’n Derde Trump-prokureur kan staatsgetuie teen hom word

WOENSDAG MET WILLEM

’n Derde Trump-prokureur kan staatsgetuie teen hom word

LOUIS DE VILLIERS sê die Bokke het in Wayne Barnes die beste skeidsregter vir Saterdag, WILLEM KEMPEN wonder oor masjiene wat hamburgers maak, en daar is weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 25 Oktober 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre


1. Die Proteas het Bangladesh met 149 lopies geklop in hul Wêreldbeker-kragmeting in Mumbai. Quinton de Kock se 174 lopies was sy derde honderdtal van die toernooi. 

2. Andile Nongogo is Maandagaand afgedank as uitvoerende hoof van die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) te midde van vrae oor die goedkeuring van kontrakte ter waarde van sowat R47 biljoen, het die parlementêre komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gister gehoor.

3. Meer as 500 stakende mynwerkers het gister vir die tweede dag by die Gold One-myn in Springs ondergronds saamgedrom en gevra dat die leierskap van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) by hulle aansluit.

4. Eskom het al elektrisiteit van sowat 1 100 MW goedgekeur wat van privaat maatskappye, myne ingesluit, met oortollige opwekkingsvermoë verkry sal kan word, het Business Day berig. Dis genoeg om ’n volle fase beurtkrag te voorkom.

5. Die Kremlin het berigte ontken dat pres. Vladimir Putin Sondagaand ernstig siek geword het en dat dubbelgangers sedertdien by openbare optredes vir hom ingestaan het. “Everything is fine with him, this is absolutely another fake," het 'n woordvoerder volgens Reuters gesê.

6. Nóg een van Donald Trump se voormalige prokureurs, Jenna Ellis, het as deel van 'n pleitooreenkoms skuld erken op 'n aanklag wat verband hou met die voormalige Amerikaanse president se pogings om sy 2020-verkiesingnederlaag in die staat Georgia om te keer. Sydney Powell en Kenneth Chesebro het vroeër soortgelyke ooreenkomste met staatsaanklaers aangegaan.

7. Chinese staatsmedia het berig dat genl. Li Shangfu as minister van verdediging afgedank is. Li is die tweede senior regeringsleier wat die afgelope drie maande uit sy pos verwyder is, wat vrae laat ontstaan oor die stabiliteit van die leierskap om pres. Xi Jinping.


Dis vandag warm tot baie warm in Gauteng en Noordwes, en uiters warm in dele van die Vrystaat, die Noord-Kaap en die suidweste van Limpopo. Dis vanoggend mistig in die ooste van Limpopo en Mpumalanga met die moontlikheid van ligte reën langs die platorand. Andersins sal dit, soos in die Wes- en Oos-Kaap, deels bewolk tot bewolk wees.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 33°C • Johannesburg 32°C • Mahikeng 35°C • Mbombela 24°C • Bloemfontein 30°C • Polokwane 27°C • Kimberley 32°C • Upington 36°C • Kaapstad 24°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 21°C • Durban 22°C.


Louis de Villiers | Ja, Wayne Barnes ís goeie nuus vir die Springbokke


Daar was ’n geween en ’n gekners van tande toe dit bekend word dat Wayne Barnes Saterdag in die Wêreldbeker-eindstryd gaan blaas. Maar kom ons wees eerlik met mekaar: Ons Suid-Afrikaners sit ’n keel op oor die blaser, ongeag wie dit is.

Die reëlboek en die amper ewe feilbare TV-skeidsregter maak die taak van die moderne rugbyblaser min of meer godsonmoontlik. Glo my vry, sy aanwysing laat hulle erger paap in Taihape as in Potgietersrus, want die einste Barnes het 'n enorme aandeel gehad in Suid-Afrika se Wêreldbeker-oorwinning in 2007.

Hy was toe 28 en nog net twee seisoene lank ’n beroepsblaser toe hy die fluit gevat het in die kwarteindstryd tussen Nieu-Seeland en Frankryk in Cardiff, en die Hane teen alle verwagtinge in met 20-18 gewen het. Die Nieu-Seelandse Rugbyunie het agterna ’n video met sy foute – waarvan ’n misgekykte, deurslaggewende vorentoe-aangee die belangrikste was – aan Wêreldrugby gestuur, en die man het die te wagte doodsdreigemente en vloedgolf aanlyn beledigings vanuit Aotearoa moes verduur. Klink effentjies soos onse mense.

Daar was indertyd selfs ’n gerug in Nieu-Seeland dat Wayne my ou vriend die gewese Engeland-losskakel en kommentator Stuart Barnes se seun is. Stu sou hom op 16 moes verwek het, wat moontlik is, maar hy verseker my hy het niks daarmee uit te waai gehad nie.

