Facebook en Instagram wêreldwyd lank van lyn af

WOENSDAG MET WILLEM

Facebook en Instagram wêreldwyd lank van lyn af

WILLEM KEMPEN wonder hoe die ANC al die Zondo-name op sy kandidatelys gaan hanteer, en skryf oor 'n nuwe privaat universiteit in Texas en wat dit beteken. Daar is ook weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 06 Maart 2024
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

1. Helen Zille het aan News24 gesê haar naam sal nie op die DA se parlementêre kandidatelys wees wanneer dit Vrydag by die OVK ingedien moet word nie. “Ek gaan nie terug parlement toe nie. Daar is aan my voorgestel dat ek moet, maar ek het besluit om my werk elders in die DA voort te sit."

2. Twee broers wat in Eswatini in hegtenis geneem is in verband met die moord op Kiernan “AKA” Forbes en Tebello “Tibz” Motsoane het gister vir die tweede keer in die landdroshof in Manzini verskyn. Siyabonga en Malusi Ndimande se prokureur het gesê hulle vrees vir hulle veiligheid. Die hof het gehoor dat nog geen aansoek vir hulle uitlewering aan Suid-Afrika ontvang is nie, het News24 berig.

3. Die brandweer in Verulam, noord van Durban, het gister gesukkel om 'n brand by 'n meubelfabriek te blus omdat daar nie plaaslik enige water beskikbaar was nie. Die gebied is al langer as vier maande sonder water.

4. Sasol se appèl na die Mededingingsappèlhof is van die hand gewys in 'n saak wat gaan oor buitensporige gaspryse wat die maatskappy glo oor meer as 'n dekade gehef het, het Business Day berig.

5. Google, nie die regering nie, is die grootste bedreiging vir persvryheid in Suid-Afrika, het Media24 se uitvoerende hoof, Ishmet Davidson, gister aan lede van die Mededingingskommissie gesê. Davidson het aangevoer dat Google sy dominante posisie in die mark misbruik om Suid-Afrikaanse nuusmedia met net “krummels” te laat.

6. Tesla se Europese Gigafactory naby Berlyn in Duitsland het werksaamhede tot verdere kennisgewing gestaak nadat vermeende brandstigters daar naby toegeslaan en die gebied sonder elektrisiteit gelaat het. Die brand het nie tot by Tesla se fabriek versprei nie, het Reuters berig.

7. Facebook en Instagram (albei in die Meta-stal) was gister vir honderde duisende gebruikers van lyn af in 'n wêreldwye onderbreking wat omstreeks 17:00 (SA tyd) begin het. Meer as 300 000 Facebook-gebruikers en 40 000 Instagram-gebruikers het probleme op Downdetector.com aangemeld, het Reuters berig.


Daar is 'n waarskuwing vir 'n uiters hoë brandgevaar in dele van Limpopo, die Vrystaat, Noordwes en die Noord-Kaap. Baie warm toestande word ook in Limpopo verwag. Meeste van die binneland is steeds warm tot baie warm, maar buie en donderbuie word vir verskeie dele voorspel. KwaZulu-Natal is deels bewolk en kan buie en donderbuie verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 34°C • Johannesburg 32°C • Mahikeng 36°C • Mbombela 29°C • Bloemfontein 31°C • Polokwane 34°C • Kimberley 32°C • Upington 33°C • Kaapstad 25°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 27°C • Durban 26°C.


Willem Kempen | ANC Monopoly: die bordspel waar niemand wen nie

Hopelik gebruik die ANC se topsewe 'n soort puntestelsel om te besluit oor al die twyfelagtige name op die lys van kandidate vir die verkiesing, wat Vrydag teen 17:00 by die Onafhanklike Verkiesingskommissie ingedien moet word.

Iets soos: minus 10 punte as jy by die Zondo-kommissie geïmpliseer is (daar is glo altesame 97 van hulle op die lys); minus 5 as jy al voor die integriteitskomitee moes verskyn; minus 10 as jy voor die dissiplinêre komitee moes verskyn; minus dubbel soveel as enige van dié twee komitees teen jou opgetree het; minus 20 as daar al meer as R5 miljoen in enige van die meubels op jou wildsplaas weggesteek was; minus 25 as enige noemenswaardige media al 'n spesiale reeks ondersoeke oor jou gedoen het; minus 300 as jou voornaam Fikile is, en so aan.

Aan die ander kant: plus 20 as jy enige van die prosesse teen jou suksesvol op hersiening geneem het; plus 40 as jy in 'n hof van iets vrygespreek is; plus 10 vir elke tradisionele leier wat in jou gatsak is; dubbel soveel as hulle 'n lid van die Zoeloe-koningshuis is; plus 50 as jy weet waar DD Mabuza op enige gegewe oomblik is en op watter medikasie hy is; plus 300 as jou voornaam Gwede is; plus 500 as jy op goeie voet is met enige huidige of vorige tesourier-generaal van die ANC, en so aan.

