Goeie nuus oor die stryd teen korrupsie

MAANDAG MET MAX

Goeie nuus oor die stryd teen korrupsie

MAX DU PREEZ skryf oor brokkies goeie nuus oor die stryd teen korrupsie wat moontlik 'n teken van Suid-Afrika se toekoms kan wees. Hy meen ook die mens kort 'n nuwe era van Verligting. En dan is daar weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 04 Maart 2024
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiedag!

1. Die speaker van die parlement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, word ondersoek oor aantygings dat sy miljoene rande se omkoopgeld van 'n weermagkontrakteur ontvang het terwyl sy minister van verdediging was. The Sunday Times het gister berig dat die sakevrou wat groot weermagtenders ontvang het, Nombasa Ntsondwa-Ndhlovu, beweer dat sy sakke vol kontant, R2,3 miljoen in totaal, aan Mapisa-Nqakula oorhandig het. Ntsondwa-Ndhlovu beweer glo Mapisa-Nqakula het die betalings by haar geëis.

2. Afvaardigings van Hamas en Israel is in Kaïro vir samesprekings oor 'n moontlike staakvuur in Gaza wat deur die regerings van Egipte en Qatar gelei word. Hamas se houding het verhard nadat Israelse soldate op 'n groep desperate Palestyne geskiet het wat kos by vragmotors met voedselbystand gesoek het. Minstens 112 mense is dood en honderde beseer, maar Israel hou vol dat heelwat van die oorledenes deur die vragmotors doodgery is. Intussen het Amerika, wat Israel se oorlog in Gaza grootliks finansier, en lande soos Frankryk en Jordanië voortgegaan om noodvoorrade uit vliegtuie aan Gaza te voorsien omdat Israel keer dat genoeg vragmotors met kos deur die grens beweeg.

3. Die eienaars van Kaapstad se V&A Waterfront het aansoek gedoen vir toestemming vir groot uitbreidings wat sowat R20 biljoen gaan kos. Dit sluit 'n staproete van die middestad na Mouillepunt in, wat sal aansluit by die beroemde Promenade, 'n baai vir watersport en 'n groot strandontwikkeling.

4. Die hoof van die vloot, vise-admiraal Monde Lobese, het op 'n medaljeplegtigheid in Kaapstad 'n skerp aanval op die wapenvervaardiger Krygkor gedoen en gevra dat die ooreenkomste tussen dié maatskappy en die vloot beëindig word: “As the chief of the Navy I have reached the end of my patience with Armscor’s inability to repair the SA Navy’s ships.”

5. Vir heelwat opwindende nuus en prikkelende skinderstories oor die oud-rugbyspeler Derick Hougaard se fisieke en geestestoestand, raadpleeg Rapport, Huisgenoot en Netwerk24.

6. Die VF Plus is glo bitter omdat die bekende aktivis teen misdaad en minister Bheki Cele se bête noire, Ian Cameron van Action Society, by die DA aangesluit het nadat hy voorheen tien jaar lank by AfriForum gewerk het. Cameron is hoog genoeg op die lys dat hy  seker kan wees dat hy 'n parlementslid gaan word.

7. Môre is Super Tuesday in Amerika, wanneer 17 deelstate in die presidensiële voorverkiesing gaan stem. Donald Trump is baie ver voor sy enigste uitdager, Nikki Haley, en net 'n onverwagte struikelblok weens een van sy vele hangende hofsake kan nog voorkom dat hy op 5 November die Republikeinse Party se presidentskandidaat gaan wees. In die jongste meningspeilings loop Trump met 4 persentasiepunte voor Joe Biden. Trump het gister gesê: “Biden’s conduct on our border is by any definition a conspiracy to overthrow the United States of America. You know, he talks about democracy — he is a danger to democracy, he is.”


Daar is 'n waarskuwing vir swaar donderbuie oor dele van die Oos- en Wes-Kaap en toestande wat 'n hoë brandgevaar inhou vir dele van Noordwes en die Vrystaat. Buie en donderbuie word regoor die land verwag, maar dit word baie warm in Noordwes, Limpopo, Mpumalanga en die Noord-Kaap.

Kliek hier vir meer inligting.

Maksimum temperature: Pretoria 31°C • Johannesburg 29°C • Mahikeng 31°C • Mbombela 31°C • Kaapstad 25°C • Durban 31°C • Kimberley 34°C • Bloemfontein 30°C • Polokwane 30°C • Upington 31°C • Gqeberha 26°C • Oos-Londen 28°C.


Max du Preez | Brokkies goeie nuus oor die stryd teen korrupsie

Te midde van die byna daaglikse nuus van nóg korrupsie, wanbesteding en wanbestuur, moet ons darem ook kennis van twee positiewe verwikkelinge neem.

Die eerste is dat die ANC se integriteitskommissie aanbeveel het dat 92 prominente ANC-leiers, onder wie lede van die kabinet, weens aantygings en bevindings teen hulle nie op die party se nasionale of provinsiale kandidatelys moet verskyn nie.

