Hlophe en Motata maak saam skande-geskiedenis

DONDERDAG MET MERCY

Hlophe en Motata maak saam skande-geskiedenis

MERCY KANNEMEYER skryf oor die verskynsel van besluitnemingsmoegheid. WILLEM KEMPEN hoop nie die EFF loer teen volgende jaar oor die minister van finansies se skouer nie, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 22 Februarie 2024
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

Jy sal moet spring as jy nog nie 'n VWB-intekenaar is nie, want ons spesiale Februarie-aanbod verstryk amper. Kliek hier om in te teken.

1. Die rand het tot R18,77 per dollar verstewig nadat Enoch Godongwana in sy begrotingsrede gesê het hy gaan 'n Reserwebank-reserwerekening gebruik om staatskuld oor die volgende drie boekjare te verminder. Die minister het ook geen beduidende nuwe belasting op verbruikers aangekondig nie, wat positief deur ontleders ontvang is. Die begrotingstekort word voorsien as 4,5% van die BBP in 2024-'25 voordat dit tot 3,3% teen 2026-'27 kan daal.

2. John Hlophe het die eerste regter in die Suid-Afrikaanse geskiedenis geword wat uit sy amp onthef is. Die Nasionale Vergadering het gistermiddag met die nodige tweederde-meerderheid (305 stemme teen 27) oor die saak gestem. Die Regterlike Dienskommissie het Hlophe in 2021 aan growwe wangedrag skuldig bevind nadat hy in 2008 twee regters van die konstitusionele hof probeer beïnvloed het om sake in Jacob Zuma se guns te beslis. Die afgetrede Nkola Motata is ook uit sy amp onthef.

3. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (IEC) wil hê die konstitusionele hof moet dringend 'n besluit finaliseer oor hoeveel handtekeninge nuwe partye moet hê om aan die verkiesing te mag deelneem. Dit is nadat die Rivonia Circle en Build One South Africa (BOSA) 'n dringende aansoek hieroor by die hooggeregshof ingedien het.

4. Die Gautengse hooggeregshof in Pretoria het die DA se aansoek van die hand gewys om kaderontplooiing onwettig en ongrondwetlik te verklaar. Die hof het bevind 'n politieke party is “daarop geregtig om regeringsbesluite te beïnvloed". Die DA voer aan die ANC het verder gegaan as om aanstellings bloot te probeer beïnvloed.

5. Die presidensie het Vukani Mde, woordvoerder van adj.pres. Paul Mashatile, uit sy pos geskors weens beweringe van seksuele teistering wat in Sunday World gepubliseer is.

6. Die Amerikaanse regering het 'n beloning van tot $15 miljoen uitgeloof vir inligting oor die leiers van die berugte Lockbit-kuberbende. As deel van 'n internasionale operasie teen Lockbit is 'n pa en sy seun in Oekraïne in hegtenis geneem wat glo by die bende betrokke was.

7. Twee mense is dood in 'n Israeliese lugaanval wat 'n woonstelgebou in Damaskus, hoofstad van Sirië, getref het, het 'n bron in die Siriese weermag aan Reuters gesê. Die aanval het glo “nie sy doelwitte bereik nie”. Die eintlike teiken was glo 'n nabygeleë gebou wat deur sekuriteitsagentskappe gebruik word.


Daar is 'n waarskuwing vir baie swaar donderbuie vir dele van Mpumalanga, Limpopo, KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Noordwes, asook 'n hoë brandgevaar vir die Nood-Kaap, Noordwes en die Vrystaat. Hittegolf-toestande duur voort in bogenoemde gebiede, asook in die Oos-Kaap. Gauteng kan buie en donderbuie verwag en dis vandag deels bewolk tot bewolk, maar ook warm tot baie warm in die Wes-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 32°C • Johannesburg 30°C • Mahikeng 35°C • Mbombela 29°C • Kaapstad 24°C • Durban 28°C • Kimberley 39°C • Bloemfontein 37°C • Polokwane 31°C • Upington 39°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 23°C.


Willem Kempen | Begroting 2024: Djefecra en die hoop wat kan beskaam

Terwyl die meeste LP's voorspelbaar gegiggel en grappies gemaak het toe Enoch Godongwana in sy begrotingsrede oor duurder wyn en drank gepraat het, en entoesiasties hande geklap het vir dinge soos die (baie effens) groter maatskaplike toelaes, was daar nie veel reaksie op die “Djefecra" wat hy daar aan die begin rond vir die eerste keer in sy toespraak laat hoor het nie.

“Djefecra" is die GFECRA, oftewel die Reserwebank se Gold and Foreign Exchange Contingency Reserve Account, en dis die enkele grootste rede waarom die res van die staat se begroting die skyn van normaliteit kan bewaar. Sonder die R150 biljoen wat die nasionale tesourie uit daardie rekening gaan onttrek (glo uit 'n totale R507 biljoen), sou die staat ten duurste nóg geld moes leen.

