Die Swifties en ander politieke leërskares

WOENSDAG MET WILLEM

Die Swifties en ander politieke leërskares

MAX DU PREEZ vra hoekom Tintswalo dan nie vir die ANC stem nie. WILLEM KEMPEN wonder hoekom Amerikaners bereid is om 'n huis se prys vir Super Bowl-kaartjies te betaal, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 14 Februarie 2024
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die Suid-Afrikaanse regering het 'n dringende versoek aan die Internasionale Geregshof (ICJ) gerig om in te gryp nadat Israel aangekondig het dat hy sy “ongekende militêre offensief" in Rafah in Gaza verleng het.

2. Dan Plato, voormalige burgemeester van Kaapstad, het uit die DA bedank en by die People's Movement for Change (PMC) aangesluit. Die PMC word gelei deur die voormalige Wes-Kaapse ANC-leier Marius Fransman.

3. Beurtkrag “is nie die einde van die wêreld nie”, het die ANC se Sylvia Lucas gister tydens die debat oor pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede gesê. Lucas is ook die ondervoorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies. Sy het gesê mens “kan nie 'n ander se realiteit ontken" as hulle jou vertel dat hulle tydens apartheid onder 'n boom gewoon het, maar nou 'n erf met water en toegang tot elektrisiteit het nie.

4. ’n Gautengse konsultasiemaatskappy, Amahlo Consulting, het glo met miljoene rande se winste weggestap nadat hy die provinsiale regering belowe het hy sal oor drie jaar 75 000 internskappe vir werklose jongmense in die provinsie skep, maar het uiteindelik net 142 sulke geleenthede geskep, het Business Day berig.

5. Suid-Afrika gaan 2 900 weermaglede teen 'n koste van net meer as R2 biljoen in die DRK ontplooi as deel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se pogings om vrede daar te bewerkstellig.

6. ’n Peiling deur die Social Research Foundation (SRF) dui daarop dat die MK Party soveel as die helfte van die ANC se steun in KwaZulu-Natal kan wegvat.

7. Die Demokraties-geleide Amerikaanse Senaat het 'n buitelandse hulppakket van $95,34 biljoen vir Oekraïne, Israel en Taiwan goedgekeur, hoewel dit onseker is of dit verby die Republikeins-beheerde Huis van Verteenwoordigers sal vorder.


Die kwik styg. Daar is weer 'n hoë brandgevaar in dele van die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes met hittegolftoestande wat vir Gauteng, Mpumalanga, die Oos- en Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes voorspel word. Buie en donderbuie kan in Gauteng, Vrystaat, Noordwes, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal verwag word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 34°C • Johannesburg 32°C • Mahikeng 37°C • Mbombela 29°C • Bloemfontein 36°C • Polokwane 30°C • Kimberley 39°C • Upington 40°C • Kaapstad 25°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 26°C • Durban 29°C.


Max du Preez | Hoekom stem
Tintswalo dan nie vir die ANC nie?


'n Mens moet erg bevooroordeeld en ongewoon onkundig wees of in totale ontkenning leef as jy wil beweer dat die wonde en letsels van drie eeue van kolonialisme en 'n halwe eeu van apartheid nie steeds 'n impak op die Suid-Afrikaanse samelewing het nie.

Die eeue van onreg het swart en bruin gemeenskappe se natuurlike ontwikkeling gestuit, hulle van hulle grond ontwortel en hulle sosiale en familiestrukture ondermyn. Hulle is verneder en onderdruk en is geleenthede ontsê wat aan die wit minderheid toegeken is.

Dit is ons bittere geskiedenis. Niemand durf dit ontken nie.

Maar in 1994 het onderdrukker en onderdrukte 'n vreedsame skikking onderhandel; die onderdrukker het die politieke mag afgestaan. Twee jaar later is 'n grondwet aanvaar wat 'n nuwe era ingelui het.