Die tweede is die aanvaarding deur die nasionale vergadering van 'n wetsontwerp wat die basis lê vir die daarstelling van 'n moderne, professionele staatsdiens.

Die integriteitskommissie, onder voorsitterskap van eerw. Frank Chikane, het in sy verslag aan die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, aanbeveel dat onder andere die minister van sport, kuns en kultuur, Zizi Kodwa, die oudminister van gesondheid, Zweli Mkhize, die adjunkminister van water en sanitasie, David Mahlobo, asook die parlementslede Supra Mahumapelo, Mosebenzi Zwane, Bongani Bongo en Thabang Makwetla, nie op die lys van kandidate moet wees wat volgende week aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie oorhandig moet word nie.

Die ANC se verkiesingskomitee, wat deur oudpres. Kgalema Motlanthe gelei word, het vroeër 97 ANC-leiers uitgewys wat onder verdenking staan, maar vyf van hulle is deur die integriteitskommissie uitgeklaar.

Adj.pres. Paul Mashatile se naam is nie op die kommissie se lys nie, al is hy onder 'n donker wolk van suspisie ná 'n reeks onthullings deur News24.

Die nasionale uitvoerende komitee van die ANC vergader vandag om die verslag te bespreek en die kandidatelys te finaliseer.

Mkhize is vir die ANC belangrik om die skynbaar groeiende steun van Jacob Zuma se MK Party in KZN te stuit, terwyl Kodwa een van pres. Cyril Ramaphosa se vertrouelinge is.

Mkhize se betrokkenheid by die Digital Vibes-skandaal is nie opgeklaar nie, terwyl Kodwa deur die Zondo-kommissie uitgewys is omdat hy geld van 'n ANC-donateur, Jehan Mackay van die maatskappy EOH, ontvang het.

Die Wysigingswetsontwerp op die Staatsdiens moet nou deur die nasionale raad van provinsies oorweeg en daarna deur die president onderteken word.

Die verpolitiseerde staatsdiens en kaderontplooiing word wyd gesien as die belangrikste redes waarom die staat so onbekwaam en korrup is. Die wetsontwerp beperk die diskresie van politici om staatsamptenare aan te stel en om operasionele besluite te neem.

Die regeerkundige en uitvoerende direkteur van die New South Institute, Ivor Chipkin, het gister in City Press geskryf: “If South Africa ever finds a path to prosperity and security, historians of the future may well find that this week marked the beginning of the country’s new present.”


Liewe Heksie en die Renaissance-mens

Die wêreld het 'n nuwe Verligting nodig. Ek bedoel dit soos in die Enlightenment, Aufklärung, die intellektuele beweging van die 17de en 18de eeu in Europa wat die basis van 'n nuwe era van rede, rasionaliteit, wetenskap, verdraagsaamheid en individuele vryheid gelê het.

Om Liewe Heksie aan te haal: ons het 'n bietjie vergeet van al dié waardes. Ons boer 'n bietjie agteruit.

As die mensdom in my leeftyd verder op die Enlightenment voortgebou het, sou ons as die spesie homo sapiens nie vandag so vatbaar vir samesweringsteorieë gewees het nie; sou ons nou minder etnies-nasionalisties gewees het; sou iets soos fopnuus of “alternatiewe feite” skaars kon bestaan; sou die meeste mense oper gewees het vir nuwe idees en teenargumente; sou ons almal meer respek vir die wetenskap gehad het.

Bewysstuk 1: Donald J. Trump gaan, as die jongste meningspeilings dit reg het, op 5 November waarskynlik weer tot president van die magtige Amerika verkies word. Vladimir Putin gaan op 15 Maart sonder twyfel as president van Rusland herkies word.

Twee gesofistikeerde nasies, twee gevaarlike, irrasionele narsiste.

Wat is die wortels van ons agteruitgang? Ek sou sê die oorvloed en onmiddellike, wêreldwye beskikbaarheid van inligting deur die internet moes, ironies genoeg, seker 'n rol gespeel het.

Bewysstuk 2: Sosiale media. Pleks van ons almal op die planeet nader aan mekaar te bring en beter te laat verstaan, het dit die primêre voertuig van disinformasie, fopnuus, propaganda, bevooroordeeldheid en samesweringsteorieë geword.

Veral Facebook, YouTube, Instagram en Twitter/X, wat deur twee superryk wit mans, Mark Zuckerberg en Elon Musk, beheer word.

WhatsApp, Telegram, Signal en soortgelyke kommunikasiemiddels het saam met Facebook en Twitter hoogs effektiewe mobliseringsvoertuie vir haatgroepe, misdaadkartelle en terroriste word.

Globalisering, die idee dat alle nasies deel van één groot geheel is en beter behoort saam te werk, was in lyn met die beginsels van die Verligting, maar is deur magsugtiges misbruik en heelwat van die super-nasionalistiese goggas van vandag floreer op die teenstand teen globalisering.

