vrygelaat is, alle omstredenheid wat met hom geassosieer word, doodleef.

Ek moes ’n paar dae aan dié gedagte kou. Hoeveel van ons land se leiers het ook nie hulle eie geraamtes in die kas nie, maar bitter min van hulle kry dit reg om ’n befokte comeback te maak. Boesak is die koning van comebacks.

My en Marlo Minnaar se eenmanvertoning, Boesak, open vandag by die Woordfees op Stellenbosch. Dit fokus op sleuteloomblikke in Boesak se lewe, of altans dit wat ons as sleuteloomblikke beskou.

Natuurlik, want dit is immers teater, raak ons aan die ongemaklikhede en omstredenhede in Boesak se lewe ook, maar ons wou nie ’n sensasionele stuk op die verhoog gaan sit nie. Lees gerus ’n poniekoerant as jy op soek is na sensasie.

Hoe vat ’n mens iemand soos Boesak se lewe saam? Dit is geen geheim dat hy ’n ryk en vol lewe gelei het en steeds lei nie. Om dit in ’n toneelstuk van 60 minute te doen moet ’n mens jou kreatiwiteit vrye teuels gee en maar net hoop en vertrou dat jou vrye teuels nie te veel van ’n kreatiewe risiko word nie.

Allan Boesak is op 23 Februarie 1946 in Kakamas in die Noord-Kaap gebore. As die naasjongste van agt kinders het hy swaar groot geword. Nadat sy pa vroeg dood is, het die gesin van Kakamas na Somerset-Wes getrek, en later na Eersterivier in Kaapstad.

Boesak was 22 toe hy as dominee van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk in die Paarl beëdig is. ’n Verfrissende punt wat ek uit my navorsing geleer het, is dat Boesak gevoel het sy teologiese opleiding in Suid-Afrika was nie voldoende nie. Hy het later sy PhD aan die Kampen Teologiese Instituut in Nederland behaal.

Weens die destydse politieke uitdagings in die land het Boesak hom genoodsaak gevoel om tot die politiek toe te tree. Hy was deel van ’n klein groepie swart teoloë wat die kerk aan ’n politieke front begin uitdaag het.

In 1983 was hy een van die stigterslede van die United Democratic Front (UDF), waarvan hy tot 1991 ’n lid was.

Van 1982 tot 1991 was hy die voorsitter van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke. Hy het wyd gepubliseer en daar is ook wyd oor hom geskryf.

Toe kom die aanklagte van bedrog teen hom in 1999 en hy gaan tronk toe. Maar, en dis ’n groot maar – beeldmateriaal van die struggle-jare in Suid-Afrika sal hiervan getuig – sy ondersteuners het bankvas agter hom bly staan. Hy was byna die bruin man se Messias. Uiteindelik is hy kwytgeskeld en in 2004 weer tot die bediening toegelaat.

Deur die loop van die repetisieproses het ek en Marlo gereeld gesels oor watter soort leier Boesak is. Vreesloos. Onbeskaamd. Gretig om sy kennis en opinies te deel. Oop. Toeganklik. Dit het ons laat wonder: Waar gaan ons weer so ’n leier kry? Iemand wat nie die politiek betree het vir faam of finansies nie, maar omdat hy glo dat God hom gestuur het.

Boesak se toetrede tot die politiek was volgens my groter as hy self. En ek dink nie jy hoef in God te glo om te kan erken dat dit geweldig onselfsugtig is om ’n opdrag van hoër magte te gehoorsaam en sodoende jou lewe in diens van ander te lei nie.

Een van die belangrikste lesse wat ek uit hierdie proses geleer het, is dat dit NB NB NB NB NB is om die geskiedenis te ken. En nie net te ken nie, maar te verstáán. Ons geskiedenis het tog, en dit klink nou voor die hand liggend, maar ons geskiedenis het gemaak dat ons nou in hierdie situasie (slapgat politici, moedelose mense, afwesigheid van hoop) sit.

Ek verstaan nie rêrig mense wat geen agting vir die geskiedenis het nie. Geskiedenis fassineer my, want ek hou daarvan om te weet waar ’n ding begin het; hoe dinge gekom het soos dit is. As jy die hede wil verstaan, moet jy in die geskiedenis gaan soek.

Ek moet nou verder gaan repeteer. Kom kyk asseblief die produksie. Donderdag 12 Oktober om 14:00. Vrydag 13 Oktober om 13:30, en Sondag 15 Oktober om 17:00. Ons speel by kykNET HS Stellenbosch.


Let No Charitable Hope

Now let no charitable hope
Confuse my mind with images
Of eagle and of antelope:
I am by nature none of these.

I was, being human, born alone;
I am, being woman, hard beset;
I live by squeezing from a stone
The little nourishment I get.

In masks outrageous and austere
The years go by in single file;
But none has merited my fear,
And none has quite escaped my smile.

– Elinor Wylie

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.