Die aanhef tot die grondwet lui:

Ons, die mense van Suid-Afrika,

Erken die ongeregtighede van ons verlede;

Huldig diegene wat vir geregtigheid en vryheid in ons land gely het;

Respekteer diegene wat hul beywer het om ons land op te bou en te ontwikkel; en

Glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.

Daarom neem ons, deur ons vryverkose verteenwoordigers, hierdie Grondwet aan as die hoogste reg van die Republiek ten einde –

Die verdeeldheid van die verlede te heel en 'n samelewing gegrond op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en basiese menseregte te skep;

Die grondslag te lê vir 'n demokratiese en oop samelewing waarin regering gegrondves is op die wil van die bevolking en elke burger gelyk deur die reg beskerm word;

Die lewensgehalte van alle burgers te verhoog en die potensiaal van elke mens te ontsluit;

en 'n verenigde en demokratiese Suid-Afrika te bou wat sy regmatige plek as 'n soewereine staat in die gemeenskap van nasies kan inneem.

Die meerderheid kiesers het in April 1994 die ANC as regerende party verkies om aan dié visie gestalte te gee. Dié mandaat is in 1999, 2004, 2009, 2014 en 2019 herbevestig.

Dit was die taak van die ANC om “maatskaplike geregtigheid” te bewerkstellig en “die lewensgehalte van alle burgers te verhoog en die potensiaal van elke mens te ontsluit”. Die Handves van Regte in die Grondwet het dié taak verder uitgespel: Die reg op menswaardigheid, op geskikte behuising, voldoende gesondheidsorg, voedsel en water en maatskaplike sekerheid moes verseker word.

Ja, heelwat meer mense het inderdaad sedertdien dakke oor hulle koppe en toegang tot water en elektrisiteit gekry, hoe beperk ook al. Veel meer kinders is deur die onderwysstelsel, hoe onbevredigend ook al, toenemend ook deur universiteite en technikons.

Ons het vandag almal persoonlike vryhede wat ons deur apartheid ontsê is. Overte rassisme is gekriminaliseer.

Maar die opwaartse grafiek van ontwikkeling van die moeilike eerste tien jaar van ons demokrasie het daarna begin afplat, en van 2008 af afwaarts geneig.

Dertig jaar ná ons bevryding het ons beslis nog nié naastenby “maatskaplike geregtigheid” nie en word die “potensiaal van elke mens” beslis nie ontsluit nie.

Ons regerende party is korrup en onbevoeg. Sy leiers het eiebelang eerder as openbare belang nagestreef.

Dit is 'n bewys van die ANC se morele bankrotskap dat hulle nou, soos ons gister herhaaldelik in die parlement gehoor het, kolonialisme en apartheid as verskonings daarvoor aanbied.

Die mense van Suid-Afrika het die ANC juis aangestel om 'n nuwe, suksesvolle en regverdige staat op die ruïnes van apartheid te bou. Dít was die mandaat en opdrag. Dit is nie legitiem om nou te sê die taak was onmoontlik nie.

Dit is 'n goedkoop verkiesingstruuk.

Daar is talle voorbeelde van lande wat onder diktatorskappe, konflik of selfs burgeroorloë gely het, maar toe opgestaan en suksesvolle state gebou het. Soos Rwanda, met al sy gebreke, waar die heropbou ook in 1994 begin het.

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede van die simboliese “Tintswalo" gepraat, die “kind van die demokrasie” wat in 1994 gebore is en danksy die ANC nou 'n goeie lewe het.

'n Mens wonder hoe verklaar hy dit dat Tintswalo nou vir 'n opposisieparty eerder as vir die ANC gaan stem.



Die Super Bowl en Donald Trump se Champagne Problems

As jy die regte mense ken, lank genoeg voor die tyd beplan het, en genoeg geluk aan jou kant gehad het, kon jy dálk 'n kaartjie vir Sondag wat verby is se 58ste Super Bowl vir so $2 000 opgetel het.