Dalk kan iemand sommer die hele ding verwerk in 'n bordspel wat “ANC Monopoly" kan heet – dit sal die enigste weergawe van die spel wees waar omtrent ál die spelers 'n Get Out of Jail Free-kaartjie het.


‘University of Anti-Woke’, of eintlik net wat ’n universiteit móét wees?

Dis soms moeilik om tussendeur die rookwolke van die Culture Wars agter te kom wat presies op Amerikaanse universiteitskampusse aangaan, maar dis veilig om te sê all is not well. Klasgeld het die afgelope dekades drasties gestyg, universiteite se administrasie is dikwels lomp en oneffektief, en die groei in studieskuld is 'n nasionale krisis

Die groter probleem is dat Amerikaanse universiteite dikwels nie meer die soort plekke is waar vrye en kritiese denke aangemoedig of selfs net toegelaat word nie. Sekere idees en menings is skynbaar só gevaarlik of “ongewens" dat dit glad nie uitgespreek mag word nie. Doen jy dit wel, word jy gesensureer of geCancel.

Een van die reaksies op dié fenomeen was om 'n nuwe privaat universiteit te begin: Die University of Austin in Texas (UATX), 'n “liberal arts university" wat hoop om in September hulle eerste studente in te neem. (Hulle het niks uit te waai met die University of Texas at Austin, wat 'n ou en gevestigde openbare universiteit is nie.)

UATX se stigterspresident is Pano Kanelos, wat vroeër president van St. John’s College in Maryland was. Hy het in 2021 oor bestaande Amerikaanse universiteite  geskryf: “... in these top schools, and in so many others, can we actually claim that the pursuit of truth – once the central purpose of a university – remains the highest virtue? Do we honestly believe that the crucial means to that end – freedom of inquiry and civil discourse – prevail when illiberalism has become a pervasive feature of campus life?"

Hy skryf ook: The numbers tell the story as well as any anecdote you’ve read in the headlines or heard within your own circles. Nearly a quarter of American academics in the social sciences or humanities endorse ousting a colleague for having a wrong opinion about hot-button issues such as immigration or gender differences. Over a third of conservative academics and PhD students say they had been threatened with disciplinary action for their views. Four out of five American PhD students are willing to discriminate against right-leaning scholars, according to a report by the Center for the Study of Partisanship and Ideology."

Die idee is om UATX op ses beginsels te bou: 'n Onbelemmerde soeke na waarheid, gewetensvryheid, beskaafde openbare gesprek, asook finansiële, intellektuele en politieke onafhanklikheid. Geen oorweging sal aan voornemende studente se ras, gender, of maatskaplike agtergrond gegee word wanneer dit by keuring kom nie.

Goed en wel, maar loop mens dan nie die gevaar dat so 'n universiteit maar net 'n regse teenreaksie op die linkse ortodoksie word nie? Kan 'n universiteit regtig finansieel onafhanklik wees as dit ook maar oorgelewer is aan die steun van ryk borge en donateurs met 'n agenda van hulle eie? Wat gaan hulle byvoorbeeld doen as 'n Elon Musk ook wil geld skenk, en voorwaardes daarvoor stel? UATX sê sy grondwet maak onbehoorlike beïnvloeding onmoontlik, maar ja...

Daar is nie 'n tekort aan skeptici en spotters nie, en UATX is selfs al verskeie kere met Donald Trump se vergane Trump University vergelyk, hoewel dié beswaarlik meer was as 'n skool vir eiendomsagente. Die joernalis Claire Goforth het geskryf UATX “comes from the minds of the nation’s most prominent reactionary bloggers and thinkers, who have become iconoclasts for their desires to break with the ‘woke’ movement they believe is brainwashing elite American academic universities and trickling down to the rest of the country”.

Maar daar is ook 'n klomp gerespekteerde akademici en denkers by UATX betrokke, mense soos Larry Summers; Ayaan Hirsi Ali en haar man, die historikus Niall Ferguson; Peter Boghossian; Nadine Strossen; Arthur C. Brooks, en Jonathan Haidt. Steven Pinker was aanvanklik 'n lid van die adviesraad, maar het sedertdien bedank; Richard Dawkins is wel nog 'n lid.

Sekerlik is daar op daardie lys genoeg name wat sommige mense se bloeddruk kwaai gaan laat styg, maar dan weer: Is dit nie die hele punt van 'n universiteit nie? 


i roeiboot dryf af in die rivier by malgas; is weg

ek het gekom lief
& gesê “ek het jou lief"


toe draai jy om
jou oë vol soos êrens i beker oorloop

& sê “dit was i lang tyd"
& “ek is klaar los." vra ek “hoe los"

“hééltemal los" sê jy. & begin huil
toe ek begin lag

& begin lag
toe ek begin huil

– Gert Vlok Nel

Uit: om te lewe is onnatuurlik

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.