Ewenwel, dis Saterdag Wayne Barnes se 111de toetswedstryd en die 27ste wedstryd wat hy by 'n Wêreldbekertoernooi sal hanteer. Saam met Jaco Peyper, Ben O’Keeffe, Angus Gardner en die jong Georgiër Nika Amashukeli is hy deesdae ongetwyfeld een van die beste rugbyskeidsregters ter wêreld. Almal van hulle word feitlik weekliks vervloek, want die labirintiese rugbyreëlboek is niemand se speelmaat nie.

Ons kon beswaarlik vir ’n beter skeidsregter gevra het.


Dinge wat masjiene (nog nie) kan doen nie

Dis al ’n hele klompie jare dat jy nie heeltemal seker kan wees waar sit die mens agter die stem uit die luidspreker as jy ’n bestelling uit jou kar by ’n McDonald’s plaas nie. Teoreties kan daardie mens in ’n inbelsentrum in Indië of iewers anders sit waar die lone dalk laer is vir dieselfde werk as waar jy jou ook al bevind.

Maar dit was darem nog ’n mens van vlees en bloed, een wat iewers ’n werk gekry het wat nie deur ’n masjien gedoen kan word nie. Nou is selfs dié opsie in gevaar, want die groot kitskos-kettinggroepe is besig om baie geld te belê in die gebruik van kunsmatige intelligensie om outomatisering nóg verder te vat.

Twee van die grootste Amerikaanse name in die bedryf, Wendy’s en Carl’s Jr., het onlangs begin toets hoe sogenaamde genererende kunsmatige intelligensie en gevorderde taalmodel-tegnologie ingespan kan word om, in die Amerikaanse parlance, “improving the drive-thru experience”. Die bedryfspublikasie Nation’s Restaurant News sê “AI has become the biggest tech trend in QSR” (quick-service restaurants).

Die eintlike rede het natuurlik meer te doen met groter winste as met klante se “ervaring”, want outomatisering beteken potensieel minder tyd, mense en geld, en ook akkurater produksie en verhoogde verkope. Daarom dat sommige plekke reeds eksperimenteer met robotte wat nie net met klante gesels en hulle vertel wat op die spyskaart is nie, maar ook maaltye en drinkgoed berei en mense bedien. Kletsbotte word ingespan om mense se koopgeskiedenis te gebruik om voorstelle te doen vir bykomende geregte of om nuwe items op die spyskaart aan te beveel. En outomatisering van die toediening van sout en peper en souse soos ketchup beteken dalk die einde van daardie irriterende klein plastieksakkies wat so ’n gesukkel is om oop te kry.

Die eintlike revolusie is nie by die verkoopspunte nie, maar in dinge soos voorraadbestuur, die opstel van werkroosters vir die regte mense wat dalk nog nodig is, en voldoening aan wetgewing en plaaslike regulasies oor dinge soos voedselveiligheid. Daarom dat datareuse soos Google Cloud ook gretig is om in die aksie te deel.

Dinge kan natuurlik skeefloop of kopers juis afsit, en sekere dinge gaan nog altyd deur mense gedoen moet word. Anthony’s Coal Fired Pizza & Wings het byvoorbeeld opgehou om ’n KI-foonbestellingsbot met die naam Becky te gebruik “omdat sy nie die soort hartlike gasvryheid uitstraal wat ons graag met ons handelsmerk geassosieer wil hê nie”.

“The idea of robots and all those things, while it maybe is great for garnering headlines, it’s not practical in the vast majority of restaurants,” het Chris Kempczinski, uitvoerende hoof van McDonald’s, aan Axios gesê. En soos altyd met kunsmatige intelligensie is daar vrese soos dat oorywerige masjiene kan gaan rondsnuffel in kliënte se vertroulike inligting in ’n poging om ’n nuwe soort burger aan hulle te verkoop.

Maar die masjiene raak al hoe slimmer, en om mense in hulle plek te laat werk, raak al hoe duurder. Masjiene behoort (nog nie) tot ’n vakbond nie, hulle hoef nie ’n minimum loon betaal te word nie en hulle bly nie op Maandae van die werk af weg om ’n begrafnis by te woon of van ’n babbelas te herstel nie.

Wat regte mense wél kan doen, ás hulle iewers anders as by ’n geoutomatiseerde eetplek ’n werk kan kry en dit kan bekostig, is om die kos te bestel en te eet.

Kan iemand aan ’n rede dink waarom daai deel nie ook deur masjiene oorgeneem kan word nie?


voortaan

voortaan sal ek winterskemers vleilangs loop
en droë takkies van geraamtestruike stroop

wilgers sal gekruisig aan die hemel hang
en ek sal doodmenslik na jou terugverlang

soos na die somerse rinkink van vinke in palmiet
en die onbeholpe liefde van wildeganse tussen riet

– W.L. van der Merwe

(Uit: Doodmenslik)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.