Die politieke en ekonomiese onstabiliteit in vele wêrelddele het tot grootskeepse migrasie gelei, wat olie op die vuur van die etniese nasionaliste, populiste en outokrate gegooi het.

Bewysstuk 3: die toenemende onverdraagsaamheid jeens LGBTQ-regte – en nie net in fundamentalistiese Moslem- en Afrikastate nie, maar ook nasies soos Amerika, Rusland, Hongarye en Pole.

En dit terwyl elke antropoloog, historikus en sosioloog wat haar/sy sout werd is, vir jou bewyse sal bring dat homoseksualiteit en transgender so oud soos die mensdom is en vir millennia deur beskawings aanvaar en gerespekteer is.

Amerika is 'n maklike plek om al dié goed te toets, want die media daar karring gereeld aan alles en ons word hier aan die suidpunt daarmee gebombardeer.

Die meeste Republikeine glo steeds Trump het die 2020-verkiesing gewen, al het elke ondersoek en vele hofsake die teendeel bewys. 'n Substansiële klomp Amerikaners, wat akademici, kongreslede en suksesvolle sakelui insluit, glo aan stories soos dat die Demokrate pedofiele, sataniste en reptiele is, dat die Covid-entstof suiwer wêreldoorheersing ten doel gehad het en dat klimaatsverandering bloot 'n geldmaakstorie van 'n bose klein elite is.

Ek dink wat die Enlightenment in essensie gedoen het, was om te sê die moderne mens het die vermoë om sy/haar brein te herbedraad; om die primêre instinkte van die brein wat ons van ons jagter-/versamelaar-oerouers geërf het, met rasionaliteit en wetenskaplike kennis aan te pas.

Dit is vir elkeen van ons elke dag, selfs of dalk veral ons in die later dekades van ons lewe, 'n uitdaging om onsself af te vra of dit waarin ons glo rasioneel is; of ons nie nuwe insigte en inligting behoort te oorweeg en ons menings en benaderings behoort aan te pas nie.

Ek moes dit self byvoorbeeld doen om my eie lewenslange instink om Israel te verdedig, te oorkom met al die inligting oor hoe die Israelse regering die Palestyne van Gaza sien en behandel.

Ek het 'n instinktiewe renons in Amerikaanse arrogansie en imperialisme, maar ek moes dit oorkom om 'n gebalanseerde siening van Rusland se aggressiewe inval in Oekraïne te kon vorm.

Neuroloë en sielkundiges sê die menslike brein hou nie van verandering nie. Evolusie het nie die bedrading en struktuur van ons jagter-/versamelaar-oerouers van meer as 100 000 jaar gelede betekenisvol verander nie, en dié brein is net gesteld op fisieke oorlewing.

Daar is veral twee blokkerings wat oorkom moet word: die bevestigingsvooroordeel, confirmation bias, en die ankervooroordeel, anchoring bias.

Die bevestigingsvooroordeel beteken ons brein filtreer inligting uit wat ons bestaande oortuigings teëspreek, of ons prosesseer sulke inligting, maar heg nie veel waarde daaraan nie.

Die ankervooroordeel behels die verskynsel dat die mens vasklou aan die eerste ding wat ons van iets geglo het, selfs al word ons met inligting gekonfronteer wat aandui dat dié oortuiging nie akkuraat is nie.

Ons jagter-/versamelaarsbrein hou nie van verandering, onsekerheid en onvoorspelbaarheid nie, want daardie brein sien dit as 'n bedreiging vir ons oorlewing en voortbestaan.

Die brein is vasgeketting aan ons identiteit en bied weerstand wanneer dit uitgedaag word.

Jou identiteit is 'n komplekse samestelling van strukture, herinneringe en prosesse in jou brein. Ons jagter-/versamelaarsbrein is traag om dit alles te herrangskik, want dit kan ons oorlewing bedreig.

Dit alles beteken dat as jy jouself as 'n moderne, soepel en diep denker beskou, moet jy dié instinkte van jou oerbrein konstant ondersoek en, wanneer nodig, ignoreer en eenkant skuif.

Al beteken dit dat jy ongewild in jou eie gemeenskap of sosiale kringe gaan wees.

Net dán kan jy joulself as 'n Renaissance-mens beskryf.

Dink vir Jouself.

Max


Stellenbosch

waar
is al die grieke heen?
waar
is al die portugese mans
met sweterige
wit frokkies
wat pies verkoop
en met kinders
boer?

wat
het geword
van die mansuitrusters
waar ’n gentleman
sy hoed
kon laat rek
en koeëls
en brylcreem
koop?

trek
koshuiskinders
van paul roos
oorkant die rivier
nog draad
in die sagte
spreilig
van die
angel’s factory?

nou
kabbel leivore
verby deli’s
en cuisine
en styfgewasde
wit voorskote –
elke snotneuskind
is weggepak
vir toeriste

– Johannes Prins

Van: Versindaba

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.