Die gemiddelde prys? Volgens SeatGeek meer as $12 000, en dan was jy nog glad nie gewaarborg van 'n goeie sitplek nie. Verlede week nog het kaartjiesmouse die laatslapers laat hoes met pryse van tot $45 000. Die duurste aangetekende prys was glo $125 992, maar dis darem vir “premium seats in Section 314, Row 5". So dis nie net grootpraat as sommige toeskouers sê hulle het 'n tweede verband op die huis uitgeneem om daar te kan wees nie...

Een van die redes vir vanjaar se hoë pryse – met inflasie in ag geneem die hoogste wat dit al was – is dat die Allegiant Stadium in Nevada (streng gesproke buite Las Vegas, in Paradise), plek het vir net omtrent 70 000 mense, wat naby aan die minimum is wat deur die National Football League oorweeg word wanneer hulle besluit wie die Super Bowl gaan aanbied. Die duur kaartjies het meer te doen met die ligging in Las Vegas as omdat mense gehoop het Taylor Swift gaan ook in die skare wees, sê die NFL.

Om vir die aanbied van die Super Bowl oorweeg te word, moet die stadion ook aan 'n paar ander vereistes voldoen, soos dat daar minstens 35 000 parkeerplekke binne 'n radius van 'n myl om die veld moet wees. Dit moet die tuisveld wees van 'n amptelike NFL-span, in hierdie geval die Las Vegas Raiders, en die gemiddelde dagtemperatuur in die eindstryd se tyd van die jaar mag nie minder as 10 °C wees nie. (Volgende jaar se Super Bowl is terloops in die Caesars Superdome in Louisiana, tuiste van die New Orleans Saints, wat net 'n rapsie groter as die Allegiant Stadium is.)

Die geraamde kykertal op televisie en stroomplatforms vir Sondag se Super Bowl was 123,4 miljoen mense, 'n syfer wat histories net deur die uitsending van die maanlanding in 1969 oortref word. Dit beteken meer as 'n derde van die amptelike Amerikaanse bevolking het die wedstryd iewers op 'n skerm gevolg.

En tog, so fanaties soos Amerikaners oor hulle voetbal is, is daar 'n verskynsel wat dalk selfs meer mense en geld na die groot stadions lok: Einste Taylor Swift. Sy het die stadion waar verlede jaar se Super Bowl gehou is, State Farm Stadium in Glendale, Arizona, net 'n maand ná die wedstryd twee aande ná mekaar volgemaak; in totaal meer as 145 000 mense. Die kaartjies vir haar Eras Tour was nou wel goedkoper, maar plaaslike besighede sê sy het meer geld na die stad gelok as wat die Super Bowl het.

Lees in ons uitgawe van Vrydag meer oor hoe Taylor Swift 'n fenomeen geword het, maar een van die baie redes is dat sy dit al vir lank duidelik maak dat sy Donald Trump nie kan uitstaan nie. G'n wonder nie daar is die afgelope weke 'n gewilde samesweringsteorie onder MAGA-tipes dat Swift 'n “psy op” van die Pentagon is en dat die uitslag van die Super Bowl bekook is sodat sy en haar boyfriend, Travis Kelce van die seëvierende Chiefs, vir Joe Biden die verkiesing kan help wen. 


Winter

(Vir Mari Samuelsen)

Sy bespeel landskappe,
die fineer van swart ys.
Haar vingers spits
pizzicato: sneeustorms
se bibberbeelde soos ou films
want Piazzolla pluk dissonant ―
die wind vlug uit sy leegtes
maar waai weer daarin terug.
Vivaldi kwink sketterend;
’n sondeurdrenkte tjello
en jong voëls kwinkeleer,
vegtend in die vlieggewig van kleur.
Berge; ysende bloudrukke;
die saffiere as Noorse mere breek ―
die stormviolis is op haar pos.
Winter is ’n sober esteet,
dog onvoorspelbaar soos vuur.

- Uit Donkerwerk (Naledi) deur Nini Bennett

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.