Die wrang ironie is dat daardie rekening hoofsaaklik soveel werd is omdat die rand al vir jare stelselmatig teenoor die Amerikaanse dollar verswak. Ja, net so: Die regering trek nou voordeel daaruit dat die Reserwebank oor dollars beskik wat in rande omgesit kan word. 

Daar was die afgelope weke en maande heelwat bespreking oor die meriete daarvan om die geld uit die GFECRA te trek, maar die minister sê dit sal gebruik word om die staat se enorme skuldlas te verlig. Hopelik is daar ewe vindingryke pogings om die inkomstekant van die begroting ook beter te laat lyk.

Ons moet ook maar almal saam met die minister hoop daar duik nie weer 'n globale finansiële krisis op nie, want dan gaan ons reserwe-skietgoed nie genoeg wees om ons teen die ergste te beskerm nie.

Ons hoop ook maar daar is nie oor 'n jaar van nou af 'n minister van finansies wat nóg geld uit daai rekening wil vat nie – een met of sonder 'n EFF-koalisievennoot wat oor sy skouer loer.


Image: ANGELA TUCK

As besluite jou lewensmoeg maak

Soos wat ek nou die dag doom scroll, lees ek iets raak waarby ek vir ’n paar oomblikke moes stilstaan – decision fatigue.

Dag toe nou eers die kinders het alweer iets opgemaak, maar dis glo legit. Dink daaroor – elke dag is daar 'n besluit wat geneem moet word. Stel jou wekker. Maak ontbyt. Gaan werk toe. Neem besluite by die werk. Gaan huis toe. Kies 'n roete huis toe en werk toe met die minste verkeer. Meer indringende besluite ook nog – gaan ek vandag 'n goeie mens wees? Vir wie gaan ek stem? Wil ek nog in hierdie land met al haar kak en hare bly?

Maar soms is dit die kleiner besluite wat soos 'n berg voel. Soos wat om in 'n restuarant te bestel! Met dié dat alles ook nou nog duurder word en die maande langer en die salaris dunner, is winkels toe gaan my grootste besluit. Jy weet, wanneer jy daai blok kaas van R44,90 neersit en eerder die een van R44 optel? Dít!

Nes dit 'n goeie nuuskierige mens betaam, moes ek natuurlik eers gaan kyk wat die medici en wetenskaplikes oor dié ding te sê het. Volgens die psigiater dr. Lisa Maclean (in 'n artikel getiteld What doctors wish patients knew about decision fatigue) kom besluitnemingsmoegheid voor wanneer jy deur die loop van die dag al hoe meer en meer besluite moet neem, en dit lateraan dan byna onmoontlik voel om enigsins te besluit.

“Hoe meer besluite jy moet neem, hoe meer moegheid ontwikkel jy en hoe moeiliker kan dit word," sê die dokter. Maclean sê ook dat teen die tyd wat die gemiddelde mens saans gaan slaap, hulle alreeds nagenoeg 35 000 besluite vir die dag geneem het. Kan jy jou indink?! 35 000 besluite?! Besluitnemingsmoegheid is ’n fenomeen wat moeilik is om te diagnoseer. Party van die simptome van besluitnemingsmoegheid sluit in impulsiwiteit, ekstreme moegheid, fisiese ongemak, brain fog en geïrriteerdheid.

Party kenners meen dat die pandemie ’n verdere uitwerking op ons besluitnemingsvermoë gehad het (en dalk steeds het). Joe, want tóé moes ons almal nogal heelwat besluite neem. Dalk is daar van julle wat ook die volgende ervaar: ek kan groot dele van die pandemie nie rêrig onthou nie…  Die een oomblik is ons almal in die huis en raak moerse kreatief met broodresepte en pynappelbier, die volgende sterf mense in hulle hordes en  hoender mag nie verkoop word nie. En toe word die maatreëls versag. Hoewel besluitnemingsmoegheid al lank aankom, is sommige van ons s’n beslis tydens die pandemie geaktiveer.

So, hoe oorkom ons dit? Weet jy, nè, soms haat ek dit dat die oplossings vir moeilike dinge eintlik so maklik is. Ons oorkom besluitnemingsmoegheid deur meer te rus, ons stres beter te bestuur deur sommige take dalk te delegeer, deur te oefen en deur sommige besluite bloot net uit te skakel.


Kremlin

Met ligte trepidasie teen die skuinste uit,
deur die poort en swaar beslaande deure
na somerse blomakkers, wandelroetes geplavei,
versiersuikerspitse en goudbeslaande uie
op wit kerke, met duidelik afgebakende
perke vir die verkenningslus van besoekers
wat vrylik forte en antieke kanonne kiek,
tot jy onnadenkend, deur kameralens verlei,
oor ’n rooisteenlyn trap en ’n alarm skril opklink.

– Martjie Bosman

Van: Versindaba

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.